Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Met Bram en Oom Paul saam die toekoms in

Monumente is geleenthede om onsself uit te stal, met al die gepaardgaande krapperigheid. Dit gee erkenning aan ons kontrasterende verlede en maak die deure oop vir die pad vorentoe, skryf Leon Wessels.

Die Paardekraal-monument. Foto: Argief

Ek glimlag dikwels wanneer ek verby pres. Paul Kruger se standbeeld en die Paardekraal-monument in Krugersdorp ry.

François Loots se roman Rooi Jan Alleman oor Bram Fischer is die rede vir hierdie skalkse glimlag. In die boek hou oom Paul, met ’n pienk mus op sy kop, Bram se doen en late peinsend dop.

Bram Fischer
Bram Fischer, Afrikanerrevolusionêr. Foto: Argief

Een van Kruger se bekende uitsprake word later deur Fischer oorgeneem. “So seker as die son skyn, so seker sal Afrika vry wees”.

Die Afrika waarna Kruger in 1881 verwys het, was die Afrikaners se Afrika – vry van die Britse koloniale juk. In 1966 en in ’n ander konteks het Fischer – Afrikanerrevolusionêr, gebore uit die Boere-Afrikaner-aristokrasie van die Vrystaat – die stryd van die stemloses van Suid-Afrika sy eie gemaak het en gebruik hy dieselfde woorde in sy stryd vir vryheid en demokrasie.

Vandag is president Kruger se dorp (gestig in 1887), Kgosi Mogale-wa-Mogale se stad (naamsverandering in 2001). Dit was die stryd van die groot nasionalismes. Die vroegste geskiedenis van Mogale kan teruggespoor word tot 1841.

Mogale-stad se jurisdiksie strek oor Krugersdorp, Azaadville, Munsieville, Kagiso, Tarlton, Hekpoort en omgewing.

’n Standbeeld van die Boereheld Danie Theron by die Voortrekkermonument in Pretoria. Foto: Argief

Nie ver van die Paardekraal-monument het die legendariese Danie Theron sy prokureurspraktyk beoefen. Theron en sy 105 makkers – hulle het trapfietse gebruik om perde vir die stryd te spaar – is deur Lord Roberts beskryf as: “the hardest thorn in the flesh of the British advance”. Daar was ’n losprys van £1 000 op Theron se kop en 4 000 soldate is aangewys om die Theron-verkenningskorps uit te skakel. Tydens die onthulling van die Danie Theron-monument naby die Uniegebou het Nelson Mandela Theron se dapperheid en deursettingsvermoë geprys. Hy het hom voorgehou as ’n voorbeeld vir moderne Suid-Afrikaners.

Japie Maponya, ’n veiligheidswag by een van die handelsbanke in Krugersdorp, is in 1985 deur polisiemanne ontvoer en tydens ondervraging oor sy broer Oderile Maponya – ’n aktiewe lid van die ANC se militêre vleuel uMkhonto we Sizwe en beweerde bomplanter – se bewegings doodgeslaan.

Die dwelm van vryheid

Die pad na Munsieville. Foto: Argief

Die een mens se Theron is die ander se Maponya.

In Kagiso, suid van die Paardekraal-monument is daar in 1993 ook ’n monument voor die ou polisiestasie opgerig. Beskeie maar onmiskenbaar daar. Dit moes nie net die mense herdenk wat in die stryd gesneuwel het nie, maar ook die oorwinning simboliseer oor die setels van mag: die polisiestasie, die munisipale kantoor, die biersaal en die hostelle wat in diens van die minderheidsregering gestaan het.

Winnie-Madikizela-Mandela het haar uitlating oor vuurhoutjies en halssnoere in Munsieville gemaak. Foto: Argief

In Munsieville noord van die Paardekraal-monument staan ’n klein kerkie. Op 13 April 1986 was die kerk tot oorlopens toe vol toe Winnie Madikizela-Mandela kom kuier het. Die dag toe sy die gewraakte halssnoermoord goedgepraat het met “with our boxes of matches and our necklaces we shall liberate this country.”

