Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
‘Moenie die boere druk nie’
Deelnemers aan die tweede diskoers in Volksblad se susterskoerant, Die Burger, se Praat Saam Diskoers-reeks op die KKNK in Oudtshoorn. Van links is Kosie van Zyl, stigter van Agri Dwala, Ivor Price, gespreksleier, Paul Carshagen, voorsitter van die VKB-direksie, en Joey Potgieter van Klein-Karoo Agri en ’n volstruisboer. Foto: Murray La Vita

Die woord “boer” het vir baie mense ’n vloekwoord geword, maar die meeste boere doen hul deel vir Projek Suid-Afrika, blyk uit ’n diskoers wat Murray La Vita bygewoon het.

‘Landbou is ’n plek van geleenthede. Ons kan in die landbou geleenthede skep, nie net vir boerdery nie, maar vir die hele nasie,” sê Kosie van Zyl, stigter van Agri Dwala.

“Die regering is gesond, hy gaan aan, hy kry goeie geld, maar die nasie is nie gesond nie. As ons op die platteland na mense gaan luister, dan hoor jy die Suid-Afrikaanse nasie op ’n baie slegte plek. Ek dink landbou het baie om by te dra om die nasie gesond te maak.”

Van Zyl was deel van ’n paneel wat in die tweede diskoers van Die Burger se Praat Saam Diskoers-reeks op die KKNK in Oudtshoorn gepraat het oor die onderwerp “Ek is ’n boer”.

Ivor Price, die gespreksleier, het aan Paul Carshagen, voorsitter van die landbou-onderneming VKB se direksie, gevra: Hoe lyk ’n land wanneer landbou-organisasies en boere hulle aan dorpe begin onttrek?

Hoe lyk ’n land wanneer landbou-organisasies en boere hulle aan dorpe begin onttrek?
Joey Potgieter: “Die praktyk van landbou lê in jou bloed.”

“Ek dink dit is die groot gevaar waarvoor ons te staan kom. Die platteland is amper 100% afhanklik van die landbou, en as dit sleg gaan met die landbou, dan gaan dit sleg met die klein besighede, dit gaan sleg met jou agribesighede en die gevolg daarvan is jou platteland en jou dorpies raak vervalle.

“As jy net kyk wat gebeur en die insette wat gelewer word deur plaasboere wat paaie help maak, gate toegooi; as jy kyk na landboubesighede wat help om infrastruktuur binne-in gemeenskappe aan die gang te hou soos water, riool, pompe – dit is goed wat nie op hulle weg lê nie, maar hulle besef hulle moet dit doen om die plattelandse gemeenskappe en die dorpies in stand te hou.

“So, as hulle onttrek en dit gaan sleg met die landbou, dan sit jy met ’n geweldige probleem.

“En ek dink dít is waar die omstredenheid begin het met die uitsprake van prof. Ben Cousins dat 80% van die produksie deur 20% van die boere gelewer word en sou 80% van die grond wegraak, sou dit nie ’n invloed hê op voedselsekerheid nie.

“Die misverstand wat daar mag wees, is dat die 80% van die boere wat 20% produseer op produktiewe plase is en elkeen van daardie plase móét finansieel oorleef, so hulle word optimaal benut. En as hierdie ding (oordrag van grondeienaarskap) geforseer word en dit word vinnig gedoen, dan gaan dit ’n invloed hê op voedselsekerheid en op die verval van die platteland.

“Enige ding wat opgedwing word en gedruk word in ’n kort tydperk, gaan chaotiese gevolge hê. Dit moet ’n natuurlike proses wees op lang termyn.”

Kosie van Zyl: “Ons mis soms die plekke waar die regering wél sukses behaal.”

Op die volgende trappie

Volgens Van Zyl is die regering “nie so sleg as wat ons almal dink nie”.

“Agri Dwala se eerste plaas is aangekoop deur grondsake en omdat daar ’n voorligtingsbeampte was wat dit wou maak werk, het hulle daardie hele proses deurgeloop en hulle energie ingesit en ons het daarin geslaag om die grond met staatsgeld te koop. En dit het die manne op die volgende trappie geplaas sodat hulle die tweede plaas self kon koop.

“Ons hoor net die regering het nie geslaag nie en die regering kan nie, en in ’n groot mate kan dit waar wees, maar ons mis soms die plekke waar die regering wel sukses behaal.

“Plekke waar daar wel voorligtingsbeamptes by die departement van landbou is wat tweeweekliks uitkom plaas toe; wat hulle energie kom insit, wat tot laataand toe werk om te help en toe te sien dat die manne die regte besluite neem en die regte bemestingspraktyke toepas.

“Hulle help ons byvoorbeeld met dreinering van die grond en . . . Man, daar is duisende goed waarmee hulle help. En ek dink dis hartseer dat daardie mense nie erkenning kry nie.”

Joey Potgieter van Klein-Karoo Agri en ’n volstruisboer, sê hy is optimisties oor die regering se bydrae tot landbou, maar kundigheid en ’n gedeelde doelstelling moet verbeter.

“Die regering het die verkeerde pad geloop deurdat hulle in die eerste plek gedink het hulle het die kundigheid om te boer wat hulle duidelik nou ná 25 jaar nie het nie.

“Dis soos ek wat in ’n kernfisikus se laboratorium instap en dink ek kan ook ’n atoombom maak – hy gaan ontplof in jou gesig, en dit het gebeur.

“Ek dink ons moet saam met die regering, by wie die fondse lê, die suksesverhale skryf. En ek dink ons is besig om stelselmatig suksesverhale te skryf.

“Dis een ding om boekekennis te hê, en ek dink die staat het so ’n bietjie boekekennis gehad, maar die praktyk van landbou lê in jou bloed en dit is nie iets wat jy noodwendig alles in boeke lees nie.”

Paul Carshagen: “Die platteland is amper 100% afhanklik van die landbou.”

Boere sonder brieke

In die landbousektor is daar ’n “massiewe klomp welwillendheid”, meen Carshagen.

“Ek dink daar is ’n baie positiewe gesindheid ten opsigte van die transformasie binne die landbou en ook die vestiging van nuwe boere. Sekere politieke en ander groeperinge plaas egter baie keer ’n demper daarop en hulle veroorsaak dat daardie welwillendheid en positiewe gesindheid in sommige gevalle onderdruk kan word. Maar dat daar ’n welwillendheid is, is ongetwyfeld so.”

Van Zyl het vertel hoe hy, soos sy pa voor hom, ’n plaasbestuurder was, maar toe die geleentheid gekry het om grond te koop en self te begin boer. “Deur iemand wat vir my ’n kans gegee het. Die oom het vir my die geld geleen om die grond by hom te koop. Só het ek binne tien jaar ’n kommersiële boer geraak.

“En ek het teruggekyk en gesê: Een ou het my ’n kans gegee en kyk waar staan ek vandag, en dis waar die hele Agri Dwala-storie gebore is. Ek het vir my vrou gesê ek wil ook graag vir iemand ’n kans gee.

“Ons het rondom ons gekyk en die mense naaste aan ons was ons plaaswerkers en ons het besluit dit is die manne wat ’n kans moet kry om ook te kan boer. En vandag boer hulle al 14 jaar lank – hulle het twee plase wat in hul eie naam geregistreer is en hulle hou daarvan om te boer; hulle is plaaswerkers wat weet hoe om te boer.

“Deur net die regte leiding te gee is daar nie brieke aan so ’n groep mense nie.”

Meer oor:  Boerdery  |  Boere  |  Plase  |  Landbou  |  Diskoers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.