Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Max sê: ‘Flip, dis tyd vir my om te bieg’

Flip Buys se voorspelling van staatsverval in die Mandela-era was in die kol, gee Max du Preez toe. Ons het Buys gevra om hierop te antwoord. 

Marius Muller van AfriForum wys in die veld naby d
Marius Muller van AfriForum wys in die veld naby die organisasie se kantore hoe hommeltuie ingespan word om gemeenskappe veilig te hou. Foto: Deon Raath

In die afwesigheid van voldoende leierskap moet almal inspring om ons land en ál sy mense te red, skryf Max du Preez.

Tyd vir my om te bieg.

Ek was baie skepties oor die Solidariteit-beweging se veldtog om mense te mobiliseer om goed vir hulle self te doen waar die staat misluk. Ek het steeds vrae oor die beweging se “voorkeurdorpe” waar daar groot konsentrasies wit Afrikaners woon en ek dink die Vryheidsfront Plus se omhelsing van die idee van ’n onafhanklike Wes-Kaap is opportunisties, onwerkbaar en onwenslik.

Ek het al die jare wanhopig geklou aan die idee dat ons almal, bruin, swart en wit, van alle streke en taalgroepe één Suid-Afrika is en saam gaan sink of swem. Ek klou steeds daaraan.

Maar die getuienis dat ’n parallelle staat besig is om te ontwikkel waar die burgery en druk- en belangegroepe in die burgerlike samelewing die staat se rol begin oorneem, raak nou oorweldigend. My hoop dat die Zuma-hoofstuk van die ANC se geskiedenis ’n nare herinnering sou word, dat dit eintlik ’n uitsondering was en nie werklik die harte en gemoedere weerspieël van die meerderheid van die bevolking wat die ANC ondersteun nie, is besig om te kwyn. My hoop dat die “skoon ANC” van Cyril Ramaphosa iets daadwerkliks sou doen om die skade van die nege katastrofiese jare van Zuma ongedaan te maak, het ook grootliks beskaam.

Onregrukbaar

Ramaphosa het óf ’n ander soort mens geword as die een wat ek in die vroeë 1980’s leer ken het óf hy is só verlam deur die faksiegevegte in sy party dat hy nie kan ingryp en die staat kan regruk nie. Dalk is die ANC bloot nie meer regrukbaar nie.

Ons is baie beter as die regering wat ons het.

Die laaste week het ons moes toekyk hoe ons kwesbaarste mense – oues, gestremdes en jong enkelma’s – in hul duisende vir dae aaneen moes saamdrom om hul maatskaplike toelaes te kan ontvang waarsonder hulle nie kos het om te eet nie. En toe kom die polisie en jaag hulle met waterkanonne uitmekaar.

Ons het laasweek daarvan kennis geneem dat die Amathole-distriksmunisipaliteit (Fort Beaufort, Peddie, Stutterheim, Butterworth, Komga, ensovoorts) ineengestort het en nie langer salarisse betaal nie. In groot dele van die munisipaliteit het mense gewoon wat nie meer water het nie – oumas en armes betaal nou R100 vir 25 liter water of R2 000 vir hul tenks om gevul te word.

Waar is die minister van samewerkende regering, dr. Nkosazana Dlamini-Zuma? Te besig om ordonnansies te skryf wat mense van strande af moet weghou?

As dit nie vir Gift of the Givers was nie, sou vele gemeenskappe in die Oos-Kaap en elders in baie slegter omstandighede gewees het. Gift of the Givers gee vir mense water, help met noodbehuising, gee tienduisende mense elke week kos en help selfs met PPE’s en noodhospitale om Covid-19-pasiënte te behandel. Hier in my geweste gee liefdadigheidsorganisasies ook tienduisende mense daagliks kos en is hulle eerste by wanneer plakkershuise afbrand.

Krimineel nalatig

Die pandemie is nie ’n maklike probleem vir enige regering om te hanteer nie. Maar ons regering is soms krimineel nalatig. Soos om byna 1 000 nuwe verpleegsters in die middel van die tweede vlaag af te lê en te weier om die duisende werklose, afgetrede en immigrante-dokters in diens te neem.

Ek sê weer, Ramaphosa en sy spindokters kan spin soos hulle lus is, maar die waarheid bly dat die regering aan die slaap was, of dalk roekeloos nalatig was, om nie teen die middel van verlede jaar al vir entstof te beding nie. Die pandemie gaan die hele 2021 en dalk selfs goed in 2022 in met ons wees, met katastrofiese ekonomiese gevolge.

