Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Militêre kollege se 1ste vroue vier halfeeufees; stigter onthou begindae

In 1971 het die nuwe Burgerlike Beskermingskollege (BBK) in George die eerste vroulike rekrute in die (destydse) Suid-Afrikaanse Weermag (SAW) ingeneem. Die lede van 1971 se inname beplan hul 50-jaar-reünie in November. Genl.maj. (afgetree) MJ du Plessis, eerste bevelvoerder, het die storie oor die ontstaan van die unieke eenheid aan Gert Coetzee vertel.

Burgerlike Beskermingskollege, George, 1971: Republiekfees, 1971. Foto: Verskaf

Buite die duethuis in Bloemfontein waar die “Generaal” (soos oudlede onder sy destydse bevel hom noem) sedert die dood van sy vrou, Judy, twee jaar gelede steeds woon, werskaf hy buite met gereedskap.

Genl. Du Plessis (89) het in 1961 as kaptein die eerste valskermkursus by die toe pasgestigte 1 Valskermbataljon in Bloemfontein deurloop. Hy was die eerste Suid-Afrikaanse valskermsoldaat wat daar opgelei is en ’n sprong gedoen het. Later was hy bevelvoerder van 1 Valskermbataljon.

In 1956 het hy as ’n lid van die Springbok-span in die moderne vyfkamp (perdry, hardloop, pistoolskiet, swem en skerm) aan die Olimpiese Spele in Melbourne deelgeneem.

Binne is hy paraat vir die onderhoud. “Kom ek vertel jou die storie,” sê hy. En doen dit sodat vrae feitlik oorbodig is.

“Die eerste ding is dat die BBK nooit bedoel was om vroulike lede vir die staandemag op te lei nie. Wat gebeur het, is dat in die laat 1960’s Burgerlike Beskerming, die Vroue-Landbou-unie en die Suid-Afrikaanse Vrouefederasie aktief was met baie takke waar vroue oor gesondheid, noodhulp, kommunikasie, veiligheid en ander sake opgelei is.

“Hulle het toe vir PW (Botha, toe minister van verdediging) genader of ons nie ’n kollege wil stig vir die opleiding van meisies in burgerlike beskerming nie, dan kon hulle daarna takke help vestig. Dít was die doel van die kollege.”

Genl. MJ du Plessis, stigter van die Burgerlike Beskermingskollege, George, in 1971. Foto: Verskaf

Opdrag

As ’n 38-jarige kolonel by die Kommandement Wes-Transvaal in Potchefstroom in 1971 was hy op ’n geselligheid. “Genl. Willem Louw, hoof van die Leër, was by 1 Valskerm my bevelvoerder. Daardie aand sê hy hy het ’n jop vir my. Brig. Koos Stapelberg, b.o. van Potch-kommandement, sou my meer vertel.

“Die volgende oggend sê die brigadier die weermag wil ’n burgerlike beskermingskollege stig vir die opleiding van vroue, maar ek moet eers by my vrou hoor. Judy was ’n goeie vrou; waar ek gaan, gaan sy.

“Die brigadier het nie meer geweet nie. Ek is na Pretoria waar ’n genl. Retief, weermaghoof van Burgerlike Beskerming, my ingelig het.

“My opdrag: Stig ’n kollege. En lei ons vroue op!”

Hoekom hy? “Ek weet nie. As sy tweede in bevel by 1 Valskerm het genl. Louw dalk gedink ek is ’n goeie seun.

“Daar was nie uniforms of enigiets nie. Genl. Retief het vir my gesê die ou George-huishoudskool gaan ontruim word. Ek moet gaan kyk en dit in ’n militêre basis omskep.”

Wedloop teen tyd

Net maande was oor – sonder ’n proeflopie.

“Ek kom in George, stap by die ouerige prinsipale in en sê ons is reg vir die oorvat. ‘Waar val jy uit? Oor my dooie liggaam!’ sê sy. Ek was geskok en het genl. Louw gebel.

“Van daar het dinge blitsig gebeur. Genl. Louw het PW gebel. Hy was ’n minister en dis sy kiesafdeling. Die brief oor die sluiting van die huishoudskool is begin 1970 gerig, maar het iewers tussen openbare werke en onderwys in ’n mandjie bly lê. Toe ek daar kom, was dit die eerste woord. Niemand het ooit vir die tannie iets gesê nie.”

Die toe nog ongestigte kollege moes opleiers en rekrute kry – en geeneen van hulle was bewus van die ontstaan van die eenheid waar hulle oor vyf maande offisiere óf studente sou wees nie.

“Dit was in Augustus. Die nuwe eenheid moes in Februarie 1971 oopmaak. En ons het niks.

“Vroue-offisiere moes gewerf en vir die eerste inname voorberei word. In daardie tyd was daar net een dame in die Leër, en sy het by die HK in Pretoria gewerk.

“Daar moes vir studente geadverteer, ’n keurraad saamgestel en onderhoude gevoer word.

“Tussendeur moes klere gemaak en kantoormeubels en katels gekry word, als in drie of vier maande.”

