Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Met die maan gepla

Dit is volgende naweek presies 50 jaar sedert Apollo 11 op die maand geland het, skryf Pieter Malan.

Ons is hier: Edwin E. Aldrin salueer die Amerikaanse vlag op die maan. Foto’s: Nasa en Getty Images

Die Apollo-ruimteprogram – wat uiteindelik daarin geslaag het om 12 mense op die maan te plaas en meer as 382 kg maanrots na die aarde te bring – verteenwoordig in baie opsigte die hoogwatermerk van die 20ste-eeuse tegnologiese revolusie.

Nie net het Homo technologicus in dié belangrike epog daarin geslaag om homself vir die eerste keer van sy eie aard­gebondenheid te bevry deur te leer om te vlieg nie, maar binne die bestek van 70 jaar kry hy die byna ondenkbare reg: om die aantrekkingskrag van ons planeet heeltemal te ontsnap en op ’n ander hemelliggaam te gaan land.

Dat albei dié gebeure se wortels aan die ooskus van Amerika lê – die eerste by Kitty Hawk in Noord-Carolina en die tweede minder as 1 000 km suidwes daarvandaan, by Kaap Canaveral in Florida – verleen boonop gewig aan die gemeenplase dat die 20ste eeu met reg die “American Century” genoem kan word.

Apollo 11 se manne: Neil Armstrong, Michael Collins en Edwin (Buzz) Aldrin.

Verder staan die Apollo-program ook netjies wydsbeen tussen die 20ste en 21ste eeu: een voet stewig in ’n analoë era van filmkameras (al die foto’s op die maan is vasgelê op rolletjies film met Hasselblad-kameras) en die ander voet in die ontluikende digitale wêreld van rekenaars (wat destyds veel minder kon verrig as vandag se mees basiese slimfoon).

                                                                             ***

Daar is natuurlik ook ander maniere om na die Apollo-projek te kyk. As ’n projek onlosmaaklik deel van die Koue Oorlog, ’n tegnologiese tweegeveg tussen geniale vuurpyl-ingenieurs – die Duits gebore Wernher von Braun vir die Amerikaners en die Russe se Sergei Korolef – elkeen ondersteun deur die beste en vreesloosste vegvlieëniers van die era.

In dié wedloop was Rusland lank die voorloper met ’n indrukwekkende lys van eerstes: Die eerste mensgemaakte satelliet in ’n wentelbaan om die aarde (Spoetnik 1 in 1957); die eerste dier in die ruimte (’n straathond, Laika, op Spoetnik 2 later dieselfde jaar); die eerste mensgemaakte voorwerp op die maan (Luna 2 in 1959); en die eerste foto’s van die “donker kant” van die maan (Luna 2, ook in 1959).

Die blou aarde kom op bo die maanlandskap – foto geneem deur Apollo 8.

Pres. Dwight Eisenhower het aanvanklik geen ooghare vir ’n “ruimtewedloop” met die Russe gehad nie en wou daarom niks weet van Nasa se voorstelle om iemand maan toe te stuur nie, planne wat reeds in 1959 bedink is.

Twaalf weke nadat John F. Kennedy in 1961 president geword het, slaag die Russe egter daarin om die eerste mens, Joeri Gagarin, ruimte toe te stuur. En om sout in die wonde te vryf, volg die Varkebaai-fiasko slegs vyf dae later, toe ’n CIA-ondersteunde plan om Fidel Castro se kommunistiese regime in Kuba tot ’n val te bring, lelik skeefloop.

Kennedy het dringend iets nodig gehad om Amerika se vertroue in homself te herstel. Deur sy adjunk, Lyndon B. Johnson, vra hy Nasa om vorendag te kom met ’n ruimteprogram “wat Amerika kan wen”. Von Braun en Abe Silberstein, hoof van Nasa se ruimtevlugprogram, gryp die geleentheid met albei hande aan en oortuig die nuwe president dat hul ambisieuse Apollo-program aan al sy vereistes voldoen.

Skaars ses weke ná Gagarin se kortstondige ruimtevlug (wat net 1 uur en 48 minute geduur het) vra Kennedy die Amerikaanse Kongres om ’n plan te steun wat “voor die einde van die dekade” ’n man op die maan sal plaas.

                                                                        ***

Vanuit ons eie tydkapsule ’n halfeeu later is dit maklik om terug te kyk op hierdie ruimtewedloop as een wat Amerika – met meer dollars en groter industrieë – noodwendig móés wen. Vir die grootste deel van die dekade was dit egter nie ’n uitgemaakte saak nie.

‘Dié grootste enkele projek wat Amerika nog ooit aangepak het.’

Albei kante het hul mislukkings en terugslae gehad, maar dit is duidelik dat die Russe, met hul rigiede bestuurstrukture, buitengewoon swaar gesteun het op Sergei Korolef, ’n briljante man wat onder ruimtevaarders bloot bekend was as “Glawni Konstroektor” – die hoofontwerper – om hom te beskerm teen moontlike Amerikaanse sluipmoordaanvalle.

