Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Mees barbaarse oorlog 80 j. gelede Dinsdag herdenk

Dinsdag is dit presies 80 jaar gelede dat die Duitse Wehrmacht die Sowjetunie binnegeval het. Dit sou aan albei kante die mees barbaarse oorlog in die opgetekende geskiedenis word, skryf Leopold Scholtz.

Deur ’n 'gordyn van vuur'. ’n Duitse soldaat kniel naby ’n gebou wat lede van die invalsmag in die Sowjetunie aan die brand gesteek het. Foto: Getty Images

Toe Duitsland die Sowjetunie op 22 Junie 1941 binneval, was dit net so onverwags soos ’n donderslag op ’n sonskyndag.

Net minder as twee jaar tevore het die Sowjet-leier, Josef Stalin, en die Duitse Führer, Adolf Hitler, nog ’n nie-aanvalsverdrag gesluit en Oos-Europa onder mekaar verdeel: Hitler het die westelike twee derdes van Pole gekry; Stalin die res van die land, saam met Estland, Letland en Litaue.

Bowendien was die Sowjetunie ernstig verswak deur die massamoorde wat Stalin onder sy land se intelligentsia en offisierskorps laat pleeg het. Hy wou enige sprake van moontlike onafhanklike denke voorkom – dit kon moontlik mettertyd op ’n bedreiging vir sy totalitêre diktatuur uitloop.

Maar Hitler het die Russiese taaiheid en herstelvermoë onderskat.

Die gevolg was dat die Duitsers in die eerste maande soos ’n stoomroller oor die Russe geloop het. Hulle is in reusagtige tange omsingel, en honderdduisende is gevange geneem.

Maar Hitler het die Russiese taaiheid en herstelvermoë onderskat. Teen die einde van die jaar is sy soldate in die bitter koue van die Russiese winter voor Moskou gestuit en het die Russe ’n teenoffensief begin.

Dit het, met tussenposes, eers in Mei 1945 geëindig toe Russiese soldate Berlyn ingeneem het. Duitsland was ’n smeulende ruïne.

In dié vier jaar het albei kante die mees ongelooflike en barbaarse wreedhede begaan.

Duitse soldate keer Russiese krygsgevangenes aan. Foto: Getty Images

Die Sowjetunie het, relatief gesproke, die swaarste van alle lande in die oorlog gely.

Van die byna 191 miljoen inwoners wat hy in 1939 gehad het, is 14,2% in die vier jaar van die vyandelikhede dood. Dit het nagenoeg 13 miljoen soldate ingesluit, maar ook 14 miljoen burgerlikes.

Die Duitsers het op ongelooflike skaal onder die Russe gemaai. Volgens die amptelike Nazi-ideologie was die Russe (en die Slawiese volke oor die algemeen) Untermenschen, oftewel minderwaardig. Hul regte het dus niks getel nie.

Dié van die Jode het nóg minder getel. Van die geskatte 6 miljoen Jode wat die Nazi’s in die oorlog vermoor het, was sowat 2,6 miljoen uit die Sowjetunie afkomstig.

Tydens hul terugtog, veral in die jare 1943-’45, het die Duitsers bowendien ’n meedoënlose verskroeide-aarde-beleid gevolg deur alles wat hulle kon voor die voet te vernietig.

‘Land van fasciste moet in woestyn omskep word’

Russiese soldate hys die Sowjet-vlag op die Reichstag in Berlyn nadat hulle dié stad in 1945 ingeneem het. Foto: Getty Images

Maar elke aksie roep ’n teenreaksie op. In dié jare het die Russe gewys dat hulle, wat wreedheid betref, geen millimeter vir die Nazi’s sou terugstaan nie.

Veral toe die Rooi Leër die oostelike Duitse grens vroeg in 1945 oorsteek, het hulle verskriklik teen die burgerlike bevolking te kere gegaan. In sy boek Tag der Befreiung? Das Kriegsende in Ostdeutschland (“Dag van Bevryding? Die oorlogseinde in Oos-Duitsland”) haal die Duitse historikus Hubertus Knabe amptelike bevele aan soos dié een:

“Die Duitsers moet besef dat daar op Duitse bodem net een baas is: Die Sowjet-soldaat. Genade is daar vir niemand, nes daar ook geen genade vir óns was nie. Die land van die fasciste moet in ’n woestyn omskep word.”

Wat dit in die praktyk ingehou het, blyk uit dié ooggetuieverslag van ’n Lutherse pastoor in Pommere oor die intog van die Russe in sy dorp:

“In bendes het hulle voor elke huis gestaan, tot 45 tegelyk het hulle één Duitse vrou verkrag, sonder wroeging, totdat sy ten slotte sterwend gelê het. Vroue van 78, negejarige kinders het hul slagoffers geword. Dit kan verstaan word waarom in daardie verskriklike nag sowat 600 inwoners vrywillig die dood ingegaan het.”

Duitse soldate dwing Russiese vroue om hul huise te verlaat. Foto: Getty Images

Dit was trouens nie net Duitse vroue wat die slagoffers hiervan was nie. Dit was ook die lot wat tienduisende vroue in Hongarye, Pole en Tsjeggo-Slowakye tegemoet gegaan het.

