Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Matrieks: ‘Opwaartse kurwe skep meer vrae as antwoorde’

Die opwaartse kurwe in die matriekslaagsyfer word verwelkom, maar Michael le Cordeur waarsku dat ons nie te gou opgewonde moet raak nie omdat die matriekuitslae slegs een maatstaf is om die gehalte van die onderwys in Suid-Afrika te meet.

Armoede speel steeds ’n groot rol in die vordering van leerlinge. By die Emkanzi Primary School in Libode in die Oos-Kaap moes leerlinge nog ’n klompie jare gelede in toestande soos dié skoolgaan. Foto: Argief

Die bekendmaking van die matriekslaagsyfer van 78,2% dui daarop dat die opwaartse kurwe van die afgelope paar jaar voortduur. Terwyl ek dit verwelkom, laat dit die publiek ongelukkig met meer vrae as antwoorde. Daar is steeds aspekte oor die matriekuitslae wat kommer wek. Eweneens is daar genoeg rede om opgewonde te wees. Ons moet hierdie goeie dinge nie midde in die see van kritiek uit die oog verloor nie.

Verlede jaar was ek skepties oor die 4,4% verbetering op 2015 en die 2,6% verbetering op 2016 se uitslae. Hoewel ek weer ’n verbetering te wagte was, het die gevoel van skeptisisme oor die 3,1%-verbetering op verlede jaar se uitslae nie verdwyn nie. Die rol van Umalusi wat toesig hou oor die gehalteversekering van die matriekeksamen, moet dus in die soeklig geplaas word.

Ek kan my nie vereenselwig met sentimente dat die uitslae aangedik is omdat ons land op die vooraand van ’n verkiesing is nie.

Punte-aanpassings is ’n aanvaarbare onderwyspraktyk om te verseker dat ons appels met appels vergelyk. Ek het dus geen rede om prof. John Volminck, die voorsitter van Umalusi, se woorde in twyfel te trek as hy verklaar dat daar vanjaar “ ’n sigbare verbetering ten opsigte van die gehalte van die vraestelle en die nasien daarvan” was nie.

Ek kan my dus nie vereenselwig met sentimente dat die uitslae aangedik is omdat ons land op die vooraand van ’n verkiesing is nie.

Van die departement se onverwerkte uitslae is 39 van die 67 vakke se punte aanvaar. Met ander woorde, die meerderheid vakke se punte is onveranderd gelaat. Van die oorblywende vakke is 17 opwaarts en 11 afwaarts aangepas. Verlede jaar is 16 vakke opwaarts aangepas, wat beteken die redes vir hierdie aanpassings is steeds aanwesig. Dit verdien Umalusi se dringende aandag.

Gebaretaal

Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, toe sy Donderdag die matriekuitslae bekend gemaak het. Foto: Felix Dlangamandla

Een van die mees verblydende aspekte is dat die matriekklas van 2018 eksamen afgelê het in 12 nuwe vakke, wat die jeug met vaardighede sal toerus om vir hulself ’n plek te vind in die mededingende arbeidsmark. Dit sluit vakke in soos tegniese wiskunde en tegniese wetenskappe asook gebaretaal. Universiteite kry toenemend studente wat staatmaak op gebaretaal en die Universiteit Stellenbosch (US) is geen uitsondering nie. Hiervoor verdien die departement ’n klop op die skouer.

Van die ander verblydende aspekte is die departement se strewe om sukkelende studente en matrieks met spesiale behoeftes by te staan. Dit sluit in samewerking met gesondheidsdienste, die veiligheidsdienste en ondersteuning aan leerlinge wat “deurgesit” is om saam met hul portuurgroep te leer.

Die waarde hiervan blyk uit die 60,2% van die leerlinge wat “oorgesit” is wat geslaag het. Dit is bewys dat leerlinge wat ouer is as hul portuurgroep (omdat hulle teruggehou is), die skool verlaat as hulle matriek druip.

Ook die Rally to READ-program werp vrugte af. Dit is ’n vlagskipprojek van die READ Educational Trust, ’n nieregeringsorganisasie (NRO) wat in samewerking met die departement van onderwys geletterdheid in skole bevorder deur aan skole hulpbronne te verskaf en onderwysers op te lei om leerlinge beter te leer lees.

Ek het reeds 14 jaar gelede in my doktorale proefskrif aangetoon dat ’n goeie leesverbeteringsplan om onderwysers behulpsaam te wees in die klas noodsaaklik is: Hoe beter leerlinge lees, des te beter kan hulle leer. Dit bly egter kommerwekkend dat onderwysers tot matriek wag voordat hulle met hierdie programme begin.

Beloftes maak skuld

’n Woord van vermaning aan Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, om nie te veel beloftes te maak nie. Haar strewe om elke kind toe te rus met ’n inligting en kommunikasie-tegnologie-meganisme soos ’n tablet of ’n skootrekenaar word verwelkom, maar die verskeie voorvalle waar handboeke nooit by skole opgedaag het nie, is nog vars in die geheue. Ook haar belofte om daadwerklike verbetering te bring aan vroeëkindontwikkeling (lees gr. R) sal enige juffrou in die grondslagfase se hart verbly, maar ons wat in die stelsel werk of gewerk het, ken die teleurstellings in hierdie verband.

