SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Aktueel
Meganisasie: Mens en masjien moet saamwerk

Meganisasie in landbou beteken nie noodwendig werksverliese nie. Dit kan ook werk skep, het Sarel van der Walt op Netwerk24 se gespreksreeks by die Innibos-kunstefees in Mbombela gehoor.

Meganisasie het die landbou-omgewing baie verander sedert die dae van eenvoudige trekkers soos dié. Foto: Argief

“Meganisasie beteken nie masjien teen die mens nie, maar mens én masjien.”

So sê dr. Reuel Khoza, voormalige uitvoerende hoof van Eskom, wat ook voorsitter van Nedbank was.

Hy boer by Kiepersol naby Hazyview in Mpumalanga op groot skaal met onder meer avokado’s en makadamianeute.

Khoza sê meganisasie is iets wat jy nie meer kan keer nie.

“Ons is nou in die 21ste eeu, nie meer in die 19de eeu nie en moet by meganisasie aanpas om te oorleef,” sê hy.

Jy kan byvoorbeeld mielies met ’n dorsmasjien dors, maar masjiene kan nie avokado’s pluk nie.

“Mens en masjien vul mekaar aan. Daar is sekere goed wat masjiene nie kan doen nie.

“Jy kan byvoorbeeld mielies met ’n dorsmasjien dors, maar masjiene kan nie avokado’s pluk nie.

“Daarvoor het jy mense nodig. En al kan jy mielies met ’n masjien dors, is daar altyd mielies wat nie deur die dorsmasjien opgesuig word nie en met die hand opgetel moet word.”

Khoza, wat voorsitter en eienaar is van die Koeltehof Farm & Koeltehof Export Facility, sê toe hy sowat tien jaar gelede die plaas oorgeneem het, het hy sowat 100 mense in diens gehad. Daar is nou 300.

Hy het ’n pakhuis wat hoogs gemeganiseer is, maar heelwat werkgeleenthede is geskep omdat produktiwiteit toegeneem het.

Werkloosheid is laer in ontwikkelde lande

“Die VSA is een van die mees ontwikkelde lande in die wêreld en het ’n werkloosheidsyfer van sowat 3,5%. Hier by ons is tussen 38% en 42% van die jeug werkloos.

“Algeheel is dit tussen 27% en 30% en ons is nie naastenby so gemeganiseer soos die VSA nie,” sê Khoza.

“Daarom is dit nie mens teen masjien nie, maar die mens wat aanpas by ontwikkeling.

“Hier kom onderwys ter sprake. Ons moet ons jeug oplei om te kan doen wat nodig is in die 21ste eeu.”

Toerusting sal in die toekoms baie ontwikkel en die mense wat dit bedryf, sal baie goed opgelei moet word

Khoza sê hy het tans sewe trekkerbestuurders in diens. Deur meganisasie kan hy dalk binnekort minder nodig hê omdat die trekkers geprogrammeer kan word om hulself te bestuur.

“Dié wat hul werk as gevolg hiervan verloor, kan ek elders aanwend.

“Toerusting sal in die toekoms baie ontwikkel en die mense wat dit bedryf, sal baie goed opgelei moet word,” sê Khoza.

“Dit gaan egter nog lank neem om Suider-Afrika as ’n geheel te meganiseer.”

Pas aan om mededingend te wees

Khoza sê die realiteit is dat boere wat nie meganiseer nie, in die toekoms nie mededingend sal kan wees nie.

“Jy kan nie tyd laat stilstaan nie. Jy moet nie net aanpas nie, jy moet voor wees met ontwikkeling as jy wil oorleef.

“As jy meganisasie teenstaan, sal jy baie gou iets van die verlede wees,” sê Khoza.

Dr. Reuel Khoza (middel), bekende sakeman en boer, Vrydagmiddag by Netwerk24 se gespreksreeks by die Innibos-kunstefees in Mbombela aan die woord. Links is Ivor Price, die gespreksleier, en regs Robert Davel, hoofbestuurder van Mpumalanga Landbou. Foto: Sarel van der Walt

Ivor Price, die gespreksleier wat die TV-program Landbouweekliks op die TV-kanaal VIA aanbied, het gesê ’n katoenboer het onlangs aan hom gesê een katoenstroper wat hy aangeskaf het, het 800 mense se werk gekos.

Hy sê baie boere sê vir hom die regering is besig om “hulle goed te bedonder, soos byvoorbeeld deur wetgewing oor die minimum loon”.

Dít dryf hulle tot in die hande van meganisasie.

Baie boere sê hulle het nie die probleme nodig wat minimum lone bring nie. “Dit lei tot stakings en onrus. Hulle sal eerder groot beleggings aangaan en meganiseer,” sê Price.

Dit is belangrik dat plaaswerkers opgelei moet word om aan te pas by meganisasie.

Khoza stem saam.

“Ek sê nie mense moet aalmoese betaal word nie, maar die regering moet eerder dat markkragte bepaal wat jy mense moet betaal.

