Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Midde-in die stille revolusie
Ton Vosloo.

Die joernalistiek sal en moet seëvier, ook in die digitale era, het Ton Vosloo, afgetrede Naspers-voorsitter en ereprofessor in joernalistiek aan die Universiteit Stellenbosch, onlangs in ’n lesing daar gesê. Hier volg ’n verkorte weergawe.

Al die innovasies van drukmedia wat die proses van kommunikasie versnel het sedert letters en woorde in warm lood gegiet is – vandag se sneldienste oor die lug – het ook die joernalistiek as beroep ernstig geraak.

Ons weet dat die kommunikasiebedryf omtrent met die spoed van lig verander, en ná ek ’n onlangse lesing deur ’n professor in digitale joernalistiek aan die Columbia-Universiteit in New York, Emily Bell, gelees het, voel dit of hierdie joernalis selfs nóg gryser hare het as wat hy reeds het.

Bell het verwys na die diepgaande verandering – amper sonder dat ons dit agterkom – van die medialandskap en die joernalistiekbedryf. Daarby voeg ek: en ook sonder dat dit in die openbaar gedebatteer word soos dit hoort.

Dit gaan daaroor dat ons nuus-ekosisteem die afgelope vyf jaar meer dramaties verander het as die afgelope vyfhonderd jaar. Ontwikkelings soos virtuele realiteit, kunsmatig intelligente wesens, kitsboodskappe en kitsklets veroorsaak massiewe veranderinge in wie die media redaksioneel en finansieel beheer. Dit beteken die hele toekoms van die media-ekosisteem is in die hande van ’n paar individue wat die lot van miljoene bepaal.

Volgens Bell het sosiale media nie net die joernalistiek ingesluk nie, maar álles, ook politieke veldtogte, bankstelsels, persoonlike geskiedenisse, die toerismebedryf, selfs regerings en sekuriteit. Die foon in ons sak het die poort tot die wêreld geword. Dit bied natuurlik opwindende geleenthede vir opvoeding, inligting en konnektiwiteit, maar dit bring ’n magdom ander risiko’s.

Daar is ’n stille revolusie rondom ons, maar eintlik weerklink ’n helse kakofonie tot die uithoeke van ons aarde.

’n Selfoon is eintlik nou ’n wapen in jou hande wat ongewenste vure kan laat ontbrand en jou in hope moeilikheid kan laat beland. Goed, nie nodig om die brandweer te ontbied nie, maar uit my ondervinding kan ek die standpunt van Bell kontekstualiseer.

Dit wat die media uit die moeilikheid gaan hou, is om die essensie van spraakvryheid as vertrekpunt te gebruik. Dit is die basis van goeie joernalistiek.

Dit beteken met die verpakking van nuus as teks of beeld is daar ’n paar eenvoudige en basiese reëls: Kry jou feite reg, wees die onpartydige waarnemer, hou jouself buite die storie, wees die geleier vir korrekte rapportering.

Pof. Piet Cillie (regs), voorsitter van die Nasionale Pers, ontvang in 1985 die Phil Weber-medalje van Ton Vosloo, besturende direkteur van die Nasionale Pers. Foto: Die Burger Argief

In ’n demokratiese gemeenskap gebaseer op ’n regstaat, soos Suid-Afrika genadiglik sedert 1996 met die aanvaarding van sy nuwe Grondwet is, moet die joernalistiek aan sekere eise voldoen. Daar is basiese reëls in die kommunikasiewêreld waaraan sy praktisyns moet voldoen. Jy kan skree “publish and be damned”, maar as jou feite verkeerd is, gaan die duiwel in die detail jou kry. Kommentaar is dalk gratis, maar feite kan nie geïgnoreer word as jy ernstig opgeneem wil word nie.

Terug na ’n paar ander werklikhede. Die internet en sosiale media stel joernaliste in staat om kragtige werk te doen, maar dit het terselfdertyd die joernalistiek ’n onwinsgewende bedryf gemaak. Daarby het die tradisionele mediabedryf beheer verloor oor die verspreiding van nuus, wat beteken sosiale mediamaatskappye se mag het geweldig verhoog.

