Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Moenie treur nie, help dink!
Francis Petersen, rektor en visekanselier van die Universiteit van die Vrystaat. Foto: Deon Raarth

Afrikaans op Kovsies is lewend en het steeds ’n toekoms, skryf Francis Petersen.

Heindrich Wyngaard skryf voorverlede Sondag in Rapport meer bruin stemme moet uitpraat teen die marginalisering van Afrikaans op kampusse. Hy verwys spesifiek na die Universiteit van die Vrystaat (UV) se “verengelsingsbeleid” en of dit grondwetlik geregverdig is. In dieselfde uitgawe vra prof. Johann Rossouw of Afrikaans “ter wille van versoening” opgeoffer moet word.

Wyngaard verwys verder na ’n reaksie van Theuns Eloff op Netwerk24 oor die “denkfoute” in die meerderheidsuitspraak van hoofregter Mogoeng Mogoeng ten gunste van Kovsies se Engelse taalbeleid. Eloff is van mening dat, “om Afrikaans te straf, is om voorheen benadeeldes polities en taalkundig nog verder te straf”.

Hoewel sowel Wyngaard as Rossouw se artikels ’n ontleding van die uitspraak lewer, is dit ook belangrik om die betekenis van die uitspraak vir die UV te bespreek.

’n Verbintenis tot ’n ware meertalige omgewing is ’n sleutelaspek van die UV se taalbeleid. Teenstrydig met kommentaar in die media, is die uitspraak nie ’n oorwinning oor Afrikaans as taal nie. Wat die uitspraak wel beteken, is dat dit aan die UV meer stabiliteit gee om voort te gaan met die inwerkingstelling van die taalbeleid.

’n Verbintenis tot ’n ware meertalige omgewing is ’n sleutelaspek van die UV se taalbeleid.

Die universiteit se meertalige taalbenadering word weerspieël in die huistaalverdeling van studente op die drie kampusse van die UV in 2017: Suid-Sotho (23%), Afrikaans (20%), Zoeloe (18%), Engels (17%), Xhosa (8%), Noord-Sotho (3%), Tswana (3%), met die oorblywende 8% studente wat ander tale magtig is.

Daarmee saam het die demografiese verspreiding van studente oor die laaste jare heelwat verander, met talle inheemse tale wat sterker op die kampusse verteenwoordig word. Pragmaties is dit ’n uitdaging om in ’n meertalige omgewing drie of vier tale as medium van onderrig te kies met betrekking tot die uitwerking daarvan op die akademie, die koste daaraan verbonde, asook die logistieke implikasies.

Daarom is gekyk na ’n optimale model in ’n veeltalige omgewing waar Engels die medium van onderrig is, terwyl ander inheemse tale as akademiese tale uitgebou word.

In sy strewe om ’n toonaangewende navorsingsuniversiteit te wees wat globaal met verbintenisse en vennootskappe op die kontinent en oor die wêreld heen meeding, is dit belangrik vir die universiteit dat sy voor- en nagraadse studente akademies mobiel moet wees, met vaardighede in Engels as wêreldtaal. Die taalbeleid maak dit moontlik om hierdie doelwit te bereik, aangesien dit ’n pragmatiese leer- en administratiewe omgewing aanmoedig wat daartoe verbind is om tegemoetkomend te wees teenoor linguistiese diversiteit binne die streeks-, nasionale en internasionale omgewing waarin die UV funksioneer.

Gedurende 2017 het die fakulteite gesondheidswetenskappe, geesteswetenskappe en regsgeleerdheid die taalbeleid op eerstejaarsvlak begin in werking stel. Die oorblywende fakulteite (natuur- en landbouwetenskappe, opvoedkunde, ekonomiese en bestuurswetenskappe en teologie) stel die beleid vanjaar in werking.

Wat beteken Kovsies se taalbeleid dus vir Afrikaans in ’n veeltalige omgewing?

