Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Miskenning van reg kan tot anargie in SA lei

Oudpres. Jacob Zuma en ander politici se miskenning en verontagsaming van die reg kan tot ’n algehele ineenstorting van verantwoordbaarheid sowel as ’n chaos en anargie in die land lei, het kenners aan Jana Marx gesê.

Oudpres. Jacob Zuma in November verlede jaar by die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping. Foto: Gallo Images

Dit kom voor asof al meer staatsamptenare die howe se uitsprake bevraagteken en in sommige gevalle selfs botweg weier om dit te gehoorsaam.

Oudpres. Jacob Zuma weier steeds – ondanks die konstitusionele hof se bevel – volstrek om voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping te getuig.

Die weiering kom ná ’n lang uitgerekte proses van siekte, familiesake en toe klagtes oor adjunkhoofregter Raymond Zondo, voorsitter van die kommissie.

Zuma is beslis nie die enigste politikus wat vir die regstelsel en regbank die middelvinger wys nie.

Zuma het boonop in ’n onlangse verklaring sterk teen die regbank te velde getrek en Zondo beskuldig dat hy “die land mislei het” nadat die kommissie bekend gemaak het dat hy ’n aansoek gaan indien om Zuma van minagting van die hof te laat aankla.

Hy het beweer dat Suid-Afrika “met sommige regters sit wat die huidige president gehelp het om omkopery weg te steek ten einde ’n interne ANC-verkiesing te wen”.

Maar Zuma is beslis nie die enigste politikus wat vir die regstelsel en regbank die middelvinger wys nie.

Julius Malema, EFF-leier, is die eerste persoon wat dit goed gedink het om oudpres. Jacob Zuma in Nkandla te gaan besoek. Foto: Twitter / Economic Freedom Fighters

Die EFF-leier, Julius Malema, het ná die teepartytjie op Zuma se Nkandla-landgoed en op die eerste dag van die debat oor pres. Cyril Ramaphosa se staatsrede in die parlement onder meer beweer dat “sommige prominente lede van die regbank op die betaalstaat van die wit kapitalistiese establishment is” en selfs “omkoopgeld van die CR17-skenkings” ontvang het.

Uit ’n berig twee weke gelede in die Sunday Times blyk dit ook dat Bathabile Dlamini, voormalige minister van maatskaplike ontwikkeling, nie van plan is om die konstitusionele hof se persoonlike kostebevel teen haar te betaal nie.

Netwerk24 het in 2018 berig dat Dlamini in haar persoonlike hoedanigheid vir 'n deel van die hofkoste, wat spruit uit 2017 se debakel oor die Suid-Afrikaanse agentskap vir maatskaplike sekerheid (Sassa), aanspreeklik is.

Bathabile Dlamini, voormalige minister van maatskaplike ontwikkeling, kan nou blykbaar ook nie haar persoonlike kostebevel wat in 2017 gelewer is, betaal nie. Foto: Gallo Images

Verlede jaar het Dudu Myeni, voormalige voorsitter van die Suid-Afrikaanse Lugdiens en Zuma se bondgenoot, in haar getuienis voor Zondo 'n bevel oortree deur 'n anonieme getuie se naam bekend te maak.

Dit lyk asof hierdie algehele nonchalance oor die reg ook na die munisipale vlak deursyfer.

Netwerk24 het Vrydag berig oor staatsamptenare se (onsuksesvolle) poging om die konstitusionele hof se persoonlike kostebevel teen die munisipale bestuurder in Polokwane indirek van belastingbetalers te verhaal. 

Dikgape Makobe, die Polokwane-munisipaliteit se bestuurder, het gehoop belastingbetalers sal sy persoonlike kostebevel deur die konstitusionele hof kan dra. Foto: Daily Sun

Volgens die onafhanklike politieke ontleder dr. Ralph Mathekga is die bevraagtekening van die regterlike gesag kommerwekkend.

"Dit sê eintlik die regpleging geniet nie die breër legitimiteit in die samelewing nie, dié dat politici en connected diewe wat ons 'sakelui' noem, legitieme gronde het om die regbank uit te daag, bloot omdat dit in Suid-Afrika moontlik is."

Wanneer lede van die publiek hofbevele verontagsaam, ondermyn hulle die gesag van die reg en bevorder sodoende wetteloosheid.
Stephan van der Merwe

Stephan van der Merwe, prokureur en kenner van siviele prosesreg verbonde aan die Universiteit Stellenbosch, meen dit strek selfs wyer.

"Wanneer lede van die publiek hofbevele verontagsaam, ondermyn hulle die gesag van die reg en bevorder sodoende wetteloosheid."

Volgens hom is dit duidelik uit die onwettige grondbesettings, boendoegeweld en betogings wat kort-kort voorkom.

'ANC se politiek strydig met Grondwet'

Adjunkhoofregter Raymond Zondo, voorsitter van die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping. Foto: Reuters

Mathekga meen die oneerbiedigheid jeens die reg spruit uit die ANC se eie bevrydingspolitiek – "hul siening dat politiek, of die siening van die meerderheid, die belangrikste is".

"Bevrydingspolitiek sê dat 'n besluit regverdigbaar vir die publiek moet wees. Dit maak staat op 'n meerderheid(stem) as gronde vir besluitneming. Dit fokus nie juis op die grondwetlike vereiste van rasionaliteit nie. 

