Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Mites oor gewelds-misdaad

Leunstoelpsigiaters en joernaliste het die afgelope tyd beweer Henri van Breda het sy gesin uitgewis weens ’n psigiatriese siekte. Prof. Dap Louw, kriminoloog en sielkundige, skryf oor die mites oor geweldsmisdaad.

Grafika: Rudi Louw

Die volgende verhaal het hom afgespeel in die 50’s toe die stryd tussen Nat en Sap driftig was.

’n Sap-kandidaat word vir ’n sielkundige probleem in ’n psigiatriese hospitaal opgeneem en ná ’n maand ontslaan. Op die volgende politieke vergadering buit ’n Nat die situasie uit met: “Hoe kan mense vir jou stem as hulle nie weet of jy normaal is nie?”

Die Sap steek daarop sy hand in sy baadjiesak, haal ’n koevert uit en sê vir die man: “Meneer, hier is ’n sertifikaat van my sielkundige dat ek normaal is – waar is joune?”

In my daaglikse handel en wandel wil ek as sielkundige en kriminoloog ook dikwels vir mense wat kwetsend en diskriminerend in dié verband optree, dieselfde vraag vra: “Waar is jóú sertifikaat?”

Tegelyk het ek begrip vir mense se verkeerde persepsies en oortuigings. Menslike gedrag en die sielkunde leen hulle immers uit vir bespiegeling, halwe waarhede en mites.

Honderde mites is dan ook in omloop, byvoorbeeld dat ons slegs 10% van ons breinkrag gebruik, dat die poligraaf (leuenverklikker) en profilering betroubare ondersoekmetodes is, dat onwaarneembare boodskappe jou gedrag kan verander, en dat die loop oor kole ’n bewys van mind over

matter

is.

Navorsing bring egter ander inligting aan die lig as wat die meeste mense verwag. So word slegs ongeveer 3% tot 5% van alle gewelddadige oortredings aan ernstige psigiese versteurings gekoppel.

Maar die gebied wat veral deur misverstande en mites geteister word, is psigiese gesondheid en spesifiek “abnormale gedrag”. So is dit moeilik om die omvang van psigiatriese siektes te bepaal, aangesien mense nie graag hul sielkundige probleme wil erken nie (dikwels ook nie teenoor hulself nie).

’n Belangrike bykomende rede is dat daar ’n verskil in intensiteit by elke psigiatriese siekte is. Net soos wat jy ’n ligte en ’n swaar verkoue kry, kry jy byvoorbeeld ’n ligte en ernstige depressie.

Daarby moet jy aan verskeie bykomende kriteria (byvoorbeeld duur en ouderdom) voldoen alvorens ’n psigiese versteuring ge­diagnoseer kan word. Baie mense het dus wel die simptome van ’n psigiese siekte, maar dis nie voldoende om as sodanig geklassifiseer te word nie. En dan is daar nog kulturele faktore.

Rol van psigiese versteurings

’n Aspek wat tans verdere beligting benodig, is die rol van psigiese versteurings in misdaad. Hierdie rol het die afgelope jare in talle sake soos dié van Henri van Breda, Xander Bylsma, Louisa en Kobus Koekemoer en Don Steenkamp weer sterk na vore gekom.

Leunstoelpsigiaters, internetkommentators en selfs joernaliste het byvoorbeeld beweer dat Van Breda aan ’n psigiatriese siekte ly en dít die rede is hoekom hy sy ma, pa en broer met ’n byl uitgewis het.

Navorsing bring egter ander inligting aan die lig as wat die meeste mense verwag. So word slegs ongeveer 3% tot 5% van alle gewelddadige oortredings aan ernstige psigiese versteurings gekoppel. Nog meer, die kanse dat mense met psigiese versteurings slagoffers van geweldsmisdaad word, is tien keer hoër as die kanse dat hulle hul aan geweldsmisdaad sal skuldig maak. Van die hoofredes hiervoor is dat mense met psigiese probleme dikwels emosioneel kwesbaarder is, wat hulle meer aan boeliegedrag en diskriminasie blootstel. Hulle is ook baie meer geneig om hulself eerder as ander mense te beseer.

