Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Mikrobioom amper soos nuwe orgaan

Die mikrobioom – die vele mikrobes in ’n mens se dermkanaal – is die afgelope tien jaar intens bestudeer. Navorsing wys dit hou verband met vele siektes, speel ’n baie groot rol in ons gesondheid en hoe medikasie werk, skryf Elsabé Brits.

In elkeen van ons se spysverteringskanaal is daar baie belangrike kolonies van triljoene mikrobes – ’n mikrobioom – wat uit bakterieë, virusse en swamme bestaan. Dit is baie belangrik vir ons gesondheid. Voorstelling: V. Altounian, Science Translational Medicine (2016)

In elkeen van ons se spysverteringskanaal is daar ’n baie belangrike kolonie van triljoene mikrobes – ’n mikrobioom – wat uit bakterieë, virusse en swamme bestaan. Elkeen se mikrobioom is uniek, en as dit gesond is, is jy ook gesond.

Die mikrobes help om kos te verteer, vervaardig sommige vitamiene en speel ’n rol in hoe jy ’n siekte beveg.

’n Komplekse chemiese en molekulêre verhouding bestaan tussen jou en jou mikrobioom, en sou dit versteur word, ontketen dit onder meer ’n immuniteitsrespons.

Daar is intussen vasgestel dit ook jou gedrag en brein kan beïnvloed. En dit speel ’n rol in jou metabolisme en hoe die liggaam onder meer medikasie opneem.

In die jongste fase van dié internasionale projek is begin om te fokus op die mikrobioom se rol in 100 siektes.

Dit word nou verbind met middelweerstandige epilepsie, Parkinson se siekte, moontlik met Alzheimers, verskeie siektes wat met spysvertering verband hou soos Crohn se siekte, inflammatoriese dermkanaalsiekte, inflammatoriese colitis, outisme, vetsug, veelvuldige sklerose, tipe-2-diabetes en selfs kanker.

Dit is egter nie die enigste oorsaak vir die siektes nie, net een van die faktore wat daartoe bydra.

Honderde navorsers van die Menslike Mikrobioomprojek het die rol wat mikrobes in ons algemene gesondheid speel, eers in 2007 intensief begin navors. (Hulle kyk ook na mikrobes op ’n mens se vel, genitalië en in die mond.)

In die jongste fase van dié internasionale projek is begin om te fokus op die mikrobioom se rol in 100 siektes. Onlangs is nuwe werk hieroor in ’n reeks navorsingsartikels in die vakjoernaal Nature gepubliseer.

’n Gesonde mikrobioom vereis sosiale interaksie

Vandat jy gebore word, begin jy bou aan jou mikrobioom. Daar is ’n groot verskil tussen ’n vaginale geboorte en ’n keisersnee. Kenners het gevind baie spesifieke bakterieë, wat die immuniteitstelsel stimuleer, word tydens ’n natuurlike geboorte van ’n ma aan haar baba oorgedra.

Dit is afwesig wanneer ’n baba deur middel van ’n keisersnee gebore word, maar dié studie beveel aan dat ’n keisersnee steeds gedoen moet word as dit nodig is.

Een van die jongste bevindings is dat vroue wat prematuur die lewe skenk ’n laer voorkoms van sekere bakterieë het as vroue wat ’n baba vir die volle termyn van nege maande dra. Veranderings in bakterieë kom meestal in die eerste trimester voor.

Onlangs is bevind daar is ’n verband tussen die mikrobioom van jou dermkanaal en die mees algemene vorm van borskanker.

Dieselfde gebeur met borsmelk, wat ook mikrobes bevat wat nodig is om die baba se spysverteringskanaal te koloniseer.

Deur jou hele lewe word jou mikrobioom beïnvloed deur wat jy eet, drink, grond, plekke en diere waarmee jy in aanraking kom – hoe groter die verskeidenheid hoe beter. ’n Gesonde mikrobioom vereis sosiale interaksie.

Onlangs is bevind daar is ’n verband tussen die mikrobioom van jou dermkanaal en die mees algemene vorm van borskanker, hormoonreseptor-positiewe borskanker. Dit is nog nie seker presies watter rol dit speel nie, maar dit lyk of die gewasse meer aggressief is in muise met dié kanker en ’n dermkanaalmikrobioom wat versteur is.

Mikrobioom en diabetes

Die mens het meer mikrobes in en op hom as wat hy menslike selle het en navorsing wys die mikrobioom speel ’n groot rol by die individu se gesondheid.Voorstelling: Darryl Leja, NHGRI

In een van die mees omvattende studies wat gedoen is oor inflammatoriese dermkanaalsiekte, ’n toestand waaraan baie mense ly, is bevind hul vlakke van vitamien B5 en B3 is heeltemal uitgeput. Ook dat die galsuur – wat ’n mens vervaardig, maar deur die mikrobes verander word – versteur word.

