Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
MTBR: Die soustrein stop hier

Is daar ’n nuwe paradigma in die regerende party, gelei deur pres. Cyril Ramaphosa? Theuns Eloff is optimisties oor die politieke implikasies van die mediumtermynbegrotingsraamwerk.

Die minister van finansies, Tito Mboweni, tydens sy mediumtermynbegrotingsraamwerk-toespraak in die parlement. Diegene wat Mboweni se MTBR as teleurstellend en selfs niksseggend beskou, moet dalk verby die treurige stand van die ekonomie kyk, en die onderliggende politieke boodskappe raaklees.Foto: Jaco Marais

Baie is in die afgelope paar dae geskryf oor die minister van finansies, Tito Mboweni, se mediumtermynbegrotingsraamwerk (MTBR) – veral oor die ekonomiese betekenis daarvan en die ekonomiese gebreke wat daarin uitgewys is.

’n Mens moet erken dat dit nie ’n maklike taak is om ekonome, analiste en sakemense wat ongeduldig is en baie hoë verwagtinge het, tevrede te stel nie. ’n Refrein wat telkens gehoor is, is dat daar te min detail in die MTBR was.

Ander het hom enersyds erkenning gegee vir sy eerlikheid, maar hom andersyds geblameer vir die afgelope tien jaar se gemors en dat hy (nog) nie meer gedoen het nie. Die wekroep vir meer detail is op sigself ’n simptoom van die min vertroue wat die ekonome en analiste in die regering se ekonomiese beleid en optrede het.

Maar in alle billikheid moet daarop gewys word dat die doel van die MTBR nie is om die Februarie-begroting vooruit te loop of gedetailleerde planne bekend te maak nie. Dit is daar om, soos Mboweni self verklaar het, debat oop te maak voordat die werklike begroting gefinaliseer word. Mboweni het (en dit erken selfs sy felste kritici) nie doekies omgedraai oor die haglike toestand van die ekonomie nie.

Wat was die politieke boodskappe van minister Mboweni?

Toe die tesourie ’n ruk gelede sy besprekingsdokument “Economic transformation, inclusive growth, and competitiveness: Towards an Economic Strategy for South Africa” uitgereik het, was daar betreklik algemene instemming van ekonome en analiste. Maar, het sommige van hulle gesê, dit sal nooit in die ANC en deur die alliansievennote aanvaar word nie.

Nou lyk dit egter asof die grootste dele wel aanvaar is, dat ’n tweede weergawe vir verdere kommentaar gepubliseer word en dat sekere sentimente daarvan selfs in die MTBR opgeneem is.

Die begrotingsraamwerk het egter nie net ekonomiese betekenis nie, maar ook (en vir hierdie artikel, veral) politieke betekenis. Wat was die politieke boodskappe van minister Mboweni? Kan daaruit afgelei word dat, soos bronne binne in die ANC beweer, daar besig is om ’n nuwe paradigma in die regerende party te ontstaan, gelei deur pres. Cyril Ramaphosa?

Theuns EloffFoto: Edrea du Toit

‘Ons moet dinge anders doen’

Dit is uit ’n hele paar sinsnedes duidelik dat Mboweni in die eerste plek met lede van sy eie party (in die parlement en daarbuite) en die ander lede van die drie-party alliansie (Cosatu en die SAKP) praat. Maar hy praat ook só omdat hy wil hê dat ander politieke partye, die sakewêreld en die gewone burgers kan hoor wat hy vir sy “eie mense” sê. Dit is ’n indirekte, maar belangrike boodskap.

Hoop is ’n goeie ding, maar dit is nie ’n strategie nie.

Hier is ’n paar politieke boodskappe van Mboweni, geklee in ekonomiese terme:

*Ons uitgawes hou aan om meer te wees as ons inkomste. Ons nasionale skuld vermeerder teen ’n nie-volhoubare pas.

*Dit is ons werk om ’n koers uit te stippel wat strategies, sober, versigtig en inklusief is.

*Dit is duidelik dat ons dinge anders moet doen. Ons het nie die opsie om die status quo te onderhou nie!

*Ons publiseer vandag die tweede konsep van die tesourie se besprekingsdokument. Dit is nie dogma nie, maar ’n gids tot aksie. Waar gepas, sal ons wetgewing (op grond daarvan) oorweeg.

*Stabilisering van die ekonomie (en die land) sluit moeilike besluite in en dit impliseer opofferings deur almal van ons. Die groei in ons salarisrekening sal minder moet wees en bykomende inkomste is nodig.

*Die gevolge om nou niks te doen nie, sal ernstig vir Suid-Afrika wees. ’n Skuld-slagyster en opgeblase staatskuld sal werkloosheid laat toeneem.

*Hoop is ’n goeie ding, maar dit is nie ’n strategie nie. Ons kan nie langer wag nie. As ons ’n suksesvolle oes wil hê, moet ons vandag optree.

Kamerade, die tyd is verby dat staatsondernemings massiewe werkskeppingsburo’s vir middelmatige en onbevoegde mense is, was die kruks van Mboweni se boodskap verlede week. Foto: Jaco Marais

SAL en Eskom

Die onderliggende politieke boodskap is dus: Kamerade, ons is in groot moeilikheid en ons (die uitvoerende arm van die staat) sal anders as in die verlede moet optree en dringend moeilike besluite moet neem. Maak julle gereed daarvoor – ons het geen ander keuse nie.

Wat betref die grootste remskoen aan die land se finansies, die staatsondernemings, is die politieke boodskap nog sterker:

*Ons moet staatsondernemings van die nasionale begroting speen. Hulle moet leer om op hulle eie bene te staan.

