Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
‘Meng’ van entstowwe dalk SA se voorland

Navorsing oor die “meng” van entstowwe is van kardinale belang vir lande soos Suid-Afrika, waar entstofverkryging nie ’n gegewe is nie, skryf Jana Marx.

Navorsing oor die 'meng' van entstowwe is van kardinale belang vir lande soos Suid-Afrika. Op die foto is dosisse van die AstraZeneca-, Pfizer- en Moderna-entstof. Foto: Getty Images

Lande soos Kanada, Italië en Suid-Korea het vroeg-vroeg al entstowwe begin “meng” om hul entstofprogramme te bespoedig. Hulle het dus besluit om een entstof vir ’n eerste dosis en ’n ander soort entstof vir ’n tweede dosis (booster) toe te laat. In Engels praat wetenskaplikes van “mixing-and-matching”.

Dr. Angela Merkel, die Duitse bondskanselier, het ’n dosis Moderna ná ’n eerste dosis AstraZeneca ontvang, en Italië se premier, Mario Draghi, het sy AstraZeneca-dosis met ’n dosis Pfizer opgevolg.

Die Engelse openbaregesondheidsdiens het in Januarie voorgestel dat entstowwe gemeng word  wanneer entstofvoorraad beperk is, waarna die Amerikaanse sentrums vir siektebeheer en -voorkoming (CDC) volgens die CNBC-nuusdiens ook “stilletjies” besluit het om in “uitsonderlike omstandighede” ’n kombinasie van Pfizer- en Moderna-dosisse toe te laat.

Dis ’n gevaarlike neiging en sal ’n chaotiese situasie skep as burgers self besluit wanneer en wie ’n tweede, derde en vierde dosis sal neem.
Dr. Soumya Swaminathan

In Maart het ’n klomp lande inentings tydelik gestaak ná inligting dat ’n skaars bloedklonttoestand moontlik met die AstraZeneca-entstof verbind word.

Baie lande het toe reeds hul burgers met ’n eerste dosis AstraZeneca laat inspuit en het alternatiewe entstowwe vir die tweede dosis gesoek.

Reuters het twee weke gelede die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) se hoofwetenskaplike aangehaal, wat individue afgeraai het om self Covid-19-entstowwe te “meng” en gesê hierdie besluite moet deur die gesondheidsowerhede geneem word.

“Dis ’n gevaarlike neiging en sal ’n chaotiese situasie skep as burgers self besluit wanneer en wie ’n tweede, derde en vierde dosis sal neem,” het dr. Soumya Swaminathan op ’n aanlyn inligtingsessie gesê.

Dit kom nadat Pfizer aangekondig het hy gaan by die Amerikaanse voedsel-en-medisyne-owerheid aansoek doen om derde dosisse te mag toedien.

Wat word met die meng van entstowwe oorweeg?

Prof. Helen Rees, lid van die ministeriële advieskomitee oor Covid-19, sowel as die advieskomitee oor entstowwe, lid van die WGO se noodkomitee vir internasionale gesondheidsregulasies oor Covid-19 en voorsitter van die Suid-Afrikaanse Gesondheidsproduktebeheerraad (Sahpra), meen die meng van entstowwe moet beslis oorweeg word.

Prof. Helen Rees Foto: Verskaf

Daar is verskeie redes: “As ’n mens op makrovlak begin kyk, is daar die vraag oor entstofverkryging. As ’n land entstof A het, maar hy het net ’n sekere aantal wat nie genoeg is vir ’n tweede dosis nie, kan ons ’n ander entstof gee? Dít is ’n baie pragmatiese vraag in ’n tyd waarin die hele wêreld ’n entstoftekort ervaar, veral hier in Afrika.”

Die tweede vraag is of die meng van entstowwe dieselfde voordeel bied as wat twee dosisse van dieselfde entstof (in die geval van tweedosis-entstowwe soos Pfizer of AstraZeneca) sou.

Dit word op verskillende maniere beoordeel. Eerstens word gekyk na laboratoriumresultate. Tweedens na die immuunrespons as mense twee dosisse van een entstof kry teenoor twee dosisse van verskillende entstowwe. En derdens, as jy wel meng, hoe lyk die doeltreffendheid?

Hulle oorweeg ook hoe veilig dit is om te meng en of dit tot meer newe-effekte lei.

“Ek sit al weke lank in vergaderings met die WGO waar ons dié data toets.”

