Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
‘Moedertaalonderrig is nie alles’

Uitsprake dat Afrikaanse skole die beste in die matriekuitslae gevaar het, moet binne konteks geplaas word. Michael le Cordeur wys daarop dat faktore soos armoede, leierskap en hulpbronne ook in ag geneem moet word.

Omgewingsfaktore speel ’n belangrike rol in die verwesenliking van intellektuele vermoëns. Foto: Argief

Solidariteit se Skole-ondersteuningsentrum (SOS) het aangevoer dat die land se matriekuitslae sonder Afrikaanse skole veel swakker sou wees.

Ek wil nie Afrikaanse skole afkraak wat goed presteer het nie. Trouens, die matrieks en hul onderwysers moet vir hul harde werk en deursettingsvermoë geluk gewens word.

Navorsing deur onder andere Kathleen Heugh, Nic Webb en wyle Neville Alexander toon dat daar ’n sterk korrelasie tussen moedertaalonderrig en akademiese sukses is. Maar moedertaalonderrig (in hierdie geval Afrikaanse onderrig) is nie die enigste faktor vir akademiese sukses nie.

Omgewingsfaktore

Armoede en beskikbare hulpbronne is twee faktore wat kan help om akademiese vaardigheid te bepaal. Foto: Argief

Verskeie navorsers het al aangetoon dat onderprestasie in die meeste gevalle niks met die leerling se intelligensie te make het nie. Omgewingsfaktore – dinge wat byna vanselfsprekend in die Westerse denkwêreld en in welgestelde skole is – speel ’n belangrike rol om jou intellektuele vermoë te verwesenlik. Dit sluit in armoede, beskikbare hulpbronne, leierskap, onderwysers se werketiek en leerlinge se leesvermoë en akademiese vaardigheid in die taal van onderrig.

Met gunstige omgewingsfaktore verhoog mense se leervermoë en algaande is hulle al beter in staat om hul ware potensiaal te bereik.

Omdat ruimte ontbreek, het ek slegs een distrik in die Wes-Kaap se matriekuitslae aan die hand van berigte in drie plaaslike koerante ontleed. Ek kies die Kaapse Wynland omdat ek hier onderwys gegee het, en dus goeie kennis het watter skole is arm en Afrikaanse skole.

Taal versus armoede

Die gemiddelde persentasie van arm skole is slegs 69%. Foto ter illustrasie. Foto: Argief

Ek het al die Afrikaanse skole geïdentifiseer waarvan die slaagpersentasie in die drie koerante genoem word. Dit is skole waar die meerderheid leerlinge Afrikaanssprekend is en in hul moedertaal onderrig word. Enkele skole het wel ’n Engelse klas. Daarna het ek die Afrikaanse skole in twee groepe verdeel.

Arm skole (in kwintiel 1 en 2) het ’n gemiddelde slaagsyfer van 71% behaal – dus agt persentasiepunte swakker as die nasionale slaagsyfer, byna 11% swakker as die provinsiale gemiddelde en byna 29% swakker as die Afrikaanse skole in kwintiel 4 en 5 (voormalige Model C-skole) wie se gemiddelde byna 100% was.

Indien swart skole, wat almal in die kategorie kwintiel 1 en 2 val (en dus ook as arm skole gereken kan word), bygereken word, is die gemiddelde persentasie van arm skole slegs 69%.

Die internasionale Oxfam-ongelyksheidsverslag toon dat 55% van ons land se burgers nou in uiterste armoede leef.

Nog ’n belangrike uitvloeisel van armoede hou met die ontwikkeling van die akademiese taalvaardigheid van leerlinge verband. Wanneer leerlinge van arm gemeenskappe vir die eerste keer skool toe gaan, is hulle nie toegerus met die taalvaardighede wat nodig is om die werk in die klas te bemeester nie – nie eens in hul moedertaal nie.

Die kernvraag is dus: Hoe is dit moontlik dat Afrikaanse leerlinge wat al hul vakke in hul moedertaal doen, soveel swakker as die Afrikaanse leerlinge in die voormalige model C-skole vaar?

Die antwoord lê waarskynlik in armoede opgesluit. Die internasionale Oxfam-ongelyksheidsverslag toon dat 55% van ons land se burgers nou in uiterste armoede leef en dat die situasie veral in die afgelope vyf jaar versleg het.

