Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Moet ons ophou vis eet?

As ons die aarde wil red, moet ons dadelik ophou vis eet, wil ’n omstrede nuwe dokumentêre film op Netflix dit hê. Sal dit regtig help? vra Annemarie van Wyk.

Sal klimaatsverandering bekamp kan word as ons ophou om vis te eet? Foto: Jaco Marais

Terwyl mense van oor die hele wêreld gaande is oor die mooi liefdesverhaal tussen ’n man en ’n seekat in Craig Foster se Oscar-wenner, My Octopus Teacher, is daar nou ’n ander dokumentêre film op Netflix wat opspraak wek en veral mense in bewaringskringe warm onder die kraag het.

In Seaspiracy gaan die jong Britse rolprentmaker Ali Tabrizi op ’n belangrike ontdekkingstog. Hy wil weet tot watter mate kommersiële vissery bydra tot klimaatsverandering en die vernietiging van die oseane.

Waarop Tabrizi afkom, is grootskaalse en onwettige plundering van die see deur die rykste nasies op aarde. Die plundery loop ook saam met menseregteskendings, slawerny en sluikhandel. Die prentjie wat hy skets, is allermins mooi en sy boodskap aan die kyker is: Hou dadelik op met vis eet!

Is dit iets van die verlede? Foto: Gallo Images

As jy dit nie doen nie, is jy nie net deel van die vernietiging van die aarde nie, jy ondersteun ook transnasionale kriminele sindikate. As jy vis of enige seekos eet, is jy aandadig aan die grootskaalse vrystelling van koolstofdioksied in die lug wat deur die vernietigende praktyke van industriële vissery veroorsaak word.

Dié opspraakwekkende film is tans een van die top-tien gewildste dokumentêre prente op Netflix.

Maar dit is juis dié boodskap, wat so onomwonde uitgedruk word – hou op vis eet – wat bewaringskenners en natuurlik die visserybedryf dwars in die krop steek.

Hulle sê Tabrizi maak gebruik van ou data en sy argumente berus op foutiewe inligting. Dit is die losse omgaan met wetenskaplike feite wat moontlik Tabrizi se sentrale boodskap kan kniehalter.

Tabrizi haal byvoorbeeld ’n studie van 2006 aan wat voorspel dat die see teen 2048 “bykans leeg” gaan wees. Volgens talle wetenskaplikes is die studie net ’n vermoede, want dit is bloot onmoontlik om ’n datum vir die vernietiging van die see vas te stel omdat daar net te veel faktore is wat ’n rol speel.

Volgens sy kritici is daar wel dele van die see wat goed beheer word en waar plundery nie plaasvind nie en visbevolkings floreer.

Plastiek en die see

Plastiek-besoedeling bly ’n groot bedreiging vir die seelewe. Foto: Getty Images

Tabrizi maak ook kapsie teen die hele plastiekstrooitjie-beweging. Om al ons energie op strooitjies te fokus, is sinloos, want strooitjies verteenwoordig slegs sowat 0,03% van die plastiek in die oseane, sê hy.

Dit is natuurlik ook onmoontlik om só iets vas te stel, maar dit is waarskynlik nader aan die waarheid as wat gemaklik is.

Die mens se beheptheid met plastiek is wel besig om die see te vernietig en baie van die plastiek kom dan ook van visgerei.

Veral in die Stille Oseaan se sogenaamde vulliskol tussen Hawaii en Kalifornië dryf daar na raming 79 duisend ton plastiek rond. Hiervan is sowat 47% afkomstig van gevaarlike visgerei waarin vis en ander seediere verstrengel raak.

Maar dan is daar ander verbysterende feite wat die kyker nie kan miskyk nie: Die Europese Unie en lande soos Korea, Japan en China subsidieer vissery met $35 miljard elke jaar. Dit sal minder as dit neem – ’n geraamde $30 miljard – om hongersnood in die wêreld uit te roei.

Die getal walvisse en haaie wat jaarliks doodgemaak word, gaan ons nog duur te staan te kom.

Van die skokkendste feite in Seaspiracy is dat daar nie werklik iets bestaan soos “dolfyn-vriendelike” tuna nie en dat organisasies wat betrokke is by die sertifisering van volhoubare vissery, baie van hul befondsing van die bedryf ontvang.

Die getal walvisse en haaie wat jaarliks doodgemaak word, gaan ons nog duur te staan te kom. Na raming vrek 100 miljoen haaie jaarliks en die helfte daarvan is weens byvangs en hulle word weer in die see teruggegooi. Byvangs beteken die haaie was nie die teikenspesie van die vissersboot nie, maar indirekte skade.

Die gesondheid van die see is afhanklik van groot visse en walvisse omdat die spesies die ekosisteem balanseer en die gewoel van visse bydra tot die regulering van die see se temperatuur.

Walvisse speel ’n uiters belangrike rol in koolstof-sekwestrering, soveel so dat wetenskaplikes meen een walvis is meer werd as 1 000 bome.

Tabrizi ondersoek ook die harwar wat bestaan tussen wetenskaplikes oor wat die term “volhoubare vissery” eintlik veronderstel. Omdat wetstoepassing so moeilik is – daar is bykans 5 miljoen visserskepe ter wêreld – is dit haas onmoontlik om enige vissery as “volhoubaar” te beskryf.

Selfs een van die grootste bewaringsorganisasies, Oceana, erken hulle het geen idee wat volhoubare vissery sou wees nie.

Belangrike rol van die seebodem

’n Visserskuit in die see by Kaapstad. Foto: Gallo Images

Maar die vernietiging van die seebodem is seker een van die mees pertinente kwessies wat aandag kry.

’n Onlangse studie wat in die tydskrif Nature gepubliseer is, toon dat die slegs 2,7% van die wêreld se oseane uit mariene bewaringsareas bestaan wat nie visvang toelaat nie.

As Tabrizi se doel was om ten minste die gesprek aan die gang te kry, het hy daarin geslaag.

Die seebodem stoor meer as vier keer soveel koolstof as die Amasone-woud. Indien treilvissery – die sleep van kolossale swaar vangnette oor kilometers heen – toegelaat word om ongehinderd voort te gaan, sal die mens een van sy doeltreffendste wapens in die oorlog teen klimaatsverandering verloor. Na raming word 1,5 miljard ha seebodem jaarliks vernietig deur treilvissery. Sommige lande oorweeg om dit te verbied.

As Tabrizi se doel was om ten minste die gesprek aan die gang te kry, het hy daarin geslaag.

Volgens ’n meningspeiling het van die mense wat die dokumentêr gesien het, gesê hulle oorweeg dit nou sterk om op te hou vis eet. Hy het ook die lig op ’n donker plek geskyn waar min mense dit waag om te gaan: om dié wat mag het en dit gebruik om die aarde te vernietig, voor stok te kry.

• Van Wyk is ’n vryskutjoernalis. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Ali Tabrizi  |  Visvangbedryf  |  Klimaatsverandering  |  Plastiekbesoedeling  |  See  |  Seebodem  |  Haaie  |  Walvisse
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.