Sy ontydige dood aan komplikasies tydens ’n operasie in Januarie 1966 was ’n ramp waarvan die Russiese ruimteprogram nooit ten volle herstel het nie.

Alexei Leonof, die eerste mens wat ’n ruimtewandeling onderneem het, skryf oor Korolef se dood in die boek Two Sides of the Moon: “Ek is oortuig dat as Sergei net ’n klein bietjie langer geleef het, sou ons die eerste gewees het wat (’n bemande tuig) om die maan gestuur het.”

                                                                           ***

Daardie eer – om die eerste bemande tuig te wees wat om die maan wentel – het uiteindelik aan Apollo 8 behoort.

Die maanhelde saam met pres. Richard Nixon ná hul terugkeer.

Apollo 8 word deur baie beskryf as die eintlike reusesprong vir die mensdom – om Neil Armstrong se woorde te gebruik.

Nie net was dit die eerste keer dat mense aan boord van die reuse-Saturnus V-vuurpyl – die kragtigste vuurpyl wat nog ooit gebou is – na die ruimte gereis het nie, maar die bemanning was ook die eerste mense wat ’n wentelbaan om die aarde verlaat het op ’n reis na ’n ander hemelliggaam.

Michael Collins, later lid van Apollo 11, meen hul voorgangers van Apollo 8 was op ’n veel betekenisvoller sending.

“Ek dink aan Apollo 8 as die vertrek en Apollo 11 die aankoms, die vertrek van die aarde en die aankoms op die maan. As ’n mens 100 jaar van nou af terugkyk, wat is belangriker, die idee dat mense hul tuisplaneet verlaat het of die idee dat mense op ’n nabye satelliet aangekom het? (In die toekoms mag) historici meen dat Apollo 8 beduidender was; dit is beduidender om te vertrek as om te arriveer,” vertel hy in die boek One Small Step: The Inside Story of Space Explora­tion.

Die Amerikaanse ruimtevaarder Jim Lovell se vrou, Marilyn, en hul kinders, Barbara, James, Jeffrey en Susan, kyk na ’n lansering op 21 Desember 1968.

Apollo 8, met James Lovell, William Anders en Frank Borman aan boord, het op Oukersdag 1968 hul wentelbaan om die maan binnegegaan – die verste wat enige mens nog ooit van die huis af weg was vir Kersfees. Hul voorlesing van die eerste tien verse van Genesis 1 in ’n regstreekse televisie-uitsending daardie aand bly een van die mees ikoniese oomblikke in die geskiedenis van ruimtevaart.

Voor Apollo 8 was die verste wat ’n mens nog van die aard­e was ’n blote katspoegie ver – slegs 1 600 km. Lovell, Anders en Borman het daardie afstand gerek tot sowat 400 000 km.

Apollo 8 het nie net rekords verbeter nie, maar ook effektief ’n einde gemaak aan Russiese ambisies om op die maan te land. Die vernedering was só groot dat die Sowjetunie in die toekoms selfs sou aanvoer dat hulle nooit enige planne gehad het om op die maan te land nie.

Apollo 8 se manne: James A. Lovell Jr., William A. Anders en Frank Borman.

Net soos die Apollo-program die uitvloeisel was van die stryd tussen twee supermoondhede – die produk van ’n era – was die teendeel ook waar.

Want op ’n sekere vlak was die ruimteprogram, ten minste kultureel gesproke, heeltemal teenstrydig en onversoenbaar met die dekade waarin dit gebore is.

In ’n era bekend vir vrye liefde, lang hare, hallusinogeniese dwelms, vroueregte en die openlike minagting vir die establishment was die ruimteprogram presies die teenoorgestelde: ’n projek vir doelgerigte A-plussers, ambisieuse kêrels (ja, hulle was almal kêrels) vervul met ouwêreldse Kennediaanse waardes.

Jong manne met bakstene vir onder­kake wat nie net hoog en vinnig kon vlieg nie, maar boonop ook akademiese uitblinkers was. (Buzz Aldrin, byvoorbeeld, het reeds ’n doktorsgraad in meganiese ingenieurswese gehad teen die tyd dat hy op 33-jarige ouderdom vir die ruimteprogram aangemeld het).

Hippie en ruimtevaarder: ’n Mens kan jou skaars twee groter teenpole bedink. Vanweë die meeste van die Apollo-lede se militêre agtergrond het hulle hulself sekerlik baie nader aan Amerikaanse soldate in die bomkraters van Viëtnam gevoel as aan die betogende takhare op Amerikaanse kampusse.

Tog het hierdie twee pole mekaar vlugtig op die aand van 20 Julie 1969 voor televisiestelle reg oor Amerika ontmoet, hul onderlinge twis en stryd momenteel vergete.

