Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Moet jy daai tjoppies vermy? Dis die feite en fiksie

Vegetariërs is nie noodwendig gesonder nie – dit hang af wat jy verkies om te eet. Prof. Dariush Mozaffarian gee hier vyf mites en vyf feite oor vleis.

Oor die feestyd eet ons waarskynlik meer vleis as enige ander tyd van die jaar. Maar wat is die voedingswaarde van vleis? Foto: Shutterstock.com

Meer as die helfte van Amerikaners besluit as deel van hul Nuwejaarsvoornemens om “gesonder” te eet. Indien dit ook op jóú lysie is, mag jy dalk ’n bietjie verward wees oor die rol wat vleis in jou dieet behoort te speel.

G’n wonder jy’s deurmekaar nie! Een groep wetenskaplikes reken om minder rooivleis en verwerkte vleis te eet behoort ’n prioriteit te wees indien jy oor jou en die planeet se gesondheid besorgd is. ’n Tweede groep meen hierdie voedselsoorte is nie ’n probleem nie.

Party van jou vriende mag dalk sê dit hang af – en dat die vleis van beeste, wat meestal gras geëet het, en geprosesseerde kos wat nie met salpetersuur behandel is nie, “oukei” is. Terselfdertyd word plantaardige opsies al hoe meer gewild, hoewel kenners nog kopkrap oor hoe goed dit vir jou gesondheid is.

As ’n kardioloog en ’n professor in voeding wil ek graag van die onsekerhede uit die weg ruim met vyf mites en vyf feite oor vleis.

Kom ons begin met die mites:

Mite: Rooivleis is goed vir jou gesondheid

Langtermynstudies oor hartsiektes, kanker of sterftes en vergelykende studies van die risikofaktore soos cholesterol, glukose en ontsteking toon dat gematigde inname van onverwerkte rooivleis relatief min skade vir jou gesondheid inhou. Maar, geen belangrike studies dui daarop dat dit goed is vir jou nie.

So terwyl ’n biefstuk, lamstjop of ’n stukkie varkvleis elke dan en wan dalk nie jou gesondheid sal benadeel nie, sal dit jou ook nie gesonder maak nie. En, te veel heemyster, wat aan rooivleis sy kleur gee, mag vir ons ’n aanduiding gee hoekom rooivleis die risiko vir tipe 2-diabetes verhoog. As jy gereeld weglê aan rooivleis, en selfs as jy net by geleentheid verwerkte vleis eet, moet jy besef daar is ’n sterk verband met kolorektale kanker.

Mite: Jy moet liewer maer vleis eet

Dieet-riglyne het dekades lank gefokus op maer vleis as gevolg van die laer vetinhoud, versadigde vette en cholesterol-inhoud. Maar vet word nie noodwendig geassosieer met hartaanvalle, kanker of ander ernstige gesondheidsgevare nie. Daar is ander dinge wat gevaarliker is. Verwerkte vleis soos spek, wors, salami en ander koue snitte het hoë vlakke van preserveermiddels. Natrium verhoog byvoorbeeld jou bloeddruk en jou risiko vir beroertes, terwyl jou liggaam nitrate omskakel in nitrosamien wat kanker kan veroorsaak. Of dit nou maer snitte is of nie, hierdie kos is nie gesond nie.

Mite: Fokus op ’n plantdieet

Hoewel rooivleis uiters gewild is, kon wetenskaplikes nog nooit bewys dat dit voordele vir jou gesondheid inhou nie. Foto: Shutterstock

“Plant-gebaseer” het vinnig maar ietwat verkeerdelik ’n kodewoord vir “gesondheid” geword. Eerstens, nie alle kos wat van diere afkomstig is, is sleg vir jou nie. Pluimvee en eiers blyk relatief neutraal te wees. Suiwelprodukte mag metaboliese voordele hê, veral om liggaamsvet en tipe 2-diabetes te verminder. En seekos het heelparty gesondheidsvoordele.

In teenstelling hiermee is baie van die kos wat die slegste vir jou is, plantaardig. Dink aan wit rys, witbrood, slaptjips, verfynde ontbytkos, koekies en so meer. Hierdie kos bevat baie verfynde stysel en suiker, en verteenwoordig 42% van alle kalorieë in die VSA, vergeleke met sowat 5% van die kalorieë van onverwerkte rooivleis en 3% van verwerkte vleis.

’n “Plant-gebaseerde” of alleseter-dieet is nie by verstek gesond nie. Dit hang af wat jy verkies om te eet.

Mite: Grasgevoerde beesvleis is beter vir jou gesondheid

Tradisioneel eet vee ’n kombinasie van veevoer (gras, ander groen goed en peulplante) plus hooi met bygevoegde mielies, soja, gars of graan. “Grasvleis” of weiveld-gevoerde vee eet meestal, maar nie uitsluitlik nie, veevoer.

“Grasklaar-vee" behoort in teorie net veevoer te eet. Maar geen agentskap reguleer die bedryf se gebruik van hierdie terme nie. En plaasvleis (free-range) beskryf waar ’n dier leef, nie wat hy eet nie.

“Grasgevoerde” mag dalk beter klink, maar geen studies het nog die gesondheidsvoordele vergelyk van “grasgevoerde” teenoor konvensionele beesvleis nie. ’n Voedingstof-analise toon baie klein verskille tussen grasgevoerde vee en dié wat op die konvensionele manier gevoer is. Jy mag dit dalk om persoonlike, omgewings- of filosofiese redes eet. Maar moenie gesondheidsvoordele verwag nie.