My gespreksgenoot (Aubrey Makgethla) was toe 13 jaar oud. Hy was opgewonde, want wat die grootmense verkondig het hom aangevuur; dit sou vryheid bring en die juk van ’n tweederangse burgerskap in die dorp en land van jou geboorte afgooi.

En so word mense – oor die wêreld heen – deur die eeue gedryf deur die dwelm van vryheid. Vandag maak jeugdiges moles en paradeer as “economic freedom fighters”. By die Paardekraal-monument is daar ’n groot advertensiebord van die Volksraad-verkiesingskommissie wat jou oproep om vryheid te kies en jou eie volksraad te verkies.

Genoeg vryheid (en vrede) in ons longe om te veg tot die dood toe; te min vryheid (en vrede) in ons koppe om te leef en te laat leef.

In die TV-reeks Fees van die ongenooides, wat deur PG du Plessis geskryf is, hardloop ’n kind tussen die grafte van Engelse en Boere deur en kom tot die gevolgtrekking: “Hulle is almal ewe dood.” Sy ouma antwoord droogweg:

“Ja, hulle het almal vir vrede gesterf.”

Almal romantiseer (selektief) die verlede

Die krapperigheid van die verlede: Kruger se standbeeld op Kerkplein in Pretoria is in 2016 met doringdraad omring om dit teen vandale te beskerm. Foto: Argief

Ek ry onlangs verby die Paardekraal-monument en speel in my kop met Loots se Kruger wat met sy pienk mus met Fischer debatteer. Ek skrik en kan my oë nie glo nie: agter geëlektrifiseerde drade is ’n groep mense besig om te werk; hulle kap bome uit, saag stompe op en doen algemene opruimingswerk. Nie een van die arbeiders kwalifiseer om kandidate te wees of te stem vir vryheid wat die Volksraad Verkiesingskommissie propageer nie. Dis weer die eeu oue dilemma van Suid-Afrika; harde hande is nodig om die werk te doen wat onwillige hande nie wil doen nie – daardie hande mag egter nie op stembriewe kruisies trek nie.

En so word die Paardekraal-monument versmoor.

Paul Kruger: “So seker as die son skyn, so seker sal Afrika vry wees”. Foto: Argief

Almal romantiseer (baie selektief) die verlede; die een onthou die moedige stryd teen die Britte en die gloriedae van minderheidsregering; die ander verheerlik weer die stryd teen minderheidsregering en oorwinning oor outokrasie. En so is dit gemakliker om afsonderlik in die verlede te leef sonder om saam antwoorde vir die hedendaagse vraagstukke te soek.

Slagoffers van onreg vergeet nooit – trouens hulle onthou al hoe beter. Dit is waarskynlik die rede hoekom daar reeds 2 500 boeke en 100 meestersgrade en doktorsgrade oor die Boere-oorlog geskryf is.

In die woorde van William Beinart is geskiedenis “ . . . about political trends and social changes” en word dit dan volgens Johann Tempelhoff “ ’n roetekaart na die toekoms.”

Wanneer ek die storie van Danie Theron aan ons landgenote vertel, luister hulle met die grootste bewondering. Ek vra die “ander” graag uit oor “hulle” geskiedenis. Sello Hatang van die Nelson Mandela-stigting het my eendag geantwoord: “Dit is die geskiedenis van baie mense waaroor daar nog nie boeke geskryf is nie.”

Monumente is geleenthede om onsself uit te stal, met al die gepaardgaande krapperigheid. Dit gee erkenning aan ons kontrasterende verlede en maak die deure oop vir die pad vorentoe.

Daar is ’n ou Afrikaspreekwoord: As jy vinnig wil beweeg stap jy alleen; as jy ver wil beweeg, stap jy saam met ander. Daar is nog ’n lang pad om te stap.

Ons leer nog om saam te stap; soms in mekaar se skoene. Oom Paul (met of sonder François Loots se pienk mus) en Kgosi Mogale gaan saam. So ook Danie Theron en Japie Maponya. Bram Fischer sal ook daar wees.

* Leon Wessels is ’n voormalige parlementslid vir Krugersdorp.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.