Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Misdaad: Só ’n strategie is nou nodig

Die misdaadstatistieke wat Dinsdag bekend gemaak is, wys dat Suid-Afrika op misdaadgebied jaar ná jaar verder agteruitgaan. Sarel van der Walt wou by kenners weet of die situasie omgekeer kan word.

Daar móét ’n politieke wil wees om iets aan die misdaadsituasie in die land te doen.

Dié politieke wil moet by pres. Cyril Ramaphosa begin, sê dr. Johan Burger, ’n polisiekenner en konsultant van die Instituut vir Sekerheidstudies (ISS) in Pretoria.

Burger, ’n oudgeneraal in die polisie, sê ’n geïntegreerde strategie is nodig om die verslegtende misdaadsituasie die hoof te bied.

“Die politieke wil moet by die president begin. Hy moet die rolspelers inroep en sê: ‘Ek is nou gatvol. Dít is nou die keerpunt. Nou gaan ons doen wat nodig is.’

Daarom het jy minstens die adjunkpresident nodig – iemand wat gesag oor ministers het en hulle kan dwing om die strategie wat op hul departement van toepassing is, in werking te stel.

“Dan moet die president vir ’n geïntegreerde struktuur opdrag gee.”

Só ’n struktuur moet bestaan uit verskeie staatsdepartemente – dié wat fokus op veiligheid soos die polisie en die strafregstelsel, asook dié wat op maatskaplike en ekonomiese terreine werk.

“Wat baie belangrik is, is dat dié struktuur se werksaamhede op baie hoë vlak gekoördineer moet word.

“Dit is onwaarskynlik dat die president dit self sal doen.

"Daarom het jy minstens die adjunkpresident nodig – iemand wat gesag oor ministers het en hulle kan dwing om die strategie wat op hul departement van toepassing is, in werking te stel.

“Die koördineerder moet die ministers ook aanspreeklik vir die pligte van hul departemente hou,” sê Burger.

‘Cele wil kitaar tokkel, maar niemand sal luister’

Dr. Johan BurgerFoto: Argief

“Ons het Dinsdag met die bekendmaking van die misdaadstatistieke gehoor Bheki Cele, die minister van polisie, het die wil om iets aan die situasie te doen.

“Die probleem is egter Cele kan net die kitaar tokkel ten opsigte van die polisie, want ander ministers gaan tog nie na hom luister nie.

“Dis nie net ’n Suid-Afrikaanse verskynsel nie. Wêreldwyd luister ministers nie vir mekaar nie.

“Jy hét iemand bo hulle nodig wat die kitaar kan tokkel,” meen Burger.

“Daar was in 1996 so ’n nasionale misdaadvoorkomingstrategie. Dit was ’n baie goeie strategie, maar dit het misluk omdat dit nie ’n gesaghebbende koördinerende struktuur gehad het nie. Daar was ’n koördinerende struktuur, maar dit was destyds in die kantoor van die minister van veiligheid en sekuriteit geleë.

“Dit het misluk juis omdat dié ministerie nie die gesag gehad het om ander ministeries te dwing om hul kant van die strategie na te kom nie,” sê Burger.

Die strafregstelsel moet reggeruk word

Hy meen dit is ook belangrik dat die strafregstelsel opgeskerp word en dat na die ekonomiese situasie gekyk word.

Die polisie moet meer doeltreffend in hul werk wees. Op ekonomiese terrein moet daar ’n doelbewuste proses – én ’n politieke wil – wees om die ekonomie te laat groei om werk te skep.

“Armoede volg op werkloosheid. Navorsing wêreldwyd het al oor en oor bewys dat die oomblik wanneer werkloosheid toeneem, neem misdaad ook toe.

Dit is tog duidelik die polisie kan nie die maatskaplike probleme in die land oplos nie.

“Hoe meer mense werk het, hoe minder armoede sal daar ook wees,” sê Burger.

“Op die oomblik is ons in ’n situasie waar almal na die polisie kyk as jy van misdaad praat.

“Dit is waar ons die geveg teen misdaad reeds verloor het. Dit is tog duidelik die polisie kan nie dié (die maatskaplike) probleme in die land oplos nie.

“Neem byvoorbeeld moord: Ons weet dat slegs 15% tot 20% van die moordsyfer die gevolg is van sê nou maar gewapende rooftogte wat skeefloop en mense wat geskiet word. Die res is hoofsaaklik weens maatskaplike omstandighede waaroor die polisie geen beheer het nie.”

‘Vir misdadigers was dit ’n paradys’

Burger sê dit is allerweë bekend dat die polisie die laaste paar jaar nie goeie misdaadintelligensie gehad nie weens die probleme wat in dié afdeling voorgekom het.

Die speurders het boonop gesukkel en het nie goeie oplossyfers gehad nie.

“Die gevolg hiervan is dat misdadigers nie bang was dat hulle vasgetrek sou word nie. Dit was vir hulle ’n paradys.

