Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Matrieks skitter ondanks sukkelende stelsel

Die matriekslaagsyfer van meer as 81% is nie onverwags nie, maar alles is beslis nie wel met onderwys in Suid-Afrika nie, skryf Michael le Cordeur.

Leerlinge van Crawford College in Pretoria was Dinsdag baie ingenome met die uitslae wat hulle in die Onafhanklike Eksamenraad se matriekeindeksamen behaal het. Foto: Deaan Vivier

Vir die eerste keer in baie jare is die matriekslaagsyfer meer as 80% en ons spog met die beste uitslae sedert 1994. Vir die eerste keer in baie jare het geen vraestelle uitgelek nie en die leerlinge wat oneerlik was, het verminder.

Vir die eerste keer in die geskiedenis is die matriekeksamen (op 16 en 17 Oktober) onderbreek deur beurtkrag en die kandidate wat matriek met wiskunde deurkom, raak al hoe minder.

Dít is hoe die matriekslaagsyfer wat Dinsdag deur die minister van basiese onderwys, Angie Motshekga, aangekondig is, opgesom kan word.

Dit gaan egter meer verg as ’n goeie matriekslaagsyfer om ons te oortuig dat alles wel is met die onderwys.

Aan alle matrieks wat geslaag het: van harte geluk. Dit is welverdiend.

Die slaagsyfer van 81,3% was nie onverwags nie en is ’n voortsetting van die opwaartse kurwe van die laaste paar jaar.

Motshekga het haar bes gedoen om haar departement te projekteer as suksesvol en doeltreffend, veral omdat sy weinig het om te wys vir een van die grootste items op ons land se begroting.

Dit gaan egter meer verg as ’n goeie matriekslaagsyfer om ons te oortuig dat alles wel is met die onderwys. Voor ek by ’n ontleding van die uitslae kom, moet ’n paar onderwysaspekte waaroor die minister Dinsdag geswyg het eers in perspektief gestel word.

Ek kon veel meer opnoem, maar volstaan met net vier.

Puttoilette

Puttoilette by meer as 2 700 skole tas die menswaardigheid van leerlinge aan. Foto: Argief

Daar is steeds 2 703 skole waar die leerlinge puttoilette moet gebruik. Nie net is dit lewensgevaarlik nie (die dood van Michael Komape en Lumka Mkhethwa is nog vars in ons geheue), dit is ook ’n aantasting van leerlinge se menswaardigheid – in hierdie geval die armstes van die armes.

Ondanks R3,4 miljard wat die tesourie vir hierdie doel beskikbaar gestel het, sien ek geen erns en geen duidelike plan oor hoe die probleem opgelos gaan word nie.

Ironies genoeg is die gebrek aan probleemoplossingsvaardighede een van die grootste struikelblokke van die matriekklas van 2019.

Afwesige onderwysers

Die afwesigheid van onderwysers is ’n groeiende bekommernis.

’n Ondersoek deur Equal Education wys dat leerlinge die afwesigheid van onderwysers as een van die vernaamste hindernisse sien in hul strewe na sukses.

Nóg Sadou, nóg die departement van onderwys toon erns met die oplos van dié probleem.

Om slegs een voorbeeld te noem: Bykans 2 000 matriekleerlinge van Vuwani in Limpopo is twee maande voor die eksamen na spesiale kampe verskuif nadat die kinders twee maande lank nie onderrig gehad het nie weens ’n wegbly-aksie. ’n Klassieke geval van te min, te laat.

Geweld

Die geweld wat Suid-Afrikaanse skole nou al geruime tyd teister, insluitend die bendegeweld op die Kaapse Vlakte, ontneem duisende matrikulante die geleentheid om gefokus vir die eksamen voor te berei.

Dit is ’n akademiese feit dat enige toets slegs geldig en betroubaar is as alle veranderlikes vir almal dieselfde is. Ongeag dus of Umalusi die matriekeksamen die jawoord gegee het, die waarheid is dat die eksamen nie billik en regverdig was vir almal nie. Arm matrieks word steeds benadeel.

Moedertaalonderrig

Ná 25 jaar van demokrasie het die onderwysdepartement net mooi niks gedoen om moedertaalonderrig moontlik te maak vir almal nie. Teen dié tyd weet almal, en ek het al tot vervelens toe hieroor geskryf, dat ’n kind baie beter leer en presteer in sy moedertaal.

