Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Moenie gevaar van klimaatkrisis ontken

Ons moet elke dag oor die klimaatkrisis en die toekoms van ons planeet dink. Tog is daar ondanks oorweldigende bewyse steeds mense wat dié gevaar ontken, skryf Elsabé Brits.

Betogers van die internasionale protesgroep Extinction Rebellion by die Londense Modeweek. Foto: Gareth Morris, Extinction Rebellion

’n Wêreldwye protesaksie genaamd Extinction Rebellion, of XR in kort, wil regerings dwing om kennis te neem van klimaatsverandering.

Hulle het Londen en 60 ander stede in 2019 vir twee weke lank op horings geneem.

Dié uitwissingsrebelle, soos hulle hulself noem, bemark hul agenda op baie slim en kreatiewe maniere. Hulle daag byvoorbeeld met ’n Trojaanse houtperd by die Britse Museum op om teen BP se borgskap protes aan te teken, hulle betoog by die Londense Modeweek waar talle bekendes is, dryf die spot met politici by die parlement en spit ’n grasperk in Cambridge om.

Hul kenteken, ’n uurglas binne ’n sirkel, het ’n internasionale teken geword vir die nood waarin die planeet is.

Die groep se impak is van so aard dat die Victoria & Albert-museum in Londen intussen van sy artefakte versamel het om dit vir die nageslag te bewaar.

Ontstellende syfers bewys dat die Extinction Rebellion se optrede op ’n wesenlike probleem dui.

Die hoeveelheid hitte wat die oseane danksy ons die afgelope 25 jaar moes absorbeer, is gelykstaande aan 3,6 miljard atoombomme. Die verhitting van die oseane is onweerlegbaar en net nog ’n bewys van aardverwarming.

’n Onlangse ontleding het gewys die water van die wêreld se oseane was in 2019 die warmste sedert rekords gehou word, veral tussen die oppervlakte en ’n diepte van 2 000 meter. Boonop was die afgelope tien jaar die warmste wat die water in al die oseane tot nog toe was.

Op land was 2017 naas 2016 die warmste jaar in 140 jaar.

’n Groepe van 14 kenners het dié navorsing in die vaktydskrif Advances in Atmospheric Sciences gepubliseer. Hulle het bevind dat die oseane nie net al hoe warmer word nie, maar dat dit ook al hoe vinniger gebeur.

Syfers hieroor lyk met die eerste oogopslag nie te erg nie: verlede jaar was die wêreldwye temperatuur van die oseane 0.075°C warmer as die gemiddeld van 2010. Maar om soveel te styg, moes hitte van 228 000 000 000 000 000 000 000 (228 sekstiljoen) joule geabsorbeer word.

Prof. Lijing Cheng, een van die studieleiers wat verbonde is aan die Internasionale Sentrum vir Klimaat- en Omgewingstudies aan die Chinese Akademie vir Wetenskappe, het dit met die atoombomontploffing van 1945 in Hirosjima vergelyk.

Dié ontploffing het energie van 63 000 000 000 000 joule vrygestel.

“Die hoeveelheid hitte wat die oseane danksy ons die afgelope 25 jaar moes absorbeer, is gelykstaande aan 3,6 miljard atoombomme. Die verhitting van die oseane is onweerlegbaar en net nog ’n bewys van aardverwarming.”

En die enigste rede vir aardverwarming is die mens se bedrywighede, het hy gesê.

Wat van die ysbere?

Aardverwarming bedreig die habitat van ysbere. Foto: Gallo Images

Dit is van kritieke belang om te begryp hoe vinnig dinge besig is om te verander.

Nasa, die Amerikaanse Ruimte-agentskap, se National Oceanic and Atmospheric Administration doen van die beste opnames oor die klimaat. Hy het die data van 1987 tot 2019 vergelyk met dié tussen 1955 en 1986. Die bevinding was die mees onlangse verhitting 450% meer is as voorheen.

Dit neem dus al vinniger toe.

Dit is wel moontlik om te keer, mits ons optree en drastiese aanpassings maak. Sedert 1970 word die meeste van die hitte deur die oseane opgeneem en veel minder op land waar mense bly. Selfs die klein persentasie wat in die atmosfeer opgeneem word het al tot die katastrofiese brande in die Amasone, Australië en Kalifornië aanleiding gegee.

