Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Matriekuitslae: Pandemie wys hoe waardevol onnies is

Die ongelykheid in die Suid-Afrikaanse onderwysstelsel is nie al wat deur die Covid-19-pandemie blootgelê is nie. Dit het ook die samelewing nuwe respek vir die rol van onderwysers gegee, skryf Michael le Cordeur.

Leerlinge van die Hoërskool Oos-Moot in Pretoria se vreugde was groot oor hul matriekuitslae. Foto: Deaan Vivier

As ons enigsins getwyfel het oor die ongelykheid tussen Suid-Afrikaanse skole, is dit met die bekendmaking van die matriekuitslae van 2020 finaal uit die weg geruim.

Nadat 147 eksamenvraestelle opgestel is, agt miljoen gedruk is en in 179 sentrums deur meer as 65 000 nasieners gemerk is, staan die slaagsyfer op 76,2%.

Teenoor die klas van 2019 se slaagsyfer van 81,3%, is dit ’n daling van 5,1%.

Gegewe die omstandighede van die Covid-19-pandemie en inaggenome dat sommige matrieks vir langer as ’n kwartaal uit die skool was, is hierdie syfer niks om oor skaam te wees nie; trouens, dit is skitterend!

En dit spreek boekdele vir die werk van onderwysers, skoolhoofde, departementele amptenare en ouers. Almal het ’n hand gehad in die klas van 2020 se sukses.

Ongelykheid

Michael le Cordeur

Die ongelykheid in die Suid-Afrikaanse onderwysstelsel is egter nie al wat deur die pandemie blootgelê is nie. Danksy die pandemie het die samelewing nuwe respek gekry vir die rol van onderwysers in die ontwikkeling en opvoeding van ons kinders. Ouers wat normaalweg krities staan teenoor die taak van onnies en wat tydens die pandemie daardie rol probeer oorneem het, het baie gou uitgevind dit is nie so maklik nie.

Met hierdie ontleding is daar drie aspekte wat uitgelig behoort te word.

Eerstens, is daar enige beduidende verskil tussen die impak van die pandemie op privaat skole teenoor dié op staatskole, en indien wel, wat is die redes daarvoor?

En tweedens: Hoe groot is die impak van die pandemie op die uitslae en is daar enige planne in plek om dieselfde probleme te oorbrug?

Laastens, tot welke mate is daar planne om die probleme wat ’n negatiewe impak op die matriekuitslae gehad het en deur die pandemie blootgelê is, te probeer oplos.

IEB-skole

Die matriekslaagsyfer van 2020 se IEB-skole is 98,07%. Dit is minder as 1% laer as verlede jaar se slaagsyfer van 98,82%. Daar is dus geen beduidende verskil in die slaagsyfer van privaat skole se matrieks van 2019 as jy dit met 2020 – die jaar van die pandemie – vergelyk nie. Myns insiens is hierdie uitstekende uitslae te danke daaraan dat matrieks geredelike toegang tot aanlyn klasse gehad het. Gevolglik kon hierdie skole die vernaamste impak van die pandemie verwerk en kon hulle inderwaarheid aan hul leerlinge ’n volle skooljaar bied. Onafhanklike skole het meer hulpbronne en danksy die gladde oorgang na aanlyn klasse het byna geen tyd verlore gegaan nie.

Met bekwame onderwysers en leerlinge se deursettingsvermoë is ’n hoë vlak van sukses behaal.

In ’n televisie-onderhoud het een skoolhoof laat blyk dat hulle nie ’n enkele dag verloor het nie. ’n Matriekleerling aan dieselfde skool het genoem dat hulle reeds voor die pandemie meestal aanlyn op hul tablette gewerk het.

Dit moet egter gemeld word dat baie onafhanklike skole nie volledige toegang tot aanlyn klasse gehad het nie, en derhalwe na tradisionele strategieë van afstandonderrig teruggekeer het.

Met bekwame onderwysers en leerlinge se deursettingsvermoë is ’n hoë vlak van sukses behaal.

Covid se impak

Die tweede vraag wat ondersoek moet word, is of die pandemie ’n invloed op die uitslae van die staatskole gehad het. Die volgende tabel weerspieël die Covid-19-syfers op 21 Februarie:

tabel

Terwyl die Covid-19-pandemie geen noemenswaardige impak op die matriekslaagsyfer van privaat skole gehad het nie, het die impak van die virus op staatskole gewissel van gering, tot beduidend, tot groot en enorm.

In die Wes-Kaap was daar slegs ’n geringe afname (2,4%) terwyl die afname in Gauteng (3,5%), die Vrystaat (3,2%) en KwaZulu-Natal (3,7%) beduidend was.