Maar dié voorreg is slegs beskore vir diegene met Afrikaans en Engels as moedertaal. Dit is dié skole wie se name op die merietelyste pryk, dit is hierdie skole wie se leerlinge die topposisies beklee en dit is hierdie matrieks wat voor in tou staan vir beurse.

Vir al die ander, meestal swart, leerlinge is dit business as usual. Hul kanse op sukses is uiters skraal. Die gebrek aan moedertaalonderrig is een van die redes waarom Suid-Afrika die ongelykste land ter wêreld is.

Hoë uitvalsyfer

Angie Motshekga, minister van basiese onderwys.Foto: Gallo Images

Die uitslae van 2020 moet dus teen hierdie agtergrond beoordeel word.

Teenoor die klas van 2009 se slaagsyfer van 60,6% spog die klas van 2019 met ’n slaagsyfer van 81,3% – ’n styging van meer as 20 persentasiepunte die afgelope dekade.

Die slaagsyfer vertel egter nie die volledige verhaal nie: slegs 60% van alle leerlinge wat in 2007 in gr. 1 was, het tot matriek gevorder. Hiervan het 81% geslaag – wat ’n slaagsyfer van net 37% beteken.

As ek vir ’n oomblik net op die Wes-Kaap kan fokus, lyk die syfers so: in 2007 het 92 818 leerlinge ingeskryf vir gr. 1 in die Wes-Kaap. Twaalf jaar later het slegs 53 395 heeltydse kandidate geregistreer vir 2019 se matriekeksamen.

Dit beteken dat 42%, oftewel 39 000, nie tot matriek kon vorder nie.

Ek is bewus daarvan dat sommige skole hul swakker leerlinge aanmoedig om die private eksamen te skryf sodat die skool se slaagsyfer kunsmatig verhoog word.

Die hoë uitvalsyfer is ’n aanduiding van die swak onderrig en die gebrek aan doeltreffende programme in veral townshipskole.

Die departement is deels verantwoordelik hiervoor weens die oormatige klem wat geplaas word op matriekuitslae.

Daarteenoor word weinig gedoen om leerlinge wat in die afgelope 12 jaar langs die pad verdwyn het te help.

Dit beteken dat hierdie leerlinge nie vir enige werk aangestel kan word nie en dra by tot die groeiende werkloosheidsyfer onder die jeug. Dis dié jeugdiges wat die maklike prooi word van die onderwêreld en uit pure moedeloosheid in die bendekultuur verval.

Die hoë uitvalsyfer is ’n aanduiding van die swak onderrig en die gebrek aan doeltreffende programme in veral townshipskole. Townshipskole worstel met swak infrastruktuur, oorvol klaskamers en maatskaplike probleme soos ek hierbo aangedui het.

Baie jongmense wil graag matriek slaag, maar word deur omstandighede buite hul beheer verhoed omdat die regering, wie se plig dit is om ’n omgewing te skep wat bevorderlik is vir leer, in dié taak misluk.

Dit alles veroorsaak dat die fanfare wat met die aankondiging van die matriekuitslae gepaard gaan, misplaas is en ’n bitter smaak in die mond laat.

Vrystaaat!

Prof. Michael le Cordeur

Wat die uitslae betref: altesame 787 000 matrieks het die eksamen afgelê; dit sluit 616 754 heeltydse en 170 964 deeltydse kandidate in.

Die Vrystaat (88,4%) het die eerste plek wat hy in 2018 aan Gauteng (87,2%) afgestaan het, teruggewen. Noordwes (86,8%) het verras deur die Wes-Kaap (82,2%) om die derde plek te klop. Dit is ’n effense verbetering van 0,8% vir die Wes-Kaap.

Die Oos-Kaap het die grootste verbetering getoon en met 5,9% tot 76,5% gespring. Limpopo (73%) is in die negende posisie, wat beteken dat geen provinsie vanjaar ’n slaagsyfer van minder as 70% behaal het nie.

