Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Middelgrond bedreig

Radikale stemme voed mekaar én rassespanning in Suid-Afrika. Dit is dringend noodsaaklik dat koel koppe en die stem van rede die debat weer begin oorheers om oplossings vir ons probleme te vind, skryf Anisha Garib. 

Die politieke middelgrond (die sentrum) in Suid-Afrika is steeds sterk, maar word ernstig bedreig deur gevaarlike politieke retoriek van organisasies en leiersfigure aan opponerende uiterstes van die politieke spektrum.

Op die oog af beveg organisasies soos die EFF en AfriForum mekaar, maar in werklikheid voed hulle mekaar en maak hulle mekaar sterker. Dít ten koste van die stille meerderheid van Suid-Afrikaners oor alle rassegroepe heen wat ’n welvarende, stabiele en volhoubare toekoms vir die land wil hê.

AfriForum en Julius Malema blyk meesterstrateë te wees wat vinnig die kuns aangeleer het om die donkerder neigings in ons aard aan te wakker.

Elke keer as Malema rassehaat aanvuur of dreigemente teen wit Suid-Afrikaners maak, kry AfriForum honderde nuwe betalende lede wat hom in staat stel om sy agenda te versterk en te bevorder, soos om sy saak te internasionaliseer.

Soortgelyk, wanneer verteenwoordigers van AfriForum omstrede uitsprake maak (soos hul onlangse stelling dat apartheid nie ’n misdaad teen die mensdom was nie, of deur Malema direk aan te val), dryf hulle duisende mense na Malema en sy EFF.

Elke keer as Malema rassehaat aanvuur of dreigemente teen wit Suid-Afrikaners maak, kry AfriForum honderde nuwe betalende lede.

Rassetwis bedreig almal

Ek is ’n Suid-Afrikaner van Indiese afkoms – dus waarskynlik nie deel van die kern-teikengroepe van enige van hierdie strydende groepe nie. Dit begin egter vir my duidelik word dat politiek gematigdes soos ek uiteindelik ook aan die ontvangkant kan wees van maatskaplike onstabiliteit wat deur die rassetwis van hierdie groepe veroorsaak kan word.

In die besonder het die EFF-hoofsweep, Floyd Shivambu, se onlangse aanval op Ismail Momoniat van die tesourie geïllustreer dat geen Suid-Afrikaanse rassegroep onaangeraak sal bly in ’n politieke klimaat wat deur rasse-vyandigheid gekenmerk word nie.

Suid-Afrika se unieke maatskaplik-ekonomiese werklikhede skep ’n ruim teelaarde vir rasgedrewe verdeeldheid.

Teelaarde vir radikalisme

Suid-Afrika se unieke maatskaplik-ekonomiese werklikhede skep ’n ruim teelaarde vir rasgedrewe verdeeldheid en potensiële vyandskap.

Ekonomiese ongelykheid word grootliks volgens rasselyne waargeneem. Daar is grootskaalse armoede – meer as 55% van Suid-Afrikaners leef in uiterse armoede.

Vir meer as twee dekades lank misluk die regering om kritiese kwessies soos grondhervorming en werkskepping aan te pak. Hoogs geskoolde mense verlaat die land in hul duisende.

Ten spyte van hierdie probleme kon Suid-Afrika sedert die politieke oorgang in 1994 ’n mate van maatskaplike samehorigheid handhaaf sonder enige werklike bedreiging van rassekonflik.

Radikale retoriek en uitsprake is geensins ’n vreemde verskynsel in Suid-Afrika nie – maar ek het altyd aanvaar dat rede en koel koppe sal seëvier en dat klein radikale groepe geen werklike impak op die politieke klimaat sal hê nie.

Dit word egter toenemend moeilik om die huidige woede en ekstreme sentimente, van alle kante, te ignoreer.

Aan die een kant fokus Malema op die arm meerderheid wat niks het om te verloor nie.

Wanhoop uitgebuit

Dit is maklik om die wanhoop van sulke mense uit te buit en om woede en radikalisme aan te wakker. Daar is groot ontnugtering onder arm swart Suid-Afrikaners dat die nuwe demokratiese bedeling niks aan hul lot verander het nie. Dit is dan ook maklik om sondebokke te skep en die vinger na wit Suid-Afrikaners as die wortel van alle kwaad te wys.

Aan die ander kant is daar wit Suid-Afrikaners, veral Afrikaners, wat al hoe meer gemarginaliseer voel en ’n totale verlies van hul land, taal en identiteit vrees.

Die talle wreedaardige plaasmoorde oor baie jare heen laat selfs stemme opgaan oor volksmoord en etniese suiwering. AfriForum lyk toenemend na die verteenwoordiger van hierdie ontnugterde groep.

