Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Migrasie kort bestuur

Onaangename waarhede kenmerk die toestroming van onwettige immigrante na Suid-Afrika en die emigrasie van kundiges en beroepslui, skryf Flip Smit.

Migrasie.

‘Suid-Afrika het ’n aantreklike bestemmingsgebied geword vir onwettige immigrante (ongedokumenteerdes, smokkelaars en mensehandelaars) wat ’n veiligheidsrisiko inhou vir ekonomiese stabiliteit en die soewereiniteit van die land.” Só word die situasie opgesom in die ANC-regering se Witskrif oor Internasionale Migrasie van 29 Julie 2017.

Enkele onlangse gebeure onderstreep bostaande werklikhede. Die DA onderneem om “die stem van die gewone burgers” oor onwettige immigrasie te word. Dit kan stembuspunte verdien.) Die burgemeester van Johannesburg, Herman Mashaba, het onlangs verklaar dat onwettige mynwerkers (zama-zamas) plofstof in mynskagte onder die stad gevaarlik naby gas- en oliepypleidings laat ontplof, maar dat die pleidooie om hulp om die “dreigende katastrofe” te voorkom, “geïgnoreer” word.

Die meeste van die mynwerkers is waarskynlik buitelanders. Statistieke Suid-Afrika toon aan dat ongeveer 100 000 buitelandse immigrante jaarliks na Gauteng stroom. Die syfer vir die Wes-Kaap is 20 000. Dié toestromings word jaarliks aangevul met ongeveer 200 000 plaaslike migrante van veral Limpopo en Mpumalanga wat na Gauteng migreer, terwyl ongeveer 60 000 per jaar van die Oos-Kaap na die Wes-Kaap stroom.

Volgens die minister van gesondheid, dr. Aaron Motsoaledi, beset buitelanders byna 60% van die beddens in staatshospitale in Gauteng. Die voorsitter van die Raad van Provinsies, Thandi Modise, het ’n beroep op pres. Cyril Ramaphosa gedoen om indringend aandag aan die krisis te gee, op “misdaadnetwerke” gewys en gesê dat buitelanders Hop-huise ten koste van plaaslike inwoners bekom.

Met die staking van mediese personeellede sedert November 2018 in Zimbabwe kom baie swanger vroue om in Suid-Afrikaanse hospitale te kraam.) Ná ’n onlangse besoek van die DA-taakspan aan grensposte is grensbeheer as skokkend beskryf.

By die Beitbrug-grenspos tussen Suid-Afrika en Zimbabwe is ’n onbemande opening gevind “waardeur ’n vragmotor kan ry”.) Luidens mediaberigte neem die omvang van mensehandel toe.) Onlangs is ongeveer 300 Ethio­piërs, meestal handelaars, uit een gebied verdryf.

Getalle

Hoeveel onwettige immigrante het Suid-Afrika? Die kort antwoord is niemand weet nie.

In die 2011-sensus is 2,3 miljoen getel. Kundiges glo dit is ’n ondertelling. Wêreldwyd beweeg immigrante onder die radarskerms. Die getal onwettige immigrante wordóf onderskat (3 miljoen) óf oorskat (10 miljoen). ’n Syfer van 5 miljoen is seker nie onrealisties nie.

Die per capita-inkomste in Suid-Afrika is vyf keer hoër as in buurlande. Volgehoue toestroming sal dus eerder toeneem as afneem.

Onaangename waarhede

Een onaangename waarheid is dat die vaardigheidsvlakke van immigrante ’n skerp dalende neiging toon.

Ná 2 Februarie 1990 het baie kundiges na Suid-Afrika teruggekeer. Dié instroming het egter nie naastenby vergoed vir die uitstroming van kundiges wat reeds in die laat 1980’s begin het nie. Ná die ineenstorting in Zimbabwe, veral ná 2000, het baie kundiges na Suid-Afrika gekom. Maar dié stroom kundiges – ook van ander lande – het feitlik opgedroog en word nou vervang deur onopgeleide werkloses. En dít na ’n land waar die werkloosheid onder die jeug tot 50% is!

Hierteenoor is daar harde feite dat kundige mense die land toenemend verlaat. Emigrasie-agentskappe wat veral op Amerika fokus, verklaar dat die getal navrae met tot 400% toegeneem het. Staatskaping en moontlike onteiening van grond sonder vergoeding dryf die proses waarskynlik. Meer as 3 500 Suid-Afrikaanse boere boer in Afrika en tot so ver as Australië en Georgië.

Die regering se Witskrif oor Internasionale Migrasie maak twee belangrike bevindings: Suid-Afrika is nie in staat om immigrante met skaars vaardighede te lok en te behou nie; en) Vir die eerste keer in die geskiedenis verlaat meer swart as wit professionele mense die land.