Dis veral die plattelandse provinsies met hul groot afstande waar die impak die grootste was: Limpopo (-5%), Mpumalanga (-6,6%), die Oos-Kaap (-8,3%) en Noordwes (-10,6%).

Die syfers dui daarop dat daar geen korrelasie is tussen die aantal infeksies en sterftesyfers en die matriekuitslae nie. Die daling in die slaagsyfer van die drie provinsies waar die meeste infeksies voorkom, (Gauteng, Wes-Kaap en KwaZulu-Natal) was gering tot beduidend.

Daarteenoor het die Noord-Kaap, die grootste provinsie wat oppervlakte betref, ontdek dat die groot afstande tussen skole en distrikskantore in die afwesigheid van aanlyn geriewe dalk net ’n te hoë berg was om te klim. Die Noord-Kaap se slaagsyfer van 66% is nie net die laagste nie, maar het ’n skerp daling van 10,5% getoon.

Cyril se tablette

Dit laat onwillekeurig die vraag ontstaan waar is die tablette wat die president die land se staatskole beloof het in sy staatsrede van twee jaar gelede. Sou dit dalk ’n verskil kon maak? Die blote voorsiening van tablette is nie genoeg om suksesvolle aanlyn onderrig te verseker nie. Dit vereis ook opgeleide personeel wat op hul beurt weer die leerlinge touwys kan maak. Ek gee toe dat dit in die moderne era dalk andersom sal wees: Die jeug is in baie gevalle hul ouers ver vooruit as dit by tegnologie kom.

Dit verander egter nie die situasie van die matriekleerling van die verafgeleë platteland in die Oos-Kaap se pleidooi wat hy verlede jaar in ’n televisieonderhoud gelewer het dat die regering nie van hulle moet vergeet nie. Hartseer soos dit is, blyk dit nou dat die regering dit juis gedoen het! Die uitslae van die Oos-Kaap het met 8,3% gedaal van 76,5% tot 68,1%.

Basiese gebreke

Maatreëls om die Covid-19-pandemie te bekamp, soos die dra van maskers en gesonde afstande, het gekom om te bly. Foto: Gallo Images

Dit gaan meer verg as ’n matriekslaagsyfer om ons te oortuig dat alles wel is met die onderwys.

Die vernaamste faktor wat ’n negatiewe invloed op die matriekslaagsyfer gehad het, was nie die virus per se nie, maar waarskynlik die fundamentele gebreke in die onderwysstelsel.

Aspekte wat dringende aandag verg (en waaroor ek al tot vervelens geskryf het), is die groot getal skole, veral op die platteland, wat steeds nie toegang tot basiese geriewe soos toilette en lopende water het nie.

Die uitwerking hiervan op die slaagsyfer van die plattelandse provinsies is duidelik sigbaar in die tabel hierbo.

Die afwesigheid van onderwysers, die geweld wat Suid-Afrikaanse skole nou al geruime tyd teister, insluitend die bendegeweld op die Kaapse Vlakte, bly ’n toenemende probleem.

Wiskunde en wetenskap

’n Kommerwekkende aspek van die matriekuitslae is dat die getal matrieks wat wiskunde en fisiese wetenskap as vakke neem steeds afneem; ’n proses wat ek reeds verlede jaar uitgewys het.

Hierdie vakke is veronderstel om leerlinge toe te rus vir die Vierde Industriële Revolusie (4IR). Dit dui op gebrekkige onderrig. Leerlinge word eerder afgerig vir die eksamen pleks van onderrig. Meer aandag sal gegee moet word aan probleemoplossings.

Moedertaalonderrig

Teen dié tyd weet almal dat ’n kind baie beter leer en presteer in sy moedertaal. Maar dié voorreg is slegs beskore vir diegene met Afrikaans en Engels as moedertaal.

Dit is dié skole wie se name op die merietelyste pryk, dit is hierdie skole wie se leerlinge die topposisies beklee en dit is hierdie matrieks wat voor in die tou staan vir beurse. Ironies is die uitslae Maandag bekend gemaak op Internasionale Moedertaaldag en die minister het ekstra moeite gedoen om soms in haar moedertaal te praat. Meer hiervan is nodig.

Armoede

Armoede speel steeds ’n rol in die uitslae: Daarvan getuig die feit dat die vyf topdistrikte almal in en rondom die groot stede is. Hulle is Tshwane-Suid, die toppresterende distrik, en word gevolg deur Johannesburg-Wes, Gauteng-Noord, Johannesburg-Noord en Sedibeng-Oos, ook in Gauteng.

Daarna volg die Metropool-Noord in Kaapstad en Ekurhuleni-Suid. Dis nie die eerste keer dat ses van die topdistrikte uit Gauteng kom nie.