Laasgenoemde is oral sigbaar in die vorm van Google, Apple, Facebook, Amazon, Tencent, WhatsApp, Alibaba, Mail.Ru, MWeb, Twitter, Snapchat. Die vorige enkelkanaal-nuusbronne soos koerante in die vorm van Die Burger, Rapport, Argus of City Press bestaan eensklaps nie meer nie.

By Naspers het ons lank geglo “inhoud is koning”. Dis nog belangrik, maar die koning is al amper kaal wat volhoubare inkomste betref. Daar is nou soveel mededingers, almal so vinnig beskikbaar, dat jou kosbare inhoud in ’n oomblik van sy eksklusiwiteit gestroop word.

Daarom val gedrukte media se sirkulasies en inkomste wêreldwyd. Naspers se plaaslike arm, Media24, is die grootste mediamaatskappy in Afrika, maar waar Naspers se inkomste 30 jaar gelede 100% uit die druksektor gekom het, is dié sektor se omsetbydrae tot die groep nou ’n skamele 6% (en krimpend). Maar net so is ook tradisionele TV op ’n permanente afwaartse glybaan.

Naspers het met die koms van digitalisering die kans aangegryp om in digitale kommunikasie te belê en is vandag omtrent die agtste grootste multimediamaatskappy ter wêreld. As hy by drukwerk gebly het, was hy bankrot.

Regerings is bewus van die probleme wat die ongebreidelde gebruik van die internet veroorsaak, soos byvoorbeeld kuberbedrog in die bankwese, maar die ou remedie van nuwe wetgewing sal nie die oplossing wees nie. Digitale ontwikkeling is net te vinnig vir die gewone wetgewende proses. Dus, terwyl wetmakers stoei met nuwe bedreigings, moet ons onsself afvra: hoekom nog joernalistiek? Is daar ’n toekoms vir dié professie in hierdie deurmekaargeklitste wêreld?

Om Bell weer aan te haal: “The Four Horsemen of the Apocalypse” – Google, Facebook, Apple en Amazon – vyf, as jy Microsoft byvoeg – is almal in ’n uitgerekte en smerige oorlog oor wie se tegnologie en platform – selfs ideologie – sal oorwin.

Probeer altyd deur die mis kyk en doen wat prakties is.

Die punt is dat die publiek die beheer van ons private en openbare lewens oorhandig aan ’n klein groepie mense wat op eie inisiatief optree en aan niemand as hul eie aandeelhouers iets verskuldig is nie. Dink Mark Zuckerberg. Dis nogal ontstellend om dít te moet deurdink komend uit ’n leeftyd van goeie, outydse joernalistiek.

Maar terug na my vorige punt: Wat moet die joernalistiek doen om relevant te bly?

My antwoord is simplisties: Probeer altyd deur die mis kyk en doen wat prakties is. En dit is om steeds die hoogste ideale van goeie joernalistiek in teorie en praktyk na te streef.

Watter onsigbare elektroniese gedruis ook rondom ons koppe woed, die vaste rotspunt bly die volgende: Wanneer ’n joernalis gaan sit en kopie skryf, is daar ononderhandelbare waarhede en beginsels waaraan elke woord gemeet moet word.

Joernaliste sal steeds redaksionele materiaal vir ’n verskeidenheid van media moet produseer, en berigte, in watter vorm ook, sal getoets word aan die norme van ’n soewereine, demokratiese samelewing en aan die eise wat ’n regstaat stel.

Laat ons moed skep uit wat ’n professionele joernalis geantwoord het toe hy moes hoor om joernalis te wees, is deesdae die laagste soort beroep:

“I was born to do this. I’m terrible at everything else. I’m married to newsprint, faithful to ink, enthralled to tell stories I could never imagine; righting/writing wrongs, and honoured to write history’s first draft. It was either this or being Batman and I’m neither rich nor an orphan, and I have too much fun or soul for politics.”

Meer oor:  Media
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.