Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Megakerk is dalk té charismaties

Moreletaparkers sê die NG Kerk is te liberaal vir hulle. Neels Jackson bespiegel oor die redes waarom dié megagemeente sy rug op die NG Kerk wil keer.

Dr. Isak Burger, president van die AGS, bid voor ’n skare mense in Moreletapark se ouditorium. Die foto is geneem by ’n geestelike konferensie wat deur Moreletapark aangebied is. Dit was deur die jare nie vreemd dat sprekers uit die Pinkster- en charismatiese tradisies by Moreletapark se konferensies optree nie. Foto’s: Neels Jackson

Die NG Kerk is te liberaal vir die gemeente Moreletapark. Dit is glo waarom hulle nou bande met die NG Kerk wil verbreek.

Dit het in die kerk ’n nuttige etiket geword om mense mee verdag te maak, maar wat presies word bedoel as Moreletapark nou sê die NG Kerk is “te liberaal”?

In die kerkgeskiedenis het liberalisme dikwels gefunksioneer as die teenpool vir konserwatisme. Die behoudende groep in die teologiese stryd van omstreeks 1930 in die NG Kerk het hul tydskrif Oude Paden genoem, want hulle wou weerstand bied teen die “nuwe paaie” van prof. Johannes du Plessis en andere (wat krities was oor ’n eng letterlike interpretasie van die Bybel).

As dit liberaal sou wees om ’n nuwe teo­logiese koers in te slaan, dan was Jesus self liberaal. Hy het immers ’n totaal nuwe benadering tot die Sabbat gebring. Hy het met sy boodskap oor die koninkryk van God die hele lewensbeskouing van mense omvergewerp: Pleks van belangrik te wil wees, moet mense dien; om te gee is beter as om te ontvang; die onbelangrike kinders is skielik die belangrikstes; as jy jou lewe wil behou, moet jy dit verloor. ’n Mens sou kon aangaan. Jesus het inderdaad ’n nuwe koers ingeslaan.

Onder die kleed van nederigheid, bly die groot sekerheid: ‘Ons ken God se wil.’

Ook die NG Kerk is dan liberaal. In die laaste paar dekades het die kerk op verskeie punte ’n nuwe koers ingeslaan. Dit het besluit vroue hoef nie meer hoede te dra kerk toe nie. Vroue kon predikante word. Kinders is toegelaat tot die Nagmaal. Die kerk het anders begin dink oor apartheid.

Maar dan is Moreletapark self skuldig aan dié soort “liberalisme”. Inderwaarheid is Moreletapark op verskeie punte aan die voorpunt van “nuwe paaie” in die kerk. In so ’n mate dat daar in die NG Kerk kommer is oor hoe naby hulle al gekom het aan herdoop – ’n standpunt wat kerke oor die wêreld heen verwerp.

Maar miskien sluit die Moreletaparkers eerder aan by die verklaring van “liberalisme” in die Christelike Kernensiklopedie. Daarvolgens wil die liberalisme die Christelike godsdiens meer aanvaarbaar maak vir “die moderne werklikheidsverstaan” deur klassieke Christelike oortuigings (soos die leer oor die erfsonde) te verwerp.

Nou is dit so dat NG dominees die evangelie probeer bring in taal wat moderne mense verstaan, maar dit geld ook in Moreletapark.

Ds. Pieter Breytenbach, bedryfsbestuurder van die NG gemeente Moreletapark, by ’n saal vol komberse en klere wat ingesamel is vir inwoners van Woodlane Village, die plakkerkamp net langs Moreletapark se kerk. Die foto is in Julie 2016 geneem nadat ’n brand talle plakkerhutte in Woodlane Village

Dit is verder so dat daar die laaste jare verskeie groot en heftige debatte in die kerk was oor sentrale leerstukke, soos die opstanding van Jesus Christus. In die proses is baie valse gerugte versprei oor standpunte van teologiedosente van die NG Kerk.

Maar as Moreletapark wil sê die NG kerk is in dié sin liberaal, sal hulle moet aantoon waar die kerk in sy sinodebesluite op enige punt van sy sentrale leerstukke afgewyk het. Dis sake soos die leer oor die Drie-eenheid, die opstanding van Christus, die verlossing deur genade alleen, die beskouing dat die Bybel die Woord van God is. Hulle sal sukkel, want daar is geen sulke besluite nie.

Moreletapark dink seker nie aan die tweede deel van die Christelike Kernensiklopedie se verklaring van liberalisme nie: dat daar ’n rekonstruksie van die Christelike geloofsbelydenis gemaak word en dat daar ’n verskuiwing is van die nadenke oor Christus tot die navolging van Christus.

Dit is so dat daar in die NG Kerk ’n ingrypende herbesinning is oor wat dit beteken om kerk te wees. Daar word gepraat oor missionale kerkwees. Dit berus egter nie op ’n nuwe leer nie. Dit gaan oor hoe die kerk sy ou oortuigings moet uitleef. Dit is inderdaad ’n verskuiwing van ’n blote eng nadenke oor Christus (’n verstandsgodsdiens) tot ’n godsdiens wat die hele lewe raak.