“Hulle het voortgegaan met wat hulle doen sonder om te vrees dat hulle opgespoor en in hegtenis geneem sou word,” sê Burger.

Die strafregstelsel, insluitende die polisie, moet reggeruk word. Dit sluit in die leierskap, die kwaliteit van sy mense en die uitroei van korrupsie.

“Ons weet ook almal watter toestande by die Valke geheers het. Dan praat ons nie eens van die nasionale vervolgingsgesag en al sy probleme nie.

“Die strafregstelsel het die afgelope dekade of so geen afskrikking meer vir misdadigers ingehou nie. Korrupsie het ook ’n groot rol hierin gespeel omdat die misdadigers geweet het as jy genoeg geld het, kan jy vervolging vryspring deur eenvoudig die polisiebeamptes, die aanklaers en landdroste om te koop,” sê Burger.

Die strafregstelsel, insluitende die polisie, moet reggeruk word. Dit sluit in die leierskap, die kwaliteit van sy mense en die uitroei van korrupsie.

“Selfs as jy al dié dinge doen, sal die polisie by wyse van sy vermoëns net aan daardie 15% tot 20% van moorde regstreeks aandag kan gee. Hulle kan nie uitkom by die ander 80% wat veroorsaak word deur die ekonomiese en maatskaplike faktore nie,” meen Burger.

Misdaadberaad in Boksburg

Cele het intussen aangekondig dat hy Donderdag en Vrydag in Boksburg ’n nasionale beraad oor misdaad en die voorkoming van geweld hou.

Op sy beurt het die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasse-aangeleenthede Woensdag in ’n verklaring gesê die jongste polisiestatistieke wys die land is besig “om die oorlog teen misdaad in die algemeen, en moord in besonder, te verloor”.

Altesame 485 187 mense is in die afgelope 24 jaar vermoor, wat beteken daar is gemiddeld 20 000 mense per jaar in Suid-Afrika vermoor.

Maatskaplike misdaadvoorkoming is belangrik

Chandré GouldFoto: ISS

Chandré Gould, ’n ISS-kenner van misdaad en die voorkoming van geweld, het gesê iets waarin Suid-Afrika die laaste 20 jaar nie kon slaag nie, was om betekenis aan maatskaplike misdaadvoorkoming te gee.

“Die polisie se begroting het al groter geword, maar dit het nie gelei tot die vermindering van misdaad in veral die laaste ses jaar nie.

“Dit is omdat ons nie die strukturele toestande verander nie.

"Dit is baie duidelik uit die polisiestatistieke dat baie van die probleme sosiaal-maatskaplike probleme is waaraan die polisie niks kan doen nie.

“Dit is belangrik dat ons die siklus van geweld in ons gemeenskappe, wat in ons huise en skole begin, breek.”

‘Op dieselfde trein as Zimbabwe’

Prof. Christiaan Bezuidenhout, ’n kriminoloog verbonde aan die Universiteit van Pretoria, stem saam dat daar ’n politieke wil moet wees om die situasie te verbeter.

Hy sê ’n goeie wegspringplek sal ’n “vredesberaad” wees waar die leiers van al die politieke partye in die land die leiding neem en die land se morele kompas herinstel.

Prof. Christiaan BezuidenhoutFoto: Argief

Bezuidenhout sê daar is nie op die oomblik ’n politieke wil om die situasie “om te draai nie”, maar dit sal baie gou moet aandag kry.

“Suid-Afrika bevind homself op ’n sneltrein wat in dieselfde rigting as Zimbabwe op pad is. Ons moet besluit of ons in daai rigting wil gaan en later alles van vooraf herbou, en of ons die trein nóú wil laat omdraai.

“My voorstel sal wees dat al die politieke leiers in die land ’n beraad hou waarop hulle hul koppe bymekaarsit oor hoe die misdaadsituasie opgelos gaan word.

“Wat ons nóú baie nodig het, is die politieke wil én veral leierskap.

“Die hele land se morele kompas het dringend aandag nodig want daar is tans ’n algehele agteruitgang van ons sosiale norme,” sê Bezuidenhout.

“Ons sal die ekonomie móét regruk. Die mense is desperaat en daar is ongelooflike armoede in ons land wat ons nie werklik raaksien nie.”

Polisie het nie die kapasiteit

Hy sê die polisie het op die oomblik eenvoudig nie die kapasiteit en die vermoë wat hy moet hê om suksesvol te wees nie.

Die Verenigde Nasies (VN) se maatstaf is agt polisiebeamptes per 1 000 mense van die bevolking. By ons is daar op die oomblik minder as een polisieman per 1 000 mense, wat 57 miljoen mense 24 uur per dag, sewe dae per week in drie skofte per dag moet polisieer,” sê Bezuidenhout.

Genl.maj. Ben Groenewald wat ná sy aftrede uit die polisie Fidji se polisiehoof geword het, sê dit is van die allergrootste belang dat die polisie die publiek se vertroue herwin sodat die breër gemeenskap in die stryd teen misdaad kan help.

Meer oor:  Armoede  |  Misdaad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.