"Die Grondwet plaas meer klem op rasionaliteit as die meerderheidsiening, want net omdat 'n besluit deur die meerderheid ontstaan, beteken dit nie dis rasioneel nie."

Hy gebruik die doodstraf as voorbeeld: " 'n Meerderheid wil dalk toesien dat mense die doodstraf vir verskriklike misdade opgelê word, maar dit maak dit (die doodstraf) nie rasioneel of grondwetlik nie."

Volgens Mathekga blyk die ANC se morele posisie een te wees wat 'n besluit vir die publiek wil regverdig (wat demokraties is), "maar hulle glo dat dit ook binne die party se eie verstaan of logika van sy eie politiek moet sin maak".

"Laasgenoemde skep die indruk dat die legitimiteit van die reg afhang van die bevestiging deur ANC-politiek – asof die bevraagtekening van die regterlike gesag dit geldig sal verklaar (legitimise). Dis nie in pas met die Grondwet nie."

Dr. Ralph Mathekga, onafhanklike politieke ontleder. Foto: City Press

Hy verwys na 'n onlangse voorbeeld waar 'n botsing tussen die ANC se eie partypolitiek en die Grondwet plaasgevind het: Die veelbesproke meningstuk deur Jessie Duarte, adjunksekretaris-generaal van die ANC.

Duarte, ook 'n Zuma-bondgenoot, het op die Daily Maverick onder meer geskryf dat getuienis voor die Zondo-kommissie ’n aanslag op die kiesers is wat vir die ANC gestem het.

Sy het geskryf sy glo ANC-parlementslede is reg om die belange van die ANC bo dié van die land te stel.

Duarte het ná groot kritiek ’n brief geskryf aan adjunkhoofregter Zondo waarin sy verskoning gevra het en gesê het dat sy die kommissie steun.

‘Die ANC stem nie eens saam oor politiek’

Mathekga beaam die stelling dat ANC-kaders nie eens almal met mekaar saamstem oor hul partypolitiek nie.

Hoewel dit lyk asof die meeste weerstand teen die reg uit die regerende party kom, het pres. Cyril Ramaphosa op Valentydsdag in sy slotwoord op die nasionale uitvoerende komitee se vergadering gesê dat die Grondwet en die oppergesag van die reg onaantasbare komponente van die demokrasie is wat almal moet respekteer.

“Om enigiets anders toe te laat sal tot anargie lei en die sluise maklik vir ’n teen-revolusie oopgooi. Korrupsie en staatskaping, sowel as wetteloosheid is teen die kernbeginsels en waardes van die ANC.”

Oppergesag van die reg of algemene opvatting?

MK-veterane “bewaak” Nkandla ingeval iemand oudpres. Jacob Zuma in hegtenis wil neem. Foto: Reuters

Van der Merwe beaam dat die oppergesag van die reg swaarder as die algemene opvatting weeg.

Stephan van der Merwe, prokureur en kenner van siviele prosesreg verbonde aan die Universiteit Stellenbosch.

Hy verduidelik die legitimiteit van die reg word onder meer deur twee faktore beïnvloed: “Eerstens is daar die behoefte dat die publiek die regstelsel vertrou en steun. As die hof nie bevele afdwing nie, gaan daardie vertroue geskend word en sy gesag ondermyn.”

In die tweede plek moet howe teen populistiese uitsprake waak, sê hy.

“Dit is nie die hof se werk om gewild te wees nie. Die hof moet reg spreek en reg afdwing. ’n Saak word opgeweeg teen die Grondwet en dit word binne die breë regsraamwerk oorweeg.”

Volgens Van der Merwe is dit gevaarlik en verdag wanneer gewilde openbare figure se teenstand en kritiek teen die reg slegs in persoonlike belang is.

“Art. 34 van die Grondwet verskans die reg op ’n billike en regverdige verhoor en dit is baie belangrik in ons samelewing. As litigante willekeurig wette en hofbevele verontagsaam, word hierdie fundamentele waarborg eintlik ongedaan gemaak.”

‘Wetteloosheid en anargie dan ons voorland’

Oudpres. Jacob Zuma, wat verlede jaar met sy getuienis voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping begin het, weier om verder te getuig ondanks ’n bevel deur die konstitusionele hof wat hom verplig om dit te doen. Foto: Gallo Images

Die miskenning van die oppergesag van die reg en Grondwet gaan maak dat “ ’n chaos en anargie aan die deur kom klop”, sê Van der Merwe.

“Die oppergesag van die reg is die grondbeginsel van ’n demokrasie. Die regsprekende gesag is ook al manier waarop die uitvoerende gesag (ANC) verantwoordbaar gehou kan word. Dis waarom daar ’n skeiding tussen die staat en die hof moet wees.”

Miskenning gaan dus veroorsaak dat meer en meer mense dink hulle moet eie reg gebruik.

Mathekga glo miskenning kan tot ’n algehele ineenstorting van verantwoordbaarheid lei.

“Ek gee nie om vir die binnewerkinge (van die ANC) soos die integriteitskommissie waarvan ek en jy net mooi niks weet nie. Dit beteken niks vir die samelewing nie, want ons hoor maar net van hulle en weet nie eens hoe hulle werk nie. Ek wil sien hoe staatsinstellings soos die polisie en die nasionale vervolgingsgesag hul werk doen.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.