Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
#MeToo gesnoeker: Hoe nou met Joe?

Joe Biden se pogings om die volgende president van Amerika te word, het reeds een ding bereik:  Om die strydighede in die #MeToo-beweging uit te lig, skryf Jani Allan.

Joe Biden: Hy vertel graag roerende, maar vals stories.

Dit is stop-die-wêreld-ek-wil-afklim- waansin.

Demokrate het uiteindelik besluit wie hul kandidaat gaan wees om Donald Trump in November teen te staan: Joe Biden.

Om ingeligte besluite te neem oor wie om te benoem moet kiesers die kandidate goed kan deurkyk. Dit is daarom onontbeerlik om kandidate se prestasielys en verlede te bestudeer. Aangesien presidentsverkiesings gou kan ontaard in ’n kroeggeveg, behoort geen politieke party die Amerikaanse kieser probeer mislei deur aan hulle ’n kat in die sak as kandidaat te verkoop nie.

Joe Biden se salwing kom ná afloop van ’n verdelende benoemingsproses in die Demokratiese Party. Nie net het die party die aantygings van korrupsie teen Biden se seun geïgnoreer nie, maar ook die feit dat hy ’n ou, heteroseksuele wit man is – wat nie ’n probleem vir die meerderheid Amerikaanse kiesers is nie, maar wel problematies kan wees vir die aktivistiese basis van die Demokratiese Party.

Joe Biden in 1993.
Tara Reade en Joe Biden in 1993.

In plaas daarvan om hierop te fokus, het die party sy hoop gestel op sy ervaring, breë aanvaarding en bande met oudpres. Barack Obama.

Kan ’n mens veilig voel in ’n wêreld wat op so ’n onbesonne wyse oordeel oor iemand se geloofwaardigheid?

Maar gelukkig is daar ’n god en sy naam is ironie.

Skaars het Biden se mededingers in die benoemingstryd tou opgegooi of een van sy voormalige personeellede kom na vore met bewerings dat Biden haar seksueel aangerand het.

Tara Reade het aan The New York Times vertel dat die senator in 1993 sy hand oor haar roomkleurige bloes laat gly en sy knie tussen haar kaal bene ingedruk het voordat hy sy hand onder haar romp ingesteek het.

“Dit het net skielik alles tegelyk gebeur. Hy het met my gepraat en sy hande was oral en alles het baie vinnig gebeur.”

Diegene met mag kan volgens heel ander spelreëls speel.

Die voormalige visepresident was ook gewetenloos: “Hy het met sy vinger na my gewys en net gesê: ‘Jy is niks vir my nie. Niks.’ ”

In haar eerste onderhoud voor die kameras het Reade aan die voormalige Fox News- en NBC-aanbieder Megyn Kelly gesê die beweerde aanranding het gevolg op ’n patroon van seksuele teistering.

Reade het gesê dat sy “absoluut” bereid sou wees om onder eed gekruisondervra te word.

Dit teen die agtergrond van ’n pas benoemde Demokratiese presidentskandidaat wat hom vir soveel jare daaraan gewy het om die regsproses te ondermyn vir mans wat van seksuele wangedrag beskuldig word. Biden is die skynheilige ontwerper van die herbepaling van die instemming tot seks op kampusse (soos uiteengesit in artikel IX van die Amerikaanse onderwyswet) op so ’n wyse dat dit ’n hele geslag jong mans gedemoniseer het.

Vir baie jare het hy hom voorgehou as die ridder op die wit perd; ’n vegter vir feminisme en verdediger van vroueregte. ’n Diskrete spesialis in die ondersteuning van vroue en jong meisies wat genoeg gehad het daarvan om op onbehoorlike wyse in die openbaar betas, gesoen, omhels en besnuif te word.

Tara Reade in 2020

Derhalwe was die ongemaklike gewriemel van sy ondersteuners terwyl hulle moet besluit of hulle agter hul sekspes- presidentskandidaat moet staan of liewer by hul edele beginsels moet bly, ’n spektakel om te geniet.

Skielik was almal wat in ’n waansin van eiegeregtigheid die woorde #BelieveAllWomen getwiet het in meer as ’n effense verknorsing.

Die situasie was dus ’n unieke geleentheid vir al die progressiewe “Hampstead-intellektuele” om eerstehands te sien wat hul beleid besig is om te doen. En hulle sal slegs hierdie les leer as dit hul eie mense raak.

Dit is ’n belangrike sein aan alle ondersteuners van #MeToo-feminisme dat die ideologie wat hulle ondersteun maklik teen hulself of teen hul gunsteling-kandidaat, hul mansvriende of hul mans en broers kan draai as die geleentheid hom voordoen.

Diegene wat in die openbaar hul volle vertroue in die vroue wat aantygings van seksuele teistering teen Brett Kavanaugh gemaak het nadat Trump hom as kandidaat vir aanstelling in die Amerikaanse hooggeregshof benoem het, is nou gedwing om te kies tussen hul beginsels en hul presidentskandidaat.

Intussen bring Sleepy Joe sy dae in sy kelder in Delaware deur. Versoeke vir onderhoude of kommentaar is soos om ’n bal teen ’n baksteenmuur te slaan. As hy toegelaat word om buite sy bunker te kom, is hy ’n fiasko vir sy media-bestuurders.

Toe ’n jong vrouekieser hom baie beleefd probeer uitvra oor sy swak prestasie in die Iowa-voorverkiesing was sy antwoord: “Iowa is ’n Demokratiese koukus. Was jy al ooit by ’n koukus? Jy’s ’n lying dog-faced pony soldier!”