Verblydend is die feit dat 47 van die 67 vakke (70% van die vakke) se punte onveranderd gelaat is – wat dui op ’n verbetering in die gehalte van die vraestelle. Dit sluit die sogenaamde Gateway-vakke in, soos wiskunde, ekonomie, wiskunde geletterdheid, geografie, rekeningkunde en fisiese wetenskappe.

Sewe vakke, waaronder bedryfsekonomie, se punte is afwaarts aangepas. Altesaam 13 vakke se punte is opwaarts aangepas. Dit sluit in lewenswetenskappe, die meeste huistale (matrieks lees al hoe minder), religieuse studies en nuwe vakke, soos tegniese wiskunde en tegniese wetenskappe.

Armoede speel steeds ’n rol in die uitslae: Daarvan getuig die feit dat die topdrie distrikte almal in Gauteng is wat met ses van die beste 10 distrikte spog.

Altesaam 186 058 leerlinge het gekwalifiseer vir ’n graadkursus aan ’n universiteit. Die meeste van dié is in Gauteng, terwyl die Wes-Kaap met die meeste onderskeidings spog. Nie minder nie as 43,6% van die matrieks in die Wes-Kaap kwalifiseer vir ’n graadkursus.

Wiskunde

’n Kommerwekkende aspek van die matriekuitslae is dat die getal matrieks wat wiskunde as vak het onrusbarend afneem, hoofsaaklik omdat leerlinge toenemend die keuse maak vir die makliker wiskundige geletterdheid; vir dieselfde rede wat ek voorheen genoem het, naamlik om die slaagsyfer kunsmatig te verhoog.

Die gemiddelde vir wiskunde is baie laag en in baie swart en bruin skole (ek het tot dusver nog net die Wes-Kaapse uitslae ontleed), word wiskunde nie meer aangebied nie. Met die oog op die vierde nywerheidsrevolusie sal die onderwysowerhede dringend aandag moet skenk aan wiskunde-onderrig in veral armer skole. Dit wil voorkom of die kind van die plaasarbeider steeds benadeel word.

Die vaardighede om vir jouself te dink en krities met inhoud om te gaan, ontbreek by die meeste matrieks.

Volgens die voorsitter van Umalusi, prof. John Volmink – self ’n wiskundige – sal meer aandag gegee moet word aan probleemoplossing. Daar word steeds te veel gesteun op memorisering eerder as begrip. Volmink meen ook die fokus in sommige provinsies is te veel op vorige jare se vraestelle.

’n Leerling het op TV erken dat hulle die laaste ses maande net vorige vraestelle uitgewerk het. Matrieks is dus eerder afgerig vir die eksamen pleks van daarvoor onderrig. Dit mag dalk lei tot beter uitslae, maar die vaardighede om vir jouself te dink en krities met inhoud om te gaan, ontbreek by die meeste matrieks. Dis eers wanneer hulle op universiteit kom dat hulle ontnugter word.

Kritiese denke

In sommige sleutelvakke, soos rekeningkunde, was daar geen verbetering nie. Dit vra vir dringende intervensie. Fisiese wetenskap se gemiddelde het egter aansienlik verbeter. ’n Jaar nadat daar groot kommer was oor die agteruitgang van geografie, is daar nou ’n aansienlike verbetering.

Dit is goeie nuus in ’n tyd dat klimaatsverandering en die impak daarvan op ons lewe al hoe belangriker word. Die slegte nuus is dat die beantwoording van die geskiedenisvraestelle daarop dui dat leerlinge toenemend sukkel om krities te dink.

Roeping

Opsommend kan ons sê die matriekuitslae is dalk die beste sedert Suid-Afrika ’n demokrasie geword het. Maar die ophef waarmee die bekendmaking van die uitslae gepaardgaan, skep die indruk dat dit ’n rookskerm is om die aandag af te lei van ’n onderwysstelsel wat mank gaan aan eindelose probleme en swak beplanning wat nie die begroting regverdig nie.

Genadiglik sien die meeste onderwysers nog hul taak as ’n roeping. Danksy hulle en hul kollegas in die streekkantore se harde werk kan Suid-Afrika spog met ’n slaagsyfer van 81,3%.

Hulle is die eintlike helde wat die klop op die skouer verdien.

* Prof. Le Cordeur is die hoof van die Universiteit Stellenbosch se departement kurrikulumstudie in die fakulteit opvoedkunde. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.