Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Moenie moed verloor nie
Betogers in Pretoria eis in gister se landwye optogte dat pres. Jacob Zuma uit sy amp verwyder word. Foto: reuters

Wat is besig om rondom ons in die land te gebeur? En behoort dit te gebeur? Dít is van die vrae wat van vandag af in Die Burger se Praat Saam-gespreksreeks op die KKNK bespreek gaan word, skryf Waldimar Pelser.

Die burgery se ongeduld kan jy deesdae oral voel.

Dit brand gister (met goeie rede) in die oë van betogers teen Jacob Zuma, oë waarin jy terselfdertyd ook onsekerheid, vrees en ontnugtering sien.

Soms selfs hoop.

Dié breë “koalisie” teen algehele verval het alle rasse en klasse ingesluit. Hulle het alles van rooi berette tot uitspattige perms gedra. En hulle het opgeruk ondanks ras-propagandiste se desperate pogings om die betogings teen Zuma gelyk te stel aan pogings om witbevoorregting in stand te hou. Doodgewone mense het hulle teen sinisme en ’n passiewe aanvaarding van die noodlot verset.

Onsekerheid en vrees kon jy ook plek-plek sien, want doodgewone mense voel hul burgerregte word gestroop en die ANC skerm nie vir hulle nie – die ANC se voetsoldate het eerder die nasie se slagspreuke met skerppunt-ammunisie begroet. Ontnugtering? Ja, want Zuma het gekry wat hy wou.

Die skaakmeester met die honende lag het ons klaarblyklik in skaakmat. Hy beheer nou sy party, die tesourie, die inkomstediens, die Valke en die nasionale vervolgingsgesag, die SAUK, SAL, die Openbare Beleggingskorporasie, Prasa en Eskom en, les bes, ook die naderende kernbouprogram. Daar is lojaliste in bykans elke munisipaliteit. Die kortstondige rebellie het nie traksie gekry nie.

Selfs Jackson Mthembu, die somtyds dapper ANC-hoofsweep, het sy kollegas beveel om op 18 April teen die politieke opposisie se mosie van wantroue in die Nasionale Vergadering te stem.

Daar is dus ongeduld met ’n mislukkende regerende elite wat maghonger, korrup en roekeloos is. In wie se optrede ons ná Augustus se verkiesingsbloedneus geen nederigheid sien nie.

Hoe lank kan hierdie ontluikende demokrasie Zuma nog oorleef? Wie sal sy einde in die hand werk as die ANC nie die durf daarvoor het nie? En wie kom ná hom – is daar enige rede om te hoop dat sy opvolger meer as lippediens sal betoon aan die drome van daardie ingewikkelde, byna baie bloedige, en tog destyds belowende grondwetlike ideaal?

Dit is ’n droom wat sweerlik ook net verwesenlik kan word as verkose amptenare aanspreeklik gehou kan word vir hoe hulle openbare geld bestee. Daarom vra burgers ook of die geveg teen korrupsie in hierdie skynbaar nimmereindigende Zuma-era gewen word en kán word. (As adv. Thuli ons darem nóú kon sien . . .)

Aanspreeklikheid kan boonop nie slegs deur die howe afgedwing word nie. Want die howe is magteloos as uitsprake verontagsaam word deur dié wat in die doktrine van die skeiding van magte iets teenrevolusionêr sien.

So daar is by ons ongeduld met die boewe, en die boewe is ongeduldig met die waghonde.

So daar is by ons ongeduld met die boewe, en die boewe is ongeduldig met die waghonde.

Ongeduld gedy ook deesdae daar waar eens gehoop is ’n oop gesprek regtig veilig sal wees: universiteitskampusse.

Die vernietigingsgier wat eers vir Rhodes verswelg het en toe die kunstenaars en hul kuns en toe die stroomopswemmers wat die nuwe dogma in universiteitsrade of in lesinglokale durf bevraagteken het, is steeds nie vervang met ’n koherente bloudruk vir wat dan in die plek van die ou strukture en standbeelde moet staan nie.

Dekolonisasie is ’n stomp instrument. Wat wil die #MustFall-aktiviste regtig hê, en wie moet besluit waarop hulle geregtig is? Dis heel waarskynlik nie u en ek nie.