In die Berlynse dagblad Die Welt herinner die Berlynse vrou Eva Schliep die ontsettende eerste dae van die Russiese besetting van dié stad: “Vir die Russe was ons soos vry wild. Verkragtings, moorde en plundering, daarby die grenslose haat teenoor die Duitsers wat die Russiese volk soveel lyding aangedoen het, dit alles het ons lewens in ’n hel omgeskep.”

Wandade in Pole

Duitse soldate wat in 1945 in Berlyn krygsgevangene geneem is nadat dié stad deur die Russiese weermag ingeneem is. Foto: Getty Images

Knabe wys daarop dat die Duitse inval in Pole in September 1939 gepaardgegaan het met ’n verdeling van dié land tussen Hitler en Stalin, toe nog bondgenote. Kragtens die bondgenootskap het die Rooi Leër ook Estland, Letland en Litaue en dele van Finland en Roemenië beset.

Trouens, om die oorwinning oor Pole te vier, het die Duitse genl. Heinz Guderian en die Russiese genl. Semjon Kriwosjain saam die saluut op ’n gesamentlike parade van die soldate van albei lande geneem.

In Pole het die Russe self vreeslik te kere gegaan. Volgens Knabe het hulle sowat 230 000 Poolse soldate gevange geneem, van wie slegs 82 000 nog gelewe het teen die tyd dat die Duitsers die Sowjetunie binnegeval het.

Knabe se sentrale tese in sy boek is dat waar 7 Mei 1945, die dag waarop die Duitsers onvoorwaardelik oorgegee het, wyd in Europa as die Dag van Bevryding gevier word, het dit nie vir Oos-Europa of die oostelike helfte van Duitsland gegeld nie. Vir die Oos-Europese state is die een Duitse nagmerrie bloot vir ’n ander Russiese nagmerrie verruil, terwyl die Duitsers in die ooste van hul land onuitspreeklik gely het.

’n Duitse soldaat slinger ’n handgranaat na teenstanders met die Duitse inval in die Sowjetunie. Foto: Getty Images

Uit ander gegewens blyk dit dat 12 miljoen tot 18 miljoen Duitsers massaal en met groot geweld uit Oos-Pruise, Silesië en die Sudetengebied in Tsjeggo-Slowakye verdryf is. Tot 600 000 van hulle het in die proses gesterf.

In die geheel het ’n geskatte 6,9 miljoen Duitsers op alle fronte in die oorlog die lewe gelaat. Van hulle was 5,3 miljoen in uniform, maar maklik 600 000 burgerlikes is ook in die Geallieerde lugaanvalle op Duitse stede dood.

Dit moet beklemtoon word dat dié statistieke oorwegend skattings is. Die chaos van oorlog en geweld maak dit onmoontlik om elke oorledene, soos in vredestyd, behoorlik te dokumenteer.

Slegs in Junie 1944, toe die Duitse front in wat vandag Belaroes en Oekraïne is, dramaties onder die Russiese hamerslae ineengestort het, het sowat 100 000 Duitse soldate eenvoudig van die aardbol verdwyn. En in die chaotiese gevegte van Januarie tot Mei 1945 is nog sowat 700 000 soldate as ’t ware in die lug opgelos – niémand weet wat met hulle gebeur het nie, behalwe dat hulle dood is.

Letsel van die verlede

’n Hawelose vrou in trane saam met haar seun nadat Russiese soldate Berlyn in 1945 ingeneem het. Foto: Getty Images

Is dit ’n wonder dat die gebeure van 1939-’45 – en veral van 1941-’45 – steeds ’n yslike litteken op die Europese (en dan veral die Duitse, Poolse en Russiese) siel het?

Die Duitse seremoniële staatshoof, pres. Frank-Walter Steinmeier, het juis in ’n toespraak aandag aan dié litteken gegee.

Dié “misdadige aanvalsoorlog het die uniform van die Wehrmacht gedra”. Hy het bygevoeg: “Die herinnering aan dié inferno, aan absolute vyandskap en die ontmensliking van ‘die ander’ – dié herinnering bly vir ons Duitsers ’n verpligting, en vir die wêreld ’n monument.”

Leopold Scholtz

Maar hy het ook die name van plekke genoem wat met verskriklike Russiese wreedheid geassosieer word – byvoorbeeld Katin in Pole, waar die Russe die hele dorp uitgewis het.

Die kern van Steinmeier se betoog lê in dié sinne: “Die misdade wat Duitsers in die oorlog begaan het, druk op ons. Tot vandag toe. Dit druk op ons dat dit ons vaders, oupas en oupagrootjies was wat die oorlog gevoer het en aan die misdade aandadig was.”

Hy het ’n belangrike nuansering aangebring: Die sin van herinnering is nie om “teenswoordige en toekomstige geslagte met ’n skuld te belas wat nie van hulle is nie”, maar om “te verstaan hoe die verlede in die hede voortwerk”.

Inderdaad, die letsel van die verlede van wat vandag 80 jaar gelede begin het, is steeds in Europa te bemerk. Dit is iets wat ons Suid-Afrikaners nie voldoende begryp nie.

• Dr. Scholtz is ’n onafhanklike kommentator en historikus wat in Nederland woon. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Tweede Wêreldoorlog  |  Frank-Walter Steinmeier  |  Adolf Hitler  |  Berlyn  |  Rusland  |  Moskou  |  Duitsland  |  Pole
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.