Hoe kan hulle die kerk wil skeur as Jesus self bid dat die kerk een moet wees?

Jesus het immers by herhaling gesê dat mense hom moet volg.

Moreletapark is deel van hierdie beweging. Hulle is inderwaarheid ’n voorbeeld vir baie gemeentes in die NG Kerk, onder meer in die manier waarop hulle betrokke is by die armes en gemarginaliseerdes – soos die mense in die plakkerskamp langs hul kerkgebou.

Volgens ’n verklaring die afgelope week is Moreletapark se leiers bekommerd oor die handhawing van die gesag van die Skrif. Dalk is dit hierdie indruk dat die NG Kerk nie ernstig is oor die Bybel nie wat lidmate in gedagte het as hulle die NG Kerk nou liberaal noem.

Dit is so dat die NG Kerk in die afgelope halfeeu op verskeie punte anders begin dink het en dele van die Bybel anders begin verstaan het as tevore. Dit is egter nie omdat die NG Kerk die Bybelse boodskap begin ignoreer het nie, maar omdat daar in die kerk erns gemaak is met die Bybel en tot die gevolgtrekking gekom is dat die kerk die Bybel in die verlede op sekere punte verkeerd verstaan het.

Vroeër was daar ’n sterk oortuiging in die NG Kerk dat 1 Korintiërs 11 ’n duidelike opdrag bevat dat vroue hul hoofde moet bedek as hulle na die erediens wou kom. Hulle moes hoede dra.

Ds. Pieter Badenhorst, geestelike leier van Moreletapark, by ’n uitkykpunt oor die See van Galilea in Israel.

Maar toe het die insig deurgebreek dat daardie teks baie sterk gebonde was aan die destydse kultuur. As ’n vrou destyds in Korinte nie haar hoof bedek het nie, het dit iets heeltemal anders beteken as wat dit vandag in die moderne Westerse kultuur beteken. En daarom kan daardie duidelike opdrag nie net so op vandag oorgedra word nie.

Tot 1990 was die NG Kerk se amptelike standpunt dat vroue nie predikante mag wees nie. Want die Bybel sê so. In 1 Timoteus 2:11 staan daar ’n vrou moet in die erediens stil en onderdanig wees en haar laat leer. En in 1 Korintiërs 14:35 lees ’n mens “dit is lelik vir ’n vrou om in die erediens te praat”.

Maar toe die algemene sinode van 1990 die saak bespreek het, het die kerk ook ander Bybelse gegewens in ag geneem, soos dat vroue die eerste getuies was aan wie die boodskap van Jesus se opstanding uit die dood toevertrou is. As vroue daardie kernboodskap van die evangelie kon oordra, is daar geredeneer, dan kan hulle seker preek ook.

Die punt is dat die NG Kerk geleer het om die tekste nuut te verstaan, nie omdat hulle die Bybel ignoreer nie, maar omdat hulle geleer het om die Bybel in sy geheel te lees en om die verskil tussen die kulturele konteks van Bybelse tye en vandag beter te verreken.

En Moreletaparkers behoort dit te verstaan, want hul vroue dra ook nie hoede kerk toe nie. En ds. Greta Müller is vandag deel van hul span predikante, soos ds. Elza Meyer vroeër ook was.

En as dit by gay-verhoudinge kom, sal ondersteuners van ’n nuwe, gay-vriendelike standpunt in die NG Kerk sê dat hulle daarmee nie die Bybel opsy skuif nie, maar juis die Bybel ernstig opneem. In beginsel hanteer hulle die Bybel niks anders om by dié standpunt uit te kom, as om by die punt uit te kom dat vroue as predikante toegelaat word nie.

Maar in die NG Kerk vra baie mense nou die vraag aan Moreletapark hoe ernstig hulle die Bybel dan opneem as hulle uit die NG Kerk wil tree. Beteken Jesus se gebed in Johannes 17 dat sy dissipels één moet wees, dan vir hulle niks nie? Hoe kan hulle die kerk wil skeur as Jesus self bid dat die kerk een moet wees?

Luidens hul verklaring is Moreletapark besorg oor die eenheid van hul gemeente, maar oor die eenheid van die groter kerk klaarblyklik nie.

En hoe verstaan Moreletapark die getuienis in die Nuwe Testament wat ruimte maak vir verskille tussen gelowiges? Dit raak verskille oor belangrike sake, soos die Sabbat wat deur God self ingestel is. Lees maar hoe daar in Romeine 14 gepleit word vir ruimte om te verskil.

Miskien lê daar agter Moreletapark se besluit ’n ander rede as die verwyt van liberalisme teen die NG Kerk. Miskien gaan dit eintlik oor iets wat oor jare al deur baie mense in die NG Kerk raakgesien is: Moreletapark het in sy hart die Gereformeerde godsdiens verruil vir die charismatiese tradisie. En terwyl die Gereformeerde en charismatiese tradisies ’n groot deel van die Christelike godsdiens gemeen het, is daar ook belangrike verskille tussen die twee.

