Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Michael le Cordeur: Onnies moet terugkeer na klaskamers

Waar en wanneer het wat verkeerd gegaan met ons onderwysstelsel? Onderwysers én leerlinge is vandag kwesbaarder en ongelukkiger as ooit tevore, skryf Michael le Cordeur.

Een ding waarmee onderwysers sukkel is klaskamerbestuur. Foto: Freeimages.com

Toe ek ’n kind was, het ek gereeld pak gekry: by my ma, my pa, maar veral by my onderwysers. Daar was die dag toe ek meneer Ross se kar se voorruit uitgegooi het. Ek en my broer wou kyk wie kan ’n krieketbal die verste gooi. My pa het behoorlik my velle van my lyf afgetrek. Boonop moes ek my spaarbussie leegmaak en self betaal vir daai ruit.

Daar was die dag toe ek stokkies gedraai het. Die klas se geraas het my geïrriteer en ek wou in die stilte van my eie kamer studeer. Ongelukkig vir my was my oom, Thys Adams, die dissipline-onnie by die skool. Toe ek weer sien, staan hy daar in die deur. Daai ses van die bestes was vir dae op my boude sigbaar.

In albei gevalle het ek die reëls oortree en my pak slae verdien.

Toe hy die aand my pa inlig, het ek nóg ses gekry. My ma het ’n bietjie kanferolie aangesmeer. Niemand het daaraan gedink om ’n klag te lê nie. En soos julle kan agterkom, het ek geen blywende letsels (fisiek of geestelik) oorgehou nie.

In albei gevalle het ek die reëls oortree en my pak slae verdien.

Vandag dink ek met heimwee terug aan my skooldae. Daar was juffrou Rosie September wat my in sub A geleer het om te skryf en my ’n drukkie gegee het elke keer as ek ’n moeilike woord reg gespel het. Juffrou Serena Samaai het my in sub B geleer somme maak en my gereeld bederf met lekkergoed. Oom Piet, ons aardrykskunde-onnie in matriek, het met die oulikste handgebare klas gegee. Dit was groot sports om hom te probeer namaak as hy gou uit die klas was – totdat hy ons eendag gevang het . . . Eina!

En dan was daar ons hoof: meneer Arendse, wat geskiedenis gegee het. Vir hom was ons so bang soos die houtjie van die galg en as sy bulderende stem die gang af weerklink, het almal gesorg dat hulle op hul pos is. Skoolgaan was lekker. Maar dit was toe.

Lyfstraf word sedert 1996 volgens wetgewing verbied en almal moes daarvolgens handel.

Michael le Cordeur

My leerlinge was iemand

En nou my eintlike punt: Die Griekse filosoof Aristoteles (waarskynlik die grootste onderwyser van alle tye) het gesê elkeen wat sy eie skoolloopbaan onthou, onthou sy onderwysers. Nie metodes, tegnieke en sillabusse nie. Dink vir ’n oomblik hoe irrelevant is dit vandag of ’n kind onderrig word volgens die UGO-benadering of die Caps-beginsel.

Geweld het nie minder geword nie. Ongelukkige onderwysers en leerlinge het toegeneem.

Ek wou die vader wees vir die seuns wat sonder ’n pa moes grootword.

Toe ek moes besluit oor ’n loopbaan, was dit heel eenvoudig: Ek wou nog altyd ’n onderwyser word. Ek wou daar wees as my leerlinge ’n atletiek-coach benodig. Ek wou saam met hulle oefen op die rugby- en krieketveld (ek het self rugby en krieket gespeel). Ek wou die vader wees vir die seuns wat sonder ’n pa moes grootword. Ek wou met hulle connect sodat hulle kon voel hoe dit is as jy iemand het wat vir jou omgee.

Vandag nog is dit die grootste beloning as ek en my vrou in ’n restaurant sit en ’n oudleerling kom nader om te groet. Dan sien ek die ongeloof op hulle gesigte as ek (en my vrou) hul name onthou. My leerlinge was iemand. ’n Mens.

By Schweizer-Reneke moes ’n onderwyseres, Elana Barkhuizen, uit die dorp vlug toe sy van rassisme beskuldig is nadat sy onskuldig ’n foto op sosiale media gedeel het.

Seks en selfoonopnames

Waarom deel ek hierdie? Want ek glo onwrikbaar dis waar ons die aflosstok laat val het. Die dag toe onderwysers begin staak en leerlinge aan hul eie lot oorgelaat het – dís die dag toe onnies beheer oor die onderwys verloor het. Leerlinge moes hulself vermaak. Dit het gelei tot eksperimentering: Eers sigarette, later drank, gevegte, toe dwelms, selfs seks en selfoonopnames. Vandag pluk ons die wrange vrugte.

En vir wat? Vir ’n hoër salaris? Onderwysers in hierdie land verdien vandag baie meer as hul eweknieë aan universiteite of in die private sektor. Meer as wat ons land kan bekostig. Het die hoër salarisse onderwysers gelukkiger gemaak? Is dit nog lekker vir onnies om op te staan en skool toe te gaan? Ek weet en u weet wat die antwoord is. Mag ek u herinner aan onlangse voorvalle wat menige voornemende onnie die skrik op die lyf sal jaag?

Ek voorspel ’n reuse-uittog van jare se ervaring.