In die oseane veroorsaak die hitte warm kolle en mariene hittegolwe, wat vir die eerste keer in 2013 in die noordelike Stille Oseaan raakgesien is en volgens die studie vir twee jaar geduur het. Dit het die vrekte van 100 miljoen kabeljoue, walvisse en talle ander diere veroorsaak – selfs dié van fitoplankton.

Ons kan stry soos ons wil, maar wat 50 jaar gelede ter sprake was en hoeveel ysbere daar toe was, is nie nou ter sprake nie.

’n Suid-Afrikaanse ontkenner van klimaatsverandering het onlangs op radio gesê daar is meer ysbere as ooit en dat hul getalle selfs toeneem. Dit is volgens hom ’n bewys dat alles wel is in die Arktiese streke.

Dit is bloot onwaar.

Die nodige konteks het by sy kommentaar ontbreek. In die 1950’s en 1960’s het niemand geweet hoeveel ysbere daar was nie. Daar is bloot beraam oor hul getalle en dié skattings was boonop verkeerd.

Vroeër jare is daar selfs vanuit die lug met helikopters jag gemaak op ysbere. Daar is steeds gebiede waarvan die data uitstaande is, maar na ramings is daar 23 000 ysbere oor. Hul status is kwesbaar, wat beteken hulle loop die gevaar om uit te sterf.

Ons kan stry soos ons wil, maar wat 50 jaar gelede ter sprake was en hoeveel ysbere daar toe was, is nie nou ter sprake nie.

Sowat 100 000 mense het in 2019 in Londen betoog vir optrede teen klimaatsverandering. Foto: Gareth Morris, Extinction Rebellion

Hul habitat, waar hulle oorwinter en kleintjies grootmaak, is wel besig om letterlik weg te smelt.

’n Ysbeer is nie ’n vis nie. Hulle leef op die see-ys waar die temperatuur twee keer vinniger styg as elders.

Omdat die see-ys smelt, sukkel hulle om kos te kry, veral die ringkolrob waarop hulle jag maak.

Soos die ys smelt, moet die ysbere al hoe verder van hul blyplekke na robbe gaan soek.

Ysbere sal na raming binne drie geslagte met sowat 70% minder word.

Volgens navorsing wat in Biology Letters gepubliseer is, kan daar nie ysbere wees sonder stabiele see-ys en die besonderse ekologie daarvan nie.

Boonop veroorsaak die warmer klimaat dat die neste wat die wyfies bou inmekaarstort. Siektes is ook meer algemeen in die warmer weer.

Ysbere sal na raming binne drie geslagte met sowat 70% minder word.

Ons moet eerlik wees oor wat met hulle gebeur.

Wie se skuld is dit?

’n Deel van ’n yskern van Antarktika met sy klein lugborrels wat soos ’n tydkapsule is. Die lugborrels word getoets om die chemiese samestelling te bepaal soos wat dit tussen 8 000 en 15 000 jaar gelede was. Foto: Vasilii Petrenko, Universiteit van Rochester

Die mens bly maar geneig om weg te skram van sy eie foute en verantwoordelikhede. Die natuur eerder as onsself kry dikwels die skuld met bewerings soos: “Dit was nog altyd so.” Of: “Die aarde gaan maar deur warm en koue siklusse.” Of: “Dit sal vanself weer regkom.” Of, nog erger: “Ek gee nie om nie, teen 2100 is ek lankal dood.”

Die klimaatkrisis wat ons ondervind, is deur die mens gemaak en kan net deur die mens opgelos word. Daar is geen wegkomkans nie, want ons is die opsigters van die aarde.

Ons blameer ook beeste omdat dat hulle soveel metaangas vrylaat, maar sedert die begin van die Industriële Rewolusie is daar twee keer meer metaan in die atmosfeer.