Joe Biden het die houding van ’n hoenderhaan op sy eie mishoop.

Tydens ’n ander geleentheid stap hy in die vertrek rond soos ’n stiervegter nadat ’n man hom uitgevra het oor sy seun Hunter se winsgewende kontrakte in die Oekraïne.

“Jy het gesê ek het vir my seun werk gekry by ’n oliemaatskappy? Is dit wat jy gesê het? Is dit nie wat jy gesê het nie? Kry jou feite reg!”

Tydens die woordewisseling wat volg, is daar nog ’n paar keurige beledigings, soos om die (redelik korpulente) kêrel aan te spreek as “Look, Fat” en om hom uit te daag vir opstote buite die saal.

Hy het ook by drie geleenthede voorgegee dat hy Nelson Mandela in die tronk ontmoet het.

“Ek het die groot eer gehad om hom te ontmoet. Ek het die eer gehad om saam met ons VN-ambassadeur in die strate van Soweto in hegtenis geneem te word terwyl ons probeer het om hom op Robins (sic)- eiland te gaan sien.”

Dit was ’n leuen. Maar Biden het selfs verder voortborduur. Hy het sover gegaan as om te beweer dat Mandela hom “bedank het” omdat hy in hegtenis geneem is.

Later het hy erken dat hy nie in hegtenis geneem is nie. Hy is net “voorgekeer”.

Daar was egter geen verdere vrae in die media oor waarom hy so spekgeskiet het nie.

Dan is daar ook die roerende – maar vals – oorlogstorie wat hy reeds ’n paar keer herhaal het. Dit gaan oor ’n soldaat wat in Afganistan ’n makker gered het deur hom uit ’n diep ravyn op sy rug na veiligheid te dra. ’n Generaal wou hê dat Biden, as die visepresident, na ’n basis aan die front gaan om die Silwer-ster vir dapperheid aan hom toe te ken.

“Ek het daar (by die basis) aangekom. Daar staan hy – so waar as God en op my woord as ’n Biden – hy staan op aandag.”

In ’n dramatiese falsetto gaan Biden voort om te vertel dat die soldaat sy Silwer-ster geweier het omdat sy makker in die bakleiery dood is en hy hom nie kon red nie.

Omtrent alles van die storie is verkeerd. Daar was wel so ’n redding, maar die soldaat wat betrokke was, het sy medalje in die Withuis van Obama self ontvang – nie van Biden nie.

Die voorval waarna Biden verwys, het in 2011 gebeur toe hy die Brons-ster aan ’n stafsersant toegeken het wat onsuksesvol probeer het om ’n makker uit ’n brandende Humvee te trek.

Biden se pogings om sy ondersteuning vir die oorlog in Irak te verbloem duur ook voort. Eers het die Bush-regering hom mislei om met die oorlog voort te gaan (dis nonsens omdat daar beeldmateriaal bestaan van Biden wat in 1998 ten gunste van die oorlog argumenteer) en dan sê hy dat hy teen die oorlog gekant was die oomblik nadat dit begin het.

Soms beweer hy dat hy aktief was in die Burgerregtebeweging. By ’n ander geleentheid sê hy dat hy nie betrokke was nie. “Ek was nie ’n aktivis nie.”

Joe Biden het die houding van ’n hoenderhaan op sy eie mishoop.

Diegene met mag kan volgens heel ander spelreëls speel. Hulle gebruik hul mag om hul familie en vriende te verryk, en hulle te beskerm wanneer hulle in die moeilikheid is en hul besighede misluk.

As hulle ’n misstap begaan, word dit toegesmeer. Diegene wat geen mag het nie, moet betaal vir die gevolge van hul dade. Diegene met politieke mag hoef nie.

Roger Ailes is ’n handboekvoorbeeld.

Dié voormalige president van Fox News het aansienlike politieke en mediamag gehad. Sy misbruik en seksuele teistering van vrouepersoneel en nuusaanbieders is die onderwerp van die fliek Bombshell. Dit wys hoe Ailes ’n giftige werkomgewing vir vroue geskep het – veral vir Gretchen Carlson (gespeel deur Nicole Kidman) en einste Kelly (Charlize Theron).

Die filosoof G.K. Chesterton het eenmaal opgemerk dat filantropiese politici wat glo dat hulle beter as gewone mense weet wat goed is vir hulle, die wêreld laat verrot.

Staatsamptenare met integriteit is ’n sterwende spesie. Die pad na verlossing kan slegs gevind word in die kamp van die linkses, of só word voorgegee.

Chesterton het ook geskryf dat ’n nasie nie mal raak as hy buitensporige dinge doen nie. Maar as ons sien dat wilde dinge gedoen maar goedsmoeds aanvaar word, is die staat besig om kranksinnig te word. Die gesig glimlag steeds, terwyl die ledemate weersinwekkend afvrot.

In sulke lande het die burgers gewoond geraak aan die feit dat hulle niks bevraagteken nie. Chaos is hul kosmos, en die warrelwind is die asem in hul neusgate.

Ek sal nie op Dinsdag 3 November in die presidentsverkiesing van die Verenigde State van Amerika stem nie. Ek is nie stemgeregtig nie, maar ek is sekerlik geregtig op my menings, soos gevorm deur ’n lang en onstuimige lewe as inwoner van talle lande.

Die nasie is sy dank verskuldig aan Tara Reade vir die manier waarop sy verseker het dat die selektiewe mantra van die #MeToo-beweging onder sy eie strydighede ingestort het.

* Jani Allan is ’n joernalis en skrywer.

Meer oor:  Joe Biden  |  Vsa  |  Presidentsverkiesing  |  Me Too
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.