Soos ek hier skryf, is my huishouding sonder krag – dis ons “beurt”. Kenners sê dit kan nog drie jaar lank aangaan.

Hoekom het Ramaphosa nie al twee jaar gelede na die kenners geluister en die private sektor vrygemaak om self ambisieus in elektrisiteitsopwekking (veral son- en wind-energie) te belê nie? Want Cosatu en die EFF kla dat die private opwekkers meestal deur wit mense besit sou word en minister Gwede Mantashe het die visie van ’n mol. Die eindresultaat is dat swart mense in elk geval nie baat vind nie, maar nou is almal sonder krag en armer omdat die ekonomie nie sonder energie kan groei nie.

Ek sê ek wil bieg. Ek dink ek moes Flip Buys se idees oor selfversorgendheid al vroeër ernstig opgeneem het. Ek is net nie saam met Buys as sy fokus – anders as byvoorbeeld dié van Gift of the Givers – meestal op wit en Afrikaanse mense is nie.

Ons het ’n Solidariteit-beweging, ’n AfriForum en ’n Helpende Hand vir alle Suid-Afrikaners nodig.

Almal moet inspring

Apteke, maatskappye soos Dis-Chem en Clicks, private hospitale en mediese fondse moet inspring en help om die inentingsveldtog te laat werk. Die staat kan dit nie self doen nie.

Ons moet almal in ons eie gemeenskappe met inisiatiewe begin om die werk wat plaaslike en provinsiale regerings nie doen nie, aan te pak. Ons moet by skole, kindersorg, klinieke, volwasse geletterdheid en groentetuine vir die hongeres betrokke raak. Nie net vir Afrikaners nie, vir almal, veral vir die mees onbevoorregtes onder ons. Dit is nie net die regte ding om te doen nie, dit gaan ons in die middelklas ook beter en veiliger laat voel en stabiliteit koop.

Ek is moeg om alewig oor die staat en die regering se onbeholpenheid te kla. Ek weier om moed te verloor. Ek ken my land en sy mense. Ons is baie beter as die regering wat ons het.

Dit is tyd om daadwerklik betrokke te raak.

* Du Preez is uitgewer van vryeweekblad.com, aan wie se intekenare hierdie artikel gestuur is in die nuusbrief “Maandag met Max”.

AfriForum Buurtwaglede ontvang opdragte van die SA
AfriForum Buurtwaglede ontvang opdragte van die SAPD by onluste in Hekpoort.

Bou van grondvlak aan federale oplossings vir ’n magsbehepte staat wat van bo vrot, skryf Flip Buys.

In 1979 het die Amerikaanse visepresident Walter Mondale aan die Duitse kanselier Helmut Schmidt voorgestel dat hulle sáám die Suid-Afrikaanse regering dwing om apartheid dadelik af te skaf. “Om dit waarmee te vervang?” het Schmidt met verwysing na soveel mislukkings in postkoloniale Afrika en die sosialistiese Oosbloklande gesê.

Kanselier Schmidt se vraag het ’n belangrike vraagstuk belig. Daar was baie druk om apartheid af te skaf, maar min denke oor hoe ’n nuwe bedeling moes lyk wat ’n suksesvolle Suid-Afrika kon verseker.

As jong staatsleerstudent in die laat ’80’s het ek met die Duitse kanselier se vraag geworstel en daarvan oortuig geraak dat daar by antwoorde, waaraan ek ná al die jare steeds werk, uitgekom moes word.

My eerste gevolgtrekking was dat ’n gewone meerderheidsbedeling veels te simplisties sou wees om ’n komplekse land soos Suid-Afrika suksesvol te kan regeer. Dit sou onvermydelik lei tot meerderheidsoorheersing. Dit was voorsienbaar dat ’n LUR van onderwys in Gauteng, wie se party net 50% van die stemme het, bykans 100% van die mag oor Afrikaanse skole sou hê. ’n Sterk federasie, wat mag wyd versprei, was ’n minimum voorwaarde vir die land om te kon slaag.

Die 1997-besluite was ’n kaping.

My tweede gevolgtrekking was dat die ANC nie in staat sou wees om ’n moderne land soos Suid-Afrika te regeer nie. Hoewel die titel van sy kleurbrosjure “Reg om te regeer” was, het ’n deurdagte deurlees daarvan duidelik laat blyk dat die party steeds aan ’n Derdewêreldse, sosialistiese ideologie van revolusie klou. My derde gevolgtrekking was dat die ANC in die komende onderhandelings eers toegewings sou maak om die mag te kry, en daarna sy mag sou gebruik om sy oorspronklike doelstellings deur te druk.