Toe Du Plessis weer by die huishoudskool kom, het hy stryk- en waskamers aangetref, terwyl lesingkamers, kantore, menasies en stoorplek nodig was.

“Toe stap ek as bevelvoerder, mnr. Jones as hoof van openbare werke, ’n argitek van George, en Piet Meyer, bouer van George, deur. Vir tenders was daar nie tyd nie. Ons loop deur en ek moet sê wat ek híér en hiér wil hê, al weet ek nie eens wat ek wil doen nie.

“Dit was seker die eerste keer in die land dat daar carte blanche vir ’n projek was. En so het dit begin.”

Die wasbakke en stowe is uitgehaal en slaapplek ingerig. “Die uitrustings het van Pretoria gekom. Dit was vrek moeilik, want ek het nie geweet watter grootte vrou ek gaan kry nie. Het op duimsuig laat klere maak en uniforms gedoen.”

Aankoms van die eerste inname in Januarie 1971. Foto: Verskaf

Hilda Botha

Basiese opleiding sou die gewone dril, salueer en eerbetoon behels. Daar sou vier kursusse wees: noodhulp en mediese bystandwerk; kommunikasie met radio’s, telefone en fakse; die bestuur en onderhoud van voertuie, en laastens “vormende aspekte” soos afronding, toesprake, onthaal, etiket en waardering vir kuns en musiek.

Eerste was personeel. Du Plessis het geadverteer en oor kwalifikasies ook “duim gesuig”, sê hy.

Hilda Botha, ’n Springbok-hokkiespeler, is as tweede in bevel aangestel (sy was later bevelvoerder).

Die kursusleiers vir noodhulp was kapt. Rina Schoeman van die Suid-Afrikaanse Noodhulpliga en maj. Hannetjie van der Merwe, voorheen ’n matrone by 2 Militêre Hospitaal.

“Vir vormende aspekte is mev. Rosa du Toit, weduwee van ’n ginekoloog in Bloemfontein – ’n fyn, pragtig opgevoede vrou – en juffrou Bettie Bingle, haar regte naam was Albertje, as huishoudkundiges aangestel.

“Vir telekommunikasie het ons Monica Moolman gekry, sy sou later ’n kommandant word. Vir liggaamlike opvoeding is Laura Benade en Juanita Leach aangestel, dié drie was luitenante.

Die RSM was ao1 CJG (Killer) Coetzee en die kwartiermeester was ao2 MJ (Bubbles) van Dyk.

Bestuur en onderhoud is deur staandemaglede aangebied. “Saam met Killer was daar vier manlike instrukteurs, ’n administratiewe offisier, terwyl plaaslike mense as klerke en stoormanne aangestel is.

“Die getroudes moes huise kry. In George sê hulle vir my daar’s niks nie. Ek gaan sien toe vir Chris Heunis, LPR (en latere kabinetsminister) en hy sê hy sal kry.

“Ek neem aan hy het vir PW gebel. Toe ons mense kom, wás die huise reg.

“Elke dag bel ek genl. Louw sodat hy kan weet wat aangaan. En PW stap sommer in en vra watter probleme daar is en wat ek wil hê.

“Vir Killer het ek gesê hy moet die nuwe staandemag-offisiere drilwerk leer sodat hulle militêr kon optree. Toe die meisies kom, kón hulle salueer en het range geken.”

Burgerlike Beskermingskollege, George, 1971: Dril-opleiding. Foto: Verskaf

Keuring

Tussendeur het die fokus geskuif na die werwing van rekrute.

“Hilda en ek is met ’n keurraad deur die land. Daar was ook ’n brigadier van Pretoria, ’n mev. Van der Meulen van die onderwysdepartement en ’n skriba. Elkeen het ’n vraelys en die aansoekers kry punte uit tien vir sport, kwalifikasies, houding, musiek en so meer.

“Die aansoeke was ongelooflik – 600 vir 128 plekke. Ons het elkeen gesien. Net in Bloemfontein was 60 van wie ons ’n kortlys van so tien of 15 saamgestel het. Ons was tot in Windhoek. Uiteindelik had ons ’n lys met nog name op bystand.”

Die eerste studente het op 28 Januarie in George opgedaag. “Dit was ses van Suidwes-Afrika. Onder hulle was Ruda Wahl (later Landman); sy was toe ’n Suidwester en op 17 die jongste van al 128. Hulle was taamlik verwilderd.

“Die res het ook per trein gekom. Ons was reg. Daar was uniforms, kamers en beddens. Vir te groot of te klein uniforms het ’n vrou van George met ’n naaimasjien verstellings kom doen.”

Basiese opleiding het begin. “Eers drie weke. Toe is hulle in vier groepe ingedeel, een vir elkeen van die kursusse. Twee maande per kursus, dan wissel hulle. En dis die storie!”

Tog moes dit anders as met mans gewees het? Wat van grimering en juweliersware?

“Daar was geen beperking nie. Hulle het oorbelletjies gedra, dit moes net nie met opleiding inmeng nie. Hulle het vroue gebly. En hulle is as dames behandel. Hulle kon rook as hulle wou.”