Aan dié wat die afgelope week hul walging uitgespreek het oor enige anti-Zuma-betogings waarby wittes betrokke is, wil ’n mens vra: Verwag julle regtig van ons om jul gif te drink?

#FeesMustFall in die Wes-Kaap eindig hul Facebook-inskrywing Donderdag só: “Ons wil nie hê Suid-Afrika moet gered word nie. Ons wil dit vernietig hê sodat Azanië kan verrys.”

Regtig?

So gepolariseerd is baie akademiese gemeenskappe dat selfs die geldige versugtinge van studente wat op soveel vlakke sukkel, onhoorbaar word. Want ekonomiese stagnasie én opnuut ’n omwenteling in die wêreld van werk beteken daar ís minder geld in hul ouers se sakke, en op gradedag is die vooruitsigte op ’n vaste werk al meer onseker. Dis ontsettende druk. Die wêreld verander sneller.

Maar in soverre dit klasgeld is wat studente-aktiviste wil hê moet val, wie behoort te betaal? En as die universiteite waaksaal toe gesleep word deur ’n anargistiese krag, is private oplossings die antwoord?

Dit is nie net in Suid-Afrika waar mense in al hoe groter getalle die begeerte verwoord om met die “ou orde” weg te doen nie. Dit was ook hierdie impuls wat in November klaarblyklik vir Donald Trump se amper-nie-oorwinning gesorg het.

’n Administrasie wat nie omgee vir protokol, oorgelewerde diplomatieke gebruike en artefakte, vir politieke korrektheid en, ja, vir die waarheid nie, is aan die bewind.

Het die wêreld mal geword? Of was dit die sogenaamde progressiewes se skuld dat blouboordjie-ongeduld met lewenskoste en globalisering en die omarming van vryer kulturele norme in die verskynsel “Trump” beslag gekry het?

Is die era van Trump, en die aanbreek van Brexit, en die naderende Franse evolusie tekens van ’n nuwe wêreldorde wat nog in ons leeftyd staan gemaak sal word? Kan dit bloedloos gebeur?

Ons dog dan die kultuuroorloë is gewonne, dat die skikking tussen die groot moondhede ná 1945 noodwendig deur lineêre vooruitgang gevolg sou word, met net hier en daar ’n skok, maar niks wat ernstig genoeg sou wees om ons grondliggende waardes uit te daag nie . . .

Nasionalisme leef. Maar die wêreld het verander. Grense kan nooit weer nasies hermeties seël nie. Of kan dit?

Ná dit alles, ’n pleidooi – moenie moed verloor nie. Die vloeibaarheid in ons politiek, ons kampusse en die internasionale landskap beteken dat die toekoms minder voorspelbaar geraak het, ja, maar dieselfde gegewens wys ook die toekoms word nog gemáák. Daarom, omdat dit nooit voltooi is nie, is daar altyd hoop.

Min dinge is werklik in sement gegiet. Basta met determinisme en vergeet van boedel oorgee – ons het stemme. Ons het ook ruggrate, harte, belange en drome.

Op die Klein Karoo Nasionale Kunstefees sal kenners van die politiek, die akademie en die geskiedenis soos gebruiklik by Die Burger se reeks Praat Saam-gesprekke feite op die tafel sit en vra: “Wat is besig om rondom ons te gebeur?”

En: “Wat behoort te gebeur?”

Is Zuma onaantasbaar – en moet ons ons verset? Kan akademiese vryheid herstel word terwyl kampusse brand – en behoort ons die anargiste hoegenaamd ’n spreukbeurt te gee? Wen ons die geveg teen korrupsie – en is daar genoeg veglus in hierdie land om ’n vryval te stuit, selfs mét Gigaba (Gigupta!) in die tesourie?

Is Trump die antwoord op enige moeitewerd-vraag – en is dit moontlik en wenslik dat nasiestate multilateralisme die rug toekeer?

Die antwoorde sal nie klinkklaar wees nie. Maar ons nooi elke nuuskierige leser van Die Burger, wat kies om as volbloed en daarom betrokke burgers te leef, bedags om 09:00 te kom saampraat oor hoe die vurk in die hef steek.

  • Pelser is redakteur van Die Burger se susterspublikasie Rapport en Woensdae om 21:30 die aanbieder van KN verslag in gesprek op kykNET.
Meer oor:  Korrupsie  |  Koalisie  |  Verval  |  Hoop  |  President
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.