Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Monumente: Afrikaner moet ophou askies vra dat hy leef

Die strategie om temaparke te skep vir die monumente en gedenktekens van die voor-demokratiese era sal die reënboognasie en die droom van nasiebou verwoes. Dit sal op meerderheidstirannie neerkom, skryf Pieter Labuschagne.

Die Voortrekkermonument hou al dekades lank wag oor Pretoria, maar vir hoe lank nog? Foto: Foto24

Ons kan net hoop dat die absurde voorstel dat monumente en gedenktekens van voor 1994 na temaparke verskuif word, voortydig doodgebore is. Die misplaaste voorstel werk nie net teenproduktief nie, dis ook onprakties, onrealisties en onuitvoerbaar.

Die skokkendste deel van die voorstel vir die skepping van temaparke met sogenaamde “kuriositeite”, soos monumente en gedenktekens uit die voor-demokratiese era, sal ’n negatiewe uitwerking op nasiebou wees.

In wese is dit die skepping van kultureel geïsoleerde enklaves, wat neo-apartheid net by die agterdeur probeer insmokkel.

Dié strategie sal die reënboognasie en die droom van nasiebou in die kiem smoor en op meerderheidstirannie neerkom. In wese is dit die skepping van kultureel geïsoleerde enklaves, wat neo-apartheid net by die agterdeur probeer insmokkel.

Die politieke partye, kultuurorganisasies en burgerregte-organisasie wat die absurde plan gedemp en selfs akkommoderend teenstaan, kan gerus die paaiende houding laat vaar.

In die verlede het dié politieke naïwiteit oor die wese van magspolitiek minderheidsgroepe duur te staan gekom. Die regerende Nasionale Party-onderhandelaars het op dié manier politieke mag weggeteken en minderheidsgroepe kwesbaar en sonder bedingingsmag gelaat.

Daar is fundamentele kulturele waardes en regte wat nie-onderhandelbaar is nie, want daarsonder bestaan die groep nie. Die feit dat jy bereid is om oor onvervreembare kulturele regte te onderhandel deur die middelgrond te betree, beteken dat jy reeds 50% toegegee het.

Ons moet ophou jammer sê dat ons leef

Die tyd het aangebreek dat minderheidsgroepe soos die Afrikaner die ekskuus-dat-ek-leef-ingesteldheid laat vaar. Die Afrikaner het die grondwetlike reg om sy kulturele eiendom binne ’n geïntegreerde samelewing uit te lewe.

Die Afrikaner het ook die onvervreembare reg dat sy kultuurskatte nie na kulturele enklaves verskuif word nie. Die opposisie teen absurde voorstelle, soos die temaparke, behoort daarom baie sterker en dinamies geartikuleer te word.

Pieter Labuschagne Foto: Sarel van der Walt

’n Reënboog het baie kleure, maar vorm ’n ondeelbare eenheid. As demokrasie bestaan Suid-Afrika uit ’n ryke etniese diversiteit met ’n unieke kulturele verskeidenheid. Die inherente krag van die land is juis in sy uniekheid en diversiteit en interne groepsdinamika geleë. Dit is begryplik dat die groepe soms nie met mekaar sal saamstem nie, maar dit moet maar net regverdig deur die regering bestuur word.

Hierdie ryke diversiteit moet eerder ingesluit word om ’n reënboognasie te skep as om sekere groepe te marginaliseer. In die groter geïntegreerde nasie vertoon die etniese verskeidenheid soos die snye van ’n koek. Wanneer dié “koek” van bo beskou word, vorm dit ’n globale eenheid en ’n beeld van een verenigde nasie.

Die sleutel om harmonie te bewerkstellig is egter dat die minderheidsgroepe nie in politieke verband gesien moet word nie. Die lidmaatskap van die minderheidsgroepe moet eerder binne kulturele verband geartikuleer word.

Dingaan ook deel van ons geskiedenis

Dit moet ’n bestendige reg wees vir die Afrikaner (asook vir ander kulturele groepe) om homself kultureel binne die groter nasie-verband te kan uitleef. Dit is sy onvervreembare reg om binne groepsverband sy kultuur en taal te kan beleef en te kan uitleef. Die reg om dit uit te leef is op nasionale vlak ineengestrengel met die groter inklusiewe Suid-Afrikanerskap, waar nasiebou en nasiebestaan tot uiting kan kom.

Die standbeeld van genl. Louis Botha voor die parlement in Kaapstad nadat dit met rooi verf getakel is. Foto: Edrea du Toit

Op persoonlike vlak, binne my kulturele groep, is my moedertaal Afrikaans met sy ryk literatuur, prosa en kuns, wat vir my kosbaar en onvervreembaar is. My historiese bewustheid sluit ook politieke kultuur en daarom monumente en gedenkwaardighede in, soos die standbeelde van presidente Paul Kruger en M.T. Steyn en ook voormalige politici soos generaals J.B.M. Hertzog, Jan Smuts en Louis Botha as deel van hoe ek my kultuur beleef.

In dieselfde idioom moet die Afrikaner die kulturele reg van ander etniese groepe, soos die Zoeloes, op hul eie taal en standbeelde, erken en eerbiedig. Sommige Afrikaners mag die standbeeld van iemand soos koning Dingane ka Senzangakhona omstrede vind, maar sy nalatenskap vorm ook deel van ons land se geskiedenis. Suid-Afrika se ontwikkelingsgeskiedenis, soos dié van die meeste Europese lande, is te midde van stryd en geweld gevorm.

