Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Mens se pad met TB kom van ver

Die afgelope twee eeue het tuberkulose (TB) die dood van minstens ’n miljard mense veroorsaak en dit bly steeds die wêreld se dodelikste aansteeklike siekte. Byna 100 jaar het verloop sedert die TB-entstof ontwerp is, en reuse-uitdagings lê weer voor die deur. skryf oor dié bakterieë wat die mensdom al vir derduisende jare teister.

’n Navorser van die South African Tuberculosis Vaccine Initiative (Satvi), wat saam met internasionale vennote aan die ontwikkeling van nuwe kandidaat-entstowwe teen TB werk. Foto: SATVI

In die 19de eeu het een uit elke vier mense aan “consumption” of “phthisis” doodgegaan. Dit was deel van mense se daaglikse lewe, sonder dat hulle geweet het wat dit veroorsaak:

’n Bakterie wat deur die lug versprei van persoon tot persoon. Mycobacterium tuberculosis. Dink maar aan die Verdi-opera La traviata, waarin Violetta Valéry dramaties aan dié siekte sterf. Dit is gegrond op ’n boek van Alexandre Dumas.

Arme Mini sterf eweneens in Puccini se La bohème daaraan. Die letterkunde en sy sanatoriums wat grashalms van herstel was, is vol van die siekte omdat dit die realiteit van die lewe weerspieël het in die werke van Victor Hugo, Charles Dickens, Thomas Mann en vele ander.

Daar was geen genesing nie – mense het doodgegaan met ’n sakdoek vol bloed in hul hande vasgeklem.

In 1882 het Robert Koch die bakterieë geïdentifiseer wat TB veroorsaak, dit is in die vorm van ’n stafie of basil.

Teen dié tyd het Louis Pasteur al ’n teorie gehad dat patogene siektes kan veroorsaak. Dit het nog baie navorsing geneem voordat die entstof deur twee Franse, Albert Calmette en Camille Guérin, ontwikkel is.

Calmette, ’n dokter en bakterioloog, word beskryf as ’n optimistiese, vrolike man wat welwillend was.

Toe Guérin tien was, is sy pa aan TB dood; hy het later gaan studeer om ’n veearts toe word, maar hom gou verdiep in immunologie.

In 1895 is Calmette aangestel as ’n direkteur van die Pasteur-instituut, met Guérin as sy assistent. So het hulle begin saamwerk op soek na ’n entstof teen TB.

Die entstof werk, maar ...

Albert Calmette, die mede-ontwikkelaar van die TB-entstof wat byna 100 jaar oud is.

Tussen 1905 en 1918 het hulle tientalle eksperimente gedoen oor die meganisme van TB-infeksie. Hulle het gewys dat klein dosisse van die verswakte bakterieë afkomstig van koeie (Mycobacterium bovine), wat ingespuit word, beskerming kan bied. Stap vir stap het hulle kulture gegroei en gevind die stamme word stelselmatig swakker.

Teen 1921 het hulle die kulture 230 keer gegroei en dit genoegsaam verswak dat hulle oortuig was dit sal as ’n entstof immuniteit in mense kan aanwakker.

Die Bacillus Calmette-Guérin-entstof (BCG) het die lig gesien.

Die entstof se werking sou veroorsaak dat die pasiënt teenliggaampies ontwikkel wat beskerming bied deur te verhoed dat die bakterieë vermeerder en die pasiënt siek maak.

Die eerste keer wat dit oraal toegedien is, was in 1921 vir ’n baba wie se ma kort ná sy geboorte aan TB dood is, en hy sou grootgemaak word deur die ouma wat ook TB het. Die entstof het gewerk. Daar was steeds vrese oor die “lewendige” entstof, maar meer studies is gedoen en tussen 1924 en 1928 is 114 000 babas geïmmuniseer.

In 1930 was daar ’n groot terugslag in Lübeck, Duitsland, toe 73 van 246 babas dood is nadat hulle die entstof ontvang het. ’n Ondersoek het getoon dit is veroorsaak deur besmetting by die fabriek wat dit vervaardig het, en nie deur die entstof nie.

Dit het die twee mans onder geweldige spanning geplaas en Calmette is ’n jaar later op 70 jaar dood. Sy dood was ’n groot terugslag vir Guérin, wat bly navorsing doen en ’n voorstander van die entstof was tot met sy dood in 1961 op 89 jaar.

Soeke na ’n beter entstof gaan voort

Vandag word die BCG-entstof met verskillende dogterstamme steeds gebruik.

