Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
‘Mile-high’-klub nooit so gewild soos sitplekseks

In Secrets from the Cockpit gee Robert Schapiro lesers ’n seldsame kykie in die lewe van ’n internasionale vlieënier. Schapiro, vlieënier vir die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) in die 1980’s, beskryf noue ontkomings, noodlandings en in dié uittreksel die kaskenades van passasiers (en vlieëniers).

Vergeet van die legendariese “mile-high”-klub van seks in die toilette van vliegtuie.

Die meeste seks het sommer op die passasiersitplekke plaasgevind.

Dit was glad nie ongewoon vir die intertelefoon om in die stuurkajuit te “dieng” met ’n oproep van ’n giggelende lugwaardin wat ons vra wat om te doen oor die paartjie wat lawaaierige sitplekseks het nie.

Ons het gewoonlik vir hulle gesê dit is maar die beste om ’n paar komberse oor die paartjie te gooi en hulle te laat klaarmaak.

Ek het eenkeer onbedoeld sitplekseks tussen vreemdelinge aanskou toe ek in eerste klas van Londen na Kaapstad gereis het.

Soos die alkohol gevloei het, was dit duidelik wat gaan gebeur as die ligte afgaan.

Die paartjie aan die oorkant van die gangetjie was gul en goed gemanierd met mekaar voordat die vliegtuig opgestyg het, geselserig oor drankies, beste vriende vir altyd met aandete en hulle het oor nagereg betekenisvol na mekaar gekyk.

Soos die alkohol gevloei het, was dit duidelik wat gaan gebeur as die ligte afgaan.

En gebeur het dit gebeur, ten aanskoue van ’n jong seun wat voor hulle gesit en sy kop tussen die twee sitplekke ingedruk het, geboei deur die verrigtinge.

Met die aanbreek van die nuwe dag kon die eens joviale paartjie skaars ’n woord kry om vir mekaar te sê.

Ná ontbyt het hulle weg van mekaar gedraai en ingesluimer, tot die teleurstelling van die seun, wat ongetwyfeld op ’n encore gehoop het.

In Johannesburg het die man verdwyn sonder om eens totsiens te sê. Die vrou en ek het albei na Kaapstad gevlieg, waar sy in die liefdevolle arms van haar man geval het.

Swak gedrag nie net tot drinkery beperk

Die stuurkajuit van ’n SAL-vliegtuig in die 1980’s.

Swak gedrag onder die bemanning was ook nie net tot ’n drinkery beperk nie. Toe ek as ’n jong, alleenlopende man by die SAL aangesluit het, was dit normaal vir die ouer vlieëniers om lugwaardinne as meisies te hê. So normaal dat hulle “lugdiensvroue” genoem is.

Dit was duidelik dat sommige van die jonger vroue ’n getroude vlieënier as kêrel as ’n soort van magtige modebykomstigheid beskou het. Hulle het geweet dat die verhouding nie juis tot enigiets sou lei nie, maar hulle het gevoel dit gee hulle ’n spesiale status onder die bemanning en op die vliegtuig.

Die mans was uiteraard heel tevrede om saam te speel.

Ek het dit meestal probeer vermy om mense te oordeel. Dit was ’n ander tydperk en ’n ander kultuur was in die werkplek vaardig.

Daar is van dié vroue verwag om ’n sekere gewig te handhaaf en hulle is geleer om hul hare op ’n voorgeskrewe sekere manier te dra en hul grimering op ’n voorgeskrewe manier te doen.

Die SAL was toe by uitstek ’n klub vir manne.

Diegene van ons wat die vliegtuie gevlieg het, was almal mans – professionele mense vir wie dit ’n loopbaan was en wat byna almal eers ’n draai in die lugmag gaan maak het.

Die lugwaardinne, aan die ander kant, was weer meestal jong vroue wat by die lugdiens aangesluit het vir ’n klompie jare se avontuur waartydens hulle die wêreld kon sien voordat hulle aanbeweeg het. Die lugdiens het in elk geval as ’n reël nie ouer vroue aangestel nie; hy wou aantreklike jongelinge hê wat goed sou lyk in hul ontwerpersuniforms.

Daar is van dié vroue verwag om ’n sekere gewig te handhaaf en hulle is geleer om hul hare op ’n voorgeskrewe sekere manier te dra en hul grimering op ’n voorgeskrewe manier te doen. (Die manlike vlugkelners was meer geneig om ’n langtermyntoekoms in die lugdiens te sien, maar daar was nie veel sosiale omgang tussen hulle en die vlieëniers nie.)

Teistering . . .

Robert Schapiro in die kaptein se sitplek in ’n vliegtuig van Nippon Cargo Airlines.

Al die vroue wou uiteraard nie dié aandag hê nie.

Ek onthou een internasionale reis toe ’n junior lugwaardin vir beskerming aan my sy gebly het nadat ’n baie ongewilde kaptein aangehou het om haar te teister.