Vierdens gaan die ANC die staat, die staatskas en al die staatsinstellings oorvat en minderhede uitsluit. Afrikaners as ’n ongewilde minderheid sou nie ’n ander keuse hê as om ’n moderne helpmekaarbeweging van gemeenskapsinstellings te stig om na ons eie belange om te sien en die res van die land te help nie.

Verkeerde rigting

Ná al die jare voel ek steeds toe Suid-Afrika in die 90’s ’n nuwe pad móés inslaan, die verkeerde rigting gekies is – ’n eenheidstelsel in plaas van ’n federasie, soos in ander heterogene lande. Die skikking tussen die NP- en ANC-leiers het in wese die land se historiese vraagstuk van groepverhoudings geïgnoreer. Daar is op ’n gewone meerderheidsbedeling besluit, met ’n paar federale vyeblare wat ná die eerste lente van die groot oorgang sou afval. Die aanname was dat politieke mededinging voortaan net tussen individue sou plaasvind en dat die bevolking vir die beste party en kandidate op grond van beleid in plaas van identiteit sou stem. Ná 11 verkiesings (ses nasionaal en vyf munisipaal) en 11 ANC-oorwinnings het Suid-Afrika alle eienskappe van ’n demografiese demokrasie. Bevolkingsamestelling en -getalle gee die deurslag, nie beleid of regeringsprestasie nie.

Daar is vandag al hoe groter eenstemmigheid dat die ANC die land voor Covid-19 al swak regeer het en swak in die krisis regeer en dat daar geen oortuigende tekens is dat hy die land ná die krisis sal kan regeer nie. Inteendeel, dit blyk dat die land stuk-stuk verval, en dat die burgery genoodsaak is om al hoe meer self te doen om te keer dat dinge heeltemal platval.

Die vraag is hoe het ons hier beland. Die ANC het net nadat die “finale” Grondwet in 1996 aanvaar is, reeds in 1997 op sy Mahikeng-kongres die saad van verval gesaai. Op dié kongres is op die beleid van radikale transformasie volgens rasseformules besluit; die beginsels van “Afrikaan-oorheersing” en kaderontplooiing is aanvaar; “gelykheid” sou voortaan “gelyke uitkomste” beteken; en alle instellings en “magshefbome” moes onder ANC-beheer geplaas word. Die 1997-besluite was in werklikheid ’n ANC-staatskaping en ’n verbreking van die 1994-skikking. Die gevolge van daardie besluite sou oor die volgende dekades eers gaandeweg, en later al hoe vinniger al hoe duideliker word. Die ANC het niks van sy sosialistiese grondslag vergeet nie en niks van die gevolge daarvan in ander lande onthou nie.

Die kern daarvan is dat ’n ANC-beheerde staat as “broodwinner in plaas van huishoudster” moet optree en deur radikale transformasie beheer oor die samelewing verkry.

Solidariteit

Ná my verkiesing as hoofsekretaris van die voormalige Mynwerkersunie in 1997 het die destydse hoofraad reeds in 1998 my voorstel vir die uitbou en omskepping van die organisasie tot ’n moderne hoofstroombeweging van gemeenskapsorganisasies aanvaar. My eerste stap was om ’n span dinamiese jong leiers saam te trek om ons nuwe visie ’n werklikheid te maak. Mense soos Dirk Hermann, Kallie Kriel en Henk Schalekamp is later deur honderde begeesterde mans en vroue gevolg wat saam wou bou aan blywende oplossings. Ons hoofraad, onder leiding van mense soos Steve Scott en Blackie Swart, het saam met ons gewerk om eers Solidariteit, en daarna die groter Solidariteit-beweging, van die grond op te bou.

Dit was ongelooflike moeilike en eensame sukkeljare waarin ons baie beledig en belaster is. Ons “sonde” was dat ons in die heerlike politieke mooiweer van die Mandela-era aan ’n “ark” begin bou het vir die storms wat ons sien opsteek het.