Mense met dié toestand het ’n hoër vlak van veranderlikheid van mikrobes oor ’n tydperk as ander mense, soos proteïene en metaboliete, en kenners dink nou dat virale infeksies hiervoor verantwoordelik is. Meer virusse is by hulle opgespoor net voordat die siekte opgevlam het.

Daar is ook ’n wisselwerking tussen die begin van diabetes en die spysverteringsmikrobioom.

Volgens die studie is daar ’n patroon van veranderings in die mikrobes in die neus en spysvertering, asook ’n verhouding met virale infeksies van die asemhalingstelsel en die begin van diabetes.

Daar is unieke veranderings in die immuniteitstelsel se respons en hoe die mikrobioom verander in mense wat ’n hoë risiko het om tipe-2-diabetes te ontwikkel.

Die mikrobioom in die dermkanaal het 150 keer meer gene as die menslike genoom. Daar is dus 150 keer meer “ander gene” in jou as jou eie. Die gene produseer baie ensieme met die potensiaal om medikasie te metaboliseer.

Kenners het verlede jaar bevind die spysverteringskanaal se mikrobioom is ook ’n rede vir waarom sommige orale diabetes-medikasie vir mense werk. Van die middels werk byvoorbeeld goed as ’n mens dit inspuit, maar nie as jy dit deur die mond inneem en dit deur die dermkanaal beweeg nie.

Dit gebeur omdat die mikrobioom op ’n mens se metabolisme inwerk. Dit hang egter af van jou eie mikrobioom en hoe dié ensieme die middels se aktiwiteit beïnvloed.

Intussen is daar nog navorsing gedoen oor ander medikasie wat ’n mens per mond inneem. Die invloed is veel groter as wat besef is – dit is hoekom ons so verskillend reageer op dieselfde medikasie.

Die mikrobioom in die dermkanaal het 150 keer meer gene as die menslike genoom. Daar is dus 150 keer meer “ander gene” in jou as jou eie. Die gene produseer baie ensieme met die potensiaal om medikasie te metaboliseer, volgens ’n ander studie in Nature.

Die interaksies kan óf die medikasie aktiveer óf onaktief maak en in sommige gevalle toksiese middels afskei. Tydens die studie is na 76 van die algemene bakterieë gekyk wat in die dermkanaal voorkom en hoe dit op 271 orale medikasies inwerk.

Altesame twee derdes is deur minstens een stam gemetaboliseer wat die werking van die middel kan beïnvloed.

Daar is een of ander verhouding tussen die mikrobioom en outismespektrumstoornis. Toe bakterieë van kinders met dié toestand in muise oorgeplant is, het dit volgens ’n studie in die vakjoernaal Cell presies dieselfde gedrag getoon.

Die bevinding was dat die mikrobioom regstreeks tot outisme kan bydra.

Behandeling wat werk

Elsabé Brits

Dit kan behandel word met tegnieke waarvoor die meeste mense sal wegdeins, maar dit werk. Dit is die grootste sukses van mikrobioom-navorsing en is al vir vele toestande met groot sukses aangewend.

Dit staan as mikrobiota-oordragterapie bekend. Want probiotika is eenvoudig nie genoeg nie. Gesonde mense se feses word versamel, verwerk en gevries en dan oorgedra aan siek mense – óf met ’n spesifieke buis deur die neus tot in die duodenum, óf deur ’n kolonoskopie tot in die kolon.

Die gesonde bakterieë herstel die balans en in meer as 90% van gevalle van mense wat die infeksie Clostridium difficile het – onophoudelike diarree veral ná die gebruik van antibiotika wat ook na ander mense kan versprei – is dit suksesvol.

In kliniese navorsing is dit gedoen met kinders met outisme, wat ook probleme met hul spysvertering het, veral die stamme Bifidobacteria en Prevotella het ontbreek. Die probleme met spysvertering het met 58% verbeter en daar was ook ’n verbetering van 45% in die “kernsimptome van outisme”.

Die afgelope tien jaar is 4 000 studies gepubliseer oor die mikrobioom, maar nog net die oppervlak oor die presiese rol daarvan in ons gesondheid is geraak.

Dit is byna soos ’n nuwe orgaan – een wat deel is van die geheel – wat nie meer in isolasie staan nie en beslis nie net met spysvertering te doen het nie.

* Bronne: https://www.nature.com/articles/s41586-019-1291-3); 10.1038/s41467-018-07631-x ; https://doi.org/10.1016/j.cell.2019.05.004; https://doi.org/10.1016/j.cell.2019.05.004; https://doi.org/10.1186/s40168-016-0225-7; https://www.nature.com/articles/s41586-019-1238-8.

* Brits is ’n vryskut-wetenskapjoernalis. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Elsabé Brits  |  Diabetes  |  Outisme
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.