Maar ook in die armer woongebiede is ’n welkome positiewe verandering sigbaar: 275 615 matrieks uit sogenaamde geen-skoolfooieskole het met universiteitstoelating geslaag. Meer en meer jong mense begin om uit te styg bo hul omstandighede.

Ligpunte

Die klaskamer van die toekoms? Die Turkse onderwyser Esma Sahiner het die kombuis van haar huis in Ankara in ’n klaskamer verander en bied aanlyn klasse van daar af aan. Foto: Getty Images

Daar is heelwat positiewe aspekte wat uit die uitslae na vore kom en laat ons die departement en die minister krediet gee hiervoor.

Iets wat dikwels gekritiseer word, is die 70 560 gr. 11-leerlinge wat deurgesit is. Byna 24 000 van hulle het dié kans aangegryp en geslaag, waarvan 1 065 met onderskeidings.

Dis ’n pluimpie vir die onderwysdepartement dat hy ook aan burgers in gevangenisse die geleentheid bied om hul lewenstandaarde te verhoog deur die eksamen te kan aflê. Uit 133 kandidate het 110 (83%) geslaag waarvan 71 met vrystellings.

Ook gestremde leerlinge begin hul stem dikmaak: Altesaam 2 161 matrieks met spesiale onderwysbehoeftes het aangetree vir die eksamen waarvan 2 058 (95%) geslaag het. Dit sluit meer as 900 onderskeidings en 563 vrystellings in.

Die laer slaagsyfer ten spyt, is dit verblydend om te sien dat die getal onderskeidings en universiteitsvrystellings gestyg het.

Dit was ook die tweede keer dat eksamen afgelê is in gebaretaal, tegniese wetenskap en siviele tegnologie.

Die laer slaagsyfer ten spyt, is dit verblydend om te sien dat die getal onderskeidings en universiteitsvrystellings gestyg het. In hierdie opsig het die raad vir gehalteversekering in algemene onderwys (Umalusi) die regte ding gedoen deur aan te dring dat die vraestelle nie “aangepas” word nie. Dit het verseker dat die integriteit van die uitslae van die matrieks wat presteer het, beskerm word.

Dit sou onbillik wees om ’n stigma van ’n “maklike eksamen” te koppel aan die sertifikaat van diegene wat onder moeilike omstandighede hard gewerk het.

Lesse geleer

Laastens moet ons die vraag stel of daar planne is om die probleme wat ’n negatiewe impak op die matriekuitslae gehad het, en deur die pandemie blootgelê is, te probeer oplos.

Is daar enige lesse geleer uit 2020 om daardie impak tot die minimum te beperk? Ek noem net drie aspekte.

• Les 1: Covid-19 is deel van die nuwe normaal. Die dra van maskers en die ontsmet van hande gaan nog vir baie lank met ons wees en skole sal moet aanpas hiervoor. Maskers en ontsmettingsmiddels sal voortaan deel van elke skool se begroting moet wees.

Les 2: Aanlyn klasse is hier om te bly. Al is dit ’n beskeie begin (byvoorbeeld deur middel van WhatsApp-netwerke) sal skole die tegnologie moet begin inspan.

• Les 3: Die regering kan nie alles doen nie. Daar is gewoon nie meer geld nie (weens redes wat aan almal bekend is) en skoolgemeenskappe sal moet inspring om meer dinge vir hulself te doen. Skole sal vennootskappe moet sluit met die sakelui van hul omgewing. Dit is tyd dat hulle moet begin teruggee aan die gemeenskap wat hul winkels oop hou.

Roeping

Die Covid-19-pandemie het die Suid-Afrikaanse samelewing weer met nuwe oë na onderwysers laat kyk. Foto: Gallo Images

Opsommend: Die slaagsyfer van 76,2% is steeds ’n puik prestasie en elke matrikulant in die klas van 2020 wat suksesvol was, verdien ’n klop op die skouer. Nie net het julle onder baie moeilike omstandighede ’n eksamen geslaag nie; julle het ook gewys dat nie eens ’n pandemie julle sal onderkry nie.

Aan julle: Van harte geluk.

Dit is welverdiend.

Ek het dit al gesê, maar vandag herhaal ek dit met vrymoedigheid: Die matrieks se sukses van 2020 was moontlik omdat die meeste onderwysers nog hul taak sien as ’n roeping. Danksy hulle en hul kollegas by die streekkantore se harde werk kan Suid-Afrika spog met ’n matriekslaagsyfer waarop die hele land kan trots wees.

Hulle is die eintlike helde wat ons almal se dank en waardering verdien!

• Prof. Le Cordeur is die hoof van die Universiteit Stellenbosch se departement kurrikulumstudie in die fakulteit opvoedkunde. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.