Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Mogoeng: Behoort kerk en regbank geskei te wees?

Nadat hoofregter Mogoeng Mogoeng onlangs in die openbaar sy liefde aan Israel betuig het, het heelwat vrae ontstaan. Elmien du Plessis vra of ’n regter openlik gelowig mag wees.

Toe hoofregter Mogoeng Mogoeng einde Junie sekere uitlatings gemaak het in ’n webinaar van die ‘Jerusalem Post’, het dit groot opskudding veroorsaak. Foto: Lucky Nxumalo

Regters is mense van vlees en bloed. Hulle haal asem, hulle het opinies, wêreldbeskouings en geloofsoortuigings. Hulle is burgers van die land, soos ek en jy. En wanneer ’n regter sy of haar toga aantrek, bring hulle hul geskiedenis met hul saam. Maar dit is selde die fondasies vir ’n agenda.

Toe hoofregter Mogoeng Mogoeng einde Junie sekere uitlatings gemaak het in ’n webinaar van die Jerusalem Post, het dit groot opskudding veroorsaak. Dit het voorgekom asof hy die regering se beleid jeens Israel kritiseer, en hy het genoem dat hy as Christen verplig is om Israel lief te hê, en te bid vir Israel.

Daar is ’n verskil tussen die Bybelse Israel en Israel as ’n politieke staat.

Regter Mogoeng was al vele kere in die sop oor sy uitlatings oor geloof. Hy is ook ’n geordende predikant wat in verskeie kerklike strukture dien. Elke nou en dan word die vraag gevra: Tot watter mate is en behoort die kerk en die regbank geskei te wees? Is daar gevaarligte wat flikker?

Die onlangse uitlatings oor Israel is ’n taamlik morsige voorbeeld. Daar is ’n verskil tussen die Bybelse Israel en Israel as ’n politieke staat. Wanneer jy standpunt inneem oor byvoorbeeld die okkupasie van Palestynse gebiede, is dit ’n politieke standpunt. En beleid is die plek van die uitvoerende gesag.

Maar daar is ook kwessies oor menseregtevergrype en internasionale reg, ’n vervlegte moeras van politieke konflik waar skeidslyne nie duidelik is nie. Dit ontketen maklik die vraag: Maak kommentaar oor Israel nie inbreuk op die skeiding van magte nie? Impliseer die openbare liefdeserkenning aan Israel in die konteks van geloof ’n keuse téén Palestina wat politiek betref?

Mag ’n regter openlik gelowig wees?

Regter Mogoeng Mogoeng het gesê dat hy as Christen verplig is om Israel lief te hê, en te bid vir Israel. Foto: Lucky Nxumalo

Ek wil my nie uitlaat oor die meriete van wat die hoofregter gesê het nie. Ek het ook nie ’n begeerte om opmerkings te maak oor die hoofregter as mens nie. My belang lê in die groter vraag – wat is die beginsels wat ’n regter behoort te lei wanneer hy of sy in die openbaar opmerkings maak oor geloof? Mag ’n regter só openlik gelowig wees?

Dat regters as burgers mag deelneem aan die openbare gesprek word betreklik algemeen aanvaar. Regters mag openbare opmerkings maak. Hulle rol in die demokrasie is nie beperk tot die regbank nie. Maar (en daar is altyd ’n maar) anders as gewone burgers, is hulle gebonde aan die regterlike amp en gedragskode, wat hulle beperk ten opsigte van wát hulle mag sê.

Artikel 11(2) van die geregtelike gedragskode bepaal dat ’n regter mag deelneem aan openbare debatte oor kwessies wat betrekking het op regsubjekte, die regsprekende gesag en regspleging. Dié standpunte moet só gemaak word dat dit nie die status en integriteit van die regbank ondermyn nie.

Die lyn is fyn, want kwessies oor menseregte is dikwels ook politieke kwessies.

Dus mag regters in die openbaar praat, beperk tot dit wat betrekking het op regsubjekte, die regsprekende gesag en regspleging. Artikel 12 van die gedragskode verbied regters om aan ’n politieke party te behoort, en om deel te neem aan aktiwiteite wat neerkom op diskriminasie onder die Grondwet.

Opinies, ja. Opinies oor politieke aangeleenthede uiters versigtig. Opinies wat partypolitieke standpunte steun, nee.

Maar dit bly ’n moeilike beginsel, en die lyne tussen die drie gebiede is nie altyd so duidelik nie.

