Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Minister maak tog sin

Daar is by aktiviste ’n emosionele reaksie op trofeejag, maar daar is ’n ander kant van die saak wat nie volledig belig word nie, skryf Stephan Palos.

’n Trop olifante in Botswana se Okavango-delta. ’n Oorbevolking van olifante het ’n impak op biodiversiteit wat veel verder strek as wat dikwels met die eerste oogopslag waargeneem kan word. Foto: gallo images

In die berig “Creecy sê ja vir trofeejag” met die onderopskrif “Minister se besluite maak nie sin nie” (Beeld, 17.09) word drie bekende organisasies aangehaal wat teen die volhoubare gebruik van diere gekant is.

Maar wat van die ander kant van die saak?

Die eerste feitefout is dat Barbara Creecy, die minister van omgewingsake, bosbou en visserye, ’n vraag met betrekking tot ’n beleidsbesluit van haar departement beantwoord het, en beslis nie oor ’n saak waaroor sy eensydige uitvoerende besluitnemingsmagte sou gehad het nie.

Creecy is nou net langer as ’n jaar in haar rol.

In ’n jaar wat op sy kop gekeer is deur ’n ongekende wêreldkrisis wat soveel in haar eie sektor en mandaat bedreig, is dit onregverdig dat aktiviste-organisasies haar die skuld te gee vir die voortgesette werksaamhede van ’n komplekse departement wat ’n goed gefundeerde, lank bestaande beleid verantwoordelik voortsit.

Die minister het met feite op ’n geskrewe parlementêre vraag van die opposisie gereageer en is nou die slagoffer van ’n “skiet-die-boodskapper”-sindroom.

’n Veganis-utopie

’n Persepsie van sogenaamde “ikoniese spesies” is by die algemene publiek geskep en die sektor wat teen volhoubare gebruik gekant is, het talle terme gemanipuleer om ’n openbare programmeringsveldtog te dryf om stelselmatig hul einddoel te bereik – ’n wêreld waarin álle vorme van dieregebruik, of diere wat die mens tot voordeel strek, heeltemal verbied word.

Ja, vandag teiken hulle die jag van olifante en luiperds, maar hierdie mense word aangevuur deur ’n begeerte om jou selfs te verbied om ’n troetelhond te besit in hul toekoms: ’n veganis-utopie.

Hulle en hul bondgenote se wêreldwye gonswoord is “trofeejag”, maar dit is ’n algehele wanbenaming en die manipulasie van die waarheid oor jag mislei veral talle stedelinge, wat onwetend agente vir hierdie mense se einddoel geword het.

Suid-Afrika beskik oor die wêreld se mees ontwikkelde jaggegronde private wildlewe-sektor.

Diere wat risiko inhou of moontlik skade kan aanrig en wat die hoogste graad van regulatoriese “beskerming” kry, het die stadigste van almal toegeneem.

Ons behoort trots te wees op ons wêreldleierskap in hierdie verskynsel, wat binne vyf kort dekades meegebring het dat elke hoofspesie van ons omvattende wildskat weer in ’n gesonde en wydverspreide oorvloed beskikbaar is.

Dis ’n eenvoudige resep: Laat voordelige gebruik toe deur die grondeienaar of owerheid op wie se grond die diere voorkom en, soos goeie landboukundiges doen, sal hulle maniere vind om die diere se getalle te laat toeneem en hulle te beveilig. Dit geld deur die bank vir alle diere wat grondeienaars mag gebruik.

Dis interessant dat die getalle van al die spesies wat in hierdie tyd groter beskerming ingevolge strenger regulasies gekry het – wat gebruik baie ingewikkelder en vol rompslomp gemaak het – baie stadiger toegeneem het.

Diere wat risiko inhou of moontlik skade kan aanrig en wat die hoogste graad van regulatoriese “beskerming” kry, het die stadigste van almal toegeneem.

In die geval van luiperds word hulle aktief vervolg en uitgeroei in die meeste gebiede buite nasionale parke en private wildreservate.

Die menslike voetspoor het dierehabitatte in eilande in die see van ons eie ontwikkeling omgeskep.

Diere kom in populasies op hierdie kolle grond voor en dit stel die idee dat ’n dier wat as “bedreig” beskou word, in elke geval heeltemal uitgelos en beskerm moet word, grootliks aan die kaak.

Die kwessie van olifante

Olifante veral word altyd as bedreig uitgebeeld, maar op ’n populasievlak is daar twee scenario’s.

In Afrikalande wat die jag van olifante verbied het, het hul populasies ineengestort en is hulle inderdaad skaars tot uitgesterf.