“Op dié manier sal mens en meganisasie mekaar aanvul.”

Khoza meen hoewel meganisasie kan lei tot werkverliese, sal dit lei tot beter produktiwiteit wat uiteindelik kan lei tot die skepping van méér werkgeleenthede.

Dit is belangrik dat plaaswerkers opgelei moet word om aan te pas by meganisasie.

‘Moet nie veralgemeen nie’

Die doel van meganisasie is nie noodwendig om ’n mens te vervang nie. Foto: Argief

Robert Davel, hoofbestuurder van Mpumalanga Landbou, sê een van die grootste foute wat Suid-Afrika begaan wanneer hy na die kwessie van arbeid kyk om die probleem van werkloosheid op te los, is om te veralgemeen.

“Jy moet eers die dinamika van die landboubedryf verstaan voordat jy tot ’n slotsom kan kom. Dit is waar die regering heel dikwels die pot mis sit,” meen Davel.

“Wanneer die regering oor wetgewing besluit, neem hy nie die dinamika van die landboubedryf in ag nie.

“Op een plaas het jy mense nodig wat met hoogs gespesialiseerde masjinerie werk, maar ook mense wat take doen wat geen spesifieke opleiding vereis nie,” sê Davel.

“Dit kan wees dat jy op ’n beesplaas ’n veewagtertjie nodig het wat die vee moet oppas en bymekaar moet maak, maar ook een wat veesiektes moet kan uitken.

Ons kan nie met die res van die wêreld meeding as ons nie spesialiseer nie. Dit gaan oor doeltreffendheid. Dit gaan oor opbrengs.

“Dan kry jy ook byvoorbeeld die katoen- en bosboubedryf wat ook hul eie uniekhede het.

“Daarom is dit baie moeilik om te veralgemeen,” sê Davel.

Arbeidsprobleme is volgens hom nie die enigste rede waarom boere meganiseer nie.

Hy sê Suid-Afrikaanse boere moet reeds sonder enige regeringshulp meeding met boere wêreldwyd.

“Ons kan nie met die res van die wêreld meeding as ons nie spesialiseer nie. Dit gaan oor doeltreffendheid. Dit gaan oor opbrengs.

Dit is baie belangrik dat die mens moet bybly by masjinerie en nie agterraak nie.

“Jy moet meganiseer as jy ’n beter opbrengs wil hê,” sê Davel.

“Jy meganiseer nie in die eerste plek om ’n mens te vervang nie.

“Dit is wel so dat mense in die proses hul werk verloor, maar in dieselfde proses is daar mense wat beter geskool moet word, en beter opgelei moet word om met die moderne masjiene te werk.”

Dit is baie belangrik dat die mens moet bybly by masjinerie en nie agterraak nie.

“Jy kan nie meer ’n ongeskoolde mens op hoogs gespesialiseerde toerusting van R3 miljoen toelaat nie. Dit is so goed ek gebruik die mees gevorderde selfoon op die mark net om mee te bel,” sê Davel.

‘Landbou is ’n onderneming’

“Onthou, landbou is ’n onderneming. Dis nie ’n lewenswyse nie.

“As ’n mens gaan kyk wie is dit wat werk skep, is dit jou suksesvolle ondernemings. Dis dié ondernemings wat wins maak.”

Davel sê “die grootste oorlog van ons tyd” is teen werkloosheid en armoede.

Daar is net een manier om dié oorlog te wen, en dit is om jou verskillende bedrywe te laat groei.

Bedrywe wat groei, neem ekonomiese besluite en nie emosionele besluite nie.

“As ’n bedryf nie groei nie, gaan hy met die verloop van tyd dood.

“Bedrywe wat groei, neem ekonomiese besluite en nie emosionele besluite nie.

“Hul besluite is gegrond op ’n sinvolle ekonomiese grondslag. Só groei hy en skep hy werk.

“Die tweede ding is produktiwiteit. Die inset wat ek lewer, moet ’n bepaalde uitset lewer, anders is dit wat ek doen nie volhoubaar nie,” sê Davel.

“Op grond daarvan neem ’n boer dan byvoorbeeld die besluit om uit te brei of ’n nuwe pakhuis te bou en nuwe mense aan te stel.”

Boere en politici se uitkyk verskil

Die probleem wat die land het, is dat landbou ’n “langtermyn-onderneming is” en die politiek ’n “korttermyn-onderneming”.

“ ’n Bosbouer wat vandag ’n boom plant, sal dit eers oor 25 jaar afkap. In dié tydperk was daar vyf verkiesings . . . ”

Khoza meen die stelsel van kiesafdelings moet teruggebring word in die politiek.

“Op dié manier behoort ’n politikus ook aan ’n gemeenskap en nie net aan ’n politieke party nie.

“Politici sal dan gedwing word om hul gemeenskappe te raadpleeg voordat besluite geneem word wat dié gemeenskappe raak.”

Meer oor:  Reuel Khoza  |  Sarel Van Der Walt  |  Landbou  |  Meganisasie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.