Smeltkroes

Op 16 Maart 2012 het die destydse minister van kuns en kultuur, Paul Mashatile, verklaar dat die Voortrekkermonument ’n nasionale erfenisterrein is, en dat die erkenning diep historiese betekenis het. Mashatile het gesê hoewel die deel van die geskiedenis dalk pynlik vir swart groepe is, kan dit nie bloot weggedink word nie.

In die algemeen het ek waarskynlik meer gemeen met ’n EFF-ondersteuner as met die gemiddelde Europeër.

Hoewel ek as Afrikaner my primêre neksus binne my eie kultuurgroep vind, is ek as Suid-Afrikaner verbind aan ’n sekondêre, breër, geïntegreerde samelewing. Dit manifesteer as lojaliteit teenoor my land. In sport manifesteer dit as lojaliteit en ondersteuning vir al die Protea-spanne – van netbal tot by atletiek. My nasionale simbole is die huidige vlag en die volkslied, waarop ek trots is.

In die algemeen het ek waarskynlik meer gemeen met ’n EFF-ondersteuner as met die gemiddelde Europeër.

In die proses van nasiebou moet ’n smeltkroes gevorm word wat bestaan uit die samestellende eenhede, saamgebind as ’n groter nasie, wat elemente van elk van sy dele bevat. Die onderliggende kulturele dele moenie deur sosiale rekonstruksie onderdruk of weggesteek word nie. In Amerika word dikwels na byvoorbeeld “Native Americans” en “Italian-Americans” verwys. Waarom kan ’n Afrikaner nie binne die groter geheel as Suid-Afrikaner sy bestaansreg vind nie?

Geheueverlies tot niemand se voordeel nie

Die integrasie van die verskillende etniese groepe binne ’n groter geheel het op simboliese vlak reeds stewig beslag gevind. Die hele land het die hoogs verteenwoordige Springbokspan, met sy eerste swart kaptein, toegejuig toe hy die Wêreldbeker verower het.

Die Springbokke sing die volkslied voor die finale wedstryd in die Wêreldbekerrugby-toernooi tussen Suid-Afrika en Engeland verlede jaar in Japan. Foto: Getty Images

Die nasionale vlag bevat dele van die ANC vlag, die ou Suid-Afrikaanse vlag en selfs die Vierkleur. Die nasionale volkslied bestaan uit dele van “Nkosi Sikelel iAfrika” en “Die Stem”. Die sportdrag van die nasionale spanne is steeds die groen en goud, maar nou met die koningsprotea.

Die geskiedenis van ons land reflekteer ons verlede en is beslis nie ’n gefragmenteerde en geselekteerde beskouing nie. Die konflik en die onreg is ook deel van ons land se geskiedenis. Die selektiewe omgang met die geskiedenis en geheueverlies is gevolglik tot niemand se voordeel nie.

Die doel van gedenkwaardighede is soms om mense te herinner aan die swaarkry en die onreg van die verlede. Dit is egter opmerklik dat diegene wat die hardste teen die monumente, gedenkwaardighede en standbeelde protesteer (wat hulle aan die verlede herinner), diegene is wat in die post-apartheid-tydperk gebore is.

’n Temapark vir Oom Paul?

In sy boek oor standbeelde en monumente het die skrywer J.J. van Tonder bereken dat daar konserwatief gesproke meer as 300 standbeelde en borsbeelde uit die vorige era in die land is. Indien bronne soos Die Historiese Monumente van Suid-Afrika deur J.J. Oberholster en Monumente en Gedenktekens van die Oranje-Vrystaat deur P.J. Nienaber en C.J.P. le Roux ook geraadpleeg word, kan daar meer as 1 000 monumente, gedenkwaardighede en gedenktekens wees.

Die monumente wat tydens die 1938 simboliese ossewatrek opgerig is, beloop etlike honderde. In elke dorp vanaf Kaapstad tot selfs in die destydse Rhodesië is van dié monumentjies opgerig.

Die standbeeld van Paul Kruger op Kerkplein in Pretoria word gereeld gevandaliseer. Foto: Herman Verwey

Na raming bestaan daar meer as tien standbeelde van Paul Kruger in Pretoria, Rustenburg, Krugersdorp en elders. Daar is ook etlike borsbeelde. Sou dit beteken dat daar ’n spesiale temapark net vir Kruger geskep gaan word?

Waarom word die klem net op Afrikaner-standbeelde geplaas? Die standbeelde van koningin Victoria en ander uit die imperialistiese periode bly onaantasbaar.

Dit is belangrik dat ons weerstand bied teen die beoogde kulturele suiwering.

Gaan die kulturele suiwering dan ook straatname insluit? Wat van historiese geboue wat met die kolonialisme verbind kan word?

Dit is belangrik dat ons weerstand bied teen die beoogde kulturele suiwering. Dit is belangrik dat elke minderheidsgroep ’n reg en aanspraak daarop het om sy eie kulturele goedere te behou en dat kulturele meerderheidsoorheersing in die kiem gesmoor word.

Die verskuiwing van standbeelde is ’n gevaarlike speletjie en die groot verloorder gaan nasiebou en eenheid in die land wees.

*Labuschagne is ’n emeritusprofessor in politieke wetenskap aan Unisa. Die menings in hierdie rubriek is sy eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Pieter Labuschagne  |  Monumente  |  Temaparke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.