Die euforie was egter van korte duur. Teen die tyd dat die bemanning van Apollo 13 minder as ’n jaar later op 11 April 1970 op sy rampspoedige vlug vertrek het, het openbare belangstelling in die program reeds soveel getaan dat geeneen van die vernaamste netwerke meer die televisie-uitsendings van die bemanning vanuit die ruimte uitgesaai het nie. Dis eers nadat ’n suurstoftenk aan boord van Apollo 13 ontplof het dat Amerikaners vir ’n oomblik weer hul onderlinge twis laat staan het om te sien hoe die jong borselkopingenieurs in Houston die ruimtemanne Jim Lovell, Fred Haise en Jack Swigert veilig terugbring na die moederskip.

Maar laat ’n mens nie te hard oordeel nie. Die nasie se kille onverskilligheid teenoor hul ruimtehelde was bloot ’n aanduiding dat die Apollo-program se politieke doel uitgedien was. Dit was tyd om terug te keer aarde toe en die laaste drie bemanningslede van Apollo 17 het op 19 Desember 1972 in die Stille Oseaan neergeplons.

                                                                           ***

Die Nasa-historikus Roger Launius meen die Apollo-program was dié grootste enkele projek wat Amerika nog ooit aangepak het – ’n projek wat in dieselfde asem genoem kan word as die Panama-kanaal (wat tussen 1904 en 1914 gebou is) en die Manhattan-projek van die 1940’s wat verantwoordelik was vir die ontwikkeling van die atoombom.

Launius meen dat Apollo in die eerste plek beskou moet word as ’n bestuurs- en burokratiese prestasie – dat die tegnologiese probleme altyd oorkom sou word op voorwaarde dat genoeg ingenieurs en tegnici hul kollektiewe breinkrag op gekoördineerde wyse op die oënskynlik onmoontlike rig.

Maar om Armstrong se reusesprong vir die mensdom of Swigert se “Houston, we have a problem” te reduseer tot die tegnologiese behendigheid van ’n goed geoliede burokratiese masjien voel darem net nie reg nie.

Om maan toe te vlieg – en veilig terug te keer – beteken meer as dit, nie waar nie?

Dis al baie gesê dat die foto van ’n blou aarde wat opkom bo die maanlandskap, geneem deur William Anders tydens Apollo 8 se maanomwenteling, die manier waarop ons na die aarde kyk vir ewig verander het.

Die Amerikaanse digter Archibald Mac­Leish sê die Apollo-program het ons in staat gestel om die aarde te betrag soos dit regtig is: “Small and blue and beautiful in that eternal silence where it floats, is to see ourselves as riders on the Earth together, brothers on that bright loveliness . . .”

                                                                   ***

Die mees enigmatiese ruimteman van hul almal, die Apollo-ridder wat my die meeste interesseer, is Michael Collins, die derde lid van Apollo 11.

Terwyl Neil Armstrong en Buzz Aldrin op die maan kerjakker, bly Collins alleen in Columbia agter, waar hy 27 keer om die maan wentel voordat sy kamerade weer by hom aansluit. Vir minstens die helfte van dié tyd, terwyl hy aan die donker kant van die maan is, dryf hy in totale stilte deur die ruim met geen radiosein van die aarde óf die maan om hom geselskap te hou nie.

Terwyl Aldrin in die maande voor Apollo 11 gelanseer is, homself onder sy mederuimtevaarders baie ongewild gemaak het met sy aandrang dat dit sý reg is om eerste voet op die maan te sit, was Collins van die begin af tevrede met sy rol. Die ou wat moet tuisbly en die ketel aansit sodra hy die motorligte deur die eetkamervenster sien . . .

Selfs toe sy Nasa-base aanbied om hom die bevelvoerder van ’n latere sending te maak sodat hy óók op die maan kon loop, het hy nee dankie gesê.

As Apollo 11 suksesvol is, het hy sy klein rol in die geskiedenis na behore gespeel, het hy geglo.

Dis eers nadat ek onlangs die beroemde Amerikaanse vlieënier Charles Lindbergh se brief aan Collins te lese gekry het dat Collins se standpunt vir my begin sin maak het.

Lindbergh, die man wat in 1927 oornag wêreldberoemd geword het toe hy ononderbroke oor die Atlantiese Oseaan gevlieg het, was teenwoordig toe Apollo 11 op 16 Julie 1969 in Florida gelanseer is. Op 67 ’n waardige getuie van hoe die grense van vlug verder verskuif word.

In sy brief aan Collins ná sy terugkeer skryf Lindbergh: “You have experienced an aloneness unknown to man before. I believe you will find that it lets you think and sense with a greater clarity.”

Lindbergh, wie se alleenvlug oor die Atlantiese Oseaan meer as 33 uur geduur het, het natuurlik iets verstaan van daardie “aloneness, unknown to man”.

Dis ’n eensaamheid wat, voor Collins, nog nooit só alleen was nie.

  • Pieter Malan is redakteur van Weekliks.
Meer oor:  Buzz Aldrin  |  Neil Armstrong  |  Apollo 11  |  Maanlanding
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.