Maar in lande wat die goed gereguleerde jag van olifante toegelaat het, kom hulle in groot en dikwels uitermatige getalle voor. In veilige gebiede het olifante die vermoë om hul getalle elke agt jaar te verdubbel.

Die Krugerwildtuin het vir die grootste deel van die 20ste eeu ’n uitdunprotokol gehad wat olifante se getalle beperk het tot ’n syfer wat sommige gedink het steeds effens te hoog vir die gebied was.

In die vroeë 1990’s is die Krugerwildtuin gedwing om ’n moratorium op uitdunning in te stel, blykbaar weens die invloed – deur finansiering – van die Internasionale Fonds vir Dierewelsyn (Ifaw), ’n konserwatiewe diere-organisasie met ’n robuuste standpunt teen gebruik.

Nou kan selfs die terloopse waarnemer die verwoesting van biodiversiteit in die park sien.

Die gevolglike verlies aan groot sambreelbome, wat oor reusegebiede deur lae bossies vervang is, het sommige algemener spesies soos wildebeeste en rooibokke bevoordeel, maar die habitat van sommige van ons skaarser spesies, soos bastergemsbokke en swartwitpense, ernstig beskadig.

Enkele Suid-Afrikaanse wildboere het deur teeloperasies wat danksy jag volhoubaar is, veel meer swartwitpense as die ganse stelsel van Suid-Afrikaanse nasionale parke!

Biodiversiteit

Maar die verlies aan biodiversiteit weens te veel olifante raak veel meer as sommige belangrike bokspesies.

Roof-, aas- en bromvoëls se nesmaakgebiede neem af en selfs die kleinste diertjies en insekte word geraak deur dié enorme en kunsmatige invloed op die omgewing.

Dit is bisar om te dink dat ware bewaring opgeoffer kan word ter wille van ’n enkele spesie wat deur suiwer emosioneel gedrewe inmenging van buite bestuur word.

Die getalle olifante wat dringend verminder moet word, is veel groter as die 50 wat vir jag toegewys is.

Om nie van hierdie oordadige hulpbron gebruik te maak en finansieel daaruit voordeel te trek nie, is belaglik in ’n land met so ’n groot kapitaaltekort en sulke omvattende behoeftes.

Die menslike gebruik van diere is ’n werklikheid wat ’n minderheid van mense ondraaglik vind, maar die meeste as noodsaaklik aanvaar.

Die menslike gebruik van diere is ’n werklikheid wat ’n minderheid van mense ondraaglik vind, maar die meeste as noodsaaklik aanvaar.

Dit kan ’n mate van afkeer ontlok as ’n mens daaroor dink, selfs by diegene wat van ’n sappige biefstuk hou.

Maar in die groter prentjie is die getalle luiperds, olifante of inderdaad die res van die spesies wat elke jaar deur plaaslike en buitelandse jagters gejag word, onbeduidend vergeleke met die kommersiële slagting van wild of plaasdiere.

Tog het hierdie piepklein fraksie ons in staat gestel om meer as 20 miljoen ha van kommersiële landbougrond in die veel eko-vriendeliker wildlewe-sektor te omskep.

As emotiewe kragte verhinder dat sekere spesies ingesluit word by diere wat gebruik mag word, sal sulke spesies eenvoudig heeltemal van die bewaringsverskynsel uitgesluit word.

Kritiek in die waardeketting

As buitelandse jagters weens ’n verbod op trofeejag uitgesluit word, sal ’n klein, maar kritieke deel van die waardeketting verlore gaan en die volhoubaarheid van die hele sektor verwoes.

Die prys wat deur hierdie buitelandse kliënte betaal word, subsidieer die hele model grootliks en ondersteun grond wat ook vir plaaslike jagters beskikbaar is vir die jag van meer algemene spesies, primêr vir hul vleis.

’n Betekenisvolle getal plaaslike jagters hou ook die horings of laat hul meer spesiale diere deur ’n taksidermis opstop.

Landelike bestaansmiddele, wildlewelandskappe en die kulturele en tradisionele lewenstyl van miljoene Suid-Afrikaners word in gevaar gestel deur hierdie anti-jag- en anti-gebruik-elemente en hul misleidende, emosioneel gelaaide retoriek.

Palos is die uitvoerende hoof van die Konfederasie van Jagtersverenigings van Suid-Afrika (KJSA/CHASA).

Meer oor:  Barbara Creecy  |  Trofeejag  |  Minister  |  Natuurbewaring
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.