Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Mense van Europa nie te opgewonde oor hul parlement

Kiesers in Europa stem vandeesweek weer vir lede van die Europese parlement. Tatiana Coutto verduidelik wat die doel van dié parlement is en waarom dit kiesers nie opgewonde maak nie.

Stem asseblief vir Change UK in die verkiesing vir die Europese Parlement, vra dié man met sy plakkaat in Londen. Foto: AP

Die verkiesings vir die Europese parlement is amper net soos krieket.

Albei kan ’n paar dae aanhou en dit kan nogal moeilik wees om die reëls te verstaan.

Vanjaar se Europese verkiesings vind tussen 23 en 26 Mei plaas en verskillende lande stem op verskillende dae.

Dit is nie verbasend nie dat min mense die moeite doen om in dié verkiesings te gaan stem nie, omdat die hele proses te ingewikkeld vir hulle is of omdat hulle dit vervelig vind (sommige mense voel dieselfde oor krieket).

Partye het gekom met inisiatiewe om die meer as 400 miljoen EU-burgers aan te spoor om te registreer en te stem.

Maar vanjaar se stemmery kan baie interessanter as voriges wees. Die populistiese golf wat oor Europa spoel, het ook ’n invloed in Brussel waar Euro-skeptiese partye intern probleme wil veroorsaak. Weens sy onvermoë om ’n Brexit-ooreenkoms te bereik is Brittanje in die bisarre posisie dat hy kandidate moet aanwys hoewel hy beplan om hom aan die Europese Unie (EU) te onttrek.

Partye oor die hele politieke spektrum heen het gekom met inisiatiewe om die meer as 400 miljoen EU-burgers aan te spoor om te registreer en te stem.

Die Europese Parlement het die “Dié keer gaan ek stem”-veldtog geloods met dieselfde doelwit en in al sy lidlande ’n toepassing met inligting oor die registrasie en stemmery beskikbaar gestel.

Kom ons kyk hoe die stemmery gaan werk en waarom dié verkiesings eintlik baie belangrik is.

Basiese beginsels

Ondersteuners van die Liberale Party in Roemenië tydens ’n byeenkoms voor die verkiesing vir die Europese Parlement in Boekarest. Foto: AP

EU-burgers gaan stem om 751 lede na die Europese Parlement te stuur. As Brittanje op die nippertjie kop uittrek as die onwaarskynlike gebeur en ’n Brexit-ooreenkoms word beklink, sal net 705 setels oor wees.

EU-burgers stem vir kandidate of partye in die lande van hul oorsprong of waar hulle bly, mits hulle geregistreer is.

Diegene wat oorsee bly, kan in die lande se ambassades of konsulate of in skole gaan stem vir kandidate wat in hul vaderlande verkiesbaar is.

Kiesers moet 18 jaar of ouer wees behalwe in Oostenryk en Malta (waar die minimum ouderdom 16 is) en Griekeland (waar dit 17 is). In België, Bulgarye, Ciprus, Griekeland en Luxemburg is dit verpligtend om te stem – hoewel dié reël nie altyd afgedwing word nie.

Setels word op grond van die grootte van lidstate se bevolkings toegewys; ekonomiese aanwysers of die grootte van ’n land se grondgebied tel nie in dié geval nie.

In Estland kan burgers en permanente inwoners aanlyn stem.

Frankryk het byvoorbeeld 74 setels, Malta en Luxemburg het ses parlementslede en Brittanje 73.

Stemprosedures wissel nogal op betekenisvolle maniere van land tot land, maar almal bevat ’n element van proporsionele verteenwoordiging. Ierland het byvoorbeeld drie stemdistrikte (Dublin, Noordwes-Middellande en Suid) en kiesers rangskik die kandidate, so veel of so min as wat hulle wil, in die volgorde van hul keuse.

Frankryk het sy kandidate in agt kiesdistrikte verdeel, maar doen dit nie meer nie. Pleks daarvan sal kiesers vanjaar hul keuses van ’n enkele kieslys maak – wat beteken hulle stem vir ’n party en nie vir individuele kandidate nie.

Bulgarye het ook ’n enkele kiesdistrik, maar kiesers kan aandui watter kandidate hulle verkies.

In Estland kan burgers en permanente inwoners aanlyn stem.

Hoe word die parlement georganiseer?

“Pole in Europa” lees dié reuse-banier op ’n byeenkoms in Warskou, Pole, voor die verkiesings vir die Europese parlement. Foto: Reuters

Lede van die Europese Parlement word in transnasionale groepe georganiseer wat hul politieke affiliasie weerspieël.

Daar is agt groepe in die huidige parlement.

Dit sluit in die links-sentriese Alliansie van Sosialiste en Demokrate (S&D) en Europa van Nasies en Vryheid (ENF), wat die Franse National Rally, die Italiaanse Lega en ander verregse partye insluit.

Die grootste groep is die regs-sentristiese European People’s Party (EPP) wat met 216 parlementslede spog.

Dit sluit in Angela Merkel se CDU en Viktor Orbán se Fidesz (hoewel hy tot verdere kennisgewing deur die groep geskors is.)

Die president is net soos ’n dirigent: Hy of sy bepaal die tempo en maak seker dat die orkes op ’n harmonieuse manier speel.

Daar is ook 21 parlementslede wat nie aan enige groep behoort nie.

Die party met die meeste setels kan die president van die Europese Kommissie aanwys, ’n posisie wat Jean-Claude Juncker, die voormalige eerste minister van Luxemburg, tans beklee.