Genl.maj. (afgetree) MJ du Plessis in Bloemfontein met die embleem van die Burgerlike Beskermingskollege en geparste bergrosies in kunshars. Foto: Gert Coetzee

Naweekpas

Soos in ander militêre opleidingskampe destyds kon die rekrute nie gedurende basiese opleiding uitgaan nie. Ná hul eerste naweekpas is Du Plessis na die Rapportryers, Ronde Tafel en ander organisasies toe.

“Ek het vir hulle gesê die vroue is ver van die huis en kan nie naweke soontoe nie. Plaaslike mense moet naweke vir hulle tuistes skep.

“Die eerste naweek was die kollege leeg, almal was by iemand se huis. Die gesinne en ons meisies het so lief vir mekaar geraak, hulle is as’t ware aangeneem.”

In plaaslike sport het die soldoedies – soos hulle gou in die volksmond bekend gestaan het – in hokkie, netbal en atletiek oorheers. Talle het Suidwestelike Distrikte-kleure gekry.

“Vir die provinsiale spanne het Hilda kom vra of hulle in siviele drag kon gaan. Ek’t gesê: Not ’n dêm. Hulle was ’n bietjie ongelukkig tot ná die eerste deelname. Mense het so ’n bohaai oor hulle in hul uniforms gemaak, dit was eintlik ’n goeie advertensie. So raak hulle toe ’n attraksie.”

Ná drie maande het die drie seksies met tien lede in die vier pelotons van A- en B-kompanie elkeen ’n korporaal gekry – 12 altesaam. Drie maande later het elke peloton ’n sersant gekry.

Die eerste pelotonsersante was Arina Strydom (nou Jooste), Riekie Richter (nou Lubbe), Lesley Auret (later Gentle, nou oorlede) en Ena van Zyl (nou Strauss). Arina is aangewys as die beste sersant. En Ruda Wahl die student van die jaar.

Reeds op Republiekdag het die kollege aan die defileermars deelgeneem – en staande toejuiging gekry.

Burgerlike Beskermingskollege, George, 1971. Foto uit Die Vaderland. Foto: Verskaf

Inspeksie

Van die eerste studente onthou steeds die stywe kompetisie tussen pelotons om inspeksies te wen.

Botha het die kollege op 10 April 1971 amptelik geopen. “Die oprigting van die kollege is ’n daad van vertroue in die vroue van die land. Hierdie meisies is toekomstige leiers. Hulle is fyn gekeur uit baie aansoeke,” het hy gesê.

Du Plessis wys die eenheid se embleem en twee kunsharshouers met ’n blommetjie daarin gegiet.

Die bergrosie, oftewel die bruid van Franschhoek, is die fokuspunt van die embleem wat deur die weermag se kunsdepartement ontwerp is.

“Serruria florida, ook bekend as ‘the blushing bride’, ” sê hy.

Du Plessis was twee en ’n half jaar by die BBK voordat hy tot brigadier bevorder en na Pretoria verplaas is.

Hy het drie innames – 1971 en 1972 ten volle en 1973 deels – beleef. “Ek was bevoorreg om die bevelvoerder van die twee beste eenhede in die SAW te kon wees – 1 Valskermbataljon in Bloemfontein en die BBK. Almal is gekeur; hulle wóú daar wees. Daar was geen dissiplinêre probleme nie.”

Elke jaargroep van die BBK – later die Suid-Afrikaanse Leërvrouekollege – was uitsonderlik. “Die klas van 1973 het ons gehelp reëls en regulasies saamstel soos ons vorder.”

Du Plessis onthou hul uitpasseringsparade (op 27 November 1971). “Dit was emosioneel. Hulle het my om die nek geval en gehuil. Toe is die meeste weg en kon hulle weer sivvies dra.”

Burgerlike Beskermingskollege, George, 1971: Hoofgebou, later bekend as die Elize Botha-gebou. Foto: Verskaf

Baanbrekers

Gert Coetzee

Die eerste groep se baanbrekerswerk blyk daaruit dat die staande mag daardie jaar ’n denkskuif oor vrouesoldate gemaak het. “Werwingsoffisiere het die groep kom toespreek oor die leër, lugmag en vloot. En altesaam 38 van hulle het aangesluit!”

’n Berig in die George Herald het gelui: “These young women have really been an asset to the town. Their behaviour has been exemplary and their participation in local events has been a real encouragement. George has enjoyed the company of these girls and will be sad to see them go.”

Du Plessis is in Thabazimbi as seun van ’n plaasboer gebore en was in 1950 aan die Hoërskool Rustenburg in matriek. Toe die Leërgimnasium in 1951 begin is, is hy soontoe.

Ná George was hy later ook bevelvoerende offisier van die Kommandement Vrystaat. Hy het in 1986 as hoof: leërstafoperasies uitgetree.

  • Einde 1998 is besluit om die Leërvrouekollege in George te sluit en dit by die Leërgimnasium in Heidelberg in te skakel.
  • Bykomende bron: Inligtingstuk saamgestel deur Arina Jooste en kol. (afgetree) Fritz Thirion, ’n oudstaflid.
Meer oor:  Gert Coetzee  |  Bloemfontein  |  Weermag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.