Die geskiedenis van TB en dié entstof is egter nie verby nie. Daar is tans oor die wêreld heen ’n soektog na ’n beter entstof, veral een wat mense teen middelweerstandige TB sal beskerm.

Met die koms van antibiotika in die Twee Wêreldoorlog het mense wat wel TB gekry het beter gevaar, maar dié stamme het weerstandig geraak. Daar sterf steeds sowat twee miljoen mense jaarliks aan TB en een van die grootste gevare is middelweerstandige TB, met soveel as 558 000 gevalle in 2016, volgens die jongste syfers.

Camille Guérin wat saam met Albert Calmette (op foto in agtergrond) die TB-entstof ontwikkel het.Foto: WELLCOME IMAGES/WIKI COMMONS

Die South African Tuberculosis Vaccine Initiative (Satvi), werk saam met internasionale vennote aan die ontwikkeling van kandidaat-entstowwe.

Einde verlede jaar het so ’n entstof 50% sukses getoon om te keer dat mense wat latente TB het, uiteindelik die siekte kry.

Dit is mense wat reeds geïnfekteer is, maar nog nie siek is nie. Dit kan enigeen van ons wees – na beraming het ’n kwart van die wêreld se bevolking latente TB, waarvan 10% uiteindelik long-TB sal ontwikkel. Dr. Michele Tameris, een van Satvi se senior navorsers wat ook verbonde is aan die Universiteit van Kaapstad, verduidelik dat dié kandidaat-entstof in die laboratorium gemaak word, dus sinteties is en nie gegrond is op ’n organisme soos die BCG nie.

Dit is moeilik om ’n entstof te maak omdat daar nie ’n eenvoudige bloedtoets vir TB is wat teenliggaampies in die bloed kan opspoor om te bepaal of die entstof “gevat” het nie. Dit vereis ’n afwagtende houding, met kliniese toetse wat jare duur.

Dié entstof stimuleer jou immuniteitstelsel om te keer dat die latente TB omsit in siekte.

“Ons weet nie wie die mense is wat TB sal ontwikkel nie. Wat ons wel weet, is dat ’n verswakte immuniteitstelsel jou meer vatbaar kan maak, soos byvoorbeeld weens MIV/vigs, swangerskap, diabetes of vorige TB,” sê Tamarin.

Sy beklemtoon dat die BCG-entstof steeds werk, veral teen die erge vorms van die siekte soos TB-meningitis in kinders en in wisselende mate teen long-TB. Indien jy dit by geboorte gekry het, blyk dit min of geen uitwerking te hê teen ouderdom 10 tot 15.

’n Onlangse studie het getoon wanneer tieners weer die BCG-entstof ontvang, is dit 45,5% doeltreffend om latente TB te voorkom.

Só werk die siekte

Só lyk die staafvorminge bakterieë van Mycobacterium tuberculosis.Foto: NIAID

Prof. Marlo Möller van die Universiteit Stellenbosch se eenheid vir molekulêre biologie en menslike genetika verduidelik presies hoe die siekte werk.

Infeksie met die bakterieë vind deur die lug plaas en versprei wanneer ’n mens met aktiewe TB praat, hoes of nies. Wanneer dit ingeasem word, beweeg dit deur die mond en neus en gaan na die heel onderste en kleinste dele van die lugweë.

Dit beweeg in die eindbrongiole en alveoli van die long in.

Die eindbrongiole is die kleinste deel van die brongieë, die strukture wat lug vanaf die boonste lugweë (neus, mond en tragea) na die longweefsel lei.

Alveoli vorm deel van die longweefsel en is waar die suurstof in die ingeasemde lug na die bloed oorgedra word om na die organe wat dit benodig, te vervoer.

Nadat die bakterieë die alveoli in die long bereik, word dit opgevang deur spesiale selle van die immuniteitstelsel, wat makrofage genoem word.

Hierdie makrofage sit gewoonlik binne-in die weefsel van die alveoli. Hul werk is om enige vreemde voorwerp wat die alveolêre ruimte binnekom, in te sluk en onaktief te maak.

Die gebeure wat volg, hang grootliks af van die hoeveelheid TB-bakterieë en die sterkte van die makrofage.

Dit is belangrik dat die immuniteitstelsel net genoeg reageer, want ’n oor- of onderreaksie kan die siekte vererger. As daar te veel TB-bakterieë is, of as die makrofage nie sterk genoeg is om dit te weerstaan nie, kan die bakterieë in die makrofage vermeerder.

Dit lei uiteindelik tot die vernietiging van die makrofage en die besmetting van nuwe, nabygeleë makrofage wat probeer om TB-bakterieë op te eet.