Navorsing uit Spanje

Combivacs, ’n fase 2-studie uit Spanje wat op 10 Julie in The Lancet gepubliseer is, het getoon ’n persoon wat ’n dosis AstraZeneca gekry het, se immuunrespons neem toe wanneer hy ’n tweede dosis Pfizer kry, teenoor die persoon wat slegs ’n eerste dosis AstraZeneca gekry het.

Altesame 676 gesonde vrywilligers tussen die ouderdomme van 18 en 60 wat tussen agt en 12 weke vroeër reeds ’n dosis AstraZeneca toegedien is, het aan die studie deelgeneem.

Altesaam 450 het ’n opeenvolgende Pfizer-inspuiting ontvang en die ander 226 het geen tweede dosis ontvang nie.

Thailand meng die Chinese CoronaVac-entstof van Sinovac met AstraZeneca. Die plan om entstowwe te meng spruit uit die vlaag infeksies wat deur die Delta-variant veroorsaak is. Foto: Getty Images

Net 1,7% het erge newe-effekte ervaar, wat hoofpyn, spierpyne en moegheid insluit.

“Hierdie simptome is nie simptome wat as ernstig beskou kan word nie,” het dr. Magdalena Campins, een van die studieleiers, aan Reuters gesê.

Hoekom werk dit?

Om te verstaan waarom hierdie kombinasie werk, moet ons weet hoe Pfizer en AstraZeneca gemaak word.

Die Pfizer-entstof maak gebruik van boodskapper-RNS (bRNS). Die virus se genetiese kode is ’n RNS-string. Die deel van die kode wat spesifiek vir die proteïenuitstulpings is wat die virus gebruik om aan selle te heg, word as’t ware uit die res van die virus “gesny”.

Hierdie bRNS-deeltjie is maar effentjies. Dit is waarom die Pfizer-entstof so sensitief vir hitte is. Die bRNS-deeltjie sal sommer tot niet gaan as dit te warm kry.

Om hierdie string te beskerm, word dit in ’n vetpartikel of vetomhulsel gegiet, wat in die arm ingespuit word.

Die hele partikel word deur spierselle opgeneem en die bRNS dring die liggaam binne.

Dan kan die proteïenuitstulpingskode die immuunstelsel aanwakker om die ware Jakob te beveg wanneer dit oor sy pad kom. Sodra die bRNS sy werk gedoen het, gaan hy dood.

’n Dosis Pfizer-BioNTech-entstof. Foto: Getty Images

Die AstraZeneca-entstof gebruik ’n draervirus (adenovirus) wat tussen sjimpansees (nie mense nie) oorgedra word. Die stukkie RNS met die proteïenuitstulpings word weer losgesny, maar in dié geval word dit aan ’n adenovirus geheg. Adenovirusse is gewone verkouevirusse. Hierdie adenovirus “dra” as’t ware die RNS in die selle in wanneer ’n persoon ingespuit word, maar vermeerder nie soos ’n verkouevirus sou nie. Sodra die string in die spierselle is, kan die kode vir proteïenuitstulpings die immuunstelsel aanwakker.

Prof. Tracy Hussell, professor in inflammasie-siektes aan die Universiteit van Manchester, verduidelik mooi in haar skrywe op The Coversation  waarom hierdie twee entstowwe kan saamwerk: Hoewel hulle verskillend gemaak word, maak albei staat op proteïenuitstulpings om ’n immuunreaksie te ontlok.

Wanneer die eerste entstofdosis deur middel van die draervirus toegedien word (AstraZeneca), is dit moontlik dat ’n immuunrespons ontlok word teen nie net die proteïenuitstulpings nie, maar ook teen die draervirus self.

As ’n entstof wat ook op die proteïenuitstulpings werk, soos Pfizer, dan daarop volg, sal die immuniteit wat reeds teen die draervirus ontwikkel is, ook op Pfizer reageer.

Bekende Covid-19-entstowwe en hul vervaardigers.
Bekende Covid-19-entstowwe en hul vervaardigers.

Navorsing uit Brittanje

Die Universiteit van Oxford in Brittanje het meer omvattende navorsing gedoen, naamlik Com-COV en Com-COV2.

Oxford verduidelik op sy webblad sy doel is om die immuunreaksie van mense wat twee dosisse van dieselfde entstof gekry het, te vergelyk met mense wie se tweede dosis van ’n ander entstof was.

