Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Moord gaan VSA en Arabiere nie uitmekaar dryf

Amerika kan dit nie bekostig om te streng teen Saoedi-Arabië op te tree nie, skryf Jeffrey Fields.

Betogers voor die Withuis in Washington D.C. het twee jaar gelede hul gevoelens oor Mohammed bin Salman van Saoedi-Arabië duidelik gemaak. Foto: Getty Images

Die Saoedi-kroonprins Mohammed bin Salman het “’n operasie goedgekeur om die Saoedi-joernalis Jamal Khashoggi gevange te neem of dood te maak”. Só word daar in ’n verdoemende nuwe verslag deur die Biden-administrasie beweer.

En tog sê pres. Joe Biden Amerika sal nie sanksies teen die Saoedi-regering instel nie omdat enige regstreekse strafmaatreëls teen dié land sy samewerking in die stryd teen Iran en teen optrede teen terrorisme, in die gedrang kan bring.

Die Khashoggi-kwessie werp lig op iets ongewoons in Amerikaanse buitelandse beleid: Selektiewe moraliteit in die omgang met onderdrukkende regimes.

Soos sy voorgangers worstel Biden met die werklikheid dat Amerika Saoedi-Arabië nodig het om sekere Amerikaanse doelwitte in die Midde-Ooste te bereik.

Dít wyk af van sy vroeëre standpunt. Hy het Saoedi-Arabië in sy verkiesingsveldtog gekritiseer en gesê sy administrasie sal van dié verdrukkende koninkryk, wat al lank ’n Amerikaanse bondgenoot is, ’n globale uitgeworpene (paria) maak.

Die Khashoggi-kwessie werp lig op iets ongewoons in Amerikaanse buitelandse beleid wat ek opgemerk het tydens die baie jare wat ek vir die departemente van buitelandse sake en van verdediging gewerk het: Selektiewe moraliteit in die omgang met onderdrukkende regimes.

Geliefde diktators

Die beste van vriende? Kroonprins Mohammed bin Salman van Saoedi-Arabië en pres. Donald Trump met hul ontmoeting in die Withuis in 2017. Foto: Getty Images

Die Trump-administrasie was huiwerig om Saoedi-Arabië te konfronteer oor die moord op Khashoggi, ’n rubriekskrywer vir die Washington Post wat in Virginia gewoon het. Buiten om die visums terug te trek van sekere van die Saoedi-amptenare wat onder verdenking was, het Trump niks gedoen om die koninkryk te straf vir Khashoggi se marteling, ontvoering en moord (sy liggaam is in stukke gekap) nie.

Trump en ander Withuis-amptenare het kritici daaraan herinner dat Saoedi-Arabië miljarde dollars se wapens by Amerika koop en ’n belangrike bondgenoot is in Amerika se veldtog teen Iran.

Die vermoorde joernalis Jamal Khashoggi. Foto: Twitter

Biden het ’n effens strenger benadering gevolg deur die bekendmaking goed te keur van ’n intelligensieverslag waarin Bin Salman vir die moord op Khashoggi verantwoordelik gehou word en kritiek teen 76 Saoedi-amptenare uitgespreek word.

Saoedi-Arabië is nie die enigste land wat ’n vrypas van Amerika gekry het vir hul wandade nie. Amerika het al dekades lank noue bande met van die wêreld se ergste skenders van menseregte. Sedert Amerika uit die Koue-oorlog getree het as die wêreld se sterkste militêre en ekonomiese moondheid, het agtereenvolgende Amerikaanse presidente besluit om weens geldelike en geopolitieke voordele hulle blind te hou vir bedenklike dade van brutale regimes.

Voor die Islamitiese revolusie in 1979 was Iran ’n noue bondgenoot van Amerika. Sjah Reza Pahlavi was ’n meedoënlose heerser wat sy geheime polisie gebruik het om politiek afvalliges te martel en vermoor.

Maar die sjah was ook ’n sekulêre, anti-kommunistiese leier in ’n Moslem-oorheersde streek. Pres. Richard Nixon het gehoop Iran sal die “Westerse polisieman in die Persiese Golf” wees.

Saddam ook welkom

Kroonprins Mohammed bin Salman van Saoedi-Arabië. Foto: AP

Nadat die sjah se bewind omvergewerp is, het die Reagan-administrasie in die 1980’s vriendskaplike betrekkinge met die Irakse diktator Saddam Hoesein. Amerika het hom met intelligensie gehelp tydens Irak se oorlog teen Iran en anderpad gekyk toe hy chemiese wapens gebruik het.

En voor Sirië se bloedige burgeroorlog – waarin na raming 400 000 mense al omgekom het en die regering chemiese wapens gebruik het – het sy outoritêre regime taamlik vriendelike betrekkinge met Amerika geniet.

Sirië is al sedert 1970 op die Amerikaanse departement van buitelandse sake se lys van lande wat terrorisme steun en befonds. Maar presidente Nixon, Jimmy Carter, George H.W. Bush en Bill Clinton het almal besoeke gebring aan pres. Bashar al-Assad se pa, wat van 1971 tot met sy dood in 2000 regeer het.

Waarom Saoedi-Arabië saakmaak

Kroonprings Mohammed bin Salman van Saoedi-Arabië in gesprek met pres. Barack Obama van die VSA in die Withuis in Washington D.C. Foto: Getty Images

Voor die beweerde sluipmoord op Khashoggi deur Saoedi-agente, was die 35-jarige kroonprins besig om aan sy reputasie as matige hervormer te werk.

