Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Minder mense, meer hoop
Grafiek

Na verwagting sal die huidige wêreldbevolking van sowat 7,8 miljard binne net 30 jaar (dus teen 2050 al) tot ongeveer 9,8 miljard toeneem.

Om al dié mense te kan voed, sal voedselproduksie met 50% moet toeneem in vergelyking met wat dit in 2012 was. Stedelike gebiede sal na verwagting teen 2030 verdriedubbel, met gepaardgaande verlies aan stedelike landbougrond.

Met onder meer doeltreffende gesinsbeplanning kan hierdie verwagte bevolkingsgroei uiteraard laer wees. Die lewensverwagting het egter toegeneem van 46 jaar in 1950 tot 67 in 2010 en 71,5 in 2015. In 2017 was daar 962 miljoen mense van 60 jaar of ouer. Die Verenigde Nasies (VN) voorsien dat dit teen 2050 tot 2,2 miljard sal toeneem.

Die voortdurende druk vanweë verstedeliking asook internasionale migrasie is ’n tendens wat onder meer deur hoë bevolkingsgroei, en beskikbare natuurbronne (of gebrek daaraan), gedryf word.

Die ongelyke voordele en implementering van gesondheidsorg, die verskille in benadering rakende gesinsbeplanning, en die verwoesting wat oorlog, siektes en hongersnood veroorsaak, het sommige lande met proporsioneel verouderende bevolkings en ander met ’n oorvloed kinders en jong mense in vergelyking met werkers en afgetredenes gelaat.

Ál meer mense in stede

Gegewe hierdie tendense kan verwag word dat pogings om ekonomieë en samelewings te hervorm, gaan verskerp. Enersyds sal die fokus wees op innovasie en toename in arbeidsproduktiwiteit om die groeiende persentasie bejaardes te ondersteun (byvoorbeeld in die grootste deel van Europa en lande in die destydse Sowjetunie).

Andersyds sal dit die uitdagings pak om die jeug op te lei en te onderrig.

Dít terwyl frustrasie, woede en onrus van die jeug in arm lande aangeroer moet word omdat waarskynlik nie aan hul verwagtinge rakende werkskepping en ’n beter lewe voldoen kan word nie (byvoorbeeld die grootste deel van Afrika en ’n groot deel van Latyns-Amerika).

Eko-slim stede word toenemend belangrik wêreldwyd. Sulke stede is gebaseer op ’n ekovriendelike benadering met die doel om die lewensgehalte van inwoners te verbeter.

Met versnelde ekonomiese groei is dit noodsaaklik dat die toekoms van ons stede deur slim beplanning nie net ekovriendelik is nie, maar ook volhoubaar.

Daar word egter nog nie genoegsaam eko-slim stede gevestig nie, en verder word die nodige veranderinge aan ouer stede nie aangebring nie. Dus kan toekomstige grootskaalse infrastruktuurrampe rakende water, energie, afval, vervoer, behuising, voedsel en veiligheid nie verhoed word nie.

Stedelike bevolkings sal teen 2050 amper verdubbel, wat die druk op infrastruktuur verhoog, veral in ontwikkelende lande (bykans die totale wêreldbevolkingsgroei sal in hierdie lande voorkom). Indië is van plan om teen 2022 100 eko-slim stede te bou, en China het al bykans 200 aanvoorprojekte vir eko-slim stede van stapel gestuur.

Seniors ’n ekonomiese bate

Mense migreer meer as ooit tevore. In 2015 het 244 miljoen mense van een land na die ander gemigreer. Toekomstige migrasie vanaf streke met ’n lae inkomstepotensiaal en jeug­indiensneming na ouerwordende gemeenskappe met ’n hoë inkomstepotensiaal lyk onvermydelik.

As navorsing suksesvol is wat (ouer) mense langer gesond kan hou en betekenisvol laat leef, dan kan seniors in die toekoms ’n ekonomiese bate eerder as ’n las vir die samelewing word.