By ’n skool in Nuweland is ’n leerling deur die onderwyseres geklap nadat die leerling haar skoolbank aggressief teen die juffrou gestoot het. Albei is intussen geskors en die saak duur voort. By Schweizer-Reneke moes ’n onderwyseres, Elana Barkhuizen, uit die dorp vlug toe sy van rassisme beskuldig is nadat sy onskuldig ’n foto op sosiale media gedeel het.

’n Tienermeisie is deur twee mede-leerlinge verkrag terwyl haar skoolmaats toegekyk en die voorval met selfone afgeneem het. Vroeër vanjaar is ’n onderwyser deur ’n leerling vermoor nadat hy nie getug wou word nie. Onlangs is ’n leerling deur vyf mede-leerlinge doodgekap.

Verlede week is ’n foto op sosiale media gedeel van ’n onderwyser met ’n bebloede kopwond nadat sy deur ’n leerling aangerand is. Die lys is lank.

Gevolglik is talle onderwysers wat ouer is as 55 besig om hul dokumente gereed te kry om vir die vroeë skeidingspakket (wat tans die ronde doen) aansoek te doen. Ek voorspel ’n reuse-uittog van jare se ervaring. Om jong onderwysers te betrek is goed, maar ons het ervare onnies ook nodig om die nodige leiding te verskaf.

Ontlonting in die klaskamer

Dit is tyd dat onderwysers weer eienaarskap neem van die onderwys. Goeie vakkennis is geen waarborg vir ’n jong onderwyser se sukses nie. Die meeste jong onderwysers sukkel met klaskamerbestuur.

Onderwysers voel weerloos en sê daar word nie genoeg gedoen om hulle te beskerm nie.

Toe ek destyds hierdie module vir honneursstudente aangebied het, het dit gewoonlik vurige bespreking uitgelok. Uit bogenoemde is dit duidelik dat onderwysers nie toegerus was vir die uitdagings van die moderne klaskamer nie.

Quinton Adams, ’n opvoedkundige sielkundige, noem dit ontlontingsvaardighede. Die hedendaagse onderwyser moet toegerus word om stresvolle situasies te ontlont. Hulle word daagliks aan aggressiewe gedrag van leerlinge blootgestel. Onderwysers voel weerloos en sê daar word nie genoeg gedoen om hulle te beskerm nie.

Dit is hier waar onderwysdepartemente en universiteite ’n leidende rol kan speel om voornemende onderwysers toe te rus. Onderwysers is die hart van die onderwysstelsel. As hulle ongelukkig is, wankel die hele stelsel. As niemand meer onderwysers wil wees nie, sal die land ten gronde gaan.

Daarom is dit vreemd dat so min gedoen word om na onderwysers se welstand om te sien.

Getart en gevloek

Die media behoort ook meer gebalanseerd (en minder sensasioneel) hieroor verslag te doen. Die wyse waarop na die Nuwelandse onderwyseres as die “klaponnie” verwys is, was onsensitief.

Daarmee wil ek vir geen oomblik sê dat wat sy gedoen het, reg was nie. Maar onderwysers is ook net mense, en maak menslike foute, veral as hulle voortdurend deur leerlinge getart, gevloek, uitgeskel en gedreig word. Die burokrasie was gou om ouers aan te moedig om enige vorm van lyfstraf (wat ek afkeur) aan te meld, maar bly in gebreke om die onderwysers enige ondersteuning te gee.

Quo vadis?

Wat hou die toekoms in? Hoe verander ons ’n onderwysstelsel wat in ’n sieldodende, immer veranderende, komplekse omgewing verander het wat die siel van onderwysers en dus ook die onderwys in sy kern versmoor?

Die antwoord lê daarin om die stelsel te stroop van al sy tierlantyntjies en burokratiese rompslomp. Daar is te veel “adviseurs” wat in kantore rondsit en eindelose vergaderings hou, en te min onnies wat onderrig gee. ’n Klassieke voorbeeld van “too many chiefs and too few Indians”.

Net die ander dag was ek by ’n skool waar meer as 50 leerlinge in ’n gr. 11-klas was. Die onderwysdepartement se grootste bate is sy onderwysers. Om die beste van hulle te maak, is dit nodig dat onnies meer onderrigtyd met leerlinge spandeer, en veel minder tyd voor ’n rekenaarskerm deurbring.

Kom ons vereenvoudig onderwys sodat niemand verstrengel raak in die magdom regulasies nie.

Die administratiewe rompslomp waarmee onderwysers opgesaal word, ontneem leerlinge van kosbare kontaktyd. Die voortdurende invul van vorms en verslae (wat niemand ooit lees nie) tap onnies se energie. Dit kan deur administratiewe personeel gedoen word. Vakbonde kan meer werksessies reël.

Hou om hemelsnaam op om onderskeid te tref tussen “spogskole” en “wanfunksionele” skole. Ek weet van talle “spogskole” wat taamlik wanfunksioneel is as dit kom by die toepassing van etiese waardes.

Kom ons vereenvoudig onderwys sodat niemand verstrengel raak in die magdom regulasies nie. Kom ons maak ons skole weer plekke waarop die gemeenskap kan trots wees; waar onderwysers hul passie kan uitleef en waar leerlinge hul ware potensiaal kan ontgin.

Laat ons terugkeer na die basiese.

* Prof. Michael le Cordeur is voorsitter van die departement kurrikulumstudie aan die fakulteit opvoedkunde van die Universiteit Stellenbosch. Hy was voorheen taalonderwyser, skoolhoof en kringbestuurder in Stellenbosch.

Meer oor:  Michael Le Cordeur  |  Onderwysers  |  Klaskamer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.