Wat beteken Kovsies se taalbeleid dus vir Afrikaans in ’n veeltalige omgewing? Tutoriale word byvoorbeeld in Afrikaans aangebied en woordelyste is in Afrikaans vir studente beskikbaar. Ondersteuning vir Afrikaans as onderrigtaal word ook steeds voorsien waar daar ’n duidelike behoefte is. So byvoorbeeld kan studente in die fakulteite opvoedkunde en teologie steeds onderrig in Afrikaans ontvang, aangesien die beroepsmark dit vereis.

In die fakulteit gesondheidswetenskappe word studente in hul wisselwerking met pasiënte ook steeds aan vaardigheid in Afrikaans blootgestel. Hoewel heelwat werk reeds gedoen is, is die uitbouing van Afrikaans as akademiese taal binne ’n meertalige konteks nou eers in volle gang. Afrikaans het inteendeel reeds ’n sterk basis om baie vinniger en verder as akademiese taal uitgebou te word in vergelyking met die ander inheemse tale.

Dit is egter belangrik dat dieselfde werk gedoen moet word om Suid-Sotho en Zoeloe as akademiese tale uit te bou. Daar word ook gekyk na hoe gebaretaal in universiteitsverband uitgebou kan word.

Ek nooi diegene wat op die kantlyn sit en treur oor die sogenaamde “afsterf van Afrikaans by Kovsies” om idees te deel oor hoe Afrikaans as akademiese taal verskerp en uitgebou kan word.

Die Universiteit van die Vrystaat bied reeds meer as ’n dekade lank taalondersteuning in Afrikaans en Engels aan. Hierdie werksaamheid is tans in die Sentrum vir Onderrig en Leer se Eenheid vir Taalontwikkeling geleë. Die Amerikaanse ambassade het die universiteit gehelp om die dienste van taalspesialiste vir die onderrig van Engels as tweede taal te bekom. Die doel van hierdie inisiatief is om akademici se vermoë om akademiese geletterdheid in die onderrig van inhoud te verbeter.

Met betrekking tot die strewe na veeltaligheid by die UV, word daar gewerk aan die verdere ontwikkeling van akademiese woordelyste ten einde studenteleer te bevorder. ’n Taakspan wat saamgestel is uit spesialiste in die universiteit se verskillende taaldepartemente werk saam om ’n langtermyntaalontwikkelingsplan vir die UV saam te stel.

Die moontlikheid van ’n taalombudsman om die uitvoering van die beleid te monitor, sal ook ondersoek word.

Ek nooi diegene wat op die kantlyn sit en treur oor die sogenaamde “afsterf van Afrikaans by Kovsies” om idees te deel oor hoe Afrikaans as akademiese taal verskerp en uitgebou kan word. Dit is hul kans om ’n mening te gee sodat ons kan verseker dat ’n bruin student van die Noord-Kaap en ’n swart student uit ’n landelike omgewing binne die veeltalige konteks van Kovsies ’n sukses van sy of haar studies kan maak.

Alles in ag genome, kan Kovsies dan mos nie verengels nie. Inteendeel, dit is ’n kampus waar Afrikaans nog baie lewend is.

Die taalbeleid is ook nie ’n opoffering van Afrikaans ter wille van versoening nie. Die uitkoms van die beleid dra juis by tot inklusiwiteit en die waardering en vlak van sensitiwiteit vir ander tale en kulture – ’n komponent wat sterk vervat is in die universiteit se geïntegreerde transformasieplan.

Kom ons verander eerder die fokus van die debat na een waar Afrikaans en ons ander inheemse tale in ’n meertalige konteks as akademiese tale uitgebou kan word en verseker daarmee dat Afrikaans as ’n inheemse taal lewend en progressief lewend gehou word. Dit is juis nou die geleentheid om innoverend en anders hieroor te dink.

Met erkenning aan Rapport waar hierdie stuk deur prof. Petersen die afgelope Sondag eerste verskyn het.

Meer oor:  Afrikaans  |  Onderrigtaal  |  Uv  |  Kovsies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.