Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Menslike liggaam is nie te koop, sê wet

Die wettiging van prostitusie gaan die regte van sekswerkers vertrap, skryf Ryan Smit.

Ek verwys na dr. Chris Jones, Stellenbosse teoloog, se artikel “Sekswerkers is ook mense met regte” (Weekliks, 1 April), waarin hy aanvoer dat wetgewing wat prostitusie strafregtelik vervolgbaar maak sekswerkers se regte skend of bedreig.

Suid-Afrika is ’n grondwetlike en liberale demokrasie en ooreenkomstig die Handves van Regte moet grondwetlike regte (van alle mense binne ons landsgrense) bevorder en beskerm word.

Indien die kriminalisering van prostitusie ongrondwetlik is, moet huidige wetgewing hervorm word. Selfs indien die volle kriminalisering van prostitusie grondwetlik is, kan regshervorming op grond van beleidsredes steeds wenslik wees, byvoorbeeld as bewys kan word dat die leed waaraan mense wat aan prostitusie blootgestel word, deur dekriminalisering verminder of uitgewis kan word.

In die toonaangewende saak tussen die staat en Ellen Jordan, die eienaar van ’n masseersalon, het die konstitusionele hof in 2002 bevind die volledige kriminalisering van prostitusie skend nie die reg op menswaardigheid, gelykheid, vryheid en sekerheid van die mens betrokke, privaatheid of die reg op vryheid van handel nie. Dus is die volledige kriminalisering van prostitusie nie ongrondwetlik nie.

Die hof het bevind dat die Grondwet ’n hoë waarde op menswaardigheid plaas, juis omdat dit integraal tot menswees is. Daarom mag die menslike liggaam nooit gekommodifiseer word nie. Die aard van prostitusie is egter juis die kommodifisering van die liggaam. Dis dié eie aard van prostitusie wat die oorsaak is van enige menswaardigheidskending van mense in dié bedryf, het die regters bevind.

Mense in die prostitusiebedryf is mense met regte, insluitend die reg op menswaardigheid.

Prostitusie ondermyn die menswees van die mens in die prostitusiebedryf. Een verbruiker van prostitusie beskryf dit as “om ’n orgaan vir ’n paar minute te huur”.

Die Suid-Afrikaanse Regshervormingskommissie (SARHK) het in 2017 ’n gedetailleerde verslag oor prostitusie as misdryf uitgereik ná ’n deeglike openbare deelnameproses, sorgvuldige navorsing en behoorlike toepassing van hul waarnemings in die Suid-Afrikaanse konteks. Die SARHK bevind dat prostitusie inherent uitbuitend van aard is en gewoonlik ontstaan waar mense deur haglike sosio-ekonomiese omstandighede gedwing word om ’n desperate en noodgedwonge oorlewingskeuse uit te oefen. Die SARHK beveel aan dat prostitusie ten volle strafregtelik vervolgbaar bly, asook dat die uitbreiding van programme wat mense in die prostitusiebedryf in staat te stel om prostitusie te verlaat, geprioritiseer moet word.

Volgens die SARHK se verslag moet eerder daarop gefokus word om ongelykheid (veral geslagsongelykheid) en armoede aan te pak.

Die verslag vind dat prostitusie nooit as ’n “werk” beskou kan word nie en ook nie ’n goeie werkskeuse vir arm en gemarginaliseerde werklose mense is nie.

In Duitsland word prostitusie as ’n wettige “werk” beskou. Enige vrou onder die ouderdom van 55 jaar wat langer as ’n jaar werkloos is, kan gedwing word om enige beskikbare werk te aanvaar. Indien sy weier, kan haar werkloosheidsvoordele verminder word. Volgens ’n Duitse regsgeleerde is daar niks wat keer dat vroue in die seksbedryf ingestuur word nie. Hierdie scenario is nie bloot akademies van aard nie, maar het ’n 25-jarige kelnerin in die gesig gestaar nadat sy vir ’n pos by ’n kroeg aansoek gedoen het en later uitgevind het dit is eintlik ’n bordeel.

Internasionale navorsers soos dr. Melissa Farley beaam dat die aktiwiteit van prostitusie op sigself en inherent ’n menseregteskending is. Dus is die uitwissing van prostitusie al manier waarop hierdie menseregteskending verhoed kan word. Volgens Farley, die SARHK en ander kenners is prostitusie oorwegend fisiek gewelddadig en psigies traumaties, ongeag die stand van die wetgewende posisie.

Farley en ander kenners se internasionale navorsing wys dat die wettiging van prostitusie nie die gevare en skades daarvan verminder of uitwis nie. Trouens, dit word vererger: Die geweld gaan onverpoos voort en oortreders skuil agter die skans van ’n “wettige” bedryf. In lande waar prostitusie ten volle gedekriminaliseer of gewettig (en gereguleer) is, is daar ’n beduidende toename in mensehandel vir doeleindes van prostitusie.

Op grond van die bogenoemde navorsing en die bevindings van die hof in die Jordan-saak sal die wettiging van prostitusie nie die gevare en leed voortvloeiend uit prostitusie aanpak nie. Daar is dus ook nie genoeg beleidsredes op grond waarvan regshervorming nodig is nie.

In Nieu-Seeland was die oogmerk van die wettiging van prostitusie om die welsyn, veiligheid en gesondheid van sekswerkers te bevorder. Navorsing toon egter dat verkragtings steeds voorkom en dat ’n beduidende persentasie van sekswerkers voel hulle mag nie hul “kliënte” se versoeke weier nie. In Nieu-Seeland moet mense in die prostitusiebedryf aan “veilige sekspraktyke” voldoen of die gevaar loop om met tot NZD2 000 beboet te word.

Navorsing in lande waar prostitusie gewettig is, bewys dus nie net die onvermoë van dekriminalisering om die probleme van prostitusie (veral menseregteskendings en seksuele geweld en mishandeling) aan te pak nie, maar ook hoe hierdie probleme voortgaan en vererger (“weggesteek” agter ’n skerm van wettigheid).

Indien prostitusie gewettig word, sal dit die boodskap verkondig dat die huur en gebruik van mense in Suid-Afrika vir doeleindes van seksuele bevrediging regtens aanvaarbaar is.

Mense in die prostitusiebedryf is egter mense met regte, insluitend die reg op menswaardigheid. Mag hul menswaardigheid nooit te koop wees in Suid-Afrika nie.

  • Ryan Smit is uitvoerende direkteur van Cause for Justice (CFJ), ’n organisasie wat grondwetlike regte bevorder en beskerm.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.