Heelwat mense woon nog hier, maar het reeds finansieel geëmigreer. Volgens Statistieke SA verlaat ongeveer 25 000 mense die land jaarliks. Baie emigreer egter sonder om gedokumenteer te word.

Die gevolge van die verlies aan skaars vaardighede en die instroming van onopgeleide arm mense word nie altyd besef nie.

Uiters moeilike grensbeheer

Die genoemde witskrif bevat baanbrekende voorstelle om Suid-Afrika se beleid in ooreenstemming met dié van die res van die wêreld te bring. Die feite word onverbloemd aangebied. Die huidige grensbeheerstelsel kan nie suksesvol toegepas word nie en die klem moet verskuif van grensbeheer na gemeenskaps- en werkplekinspeksies. En dan die stelling: “Totale grensbeheer is nóg moontlik nóg wenslik.”

Die lang en poreuse land- en seegrense (4 470 km) met 71 aangewese toegangspoorte, saam met grense wat gemeenskappe verdeel en waar oorgrensbewegings daagliks vryelik plaasvind, maak grensbeheer feitlik onmoontlik. Visums word maklik deur korrupsie verkry.

Meer as 16 miljoen mense steek Suid-Afrika se grense jaarliks oor. Hiervan kom ongeveer 80% van die 16 lande van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG). 3,8 miljoen van hulle kom van Lesotho en 3,4 miljoen van Zimbabwe. Jaarliks is daar meer as 60 000 asielsoekers, maar 90% kwalifiseer nie vir vlugtelingstatus nie.

Daar is ’n persepsie dat die ANC-regering bra onwillig is om streng op te tree teen immigrante van lande wat die struggle ondersteun het.

Voor- en nadele van migrasie

Een van die groot uitdagings is om migrasie só te bestuur dat kundiges behou, vaardigheidstekorte aangevul en bande met die diaspora in stand gehou en versterk word. Só kan hul kundigheid tot voordeel van die land aangewend word.

Die gevaar wat migrasie vir veiligheid en werkloosheid inhou, is reeds aangestip. In die verlede het immigrante baie kundigheid en kapitaal na Suid-Afrika gebring en dikwels beter as plaaslike burgers presteer wat toewyding en vlyt betref. Hul sakeondernemings is soms 24 uur per dag oop en studies toon dat landbou in Limpopo en Mpumalanga moeilik sonder Zimbabwiërs se harde werk bedryf kan word.

Studente van elders in Afrika, veral op nagraadse vlak, presteer dikwels beter as plaaslike swart studente. Hul Engels is gewoonlik beter en hul toewyding veel groter.

’n Geldige vraag is of populistiese retoriek oor onhaalbare beloftes van gratis dienste ensovoorts nie ’n kultuur van afwagting en afhanklikheid by inwoners skep nie.

Sluise gaan oop

Mense van Europese afkoms het in die koloniale tydperk en ná Uniewording voorkeur gekry. Daar was ongewone uitsonderings, soos in 1930 en 1937, toe spesifiek teen Jode gediskrimineer is. Indiërs was toenemend onwelkom.

Immigrante van elders in Afrika was “naturelle”. Die mans op die diamant- en goudvelde is as trekarbeiders in kampongs gevestig om permanente verblyf teen te werk. Dié trekarbeiders, veral van Mosambiek en Lesotho, maar ook so ver as Malawi, het oor ’n tydperk van byna 150 jaar stewige netwerke opgebou. Hierdie netwerke het goed te pas gekom ná 1994, maar veral ná 1999, toe Suid-Afrika sy grense oopgegooi het.

Die reg is voorbehou om net immigrante met skaars vaardighede toe te laat; ongeskooldes is tot die myn- en landbou beperk. Maar die sluise was oop.

In April 2016 het Suid-Afrika visumvrystelling aan houers van gewone paspoorte van 14 Afrikalande toegestaan. Dit is in skrille kontras met 29 Europese lande wat vir dié voorreg kwalifiseer.

Die Afrika-Unie se Agenda 2063 stel die vrye beweging van mense oor grense as mikpunt. Dié ideaal van die vrye beweging van mense, goedere en kapitaal word reeds jare lank deur die 16 SAOG-lande nagestreef. Verblyf van 90 dae sonder ’n visum word verwag.

Ramaphosa vereenselwig hom met dié strewes.

Drie struikelblokke

Die genoemde witskrif van 2017 is ’n realistiese dokument met ingrypende voorstelle. Daar is egter drie struikelblokke. Die implementeringskoste sal R1 miljard beloop, met ingrypende wetswysigings. Dit is ’n uiters gesofistikeerde stelsel en die vraag is of die kundigheid daarvoor bestaan. Die belangrikste vraag is egter of die ANC-regering die politieke wil het om streng immigrasie- en emigrasiebeheer toe te pas.

Prof. Smit doen navorsing oor demografie.

Meer oor:  Immigrante  |  Armmoede  |  Migrasie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.