Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
‘Mmusi Maimane sal moet gaan’

Politieke ontleders praat met Murray La Vita oor die krisis in die DA, die politieke voortbestaan van Mmusi Maimane as leier, en Helen Zille se beoogde toetrede tot die party.

Mmusi Maimane worstel daarmee om ferm te wees binne die DA, meen Ralph Mathekga.Foto: City Press

Wat die DA nou beleef, kan inderdaad beskou word as die grootste krisis waarvoor dié party tot nog toe te staan gekom het, sê Ralph Mathekga, politieke ontleder.

“Die DA moet nou oor homself besin en hy moet faksies en sy eie identiteitsprobleme hanteer. Maar ons moet hierdie toedrag van sake nie in afsondering beskou nie. As jy hierna kyk as net ’n kwessie oor Mmusi Maimane [DA-leier] en Steinhoff-verbintenisse, gaan jy die kern van die saak miskyk.”

Maimane is die afgelope weke in die gesig gestaar deur bewerings oor ’n huurhuis wat verkeerdelik in die belangeregister verklaar is en ’n voertuig wat deur Steinhoff geborg is.

“Onthou: Die DA het in Mei vir die eerste keer nie in ’n nasionale verkiesing gegroei nie. Dít is waar die opbou begin het. Al die bewerings wat nou teen Maimane gemaak word, is bysaak.

Hulle moet gaan sit en besin oor hoe hulle omgaan met kwessies soos ras en wat hul strategiese groeiarea is; wat is die risiko’s, watse soort leierskap wil hulle hê.
Ralph Mathekga

“Die DA tree verkeerd op; hy is nie eerlik nie, hy reageer op gerugte en hanteer die situasie op ’n baie faksie-gedrewe wyse. Wat hy nou moet doen, is om te dínk waarheen hy wil gaan.

“Of dit Maimane is of Nelson Mandela wat nou die DA lei, gaan nie ’n verskil maak nie, want die DA weet nie waarheen hy op pad is nie en hy word deur faksies uitmekaargetrek.

“Hulle moet gaan sit en besin oor hoe hulle omgaan met kwessies soos ras en wat hul strategiese groeiarea is; wat is die risiko’s, watse soort leierskap wil hulle hê.

“As hulle die nuwe swart kiesers wil omarm – wat beteken dit wat beleid en doelstellings betref? Jy hoor die DA die heeltyd uitsprake teen korrupsie maak, maar hy het niks om aan die meerderheid arm swart Suid-Afrikaners te bied nie. Hulle het nie veel van ’n alternatief tot die ANC om aan die kiesers te bied nie.”

‘Swak leier’

Helen Zille “sien haarself as ’n draer van die waardes, die visie en die etos van die Demokratiese Alliansie,” meen prof. Erwin Schwella.Foto: Rapport

Mathekga meen kiesers kyk na die DA en dink: Dit lyk asof ’n stem vir jou nie meer ’n goeie opsie is nie; ek mors my stem deur vir jou te stem.

“So, hier is komplekse kwessies wat nie net tot Maimane gereduseer kan word nie. Natuurlik maak hulle Maimane se lewe moeilik, want hy is veronderstel om bo hierdie dinge uit te styg, maar ongelukkig is hy nie in staat om dit te doen nie.

“Maimane worstel daarmee om ferm te wees binne die DA. Daar is mense wat sê sy beweegruimte binne die party is beperk. Dit mag so wees. Ek dink hy was tot dusver ’n swak leier.

“Wat die party ook nou al doen, Maimane sal moet gaan. Die vraag is wat is die kriteria of die visie wat die DA gaan help om te besluit wie sy plaasvervanger gaan wees.

Maar al raak hulle van hom ontslae, weet hulle steeds byvoorbeeld nie hoe om met die meerderheid van die arm swartes te identifiseer wat gemarginaliseer is nie.
Ralph Mathekga

“Hy sal waarskynlik verwyder word op grond van die DA se swak vertoning in die verkiesing en dat hy nie ferm is nie – hy lei die DA nêrens heen nie; die DA is tans feitlik leierloos. En dan is daar die foute wat hy begaan; as jy na die skandale kyk – dit maak sy lewe net nóg moeiliker.

“Kom ons wees eerlik: Of jy nou wit of swart of wat ook al is, as jy nie daarin slaag om jou party tydens ’n verkiesing te laat groei nie, hoekom moet hulle jou behou?”