Hy kyk ook na die newe-effekte van die vermenging.

Die Universiteit van Oxford in Brittanje doen omvatten
Die Universiteit van Oxford in Brittanje doen omvattende navorsing oor die "meng" van entstowwe. Foto: Unsplash

Met die Com-Cov-studie is bevind:

  •  AstraZeneca as eerste dosis, gevolg deur Pfizer, veroorsaak meer teenliggaampies en ’n beter T-sel-reaksie (witbloedselle) as ’n eerste dosis Pfizer gevolg deur AstraZeneca.
  • Albei hierdie kombinasies het ’n beter teenliggaampiereaksie as twee dosisse van AstraZeneca.
  • Die beste teenliggaampiereaksie was met twee dosisse Pfizer en die beste T-sel-reaksie was met een dosis AstraZeneca, gevolg deur Pfizer.

In Com-COV2 meng hulle nog entstowwe by. So ver word AstraZeneca, Pfizer, Moderna en Novavax vergelyk.

Rees sê Sahpra het nog nie aansoeke vir Moderna of Novavax ontvang nie.

Moderna is ’n boodskapper-RNS-entstof soos Pfizer en toon goeie resultate as dit ná ’n eerste dosis AstraZeneca gespuit word. Foto: Getty Images

Moderna is ’n bRNS-entstof soos Pfizer. Volgens die Yale School of Medicine is Moderna ietwat minder doeltreffend (94,1%) teen Covid-19 as Pfizer (95%). Moderna se doeltreffendheid daal tot 86% vir mense van 65 jaar en ouer.

Novavax is nie ’n adenovirus- óf ’n bRNS-entstof nie. Die Yale School of Medicine verduidelik dit soos volg: Anders as die bRNS- of vektor-entstowwe, bevat hierdie entstof ’n proteïen-hulpmiddel (adjuvant). ’n “Hulpmiddel” is ’n bestanddeel wat gebruik word om die immuunrespons te versterk. Terwyl ander entstowwe die liggaam se selle fnuik om te dink die regte virus is in die lyf om sodoende die immuunrespons aan te wakker, bevat die Novavax-entstof die proteïenuitstulpings van die koronavirus self, maar dis gewysig as ’n nanopartikel (piepklein deeltjie) wat nie siekte kan veroorsaak nie.

Wanneer die entstof ingespuit word, stimuleer dit die immuunstelsel om teenliggaampies en T-selle te vervaardig.

Beteken dit twee dosisse AstraZeneca is nie goed genoeg nie?

Nie noodwendig nie, al het Suid-Afrika vroeër vanjaar sy AstraZeneca-besending verwerp nadat kliniese proeflopies getoon het dit bied nie voldoende beskerming teen die Beta-variant van die koronavirus nie.

Daar is intussen ’n hele paar studies oor die doeltreffendheid van hierdie entstof gedoen.

Suid-Afrikaanse polisiebeamptes sit en wag op hul inentings. Foto: Getty Images

Volgens ’n artikel in die British Medical Journal in Mei, is een dosis AstraZeneca tussen 60% en 70% doeltreffend teen matige Covid-19 (nie variant-spesifiek nie) en sowat 80% doeltreffend teen ernstige Covid-19 wat tot hospitalisasie lei.

AstraZeneca het in Junie gesê sy entstof is 92%-doeltreffend teen hospitalisasies wat spesifiek deur die Delta-variant veroorsaak word.

“Die entstof het ook ’n hoë vlak van doeltreffendheid teen die Alfa-variant (uit Brittanje) getoon, met ’n 86%- vermindering in hospitalisasies.”

Volgens ’n artikel in die British Medical Journal
Volgens ’n artikel in die British Medical Journal in Mei, is een dosis AstraZeneca tussen 60% en 70% doeltreffend teen matige Covid-19 (nie variant-spesifiek nie) en sowat 80% doeltreffend teen ernstige Covid-19 wat tot hospitalisasie lei. Foto: Getty Images

Wat van J&J, wat uit net een dosis bestaan?

Johnson & Johnson (J&J) se entstof gebruik ook ’n adenovirus, maar dit is een wat tussen mense oorgedra word. Dit is egter aangepas om nie te vermeerder en mense siek te maak nie.

J&J bied meer as 80% beskerming teen ernstige siekte wat deur die Beta- (Suid-Afrikaanse) variant veroorsaak word.