Daar is die verhaal oor hoe Moreletapark ontwikkel het van ’n gewone voorstedelike NG gemeente wat in ’n nuwe buurt gevestig is tot by die megakerk wat dit vandag is. Die woonbuurt Moreletapark was in die 1980’s deel van Pretoria se “nuwe ooste” wat ontsaglik vinnig uitgebrei het. Daarmee saam het die gemeente uit sy nate begin bars.

Dit was nogal ’n ding toe Moreletapark ’n buitengewone nuwe kerkgebou met ’n ouditorium met sitplek vir 1 500 mense gebou het. Maar ook dit was later te klein. En toe het Moreletapark ’n ouditorium met sitplek vir 7 200 laat bou – so groot dat Afrikaans is Groot-konserte al daar aangebied is. Destyds is die koste daarvan op R60 miljoen gestel. Daarna het ’n groot administrasieblok ook nog bygekom.

Die gemeente en sy gebou het al hoe meer begin lyk soos ander groot charismatiese kerke in die omgewing (soos die Hatfield Christian Church en Lewende Woord) as soos ander NG gemeentes. Moreletapark se teologie het ook in daardie rigting gegroei en die spiritualiteit van sy destydse leier, ds. Dirkie van der Spuy, het sekerlik ’n rol daarin gespeel.

Deur die jare was dit duidelik dat Moreletapark baie gemakliker en hartliker saamwerk met groot charismatiese gemeentes in hul omgewing as met kleiner NG buurgemeentes. Sprekers uit dié tradisies het ook bekender gesigte by die kerk se konferensies geword as kerkleiers en teoloë van die NG Kerk self.

Maar wat is die belangrike verskille tussen Gereformeerde en charismatiese kerke?

Een daarvan gaan oor hoe gelowiges God se wil onderskei.

In die Gereformeerde tradisie word geglo jy leer God se wil primêr deur die Bybel ken. Dit doen jy nie op jou eie nie, jy doen dit saam met jou broers en susters. En ’n gemeente doen dit saam met ander gemeentes. Daarom neem Gereformeerde kerke besluite in vergaderings, in kerkrade, ringe en sinodes.

Charismatiese Christene lê egter baie klem op die direkte leiding deur die Heilige Gees. Ja, die Bybel is belangrik, maar die primêre ding is dat God direk met jou praat.

Dis wat ’n mens nou hoor van Moreletapark se kant af. Hul leiers het 40 dae lank gebid en gevas en daardeur die leiding van God gekry dat hulle die verband van die NG Kerk moet verlaat.

Dat ’n mens in die Bybel lees dat Jesus bid vir die eenheid van gelowiges, gee nie die deurslag nie. Dít wat hulle beleef as die leiding van God, is bepalend.

Dit lei ook tot uiteenlopende sienings van die kerk self. Gereformeerde kerke bly verbind aan mekaar. Hulle funksioneer in ’n kerkverband. Charismatiese kerke funksioneer dikwels op hulle eie. Daar is dalk losse netwerke en skakeling, maar in wese is kerke onafhanklik van mekaar.

En ’n mens kan verstaan dat die oortuiging dat jy direkte leiding van God kry, jou uiteindelik laat vra wat die sin is van ’n groter verband wat jou aan ander gemeentes bind. Waarom is sinodes nodig as God direk met ons praat?

Van Gereformeerde kant af lyk hierdie sekerheid oor God se wil na hubris, na ’n gebrek aan nederigheid oor jou eie sienings en na geestelike selfvoldaanheid. En as ’n gemeente sterk is, baie lidmate en ’n groot begroting het, dan is dit seker die groot versoeking, die groot slaggat waarin jy kan trap: te veel selfvertroue.

Dit speel nie uit in ’n soort Muhammad Ali-grootpraterigheid nie. Moreletapark sal ook sê dat hulle nie op hul eie krag staatmaak nie, maar dat hulle op God vertrou.

Maar onder die kleed van nederigheid, bly die groot sekerheid: “Ons weet wat God se wil is.”

’n Mens sien dit in die afgelope week se verklaring waarin gesê word dat “leierskap met durf toegepas moet word en sal opstaan vir die waarheid en gesag van die Skrif/Bybel”.

Oor wat daardie waarheid is, is daar by Moreletapark geen twyfel nie – selfs al verskil medegelowiges van hulle en selfs al voer medegelowiges argumente uit die Bybel aan om hul standpunt te ondersteun. Dis asof Moreletapark dit nie hoor nie, asof daar nie eens ’n gesprek daaroor is nie. Moreletapark weet mos wat die waarheid is.

Daarom kan ’n mens ook verstaan dat hulle nie langer deel wil wees van ’n verband van kerke waarin daar moeilike gesprekke oor verskille gevoer word nie.

’n Mens kan verstaan dat hulle ’n onafhanklike pad wil loop. Dis wat charismatiese kerke doen.

* Neels Jackson is ’n vryskutjoernalis en voormalige redakteur van die NG Kerk se lyfblad, Kerkbode.

Meer oor:  Isak Burger  |  Moreletapark  |  Ng Kerk  |  Morelexit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.