“Maar al raak hulle van hom ontslae, weet hulle steeds byvoorbeeld nie hoe om met die meerderheid van die arm swartes te identifiseer wat gemarginaliseer is nie.

“Wil die DA dalk terugbeweeg en ’n matiger weergawe van die Vryheidsfront Plus word? Dit is werklike kwessies waaroor hulle moet besin.”

‘Resep vir ’n ramp’

Ek pols hom oor Helen Zille, die voormalige partyleier, se aankondiging Vrydag dat sy haar verkiesbaar gaan stel as voorsitter van die federale raad van die DA.

“Mense soos Zille . . . in plaas van om te help maak sy dinge net erger. Sy manipuleer die situasie. In die lig van die uitsprake wat sy in die onlangse verlede gemaak het, dink ek dit is ’n baie hartseer verwikkeling.

“Watter verskil kan sy maak? Sy praat soos iemand wat wil hê die DA moet meer na regs beweeg in plaas daarvan om ’n sentristiese party te bly. ’n Mens kan ook nie haar openbare uitlatings ignoreer nie wat net skokkend is. Hier het ons iemand wat sê nie alles van kolonialisme was sleg nie.

“Ek dink dit is ’n resep vir ’n ramp indien so iemand in ’n senior pos geplaas word waar sy veronderstel is om die DA die toekoms in te lei.”

Toe kom die EFF

Ralph MathekgaFoto: Argief

Ons moet die rol van die DA in die Suid-Afrikaanse politiek verstaan: Die DA was, saam met die ANC, die party wat sentristiese politiek bedryf het, sê Mathekga.

“Met sentristies bedoel ek hulle was bereid om kompromieë aan te gaan en selfs wanneer hulle van mekaar verskil het, het hulle nooit mekaar werklik ontwrig nie.

“Maar toe die EFF in 2014 op die toneel verskyn, het die ondergang van die DA begin. Die EFF word al hoe gewilder; hy maak al meer geraas en tree op asof hy ’n amptelike opposisieparty is, asof hy ’n groter getallesteun het as die DA, wat nié die geval is nie.

“Dít het die DA verplaas tot ’n punt waar hy nie meer weet waarvoor hy staan nie. ’n Mens kan eintlik maar van die DA praat as die Demokratiese Aandag eerder as Alliansie, want al wat hy wil hê is aandag in plaas daarvan om politieke beginsels na te streef. Daar is min sprake van enige element van ’n alliansie wat koherent is.

“Ek bedoel, hoe verklaar jy ’n situasie waar die DA optogte hou oor die verhoging van BTW? Hy is ’n markgesentreerde party wat veronderstel is om die posisie van die fiskus te verstaan. Nog ’n voorbeeld is om hof toe te wil gaan oor grondhervorming sonder dat hy ’n beleid oor die kwessie geformuleer het.”

‘Geleenthede in krisis’

Prof. Erwin Schwella, emeritus-hoogleraar aan die Universiteit Stellenbosch en dekaan van die nuut gestigte Skool vir Sosiale Innovasie aan die Hugenote Kollege, meen wat die DA nou beleef is ’n krisis “wat geleenthede skep”.

“Dit is reg dat die DA nou herbesin oor hul pad vorentoe. As jy ’n trajek van groei gehad het en jy sien skielik jou kiesersteun daal – ook op grond van die feit dat jy bepaalde goed nie heeltemal reggekry het nie – dan moet jy daarna gaan kyk.”

Hy dink nie dit is noodwendig die grootste krisis in die DA se bestaan nie.

Omdat hulle hulleself posisioneer as ’n regering in afwagting, probeer hulle op die oomblik te veel dinge vir te veel mense wees.
Prof. Erwin Schwella

“Die herbesinning gaan altyd gepaard met ’n mate van pyn; ’n mate van verandering. Ek dink as hulle hiéruit kan leer dat hulle eintlik moet gaan kyk na wat is hulle waardeproposisie – wat is hulle waardes, wat is hulle ideologiese basis – kan hulle daar rondom ’n party bou wat meer belyn is met wat hulle ook al kies.

“Omdat hulle hulleself posisioneer as ’n regering in afwagting, probeer hulle op die oomblik te veel dinge vir te veel mense wees. Hulle gáán nie die ANC uitbie op die ANC se agenda nie. Hulle kon dit nog nooit regkry nie, hoe gaan hulle dit nou regkry?

