Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Mense vergryp hul toenemend aan alkohol

Mense regoor die wêreld gebruik sedert 1990 nie net meer alkohol nie, maar vergryp hulle ook toenemend daaraan. En die vooruitsig vir die toekoms lyk nie beter nie, skryf Elsabé Brits.

Alkoholverbruik neem toe in lande waar laer- en middelinkomstegroepe in die meerderheid is.

In die jongste wêreldwye studie oor die skadelike gevolge van alkoholmisbruik, word voorspel dat die helfte van alle volwassenes teen 2030 sal drink en dat 23% hulle minstens een keer per maand daaraan sal vergryp (“binge drinking”).

Dié studie wat in die vaktydskrif The Lancet verskyn het, wys daarop dat drankgebruik en veral die skadelike misbruik daarvan sedert 1990 in lae- en middelinkomste-lande toegeneem het. In ryker lande het dit redelik konstant gebly.

Al het bevolkings vinnig gegroei en word ’n aansienlik groter volume alkohol gebruik, styg die persentasie mense wat drink.

In 1990 was die gemiddelde per kapita inname 5,9 liter suiwer alkohol per volwassene per jaar. In 2017 was dit 6,5 liter en dit sal styg tot 7,6 liter in 2030.

Suiwer alkohol per liter kan ook in gram omgeskakel word met ’n liter suiwer alkohol gelyk aan 789 g. Die hoeveelheid alkohol in ’n afgemete drankie, blikkie of bottel kan wissel van 8 tot 14 g. Volgens dié studie vergryp jy jou aan alkohol as jy minstens een keer per maand op ’n keer 60 g, of meer drink.

Dit is die tipiese fuifdrinkery.

China, Indië en Viëtnam is die lande waar die gebruik van alkohol die meeste toegeneem het.

Die aantal drinkers neem toe met die volume drank wat hulle gebruik wat nog meer word.

Volgens die studie was Europa en die voormalige Oos-Europa voor 1990 die grootste verbruikers, maar is dit nie meer die geval nie.

In lande waar godsdienstige wette die gebruik van alkohol verbied, bly die gebruik laag vergeleke met ander lande.

Rusland wat vir jare lank van die grootste drinkers gehad het, spog nie meer met dié bedenklike prestasie nie. Daar het wetgewing en belasting sowel as ’n verbod op die bemarking en ’n aansienlike beperking op die beskikbaarheid van drank tot groot veranderinge gelei.

China, Indië en Viëtnam is die lande waar die gebruik van alkohol die meeste toegeneem het.

Dit help om mee te bring dat die Wêreldgesondheidsorganisasie se teiken om die skadelike gebruik van drank teen 2025 met 10% te verminder, nie haalbaar sal wees nie.

Alkoholgebruik neem toe in Suid-Afrika

Elsabé Brits

Ook in Suid-Afrika drink mense meer as die gemiddelde.

In 1990 het net 24% van vroue gedrink en 42% van mans (totaal 33%). In 2017 het 27% van vroue gedrink en 47% van mans (totaal 37%). In 2030 sal 30% van vroue drink en 51% van mans (totaal 40%).

Maar die kommerwekkende aspek is dat Suid-Afrikaners hulle volgens die studie aan drank vergryp, veral mans.

In 2017 het ’n kwart van mans by minstens een geleentheid ses of meer drankies (60 g) gedrink en teen 2030 sal die syfer 29% wees. Die syfer vir vroue is laag – 8% – en dit lei tot ’n betreklike daling in die gemiddelde.

Verlede jaar het ’n studie onder leiding van prof. Charles Parry, direkteur van die Alkohol, Tabak en Dwelmnavorsingseenheid van die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad, in die vaktydskrif Substance Abuse Treatment, Prevention, and Policy verskyn. Dit het in Tshwane gekyk na die riskofaktore verbonde aan mense wat swaar drinkers is.

Daar is bevind dat meer as die helfte van die mans wat deel van die ondersoek was 96 g suiwer alkohol per geleentheid drink – dit is ’n derde meer as die 60 g wat The Lancet beskryf as oormatige gebruik.

Een van die grootste probleme is drank wat in té groot houers en bottels verkoop word – hoe groter die houer hoe meer drink mense.

Mense wat uit groot houers drink, veral die bierbottels van ’n liter, se kanse om meer te drink as ander is agt keer groter.

“Die drankbedryf voer gereeld aan dat net sommige drinkers drankverwante probleme het en dat die meeste drank ‘verantwoordelik’ gebruik, maar dié data is in sterk teenstelling daarmee,” sê die studie.

Parry het gesê drank in Suid-Afrika moet in kleiner houers en bottels verkoop word. “Bier behoort beslis nie in bottels van een liter verkoop te word nie. Ongereguleerde drankverkope moet ook beter beheer word.”

Meer as die helfte van vroue wat deur hul intieme lewensmaats vermoor is, se bloedalkoholvlak was meer as die wettige perk.

Daar is ook ’n veel donkerder kant aan drankmisbruik: Dit gaan dikwels met geweld gepaard; veral geweld teen vroue in verhoudings waar mans swaar drinkers is, het ’n studie deur van Suid-Afrika se voorste kenners oor gendergeweld bevind.

Wanneer vroue drink, maak dit hulle kwesbaar vir geweldenaars. Meer as die helfte van vroue wat deur hul intieme lewensmaats vermoor is, se bloedalkoholvlak was meer as die wettige perk, volgens dié studie deur onder andere proff. Lorna Martin, Naeemah Abrahams en Rachel Jewkes.

Die oortreders was ewe erg onder die invloed, veral in gevalle waar die intieme lewensmaat die moord gepleeg het.

Nog ’n plaaslike studie wat oor tien jaar na aanrandingsterftes gekyk het, het bevind 58% van die slagoffers was onder die invloed van alkohol.

Dr. Sarah Callinan van die La Trobe-Universiteit in Australië wat die kommentaarartikel vir The Lancet geskryf het, sê die toename in drankgebruik in lande met laer per capita-inkomste kan lei tot die oneweredige toename in leed.

Die misbruik van alkohol, veral oor naweke en teen die einde van die maand, se invloed is nie net beperk tot die individu nie. Die verskeur gemeenskappe op ’n magdom maniere.

* Bronne: The Lancet: http://www.thelancet.com/journals/lancet/article/PIIS0140-6736(18)32744-2/fulltext.

Substance Abuse Treatment, Prevention, and Policy, 2018 13:43: https://doi.org/10.1186/s13011-018-0182-1.

Journal of Forensic and Legal Medicine: 10.1016/j.jflm.2019.02.005;

Journal of Studies on Alcohol and Drugs: (2009, May; 70(3): 321-7.)

* Elsabé Brits is ’n vryskut-wetenskapjoernalis. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Drank  |  Geweld
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.