Hy was nie haar baas nie – die bemanning in die stuurkajuit en kajuit het afsonderlike rapporteringslyne en bestuurders gehad – so hy het uiteindelik oor my in sy verslag geskryf toe ons na Johannesburg teruggekeer het.

“Dié ‘boy pilot’ dink die lugdiens is daar om hom van een partytjie na ’n ander te karwei,” het hy geskryf. “Hy het zero potensiaal om bevel te voer.”

Die bestuurder het saamgestem en die verslag tot Lêer 13, ook bekend as die vullisdrom, verdoem.

Ek moes net glimlag toe die poelbestuurder my inroep en vir kommentaar vra. Ek het gedink dit was die volmaakte beskrywing van die “boy pilot” se werk.

Maar benewens die kaptein se ooglopende snedigheid, het my rekord gewys dat ek meer as genoeg bevelvoerderspotensiaal gehad het toe ek as 20-jarige as ’n Dakota-bevelvoerder in die lugmag gekies is.

Die bestuurder het saamgestem en die verslag tot Lêer 13, ook bekend as die vullisdrom, verdoem.

Morele woede en trane

Schapiro het by Nippon Cargo Airlines gewerk nadat hy by die SAL weg is.

Een van die kere wat ek morele woede ervaar het, was toe ek na Londen gevlieg het saam met ’n vrome Afrikaanssprekende vlieënier wat ’n ampsdraer in sy kerk was.

Dié vlieënier het op ’n slag ’n persoonlike nota vir my gelaat waarin hy my vra om saam met hom en sy vrou te gaan bid. Hulle wou ongetwyfeld my Joodse duiwels uitdryf.

Maar op daai reis na Brittanje het hy nie eens sy hotel gehaal nie; ons het almal gesien hoe sy Engelse meisie wag om hom op die lughawe te ontmoet en ons het hom nie weer gesien totdat ons moes terugvlieg nie. Ek raai hy het maar haar duiwels ook probeer uitdryf.

Soms het hierdie verhoudings vir jare lank aangehou. Die vlieënier sou tussen vlugte by die huis saam met sy vrou bly en sy skedule só reël dat hy op dieselfde vlug was as sy lugdiensvrou.

Sommige vlieëniers sou selfs ’n stappie verder gaan en hul tasse pak en vir hul vrou vertel dat hulle oorsee moet vlieg, maar dan verkas hulle na die meisie se plek in ’n ander deel van die dorp.

Daar was selfs min wat probeer het om dié verhoudings op ons vlugte stil te hou. Ek onthou toe my vrou, Arlene, met afsku toegekyk het hoe ’n vlieënier met passievolle soene van sy meisie in die ingangsportaal van ’n hotel in Durban afskeid geneem het – en toe op dieselfde plek gewag het om sy vrou ewe passievol te groet toe sy ’n paar minute later op ’n besoek van Johannesburg aangekom het.

In teorie het lugwaardinmeisies vlugte vermy wanneer die kaptein op ’n beplande reis saam met sy vrou was.

Soms het dit egter gebeur dat ’n vrou spontaan besluit het om saam te reis wanneer daar al klaar reëlings met die lugdiensvrou getref is, byvoorbeeld oor Kersfees. Dan was die gevolg iets wat ’n Broadway-klug waardig is.

Ek was op een so ’n reis met albei vroue aan boord. Die kaptein was ’n senuwrak van die begin af.

Dit was goeie vermaak vir almal daar, maar dié situasies het sonder uitsondering in trane of egskeiding geëindig.

Sy lugdiensvrou het hom nie ontsien nie. Sy het hom genadeloos uitgetrap elke keer wat sy hom gesien het, selfs in die stuurkajuit.

Sy regte vrou het stil in eerste klas gesit en niks gesê nie – sy het waarskynlik geweet dat sy hulle albei getroef het.

Die hele bemanning het by ’n restaurant bymekaargekom vir hul Kersete. Die gewoonlik spraaksame kaptein en sy vrou het aan die een punt van die tafel gesit, sy gesig ’n toonbeeld van angstigheid, met sy lugdiensliefde woedend aan die ander punt.

Sy het te vinnig gedrink, te hard gelag en uiteindelik in trane uitgestorm.

Dit was goeie vermaak vir almal daar, maar dié situasies het sonder uitsondering in trane of egskeiding geëindig.

Baie vlieëniers was vir ’n derde of vierde keer getroud. Een ou was al so baie getroud dat hy as die “wisseltrofee” bekend gestaan het.

Secrets from the Cockpit: Pilots behaving badly and other flying stories word deur Jonathan Ball uitgegee en kos R270.

Meer oor:  Suid-Afrikaanse Lugdiens  |  Durban  |  Londen  |  Kaapstad  |  Johannesburg  |  Seks  |  Lugwaardinne  |  Vlieëniers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.