Ons steeds groeiende federasie het vandag meer as 500 000 gesinne as lede, bestaan uit 25 organisasies, waaronder Solidariteit, AfriForum, Solidariteit Helpende Hand, die FAK, Sol-Tech, Akademia, die FAK, Kanton Eiendomme, ’n Skoleondersteuningsentrum en verskeie ander. Hierdie helpmekaarbeweging van organisasies lewer vandag ’n groot verskeidenheid dienste wat die staat nie wil of kan lewer nie. Dit strek van veiligheid, dorpdienste, opleiding, werk, maatskaplike hulp, onderwys, taal en kultuur en regsdienste tot buitelandse steunwerwing en samewerking met swart en bruin gemeenskappe.

In ’n tyd waarin Suid-Afrika se grootste uitvoerproduk werkskeppers en belastingbetalers is, wil ons die omstandighede skep waar Afrikaners suksesvol in die land kan bly. Sodoende kan hulle ’n blywende bydrae lewer tot die welstand van die land en al sy mense.

Ons bou om te kan bly. Ons bou aan ’n kulturele infrastruktuur waarin Afrikaners ook blywend vry, veilig en voorspoedig in Afrika kan voortbestaan. Die doel daarvan is nie om Afrikaners te isoleer of ander uit te sluit nie, maar juis om die ruimte te skep om saam te kan voortbestaan. As iemand ’n huis bou, is die doel tog om hom in staat te stel om saam met ander in daardie woongebied te bly. Die strategie is eenvoudig: beskerm en bou. Beskerm die land sover moontlik teen verswakkende staatsbestuur en bou aan groeiende selfbestuur.

Sterk gemeenskapsinstellings is nodig vir hierdie tweebeenstrategie. Wie wag vir die staat om sy probleme op te los gaan vir altyd wag. Die staat kan nie eens sy eie probleme met die ANC se verouderde en uitgediende ideologie oplos nie.

Saamtrek en saamwerk

Dit voel soms of baie mense niks wil doen nie, maar as iemand iets doen, wil hulle hê ons moet alles vir almal doen.

Dit is onmoontlik. Ons beweging kan nie staatsdienste lewer sonder staatsinkomste, midde-in ’n staat wat verswak en ’n regering wat teen minderhede regeer nie. Die ANC word verkies, betaal en met belastinggeld gefinansier om dienste aan die land se mense te lewer. As hy dit nie doen nie en die meerderheid kiesers stem steeds vir hom, raak daardie kiesers medepligtiges eerder as slagoffers.

Nogtans is dit nie volhoubaar as Afrikaners net na hul eie belange omsien nie. Dit is ook dagdromery om te verwag dat ander gemeenskappe hul partye, organisasies, beleid of gemeenskappe gaan afsweer en hul lot by ons inwerp of ons beter weet.

Die antwoord lê in vennootskappe gebou op wedersydse erkenning en respek.

Persoonlike rasseverhoudings is steeds baie goed, al is politieke verhoudings soms swak. Daarom volg ons beweging ’n strategie van saamtrek en saamwerk, oftewel binding en brugbou. ’n Gemeenskapsorganisasie word gedryf deur kultuurkrag. Ons trek Afrikaners saam in sterk organisasies en vorm, waar enigsins moontlik, dan vennootskappe met ander gemeenskappe. Die grondslag van brugbou is nie gedeelde sienings nie, maar gedeelde belange. Daarom word daar daagliks landwyd uitgereik en projekte aangepak wat Afrikaners, die Afrikaanse gemeenskap en die hele bevolking help.

Suid-Afrika toon talle tekens dat dit besig is om van “bo” te misluk. Die goeie nuus is dat die private sektor en gemeenskappe vinnig besig is om van “onder” op te bou. Waar ’n staatsdiens verval, gebruik ’n ondernemende persoon of gemeenskap die nood om met ’n oplossing vorendag te kom en dit in werking te stel. So kom ’n federale werklikheid van onder tot stand in die plek van ’n sentralistiese bedeling wat van bo begin uitrafel. Terselfdertyd skep hierdie federale oplossings broodnodige vrye ruimtes wat noodsaaklik is vir die voortbestaan van ’n ope demokratiese samelewing. Sonder ’n sterk burgerlike sektor is ’n bevolking weerloos teen ’n regering met totalitêre neigings. Suid-Afrika is ’n gemeenskap van gemeenskappe. Daarom is goed georganiseerde gemeenskappe wat met mekaar saamwerk die beste teenmiddel vir ’n owerheid wat ’n nasionale krisis wil gebruik om sy radikale doelwitte aan die bevolking op te dwing.

Demokrasie gaan immers nie oor die mag van die regerende elite van die meerderheid nie, maar oor die vryheid van almal.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.