Ons moet baie meer bekommerd wees oor wat die mens aan die aarde doen, as oor die aarde se eie natuurlike prosesse,

Is die kweekhuisgasse wat vrygelaat word dalk níé die mens se skuld nie, soos ontkenners van klimaatsverandering graag beweer nie? Beland dit nie dalk via natuurlike bronne soos die ysgrond in die Toendras, moerasse en metaangashidrate onder die see in die atmosfeer nie?

Kenners het ondersoek na dié kwessie ingestel. Die bevinding in die vaktydskrif Science was dat baie min metaangas wat deur natuurlike bronne vrygestel word in die atmosfeer beland.

Ons moet dus baie meer bekommerd wees oor wat die mens aan die aarde doen, as oor die aarde se eie natuurlike prosesse, is bevind.

Wanneer plante doodgaan ontbind dit in koolstofgebaseerde organiese materiaal in die grond. In baie koue toestande vries dit pleks van om in die atmosfeer vrygelaat te word en vorm dit ysgrond soos in Siberië, Alaska en Kanada.

Saam met die organiese koolstof is daar ook water-ys in die ysgrond. Wanneer dit smelt, soos nou onder meer gebeur, is daar min suurstof in die grond – perfekte toestande vir die mikrobes om metaan te vervaardig.

Die kenteken van die internasionale protesgroep Extinction Rebellion is ’n uurglas in ’n sirkel. Foto: Gareth Morris, Extinction Rebellion

In die oseane is daar weer metaangashidrate waar watermolekues metaan vasvang. Dit vorm onder hoë druk en lae temperature, diep onder die oppervlak. Sodra die oseaantemperatuur styg, sal die sediment s’n styg. Die hidrate destabiliseer dan en stel die metaan vry. Selfs al word net ’n fraksie hiervan vrygestel sal daar ’n groot impak wees omdat metaan so potent is, maar dit is nog nie waargeneem nie.

Kenners het diep in die ys in Antarktika geboor waar ys soos tydkapsules van die verlede is. Die ys het klein borrels met oerlug in. Dit word dan gesmelt en die lug se chemiese samestelling word ontleed.

Die tydperk wat ontleed is, was dié tussen 8 000 en 15 000 jaar gelede toe die aarde van ’n kouer na ’n warmer tydperk oorgegaan het en gletsers gesmelt het.

Dié verandering in die klimaat was egter natuurlik. Die metaan wat afkomstig was van die metaanhidrate onder die see was minimaal.

Daar word reeds verwag dat daar ’n goeie kans is dat oorloë om water in sekere lande soos Irak, Iran, Mali, Nigerië en Indië en Pakistan kan uitbreek.

Gebeur dit vandag, sal die meeste daarvan deur die oseane se mikrobes geoksideer word voordat dit die atmosfeer kan bereik. Daar is ’n natuurlike buffer, ook vir die in ysgrond, wat deur bakterieë verwerk word en vrygestel word as koolstofdioksied. Maar dit is nie genoeg om te veroorsaak wat nou gebeur nie.

Volgens die studie is skadelike stowwe wat deur die mens se toedoen vrygelaat word veel, veel meer as dié wat op die aarde se eie prosesse volg.

Sy kan eenvoudig nie meer byhou en skoonmaak waar sy nie gemors het nie.

Die ekstreme optrede van groepe soos XR behoort regerings en maatskappye nie te skok nie.

Inteendeel, as jy dink dit gaan jou nie raak nie, skrik wakker! Daar word reeds verwag dat daar ’n goeie kans is dat oorloë om water in sekere lande soos Irak, Iran, Mali, Nigerië en Indië en Pakistan kan uitbreek. Dit sal met hongersnood gepaardgaan en na verwagting sal vyf miljard mense teen 2050 waternood hê.

* Bronne: Nature: https://www.nature.com/articles/s41586-020-1991-8; Science: https://science.sciencemag.org/cgi/doi/10.1126/science.aax0504; Biology Letters: https://royalsocietypublishing.org/doi/pdf/10.1098/rsbl.2016.0556; Biology Letters: https://royalsocietypublishing.org/doi/full/10.1098/rsbl.2016.0556; https://www.waterpeacesecurity.org.

* Elsabé Brits is ’n vryskut-wetenskapjoernalis. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Antarktika  |  Aardverwarming  |  Waternood
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.