*Eskom is ’n besigheid en moet só bestuur word. Slegs wanneer ek as minister van finansies oortuig is dat Eskom se direksie en bestuur ’n onherroeplike verbintenis gemaak het om die regering se besluite toe te pas, sal ons die gepaste skuldverligting onderhandel.

*Dit is onwaarskynlik dat SAL ooit genoeg kontantvloei sal genereer om in sy huidige vorm sy bedrywe in stand te hou. Ek is bly om te hoor daar is gesprekke tussen SAL en potensiële beleggers, wat die fiskus van hierdie swaard van Damokles sal bevry.

*Wat ander staatsondernemings betref, mag bestuurspanne nie bonusse of salarisverhogings ontvang as hulle nie finansiële teikens en diensdoelwitte bereik nie. Trouens, hulle salarisse moet gesny word of hulle moet ontslaan word as hulle nie slaag nie. Staatsondernemings met uitgediende besigheidsmodelle is ’n finansiële risiko en moet gesluit word.

*Wat e-tol betref, moet ons ’n kultuur van betaling kweek, omdat regeringsdienste net volhoubaar is as almal wat dit kan bekostig, daarvoor betaal.

Pres. Cyril Ramaphosa tydens verlede week se MTBR in die parlement. Dit is hoogs waarskynlik dat pres. Ramaphosa presies geweet het wat in die MTBR gesê gaan word, en daarmee saamgestem het. Foto: Jaco Marais

Kultuur van harde werk

Hier is die sterker politieke boodskap: Kamerade, die tyd is verby dat staatsondernemings massiewe werkskeppingsburo’s vir middelmatige en onbevoegde mense is. Hulle moet soos (kommersiële) besighede bestuur word, en as dit nie slaag nie, moet hulle toegemaak word.

En die kultuur van toeëiening wat oor die afgelope jare posgevat het, moet verander word in ’n kultuur van harde werk en betaling.

En hulle amptenare mag nie vir gebrek aan prestasie met bonusse of salarisverhogings beloon word nie. As hulle nie die werk kan doen nie, moet hulle ontslaan word. En die kultuur van toeëiening wat oor die afgelope jare posgevat het, moet verander word in ’n kultuur van harde werk en betaling.

En om hierdie onderliggende politieke boodskap verder tuis te bring, het Mboweni sommer aangekondig dat kabinetslede, premiers en provinsiale ministers se salarisse vir die afsienbare toekoms bevries gaan word. Geen ampsmotors van meer as R800 000 sal toegelaat word nie; en binnelandse vlugte sal net in ekonomiese klas mag wees.

Alhoewel Mboweni nie direkte beheer het oor parlementslede se salarisse nie, het hy hulle “aangemoedig” om te kyk hoedat hulle hul salarisse en voordele kan beperk (dit nadat hulle ’n tyd gelede geweier het om kleiner of geen verhogings te aanvaar).

Dieselfde boodskap is aan staatsondernemings, ander openbare instellings (soos universiteite) en die privaat sektor gerig. Terloops, Mboweni weet natuurlik dat hierdie besparings nie ’n groot duik aan die begrotingstekort sal maak nie, maar hy gebruik dit om simbolies die politieke boodskap tuis te bring: Die soustrein loop nie meer nie.

En alhoewel hy die skokkende syfer bekend maak dat 29 000 staatsamptenare meer as R1 000 000 per jaar verdien (ná aanpassings vir inflasie 50% meer as in 2006/7), is dit nie sy verantwoordelikheid om met die vakbonde oor salarisse te onderhandel nie. Hy kan bloot sê dat die regering uitsien na “robuuste besprekings“ met alle belanghebbers om ’n “volhoubare ooreenkoms” te bereik. En hierin lê natuurlik die kruks van besparing op die staatsdiens se salarisuitgawes. Sal die Ramaphosa-regering bereid wees om langdurige stakings te verduur om ’n kleiner-as-inflasie salarisverhoging te bewerkstellig?

Goeie nuus vir die land

Die laaste politieke boodskap het met die verdere uitroei van staatskaping en die insameling van belasting te doen. Die NVG kry R1,3 miljard meer, en die Suid-Afrikaanse Inkomstediens R1 miljard meer oor twee jaar. Daarby het die kabinet vroeër dié maand besluit om ’n beduidende 14 000 hektaar grond vir behuising beskikbaar te stel. Dus: kamerade, ons gaan nie meer korrupsie en belastingontduiking duld nie, en ons gaan terselfdertyd aan die dringendste behuisingsbehoeftes aandag gee.

Diegene wat Mboweni se MTBR as teleurstellend en selfs niksseggend beskou, moet dalk verby die treurige stand van die ekonomie kyk, en die onderliggende politieke boodskappe raaklees. Dit is hoogs waarskynlik dat pres. Ramaphosa presies geweet het wat in die MTBR gesê gaan word, en daarmee saamgestem het.

Trouens, dit is waarskynlik dat hy Mboweni aangespoor het om hierdie politieke boodskappe hard en duidelik deur te gee. Die feit dat die vakbonde reeds (en die SAKP waarskynlik later, hoewel versigtiger) hierdie politieke boodskappe teenstaan, is ’n bewys dat daar wel ’n nuwe rigting in die regerende party se denke is.

Dit mag die bewys wees dat die sentrum in die ANC besig is om onder pres. Ramaphosa se leiding te konsolideer.

En dit is goeie nuus vir die hele land en al sy mense.

Al het Moody's Suid-Afrika se uitkyk van stabiel na negatief verander, het hulle ons nie tot rommelstatus afgegradeer nie. Miskien heg hulle ook waarde aan die politieke boodskappe van Mboweni. 

*Theuns Eloff is voorsitter van die Adviesraad van die FW de Klerk-stigting. Die mening van rubriekskrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Tito Mboweni  |  Cyril Ramaphosa  |  Theuns Eloff  |  Mtbr
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.