Die president is net soos ’n dirigent: Hy of sy bepaal die tempo en maak seker dat die orkes op ’n harmonieuse manier speel hoewel hulle nie op hul eie die repertoire kan kies nie.

In die Europese Parlement het geen partygroep die meerderheid setels nie. Hulle moet dus na mekaar uitreik en saamwerk om wetgewing goedgekeur te kry.

Hoekom is daar ’n Europese Parlement?

Dit is duidelik vir wie dié kiesers in Bulgarye gaan stem in verkiesings vir die Europese Parlement: Manfred Weber van die European People’s Party. Foto: Reuters

Die plan vir ’n parlementêre byeenkoms waarop die burgers van ledestate verteenwoordig word, het in 1952 begin toe die Steenkool-en-staalgemeenskap (voorloper van die Europese Gemeenskap) tot stand gekom het.

Destyds was die 142 lede nasionale parlementslede wat deur hul onderskeie regerings aangestel is.

Hulle het ’n marginale rol gespeel terwyl die “ware” besluite deur die ledestate geneem is.

Die parlement maak wette oor allerhande belangrike kwessies – van kosstandaarde tot LGBT-regte.

Die eerste regstreekse verkiesings tot die parlement het in 1979 plaasgevind en dit het sedertdien politieke spiere ontwikkel. Saam met die Europese Raad (wat ledestate verteenwoordig) is die parlement nou verantwoordelik vir die voorbereiding en aanvaarding van die EU se begroting – wat in 2019 €165,8 miljard beloop het.

Die parlement maak wette oor allerhande belangrike kwessies – van kosstandaarde tot LGBT-regte.

In Maart het 560 van die Europese Parlement se 751 lede ’n wet goedgekeur wat in 2021 ’n verbod op plastiekvoorwerpe wat eenmalig gebruik word, soos borde en eetgerei, plaas.

Waarom stem so min kiesers?

Hoewel die parlement ’n belangrike rol speel, het die stempersentasies van 62% in 1979 tot 43% in 2014 gedaal. In sommige lande is die stempersentasies belaglik laag. Slegs 13% van kiesers in Slowakye het in die laaste verkiesing gestem.

In sommige van die nuwer ledestate bly mense van die stembus weg omdat daar ’n persepsie is dat dit geen verandering maak as jy stem of nie en daar is boonop wantroue in politici en die politiek in die algemeen.

Die media in Europa gee nie baie dekking aan die parlement se bedrywighede nie, so mense gee nie baie aandag daaraan nie. Dit maak selde ’n impak op sosiale media en as só iets wel gebeur, is dit gewoonlik om die verkeerde redes.

Slegs 37% van die 751 parlementslede is vroue en minder as 20 identifiseer hulself as nie-wit.

Weens al dié redes bestaan daar ’n indruk dat die parlement ’n organisasie is wat nie ernstig opgeneem hoef te word nie. Maar die Europese Parlement is op baie, baie maniere die menslike gesig van die EU.

Dit bestaan uit mense van verskillende lande wat almal verskillende stories en wedervarings met hul saamdra – mense soos byvoorbeeld Marek Plura, ’n Poolse lid van dié parlement, wat beleidstandpunte probeer bevorder wat ’n meer inklusiewe samelewing vir mense met gestremdhede (hy ly self aan ’n degenerasiesiekte) sal beteken.

Nietemin is daar steeds ruimte vir verbetering wat genderbalans en etniese diversiteit in die parlement betref.

Slegs 37% van die 751 parlementslede is vroue en minder as 20 identifiseer hulself as nie-wit (daar is geen amptelike statistiek nie omdat verskeie state teen die insameling van data oor etnisiteit gekant is.)

Waarom mense moet stem

Ondanks die lae stempersentasie is dit nog die moeite werd om daarop te let dat 50% van Europeërs die Europese Parlement vertrou, teenoor die 34% wat dieselfde voel oor hul nasionale instellings.

Gemiddeld 68% van Europese burgers glo dat hul lande by hul lidmaatskap van die EU baat. Mense hou daarvan om sonder moeite na ’n ander land te reis en is geheg aan die euro (Frankryk se Marine Le Pen en Italië se Matteo Salvini het hul deuntjie daaroor verander toe hulle met dié bewyse gekonfronteer is).

In Roemenië, Spanje en Pole word EU-lidmaatskap dikwels as ’n soort ’n teenvoeter vir hul nasionale regerings se vergrype beskou.

Die Europese Parlement loop ook dikwels voor wat kwessies betref wat regtig belangrik vir Europese burgers soos die beskerming van die omgewing, deursigtigheid en die beskerming van inligting is.

As ’n transnasionale instelling het die Europese Parlement ’n unieke rol om te speel.

Onlangse betogings in Frankryk en ander lande het gewys dat EU-instellings nie behoorlik probeer het om hul burgers se belangrikste probleme op te los nie.

Baie van dié bekommernisse het minder te doen met nasionale kwessies soos immigrasie en politieke partye en meer met ’n meer algemene wens vir ’n helderder, regverdiger en gelukkiger toekoms.

As ’n transnasionale instelling het die Europese Parlement ’n unieke rol om te speel wat dié groot kwessies betref en om daaroor met die publiek te kommunikeer.

* Coutto is verbonde aan die departement van internasionale studies aan die Universiteit van Warwick. Dié artikel het oorspronklik op The Conversation verskyn.

Meer oor:  Frankryk  |  Oostenryk  |  Brittanje  |  Griekeland  |  Verkiesing
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.