Die slotsom is dus dat verreweg die meeste misdaad (insluitend geweldsmisdaad) gepleeg word deur mense wat nie aan ’n diagnoseerbare psigiatriese siekte ly nie.

Die persoon het dan ook wesenlike kontak met die werklikheid verloor, soos in die geval van skisofrenie (dink maar aan Dimitri Tsafendas). Psigopatie voldoen nie aan hierdie vereiste nie.

Wat dan van alkohol?

Dit is ironies dat iets wat betekenisvol uitstaan as ’n faktor wat misdaad­ veroorsaak, wat ook talle mense en veral kinders se lewens verwoes, nie naastenby onder dieselfde stigma as psigiatriese siektes gebuk gaan nie. Ek praat natuurlik van alkohol. Dit word in der waarheid in talle kringe as ’n statussimbool gesien.

’n Ander konsep wat dikwels verkeerd deur die publiek geïnterpreteer word, is psigopatie, wat veral gekenmerk word deur eienskappe soos ’n gebrekkige gewete, egoïsme, leuenagtigheid en manipulering (as jy mense om jou pinkie probeer draai). En daarby word die term sommer maklik toegedig aan iemand van wie jy nie hou nie. So gebeur dit dikwels in ’n egskeidingsaak (veral waar kinders betrokke is) dat die vrou in ons alleengesprek vir my sê: “Soos jy self sal sien, is my man ’n psigopaat.”

Wanneer sy uitstap, kom die man binne met die woorde: “As ’n professionele persoon het jy seker gou agtergekom dat my vrou ’n psigopaat is.”

Nie almal wat misdaad en selfs ’n moord pleeg, is ’n psigopaat nie. Psigopatie kom by ongeveer 1% van die algemene bevolking voor, onder 15% tot 25% van die gevangenisbevolking, en onder 10% van moordenaars. Baie belangrik is dat ’n persoon ’n minimum getal eienskappe moet vertoon alvorens hy as sodanig geklassifiseer kan word.

Ons kan egter wel sê dat die persoon sekere psigopatiese eienskappe vertoon. Nie alle psigopate is egter gewelddadig nie. In sekere beroepe, byvoorbeeld waar dit belangrik is om mense te beïnvloed, strek psigopatiese eienskappe soos manipulering selfs tot die persoon se voordeel. Hierdie mense word dikwels as snakes in suits bestempel.

Dit is belangrik om te besef dat alle psigiatriese siektes nie as rede vir ontoerekeningsvatbaarheid of versagtende omstandighede gebruik kan word nie. Ontoerekeningsvatbaarheid dui daarop dat jou vermoë om tussen reg en verkeerd te onderskei en daarvolgens op te tree, ernstig aangetas is.

Die persoon het dan ook wesenlike kontak met die werklikheid verloor, soos in die geval van skisofrenie (dink maar aan Dimitri Tsafendas). Psigopatie voldoen nie aan hierdie vereiste nie.

Prof. Dap Louw, ’n sielkundige en kriminoloog.Foto: Foto24

Toets jouself

Kom ons keer nou terug na die genoemde eienskappe van ’n psigopaat en toets jouself. Hoe dikwels voel jy skuldig oor ’n “eenvoudige” verkeersoortreding wat ’n onskuldige kind se lewe kon geëis het (soos duisende kere per jaar gebeur), maar waarvoor jy nie gevang is nie? Hoe egoïsties is jy in situasies waar ander se belange ook geken moet word? Hoe dikwels vertel jy leuens, veral om uit die moeilikheid te bly of sekere voordele te bekom? Gebeur dit meermale dat jy jouself anders voordoen as wat jy werklik is, veral om ander mense te beïndruk? Sou jy dus sê dat jy minstens oor ’n paar (goed, kom ons maak dit “ligte”) psigopatiese

eienskappe beskik?

Ons kan natuurlik dieselfde van toepassing op talle ander psigiese versteurings maak.

Jammer, maar mag ek weer vra: Waar is jóú sertifikaat?

  • Louw is ’n buitengewone professor aan die Universiteit van die Vrystaat, met doktorsgrade in sielkunde en krimi­nologie.
Meer oor:  Stella-Moorde  |  Geweldsmisdaad  |  Aktueel  |  Bylmoorde
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.