Aangesien hierdie entstof net een dosis verg, was daar vrae oor die doeltreffendheid daarvan, en of ’n tweede dosis bRNS-entstof, soos Pfizer of Moderna, nodig is om sy doeltreffendheid te verhoog,

Navorsing waaroor The New York Times vandeesweek berig het, het reeds getoon J&J is nie so doeltreffend teen die Delta- en die Lambda-variant nie.

Gesondheidswerkers sit en wag om hul dosis Johnson & Johnson-entstof in die Sisonke-studie te kry. Foto: Getty Images

“Ons sal dit beslis bestudeer, maar dis belangrik om te besef hierdie was in ’n laboratorium,” sê Rees.

“Die navorsing is nog nie formeel deur portuurgroepe hersien nie.” Die navorsing maan ook die media moet die bevindings nie as “onweerlegbaar” weergee nie.

Dieselfde data word ook in die Sisonke-studie (waartydens derduisende gesondheidswerkers met J&J ingeënt is) bestudeer. Sisonke dui tans daarop dat J&J se enkeldosis doeltreffend is teen ernstige siekte en hospitalisasie weens die Delta-variant.

“Maar nou vra mense: Sal dit nie selfs meer doeltreffend wees as ons dit boost nie? Een studie wat ons tans doen, kyk spesifiek daarna om J&J met ’n volledige Pfizer-entstofdosis te boost, maar ook met ’n halfdosis.”

Die studie word in vennootskap met die Universiteit van die Witwatersrand en die Universiteit van KwaZulu-Natal, die navorsingseenheid Krisp, die Mediese Navorsingsraad en die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes gedoen.

Die navorsing oor die “halfdosis” is om “dosisbesparing” te ondersoek, ingeval ’n tekort aan entstowwe ontstaan. “Kry jy dieselfde uitwerking met ’n mindere dosis? Of kry jy ’n uitwerking wat goed genoeg is om ’n behoorlike boost te gee? Dis navorsing wat tans in die pypleiding is.”

Die nuus is dat die respons bestendig lyk en eintlik toeneem en verbeter oor tyd . . . So, dis tot dusver nie nodig om ’n tweede dosis Johnson & Johnson aan te beveel nie.
Prof. Linda-Gail Bekker van die Sisonke-studie

Daar is nog ’n rede dat die moontlikheid van ’n halfdosis ondersoek word. “Die reël in farmakologie is om altyd die laagste moontlike dosis te gee om die uitwerking te kry wat jy wil hê – ook om moontlike newe-effekte te verminder.”

Die protokol (“resep” vir die navorsing) word nou geskryf en moet dan deur al die etiese en Sahpra-goedkeuring gaan, verduidelik Rees.

Prof. Linda-Gail Bekker, die mediese wetenskaplike wat Sisonke gelei het en spesialiseer in aansteeklike siektes soos MIV en tuberkulose, sê by navraag sy hou J&J se Ensemble-studie (’n proeflopie met menslike proefkonyne) dop. Dit is nou in sy derde en laaste fase.

Prof. Linda-Gail Bekker Foto: Argief

“Die nuus is dat die respons bestendig lyk en eintlik toeneem en verbeter oor tyd . . . So, dis tot dusver nie nodig om (’n tweede dosis) aan te beveel nie. Ons sal egter die Ensemble-data oor bestendigheid in Augustus sien. Dit sal báie insiggewend wees. Ons wil regtig seker maak ons kry die maksimum voordeel moontlik uit ’n enkele dosis . . . Die wêreldtekort aan entstowwe beteken dis regtig kritiek. Ons wil seker wees dat soveel moontlik mense in die wêreld minstens ’n eerste reeks van ’n entstof (in J&J se geval is dit die enigste dosis) kry, voordat ons boosters nodig het. In die toekoms sal ons dit waarskynlik nodig hê, maar ons moet bepaal hoe ver uitmekaar ons die dosisse kan spasieer.”

Volgens Rees hoop hulle om vir die plaaslike laboratoriumnavorsing proefkonyne van die Ensemble-studie wat reeds ’n J&J-dosis gehad het, oor te neem en vir hulle ’n Pfizer-dosis (of halfdosis) te gee.

Meer oor:  Pfizer  |  Pandemie  |  Astrazeneca  |  Variante  |  Sisonke  |  Covid-19  |  Entstowwe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.