’n Skildery getiteld Fantine (1886) deur Margaret Bernadine Hall is nou in die versameling van die Walker-kunsgalery. Dit is geskoei op die karakter in Victor Hugo se Les Misérables wat aan TB dood is.Foto: WIKI COMMONS

As die makrofage nie die TB-bakterieë kan beheer nie, begin dit eksponensieel vermeerder, wat beteken dat daar vir elke bakterie twee nuwes verskyn, wat elkeen op hul beurt twee produseer.

Die liggaam bring dan meer immuniteitselle in om die infeksie te stabiliseer en te beheer. Vir die meeste mense stop die infeksie in dié stadium.

In die longe bou die TB-bakterieë en makrofage wat hulle ingesluk het, ’n ronde kompleks, met TB-bakterieë en besmette makrofage in die middel en gesonde makrofage wat hulle omring.

Dit word ’n Ghon-fokus genoem na Anton Ghon, die Oostenrykse patoloog wat dit eerste beskryf het. TB-bakterieë besmet ook die omliggende limfknope. Die kombinasie van so ’n kompleks en limfknoop word die primêre kompleks (ook Ghon-kompleks) genoem.

Die TB-bakterieë word beskerm teen die immuniteitselle van die longweefsel en kan jare in die makrofage oorleef. Die siekte is in hierdie stadium nie aansteeklik nie, omdat die bakterieë nie die lugweë kan binnedring en nie uitgehoes- of geasem kan word nie.

Sodra die immuniteitstelsel verswak, kan die bakterieë vermeerder. As dit sterk genoeg is, kan die primêre kompleks egter genees en dit kan later op ’n X-straal gesien word.

Dit versprei vinnig

In ongeveer 5% van gevalle genees die primêre kompleks nie. Die geheraktiveerde TB-bakterieë reproduseer vinnig en vorm ’n holte in die weefsel, waar die immuniteitstelsel dit nie kan bereik nie. Dit versprei vinnig en die liggaam se reaksie sal die weefsel beskadig en simptome begin. Dit is nou aktiewe TB, en aansteeklik.

Möller verduidelik dat dié siekte al duisende jare saam met die mens is. Langtermynblootstelling in bevolkingsgroepe lei tot sterk positiewe seleksie in TB-weerstand in die allele van die mens se gene. ’n Gegewe geen is nie altyd in die individu presies dieselfde as in die volgende nie.

Dus, dieselfde geen in verskillende mense, gee nie presies dieselfde instruksies nie. Elke unieke vorm van ’n enkele geen word ’n alleel genoem.

So het individue met allele van die geen wat nié teen TB beskerm nie, dalk gesterf of was te siek om kinders te hê.

Dit beteken die mense met die allele van die geen wat wél teen TB beskerm, kon langer leef en dus meer kinders hê wat die beskermingsalleel van die geen geërf het. Dus kon die beskermingsallele van die geen in sekere bevolkings toeneem.

Sy noem dat daar bewyse is uit Europese kolonialisme dat bevolkings wat minder blootgestel is aan TB, meer vatbaar is daarvoor.

In teenstelling met Europeërs is Suider-Afrikaanse bevolkings ook relatief onlangs blootgestel aan moderne TB-stamme.

Daar is al voorgestel dat seleksiedruk vir weerstand die sterkste sou gewees het in gebiede met ’n hoë bevolkingsdigtheid, soos wat destyds in Europa die geval was. Minder TB onder diegene van Europese afkoms kan dus die gevolg wees van eeue se blootstelling in digbevolkte nedersettings, wat die evolusie van verhoogde weerstand veroorsaak het.

Om te erken dat daar ’n genetiese variasie in TB-vatbaarheid is wat in die breë ooreenstem met bevolkingsgroepe, is nie om te ontken dat daar ander faktore is wat bydra tot die verskille in die voorkoms van TB nie. Onder die regte toestande kan enige iemand TB kry, sê Möller.

Seker een van die hartseerste fiksieverhale is die van Fantine in Les Misérables. Arm en gedwing tot sekswerk, moet sy alleen na haar kind, Cosette, omsien. Sy moet haar hare en voortande verkoop. Sy is uitgelewer aan ’n onverdraagsame samelewing. Uiteindelik sterf sy aan tuberkulose.

Sy is ’n karakter uit die verbeelding van Victor Hugo en tog was en is daar steeds derduisende Fantines.

  • Bronne: The Lancet; TB Facts; Maedica.
  • Brits is ’n vryskut-wetenskapjoernalis.
Meer oor:  Elsabé Brits  |  Tuberkulose
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.