Onpartydigheid

Suid-Afrikaners hou ’n betoging om hul steun aan Israel te bewys. Foto: Foto24

In ’n onlangse webinaar aangebied deur die Universiteit van Johannesburg is regter Edwin Cameron hieroor uitgevra. Hy het vertel van sy uitgesprokenheid destyds oor die regering se aanvanklike weiering om ’n antiretrovirale behandelingsprogram vir MIV-positiewe mense van stapel te stuur. Hy sê hy kon eenvoudig nie stilbly daaroor nie – dit was ’n epidemie van stilte – en hy het gevoel juis omdat hy ’n stem het, gaan hy dit gebruik om menseregte te bevorder. Die vraag blyk dus te wees: Is dit nodig om uit te praat? En wanneer jy uitpraat, bevorder jy menseregte?

Die lyn is fyn, want kwessies oor menseregte is dikwels ook politieke kwessies.

Die probleem is natuurlik ook dat wanneer ’n regter sterk standpunt inneem oor byvoorbeeld geloof, ons ons moet afvra of hy steeds onpartydig kan wees oor sake wat besleg word voor die hof. Daar is byvoorbeeld nou ’n saak voor die Grondwethof wat handel oor of sekere uitlatings wat gemaak is teen Jode op haatspraak neerkom. Die Joodse Raad van Afgevaardigdes (Jewish Board of Deputies) is ’n party in die saak. Die vraag is dus of ’n openbare liefdesverklaring aan Israel nie die skyn kan skep dat hy nié onpartydig kan wees in die saak nie?

Bybel nie bo grondwet verhewe nie

Die klaagmuur in die ou stad in Jerusalem. Foto: Conrad Bornman

Die reg het natuurlik maniere om seker te maak dat waar daar vermoed word dat ’n voorsittende beampte nie onpartydig is nie, die beampte van die saak moet onttrek. Daar is ook regsbeginsels waarvan nie afgewyk kan word nie, asook feite voor die hof wat die regters beperk.

En as ’n regter afwyk van die kode, soos vroeër genoem, kan dit tot die verwydering van die regter van die regbank lei. Maar die kode sê niks oor geloof nie.

Ons is ’n sekulêre samelewing, en regters lê ’n eed af om hulle amp te beklee wat etiese leierskap vereis, geskoei op beginsels van menseregte, menswaardigheid en respek vir die instellings waarop die Grondwet geskoei is.

Dit beteken geensins dat ’n regter nie sy of haar geloof mag uitleef nie. As ’n private aangeleentheid gaan dit nie oor die feit óf die regter gelowig is of nie, maar eerder oor of die regter, wanneer hy of sy ’n saak aanhoor, persoonlike geloofsoortuigings kan opsy skuif, en uiting kan gee aan die beginsels en waardes van die Grondwet en die landswette. Ons is ’n sekulêre samelewing, en regters lê ’n eed af om hulle amp te beklee wat etiese leierskap vereis, geskoei op beginsels van menseregte, menswaardigheid en respek vir die instellings waarop die Grondwet geskoei is.

Maar die feit dat die Bybel nie die Grondwet mag troef in dié spesifieke geval nie, beteken nie dat ’n regter nie ’n konserwatiewe standpunt mag inneem binne die grense van regsbeginsels nie. Dit beteken net bloot dat die regter nie sy of haar interpretasie van die Bybel bó die Grondwet kan stel nie.

Geloofsimbole verbied op regbank

Elmien du Plessis Foto: Murray Louw

Aan die begin van die jaar was daar ’n hofsaak in die Duitse grondwetlike hof, nadat die deelstate Hesse en Beiere wetgewing uitgevaardig het wat die dra van enige “geloofsimbole” deur regslui wat vir die staat werk, in die hof verbied. Die saak is hof toe geneem deur ’n Moslem vrou wat betoog het dat die feit dat sy nie ’n hoofbedekking mag dra nie, inbreuk maak op haar reg tot vryheid van geloof. Die hof het bevind dat dit binne die magte van die wetgewer is om dié gevalle te reguleer, en dat die vereiste van geregtelike onpartydigheid die beperking op vryheid van geloof regverdig. In die uitvoering van hulle werk as amptenare is hulle gebonde aan die waardes wat die Grondwet neerlê.

Die saak was omstrede, en dit laat ’n mens dink aan die rol wat geloof (en die waardes van ’n bepaalde geloof) in al die bene van die staat – insluitende die regbank speel. En of daar noodwendig ’n kloof tussen die twee moet wees.

* Du Plessis is ’n medeprofessor in die regte aan die Noordwes Universiteit. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Mogoeng Mogoeng  |  Edwin Cameron  |  Elmien Du Plessis  |  Israel  |  Palestina  |  Christene  |  Moslems  |  Geloof  |  Grondwet
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.