Landelike skole

Die armoede is selfs meer prominent in landelike skole waar die meeste van die leerlinge afkomstig is van omliggende plase en met busse na die skool aangery word. Kom ons kyk na die uitslae van net vier skole in die Kaapse Wynland wat in dié kategorie val: Skurweberg Sekondêr (gemiddelde slaagsyfer 63%) in die Koue Bokkeveld, Stellenzicht Secondary School (64%) buite Stellenbosch, Kylemore High School (63%) buite die Paarl en Waveren High School (62%) op Tulbagh.

Ek was voorheen die skoolhoof van een van hierdie skole, en het groot empatie vir die probleme waarmee die personeel worstel. Die ouers kan beswaarlik skoolfondse bekostig of enigiets bydra wanneer die skool ’n basaar, konsert of sportwedstryde reël. Die kinders word groot in ’n omgewing sonder enige hulpmiddele en leesstof wat bevorderlik vir akademiese sukses is. Die gevolg is ’n gemiddelde slaagsyfer van 63%.

‘Die odds is teen ons’

Bendebedrywighede het ook in sommige gebiede ’n invloed op skole se prestasies. Foto ter illustrasie. Foto: Argief

By skole waar daar ’n patroon is van bendegeweld of leerlinge wat betrokke is by bendebedrywighede, is die gemiddelde prestasie selfs laer (62%). Dit lei tot ander struikelblokke soos dissiplinêre probleme, gewelddadige optrede deur leerlinge asook drank- en dwelmmisbruik.

Die hoofde en onderwysers probeer hul uiterste bes, maar soos een van die hoofde dikwels gesê het: “Die odds is net teen ons.”

Dis dus duidelik dat moedertaalonderrig alleen weinig gaan help om leerlinge se prestasies te verbeter – want tensy daar gesoek word na oplossings vir hierdie omgewingsfaktore, sal hulle nooit hul ware potensiaal verwesenlik nie.

Soos altyd is daar uitsonderings op die reël.

Hexvallei Sekondêr, ’n skool met ’n landelike karakter buite Worcester, het 85% behaal. Twee swart skole op Stellenbosch – Kayamandi High School (81%) en Makupula Secondary School (85%), wat albei meer as duisend leerlinge het – vaar reeds geruime tyd beter as hul Afrikaanse eweknieë ondanks die feit dat die leerlinge in hul tweede taal, Engels, skoolgaan. Kayamandi het destyds ’n nuwe skoolgebou gekry, maar Makupula se prestasie is merkwaardig as jy in gedagte hou dat hulle by Kayamandi se ou skoolgebou moes intrek. Hulle het bewys dat mooi geboue geen waarborg vir sukses is nie. Dit is wat bínne die klaskamer gebeur, wat tel.

Dan is selfs die gebrek aan moedertaalonderrig nie ’n onoorkombare probleem nie.

Goeie leierskap

Geriewe is ook nie altyd deurslaggewend nie; dikwels is goeie leierskap bepalend. Foto ter illustrasie. Foto: Deon Raath

Insgelyks het twee bruin skole in die Paarl, naamlik Klein Nederburg Sekondêr (91%) en Noorder-Paarl High School (85%) uitsonderlik presteer. Klein Nederburg het oor ’n lang periode ’n reputasie opgebou as die toppresterende skool in die Bolandse bruin gemeenskap. Ouers het nog altyd oor hul voete geval om hul kinders hier in te skryf.

Eens op ’n tyd was Noorder-Paarl ook ’n toppresterende skool. Maar ná 1994, toe ouers begin het om hul kinders na model C-skole te stuur het die skool begin leegloop. Die Wes-Kaapse departement van onderwys het gevolglik begin om leerlinge van die omliggende plase met busse na die skool aan te ry. Die skool sou dus vandag beskryf kon word as ’n arm, landelike skool, wat sy prestasie in 2018 nog meer merkwaardig maak.

Michael le Cordeur

Ek vermoed dat die skole wat die uitsondering op die reël is, gekenmerk word deur goeie leierskap. Hierdie skoolhoofde moenie “bevorder” word na die distrikskantoor nie. Ons benodig hulle in die skool. Betaal hulle dubbeld as dit moet (soos in sommige model C-skole). Hulle het bewys dat omgewingsfaktore deur goeie leierskap oorkom kan word. En dit lei tot goeie werketiek by onderwysers.

Klink na ’n resep vir sukses!

* In hierdie artikel is van woorde soos swart, bruin en wit gebruik gemaak om te help om sekere aspekte te verduidelik.

* Prof. Le Cordeur is verbonde aan die fakulteit opvoedkunde aan die Universiteit Stellenbosch. Skrywers se menings is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Michael Le Cordeur  |  Armoede  |  Onderwys  |  Moedertaalonderrig
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.