Onderskeidings

Prof. Jonathan Jansen se waarskuwing dat matriekuitslae geen waarborg vir sukses op universiteit is nie, is geldig. Foto: Felix Dlangamandla

Volgens Motshekga het 800 800 matrieks vanjaar se matriekeindeksamen afgelê – aldus haar die meeste ooit. (Volgens my eie rekords het 802 431 matrieks verlede jaar geskryf). Hiervan het 33,6% (172 043) gekwalifiseer vir voorgraadse studies teenoor die 28,7% (153 610) van verlede jaar. Of dit ’n verbetering is, is ’n ope vraag omdat die departement in September aangekondig het dat ’n matrikulant enige vier vakke van sy keuse kan slaag om vir graadstudies in aanmerking te kom. In die verlede het slegs uitgesoekte keusevakke jou toelating gegee.

Selfs met hierdie toegewing het die getal onderskeidings van 161 080 in 2017 tot 157 880 in 2018 gedaal. Boonop het die getal onderskeidings in die sogenaamde “gateway” vakke, naamlik wiskunde, fisiese en lewenswetenskappe, rekeningkunde en ekonomie met 4,6% tot 58 806 gedaal. Hierdie syfer is belangrik, want in wese is dit net dié matrikulante wat ’n realistiese kans het om suksesvol op universiteit te wees.

Natuurlik sal daar uitsonderings wees, maar prof. Jonathan Jansen se waarskuwing dat matriekuitslae geen aanduiding is van sukses aan ’n universiteit nie, is geldig.

Soos hy tereg aandui, is die aantal onderskeidings nie belangrik nie. Wat wel van belang is, is watter vaardighede jy leer en of jy dit kan gebruik om ’n bydrae tot die ekonomie te maak.

Gehalte van onderrig

Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, Donderdag saam met 2018 se toppresteerders in die matriekeksamen. Foto: Felix Dlangamandla

Een ding moet ek die minister gelyk gee: As ons die uitslae wil verbeter, moet ons die gehalte van die onderrig verbeter. In hierdie opsig is daar steeds te veel skole en onderwysers wat leerlinge in die steek laat. Dit grief my dat onderwysers hul salaris (wat terloops baie meer is as markverwant) ontvang terwyl hulle voor hul siel weet dat hulle nie hul werk doen nie.

Ek sal ook my plig versuim as ek niks sou sê oor gevalle waar leerlinge as politieke speelballe gebruik word nie. In sommige gevalle is leerlinge vir ses maande uit die skool gehou, byvoorbeeld in die Noord-Kaap waar skole gesluit is weens politieke onrus. ’n Goeie opvoeding is dikwels die enigste erflating wat ons aan ’n arm kind kan gee. Waarom dit ook van hulle ontneem?

Die afwesigheidsyfer van onderwysers in die Wes-Kaap is iets skrikwekkends (ek dra nie kennis van ander provinsies nie). Dit is nou die derde agtereenvolgende jaar dat die slaagsyfer in dié provinsie daal: Van 82,7 tot 81,5% nadat dit in 2017 met 3,2% gedaal het. Dié provinsie het lankal sy topposisie aan Gauteng afgestaan en is intussen ook deur die Vrystaat verbygesteek.

As iemand ooit gewonder het oor die vernietigende invloed van die bendekultuur op skole, dan weet ons dit nou. Bendes het die potensiaal om sommige skole op die Kaapse Vlakte lam te lê en vra vir dringende ingryping.

Armoede

Soos verlede jaar speel armoede steeds te ’n groot rol in die vordering van leerlinge. Die bewys hiervan is dat agt van die tien distrikte wat die beste gevaar het, in Gauteng en spesifiek Johannesburg is, waar leerlinge toegang het tot hulpbronne. Jy sien dit as ons landelike provinsies soos die Oos-Kaap, Mpumalanga en die Noord-Kaap steeds die swakste presteer.

Ek het die afgelope twee jaar navorsing gedoen in die Oos-Kaap en steeds skole gesien wat oor geen of min hulpbronne beskik nie. Die departement behoort hierdie skole ’n prioriteit te maak voordat hulle begin om tablette en skootrekenaars uit te deel.

Waar staan ons nou?

Ons kan gerus ophou om Suid-Afrika met lande in die ontwikkelde wêreld te vergelyk. Dis soos om ons privaatskole te vergelyk met townshipskole. Die speelveld is nie gelyk nie. Dis onrealisties en gee ’n verwronge beeld van ons ware potensiaal. In Afrika is dit net Marokko en Egipte wat beter as ons vaar.

Michael le Cordeur

Motshekga is nou reeds 15 jaar in haar pos. Dit is erkenning vir haar harde en eerlike werk. Maar ek wonder tog of dit nie tyd is vir nuwe bloed en ’n nuwe visie nie?

Ten slotte moet daar ook erkenning gegee word aan daardie onderwysers wat ten spyte van die moeilike omstandighede steeds bo hul vermoëns uitstyg. Hierdie onderwysers kry selde erkenning, maar dis hulle – ek noem hulle die sout-van-die-aarde-onderwysers – wat die onderwysstelsel daagliks aan die gang hou. Vir hulle salueer ek graag.

Ek is steeds positief dat ons elke jaar nader aan Madiba se droom beweeg, waar die seun van die mynwerker die eienaar van die myn word en waar die dogter van ’n plaaswerker die president kan word.

Daarvoor benodig ons baie meer sout-van-die-aarde-onderwysers. En hulle is steeds te yl gesaai.

*Prof. Le Cordeur is hoof van die departement kurrikulumstudie in die fakulteit opvoedkunde aan die Universiteit Stellenbosch.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.