Hy het nuuswaardige veranderinge in die konserwatiewe Arabiese koninkryk teweeg gebring, soos om vroue toe te laat om te bestuur, korrupsie in die bek te ruk en sekere magte van die godsdienstige polisie in te kort.

Maar Saoedi-Arabië is steeds een van die wêreld se meer outoritêre regimes. Hoewel vroue nou ’n paspoort kan kry sonder die toestemming van ’n manlike voog, het hulle steeds ’n voog se toestemming nodig om te trou, ’n tronk te verlaat of sekere mediese prosedures te ondergaan. En hulle moet die toestemming van ’n manlike voog hê om by ’n tersiêre inrigting in te skryf of vir ’n werk te soek.

Luidens ’n verslag van die demokrasiewaghond Freedom House vaar Saoedi-Arabië net-net beter as Noord-Korea wat politieke regte, burgerregte en ander vryhede betref. Iran en China het ’n beter rekord as Saoedi-Arabië.

Die Saoedi-regering neem ook steeds gereeld mense in hegtenis sonder geregtelike oorsig, aldus Human Rights Watch. Daarby kan burgers vir misdade waarby geen geweld betrokke was nie, tereggestel word – dikwels in die openbaar. Tussen Januarie en middel-November 2019 is 81 mense weens dwelmverwante misdade om die lewe gebring.

Luidens ’n verslag van die demokrasiewaghond Freedom House vaar Saoedi-Arabië net-net beter as Noord-Korea wat politieke regte, burgerregte en ander vryhede betref. Iran en China het ’n beter rekord as Saoedi-Arabië.

Maar die land se rykdom, strategiese ligging in die Midde-Ooste en petroleum-uitvoer, sorg daarvoor dat die Saoedies steeds ’n belangrike Amerikaanse bondgenoot is.

Pres. Barack Obama het meer besoeke aan Saoedi-Arabië gebring as enige ander Amerikaanse president – vier keer in agt jaar – om samesprekings te voer oor alles van Iran tot olieproduksie.

Amerikaanse realpolitik

Pres. Joe Biden Foto: AP

Dié soort buitelandse beleid – een wat gegrond is op praktiese oorwegings en eiebelang eerder as morele of ideologiese oorwegings – staan bekend as “realpolitik”.

Henry Kissinger, minister van buitelandse sake onder Nixon, was ’n meester van realpolitik wat daartoe gelei het dat Amerika sy verhouding met China genormaliseer het.

Diplomatieke betrekkinge tussen dié lande het in 1949 tot ’n einde gekom toe kommunistiese revolusionêre in China aan die bewind gekom het.

China was toe, soos nou, geweldig verdrukkend. Slegs 16 lande – insluitend Saoedi-Arabië – is minder verdukkend as dié land, aldus Freedom House. Iran, ’n land wat Amerika in toom probeer hou met die hulp van Saoedi-Arabië, is hoër op die lys as China.

Amerikaanse realpolitik is ook van toepassing op Latyns-Amerika.

Maar China is ook die land met die grootste bevolking ter wêreld en is daarby ’n kern-moondheid. Nixon, wat heftig teen kommunisme gekant was, het probeer om die groeiende verwydering tussen China en die Sowjet-Unie uit te buit.

Washington handhaaf vandag steeds die belangrike, en soms stormagtige, bande wat Kissinger met Beijing gesmee het ondanks daardie regime se voortgesette vervolging van Moslem-minderheidsgroepe.

Amerikaanse realpolitik is ook van toepassing op Latyns-Amerika. Ná die Kubaanse revolusie van 1959 het Amerika gereeld Sentraal- en Suid-Amerikaanse militêre diktators gesteun wat burgers gemartel en vermoor het om die Amerikas teen kommunisme te “beskerm”.

Amerika nie so onskuldig nie

Amerikaanse presidente is geneig om hul verhoudings met verdrukkende regimes te onderspeel en eerder hoog op te gee oor edele “Amerikaanse waardes”.

Dít is die taal wat Obama in 2018 gebruik het om Trump se flikflooiery met die outoritêre Russiese president Wladimir Poetin te kritiseer. Hy het verwys na Amerika se “verbintenis tot sekere waardes en beginsels soos die oppergesag van die reg en menseregte en demokrasie”.

Trump se verdediging van sy verhouding met Rusland het ’n skeut realpolitik bevat.

“Dink jy ons land is so onskuldig?” het hy op Fox News gevra.

Amerika het al vir dekades noue bande met talle regimes het wie se waardes en beleide bots met sy grondwetlike regte.

Waarna hy verwys het, is dat Amerika noue bande met talle regimes het wie se waardes en beleide bots met Amerika se grondwetlike regte soos demokrasie en vryheid van spraak.

Dit gaan al vir dekades aan.

Saoedi-Arabië se kroonprins het ’n afvallige joernalis laat doodmaak. Maar Amerikaanse realpolitik verklaar waarom die noue bande tussen Amerika en Saoedi-Arabië desondanks sal voortgaan.

• Fields is medeprofessor in die bedryf van internasionale betrekkinge aan die USC Dornsife College of Letters, Arts and Sciences. Hierdie artikel het oorspronklik op The Conversation verskyn.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.