“So, hulle moet besluit wat hulle wil wees en hulself dan met daardie besluit belyn en voortgaan en dit deeglik doen. En dan moet hulle aanvaar hulle gaan waarskynlik ’n mate van steun verloor en dan daarvan af verder bou.

“Die DA gaan uiteindelik by ’n situasie uitkom waar hulle – nadat die ANC ook onafwendbaar gaan skeur – weer gaan moet kyk na die herskikking van die politieke landskap in Suid-Afrika. Dán praat ons van werklike politieke herbelyning.”

‘Tot die dood toe’

Prof. Erwin Schwella.

Hoe sien hy Maimane se posisie?

“Sy posisies is onderhewig aan die normale politieke mededinging en politieke mededinging binne partye in Suid-Afrika speel uit tot die dood toe.

“Ek dink hy het werklik ’n uitdaging vir sy leierskap in dié stadium. Maar hy het ook sterk ondersteuning. So, dit is moeilik om presies te sê wat die party gaan sê.

“Wat ons egter weet, is dat sy huidige leierskapsbenadering – indien hy gaan aanbly – gaan onder druk kom van die nuwe dinamika. En dit sê in effek dat hy sal moet besluit ook wat hóm gaan belyn.

“As die belyning meer na die liberaal-demokratiese kant eerder as die sosiaal-demokratiese kant toe gaan, dan moet hy besluit of hy daar kan bly of nie. En die party gaan moet besluit of hy daar kan bly of nie.

“As die belyning meer na die sosiaal-demokratiese kant toe gaan, het hy ’n makliker opsie, maar daar is nie ’n gegewe hier nie; dis ’n grys area met ’n klomp kompleksiteite.”

‘Geweldige steun’

Zille sien haarself as ’n draer van die waardes, die visie en die etos van die Demokratiese Alliansie, meen Schwella.

“Sy het op grondvlak geweldige steun in die party oor die spektrum heen. Wat in die party se nasionale uitvoerende komitee gebeur het, weet ek nie, want daar mag die belyning anders lyk.

Ek kan jou verseker die wyse waarop die party nou werk en bestuur word en funksioneer, gaan hulle op die duur invloed laat verlóór.
Prof. Erwin Schwella

“Maar kom ons sê in ’n demokratiese instelling is die persoon wat verkies word die persoon wat verkies is. Dus: as sy genoeg steun kan mobiliseer dan is dit wat die meerderheid van die party se lede wil hê en dan word sy verkies, en as sy nié genoeg steun kan mobiliseer nie, dan word sy nié verkies nie.”

Indien haar hertoetrede tot die leierskap van die DA die party kan uithaal uit die “onafwendbare afwaartse spiraal as gevolg van ’n gebrek aan belyning, en die verlies aan steun weens rigtingloosheid”, kan dit tot sy voordeel wees. “Dit beteken nie noodwendig dat hulle meer stemme in die volgende verkiesing gaan kry nie. So, daar is nie ’n enkelvoudige maatstaf nie.

“Wat is goed vir die party? Dat die party op die duur ínvloed het. En ek kan jou verseker die wyse waarop die party nou werk en bestuur word en funksioneer, gaan hulle op die duur invloed laat verlóór.”

‘Voortdurende tweespalt’

Invloed is nie regstreeks gekoppel aan die hoeveelheid steun wat jy in die volgende verkiesing kry nie.

“Dit het miskien te make met hoe jy jou posisioneer ten opsigte van die groot kwessies in die land. Natúúrlik is steun belangrik, maar die DA gaan in elk geval nóóit ’n nasionale verkiesing op hulle eie wen in hierdie land nie; nie as die DA nie.

Iemand moet begin om ’n duidelike beleid en benadering te definieer.
Prof. Erwin Schwella

“Die beeld van die party het skade gelei as gevolg van ’n klómp faktore: Daar is geen eenduidige, eenvormige boodskap nie; daar is voortdurende tweespalt; die manier waarop die konflikte in die party hanteer word, is relatief ad hoc.

“So, iemand moet begin om ’n duidelike beleid en benadering te definieer en te sê: ‘Jy belyn hiermee, maak nie saak van watter afkoms of geledere jy is nie, as jy nie met die party se waardes belyn nie dan moet jy gaan.’

“Maar hulle moet eers besluit wat ís daardie waardes en wat is daardie ideologie, en daarna het jy ’n stel riglyne en dan pas jy dit sonder aansiens des persoons toe.”

Meer oor:  Da  |  Ralph Mathekga  |  Mmusi Maimane  |  Helen Zille  |  Erwin Schwella
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.