Vordering in kunsmatige intelligensie en ander soortgelyke innovasies sal waarskynlik op die lang duur verstandelike agteruitgang onder ouer mense voorkom en selfs intelligensie verhoog.

Mense sal verby die huidige “pensioenleeftyd” kan vorder en waarskynlik heelwat verskillende vorme van werk skep. Dit sal die ekonomiese las op jonger geslagte verminder en bejaardes ’n interessanter lewe bied.

Ondervoeding is globaal aan die afneem – van 19% van die globale bevolking ongeveer 25 jaar gelede tot ongeveer 11% vandag. Dié proses is te stadig om voldoende steun vir die ontwikkeling van arm gemeenskappe te bied. Nogtans is sterftes onder kinders jonger as vyf jaar in hierdie tyd gehalveer.

Ongeveer 800 miljoen mense lewe in hongersnood. Minstens 41 miljoen kinders jonger as vyf jaar, onder wie 10 miljoen in Afrika, is oorgewig of vetsugtig as gevolg van wanvoeding.

Dit gaan ’n groot tegnologiese uitdaging wees om teen 2050 voedsel te voorsien aan nóg 2 miljard mense, en daarby ook aan die miljard persone wat ondervoed is. Tensy die tegnologie van landbou- en voedselproduksie drasties verander, kan toenemend intensiewe praktyke vir voedselvoorsiening die natuur verwoes. Landbou- en mynafval besoedel reeds baie riviere en skep “dooie gebiede” oor die wêreld heen.

Gesinsbeplanning bly baas

Van die stappe wat die Millennium-projek (TMP) aanbeveel om hierdie globale uitdaging te pak, sluit in:

  • Ondersteun ’n beleid om die oorlewing van kinders, verantwoordelike gesinsbeplanning en onderwysgeleenthede vir (veral) meisies te verbeter.
  • Verbeter metodes wat vaardig­hede en werksgeleenthede vir jongmense kan verseker, asook versorging van en dienste aan bejaardes.
  • Implementeer die VN se stedelike agenda (habitat3.org/the-new-urban-agenda/).
  • Skep (betyds) genoeg slimstede waar burgers op eko-slim wyse kan help met die nodige verbeterings in die stad.
  • Verhoog opleiding in veerkragtigheid, en verbeter die voorspelling van rampe en bestuur daarvan.
  • Verskaf voorligting aan mense oor stedelike ekologie.
  • Verskerp navorsing en ontwikkeling in soutwaterlandbou (halofiete of soutplante) aan kuslyne om voedsel vir mens en dier, biobrandstof en pulp vir die papierbedryf te produseer, sowel as om koolstofdioksied op te neem. Dit sal die druk op varswaterlandbou verlig.
  • Verbeter landbou- en besproeiingsbestuur.
  • Belê in presisielandbou en akwakultuur.
  • Verminder voedselverliese vanaf die “plaas na die mond” (een derde of 1,3 miljard ton landbouproduksie word elke jaar só vermors).
  • Vestig seegras om die visbevolking langs kuslyne te herstel.
  • Brei die produksie van insekte vir dierevoer en menslike diëte uit (insekte het ’n lae omgewings­impak, en 2 miljard mense vul reeds hul dieet met insekte aan).
  • Moedig vegetarisme aan.

Hoewel daar nóg maniere is om hierdie belangrike globale uit­daging te pak, is verantwoordelike gesinsbeplanning een van die belangrikste.

Almal weet dit is ’n uiters sensitiewe kwessie vir baie mense (veral in Afrika), maar as dit nie op ’n menswaardige, ingeligte en verantwoordelike wyse aangeroer gaan word nie, gaan ons planeet in verskeie opsigte toenemend onder geweldige druk kom.

Wanneer gaan regerings en ander belanghebbendes bogenoemde besef en daadwerklik iets hieraan begin doen?

  • Dr. Chris Jones is verbonde aan die eenheid vir morele leierskap by die fakulteit teologie aan die Universiteit Stellenbosch (US).
Meer oor:  Chris Jones  |  Hulpbronne  |  Natuur
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.