Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
'n Lewe: Meerkat-vrou Rasa ‘was nog ’n Fossey en Goodall’
Prof. Anne Rasa
Prof. Anne Rasa

Die natuurbewaarder en etoloog prof. Anne Rasa, internasionaal gereken vir haar werk met die rehabilitasie van verwaarloosde meerkatte, is laas Sondag op haar wildplaas, Kalahari Trails, in haar slaap dood. Sy was 80.

Die etikus Willem Landman het van die Kgalagadi, 30 km van waar sy gewoon en gewerk het, laat weet: “Prof. Anne, soos ons haar geken het, het haarself volledig gewy aan die welwees van diere, by uitnemendheid meerkatte, met die oog daarop om hul voortbestaan te verseker, gegee die vernietiging van hul habitat.

“Sy staan vir my in die tradisie van daardie formidabele drie vroue in die voorste linie van vegters vir regte van primate, naamlik Dian Fossey (berggorillas), Jane Goodall (sjimpansees) en Birute Galdikas (orangoetangs).”

Haar belangstellings in ander diere, asook insekte, was wyd. Die entomologiestudent Handré Basson vertel: “Ons het soms op Facebook gesels. Sy het elke nou en dan vir my foto’s van spinnekoppe aangestuur om te identifiseer.”

Muishonde was ook vir haar van belang. ’n Oudstudent, Mark Anderson, deesdae uitvoerende hoof van BirdLife Suid-Afrika, sê: “Haar boek Mongoose Watch oor die gedrag van dwergmuishonde is ’n boek wat deur almal gelees moet word wat in die natuurlewe in Afrika belangstel.”

Daarin skryf sy hoe muishonde kan saamstaan. As individue is hulle nie vreeslik sterk nie, maar as ’n “familie” is daar min vyande wat hulle sal kan bykom.

Anderson sê: “Ons klasse aan die Universiteit van Pretoria was in Afrikaans, maar sy was nie die taal magtig nie. Die studente het ’n petisie opgestel en aangedring op ’n Afrikaanse lektor. Later het vele van hulle erken dit was ’n fout, omdat haar kennis van dierkunde van wêreldgehalte was.”

Sy was taai. ’n Sterk vrou wat baie hindernisse in haar pad moes oorkom.

Die joernalis en familievriend Anena Burger vertel: “Ek het haar in 2013 ontmoet en ons het lewenslange vriende geword. Ek het van hierdie formidabele vrou in die Kalahari gehoor wat na meerkatte omsien en hulle rehabiliteer en wou gaan ondersoek instel.

“Sy was taai. ’n Sterk vrou wat baie hindernisse in haar pad moes oorkom. Sy het hierdie verlate plaas in die Kalahari wat niks meer beteken het nie vroualleen van die grond weer opgebou in ’n wêreld wat deur mans oorheers is en sy het seker gemaak hulle weet waar hulle met haar staan.

“Sy was ’n ongelooflike inspirasie en die lesse wat ek by haar geleer het om vorentoe te bly beur, al voel dit jy wil in trane uitbars, sal my vir die res van my lewe bybly.”

Ek was altyd in die regte plek op die regte tyd.

In ’n dokumentêre onderhoud sê Rasa haar hele lewe was gelukkig-toevallig.

“Ek was altyd in die regte plek op die regte tyd. Toe ek hier aankom was die meerkatte in ’n slegte toestand en hul lewe was besig om verwoes te word.”

Sy het gemaan dat hulle nie soos katte is nie en mense hulle nie as troeteldiere moet aanhou nie. Hulle raak gespanne en dan byt hulle. ’n Meerkat word vir R3 000 langs die pad verkoop en kort daarna gooi mense hulle weg.

Rasa is in Wallis gebore. In 1961 het sy in Londen gegradueer aan die Royal College of Science. Later het sy verder aan die Universiteite van Hawaii en weer Londen studeer.

Teen die einde van een van die dokumentêre programme oor haar lewe vat sy ’n trek aan haar sigaret en staar die vlaktes in – altyd op soek na haar meerkatkinders.

Sy word oorleef deur drie menskinders en vier kleinkinders.

† Olwen Anne Elizabeth Rasa, gebore 28 April 1940, oorlede 15 November 2020.

Rus in vrede

* Dr. Edward J. Perkins (92), die eerste swart Amerikaanse ambassadeur in Suid-Afrika, is in ’n hospitaal in Washington oorlede. Pres. Ronald Reagan het hom tussen 1986 en 1989 hiernatoe gestuur. Die destydse staatspresident PW Botha het glo min ooghare vir hom gehad. Die Washington Post skryf hy het sy vinger in Perkins se gesig geswaai en hom gemaan om nie in Suid-Afrika se sake in te meng nie. “Gedurende my tyd daar,” het Perkins gesê, “het Botha nie een beskaafde gesprek met my gehad nie.”
Perkins het uit ’n gebroke huis gekom en is deur sy ongeletterde grootouers grootgemaak. Ná skool het hy by die weermag aangesluit en op dié manier sy toekomstige vrou, Lucy Chen-mei Liu, in Taiwan ontmoet. Haar ouers was teen die verhouding gekant en het haar in haar kamer toegesluit. Sy het ontsnap en die twee het weggeloop. Hulle was vir amper 50 jaar getroud toe sy in 2009 oorlede is. 

* Die tydskrif Rolling Stone se eerste fotograaf, Baron Wolman, is in Santa Fe oorlede. Hy was 83. In die 1960’s en 1970’s het  hy van die wêreld se bekendste ruk-en-rollers afgeneem – onder meer The Who, die Rolling Stones, Tina Turner, Frank Zappa en Jimi Hendrix. Later het hy vanuit sy Cessna asemrowende lugfoto’s van onder meer Israel en Kalifornië geneem. 

* Marie-Louise van Heerden (72) was die eerste vrou wat as hoofsub by Die Burger gewerk het. Sy het in haar huis in Vermont geval na ’n beroerte. Daarna is sy na ’n hospitaal in Hermanus gejaag, waar sy beswyk het. Oudkollegas sê sy was goud werd vir dié koerant en dat sy ’n groot mentor was met ’n sagte hart.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.