Ofskoon albei groepe regmatige kwessies probeer takel, kan hul toenemend radikale standpunte beskou word as simptome van die ernstige probleme waarmee die land te kampe het. In plaas daarvan om deel van die oplossing te word, word hulle deel van die probleem. Daar is inderdaad tekens dat albei uiterstes die laaste tyd meer radikaal raak.

Dit is nie moeilik om af te lei dat AfriForum die inspirasie vir sy nuwe inslag by pres. Donald Trump van Amerika se suksesvolle verkiesingsveldtog vind nie.

AfriForum se nuwe inslag

Dit is duidelik dat iets in die laaste paar maande by AfriForum verander het. Sedert sy ontstaan was AfriForum altyd versigtig om nie gesien te word as rasgedrewe of verregs nie. Dit was altyd duidelik dat AfriForum ’n sagte plek vir die Afrikanergemeenskap gehad het, maar dit was nie ongewoon dat hy namens individue of groepe buite die Afrikanergemeenskap sou optree nie.

’n Beduidende skuif in sy politieke houding en inslag is egter duidelik.

Onlangse uitsprake en aksies dui op ’n daadwerklike besluit deur AfriForum om sy vorige versigtige en ras-sensitiewe benadering te laat vaar en openlik en aggressief daarop te fokus om die politieke regtervleuel te mobiliseer.

Dit is nie moeilik om af te lei dat AfriForum die inspirasie vir sy nuwe inslag by pres. Donald Trump van Amerika se suksesvolle verkiesingsveldtog vind nie. Trump het ook sterk fokus geplaas op sy kern-ondersteunersbasis. AfriForum se flankering met invloedryke figure na aan Trump versterk hierdie persepsie.

Rasgedrewe uitsprake en bedekte dreigemente van geweld en grondbesetting blyk die EFF se strategiese politieke aanslag te wees.

Malema se dilemma

Dit is geen geheim nie dat Malema hom tans toespits op ’n baie spesifieke kern-ondersteunersbasis en nie juis omgee oor steun buite sy teikengroep van ontnugterde en ontevrede swart Suid-Afrikaners nie. Die ANC se nuwe beleide oor gratis onderwys en grondhervorming het Malema en die EFF gedwing om radikaler te word.

Rasgedrewe uitsprake en bedekte dreigemente van geweld en grondbesetting blyk die EFF se strategiese politieke aanslag te wees. Dit gaan waarskynlik toeneem in intensiteit soos die verkiesing van 2019 nader kom.

Mense het blikkieskos bymekaargemaak en gereed gemaak vir die ergste.

Die politieke sentrum

Tydens die onstuimige tydperk van die veelparty-onderhandelinge wat uitgeloop het op die vreedsame politieke oorgang in 1994, was die moontlikheid van onstabiliteit, chaos en selfs burgeroorlog heeltyd teenwoordig. Mense het blikkieskos bymekaargemaak en gereed gemaak vir die ergste.

Daardie ergste moontlike scenario het egter nie gebeur nie, hoofsaaklik vanweë die teenwoordigheid van koelkoppe en die oorwig van gematigde pragmatiste.

Dit is tyd dat koel koppe en die stem van rede die debat weer moet begin oorheers.

Selfs al is daar tans talle uitdagings, lyk dit asof die politieke sentrum in Suid-Afrika steeds sterk is. Ons het ’n betreklik stabiele ekonomiese omgewing. Ons het ’n president wat bekend is as ’n politiek gematigde. Radikale groepe word histories by die stembus gestraf. Ons het ’n vrye media wat help met deursigtigheid en ruimte skep vir gesonde politieke debat.

Dit begin egter duidelik word dat ons dit nie as vanselfsprekend kan aanvaar dat die gematigde sentrum onbepaald sal seëvier nie. Daar is groot uitdagings vir Suid-Afrikaners wat ’n vreedsame en volhoubare toekoms vir huidige en toekomstige geslagte wil hê.

Ons sal die kwessies van uiterse armoede, onsekerheid en vervreemding, wat tans die radikale elemente in ons samelewing voed, moet oplos. Volhoubare langtermynbeplanning is nodig om Suid-Afrika ’n voorspoedige en vredeliewende plek te maak vir almal wat daarin woon.

Dit is tyd dat koel koppe en die stem van rede die debat weer moet begin oorheers om oplossings vir Suid-Afrika se probleme te vind.

Sonder die gematigde stem kan die sentrum meegee en plek maak vir ’n gepolariseerde politieke omgewing waar die pad na ’n stabiele toekoms verlore kan raak.

Anisha Garib is ’n vryskutjoernalis en ’n gemeenskaps- en omgewingsaktivis.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.