Mite: Plantaardige alternatiewe vir vleis is gesonder

Produkte soos die Impossible Burger en Beyond Meat is kennelik beter vir die omgewing as tradisionele beesvleis, maar hoe goed of sleg dit vir jou gesondheid is, bly onseker. Die meeste voedingstowwe in plantaardige alternatiewe is ontwerp om soortgelyk aan vleis te wees. Deur die gebruik van geneties gemanipuleerde suurdeeg voeg die Impossible Burger selfs heemyster by jou dieet. Hierdie produkte bevat ook heelwat sout. En soos baie ander ultra-verwerkte kos kan dit ook tot ’n hoër inname van kalorieë en ’n gewigstoename lei.

So, wat is die feite dan?

Feit: Verwerkte vleis is sleg vir jou gesondheid

Worsies wat in spek toegedraai is, mag dalk heerlik lyk, maar dit hou ’n dubbele slag vir jou gesondheid in, want beide spek en wors is verwerkte vleis. Foto: Shutterstock

Verwerkte vleis bevat problematiese preserveermiddels. Selfs dié waarop staan “geen nitrate of nitrate bygevoeg”, bevat nitraatryke gegiste selderypoeier. ’n Versoekskrif deur die Center for Science in the Public Interest vra tans dat die FDA hierdie misleidende etikettering verbied.

Benewens die natrium, nitrate en heem, kan verwerkte vleis ander karsinogene bevat wat verkry word deur verkoling, die rook van die vleis of wanneer die vleis teen ’n hoë temperatuur gebraai of gerooster word. Hierdie verbindings kan nie net die persoon wat dit eet skade aandoen nie, dit kan ook deur die plasenta dring en 'n fetus beskadig.

Feit: ’n Vegetariese dieet is nie opsigself gesonder nie

Die meeste dieetverwante siektes word deur te min kos wat goed is vir jou gesondheid soos vrugte, neute, sade, bone, groente, volgraan, plantolies, seekos en jogurt veroorsaak. Bykomende gesondheidsprobleme kom van te veel soda en ultra-verwerkte kosse met ’n hoë soutinhoud, verfynde suiker of bygevoegde suiker. In vergelyking met hierdie groot faktore het dit relatief min gesondheidsvoordele om onverwerkte rooivleis te vermy of dit slegs by geleentheid te eet.

Feit: Beesproduksie is vernietigend vir die omgewing

’n Verslag van die VN in 2013 het bevind veeproduksie veroorsaak sowat 15% van alle kweekhuisgasvrystellings, met byna die helfte wat afkomstig is van beesvleis. Foto: Foto24

In terme van die verbruik van grond, water, waterbesoedeling en kweekhuisgasse veroorsaak die produksie van onverwerkte rooivleis sowat vyf keer die impak op die omgewing as vis, suiwel en pluimvee. Dié impak is sowat 20 keer hoër as dié van eiers, neute en peulgewasse en 45 tot 75 keer hoër as die impak van vrugte, groente of volgraan. In ’n VN-verslag van 2013 is bevind dat veeproduksie sowat 15% van alle wêreldwye kweekhuisgasvrystellings veroorsaak, met byna die helfte wat van beesvleis afkomstig is.

Feit: Plantaardige vleis is beter vir die omgewing

Die produksie van plantaardige vleis-alternatiewe, in vergelyking met beesvleis, gebruik die helfte van die energie, ’n tiende van die grond en water, en het 90% minder kweekhuisgasse. Maar geen studies het tot dusver plantaardige vleis-alternatiewe vergelyk met meer natuurlike, minder verwerkte opsies soos sampioene of tofoe nie.

Feit: Daar is steeds baie vrae

Sekere verbindings in verwerkte kosse soos spek is nie net nadelig vir die eter nie, maar dit kan ook deur die plasenta dring en die ongebore fetus beskadig. Foto: Lisa Skinner

Watter preserveermiddels of ander gifstowwe in verwerkte vleis veroorsaak die meeste skade? Kan ons dit uitskakel? In verwerkte vleis, wat presies vergroot die risiko vir tipe 2-diabetes? Watter innovasies, soos om vir koeie spesiale soorte seewier te voer of die gebruik van regenererende beweiding, kan die groot omgewingsimpak van vleis, selfs dié van grasgevoerde bees, verminder? En wat is die gesondheidsimplikasies van grasgevoerde bees en plantaardige vleis-alternatiewe?

Soos baie ander dinge in die wetenskap is die waarheid oor vleis genuanseerd. Die huidige getuienis is dat mense nie meer as een of twee keer per week onverwerkte rooivleis moet eet nie. Grasgevoerde beesvleis mag effens beter wees vir die omgewing as tradisionele produksie, maar daar is steeds baie skade vir die omgewing. Die data steun nie groot gesondheidsverskille tussen grasgevoerde en konvensionele beesvleis nie.

Net so is plantaardige vleis-alternatiewe beter vir die planeet, maar nie noodwendig vir ons gesondheid nie. Vrugte, neute, bone, groente, plantolies en volgrane bly steeds die beste vir die gesondheid van mense en van die planeet.

* Prof. Mozaffarian is die dekaan van voedselwetenskap en -beleid aan die Tufts-universiteit in die deelstaat Massachusetts in die VSA. Hierdie artikel het aanvanklik op The Conversation verskyn. 

Meer oor:  Gesondheid  |  Diabetes  |  Vleis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.