Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Musiek om voor te sterf

As Fidel Castro so wonderlik was, waarom was sommige musikante bereid om te sterf eerder as om in sy idee van ’n utopie te bly, wonder Chris du Plessis.

’n Tradisionele trova-musikant maak musiek op straat.

Fidel Castro is dood, maar dit beteken nie dat Kubaanse musiek hom sal oorleef nie.

Dit het ek ’n paar jaar gelede tot my misnoeë agtergekom op ’n reis na die hartland van die rumba, die mambo en die cha-cha-chá – op soek na die Afrika-verbintenis met Kubaanse musiek.

Die bedelaar met waterige oë en ’n gekraakte güiro (’n kalbasvormige slaginstrument) in die aankomssaal van Havana se lughawe moes ’n voorteken gewees het.

Want afgesien van groepies musikante met ’n moeë tradisionele speellys in ’n paar toerismeplekkies in Trinidad in Sentraal-Kuba, het ons op ons reis nie veel oorspronklike Kubaanse ­musiek teëgekom nie.

Die ganse eiland het trouens gevoel asof dit in ’n atmosfeer van wanhopigheid en paranoia gedompel was. Die meeste Kubane wat ons ontmoet het, wou oor niks meer gewigtig as die weer met jou gesels nie – uit vrees vir Castro se Comités de Defensa de la Revolución (CDR), wat sedert die laat 1960’s op teenrevolusionêre spioeneer.

Porno para Ricardo, ’n Kubaanse punk-metal-groep wat deel was van die Los Friques-beweging.

Ons hoop om na die platteland te ontsnap vir ’n meer outentieke Kubaanse ervaring was ewe vrugteloos. Die snelweg suid van Havana was surrealisties sonder padtekens en jy ry maklik tien of 15 minute sonder om ’n enkele voertuig te sien omdat petrol nie meer bekostigbaar was nie.

Ontstellende gedagtes het begin opduik. Kan dit wees dat die stukkende güiro in die lughawe ’n gepaste simbool is vir dít wat oorgebly het van die goue era van Kubaanse komposisie?

En as dit die geval is, wat het dan gelei tot die ondergang van Kubaanse musiek?

Die antwoord is eenvoudig:
Fidel Castro.

Ons weet die laaste keer dat Kubaanse musiek werklik floreer het, was aan die begin van die vorige eeu toe die Mafia in Havana nes geskop het en al die opwindende nuwe jazzklanke, soos
bebop uit die VSA, vrylik vermeng is met die witwarm Latyns-Amerikaanse musiekstyle in die nagklubs van Havana.

Saam met ­terugkerende soldate uit ­Angola het die MIV/vigs-pandemie ook ­Kuba bereik.

Daardie losbandigheid is egter alles in die kiem gesmoor toe Castro in 1959 die bewind oor­geneem het.

En teen die 1980’s het Castro se pogings om ’n maatskaplike utopie te skep, skouspelagtig begin misluk nadat Rusland se hulppakkette van tot $6 miljard per jaar in die post-perestroika-tyd begin opdroog het.

Terwyl die fabrieksrook van laegraadse olie Havana omvou, het produktiwiteit gedaal, korrupsie toegeneem en wanbestuur in gesondheidsorg, onderwys en maatskaplike dienste so toegeneem dat Castro uiteindelik gedwing is om Kubane toe te laat om die eiland te verlaat. Terwyl blaam links en regs uitgedeel is, is prostitute gedwing om vir rehabilitasie te gaan en homoseksuele in strafkampe gestop.

Saam met terugkerende soldate uit Angola het die MIV/vigs-pandemie ook Kuba bereik. In ’n poging om die vlekkelose prestasies van die Kubaanse gesondheidstelsel te beskerm, het Castro dokters na die huise gestuur van enigiemand wat verdink word dat hulle die virus onder lede het en mense wat positief getoets het summier na een van 14 staatsanatoriums verban.

Kubaanse punks.

Dis in hierdie tyd dat die rebel en nonkonformistiese Papo la ­Bala (Papo “the Bullet”) sy verskyning maak. Gespeen op ’n dieet van Led Zeppelin en ander Westerse rockgroepe wat hulle oor Amerikaanse kortgolfradio ontdek het, het La Bala en sy medenonkonformiste begin om Castro se CDR’e openlik uit te daag met opruiende gedrag – soos om kopdoeke gemaak uit Amerikaanse vlae in die openbaar te dra.

Uit protes teen die haglike armoedige lewensomstandighede, Castro se kwalik bedekte maatskaplike fascisme en in solidariteit met die vervolging van gays en diegene wat as gevolg van hul MIV-status uit die samelewing verban is, het La Bala uiteindelik die ondenkbare gedoen: Hy het homself met die MI-virus ingespuit met die verklaring: “Die dood is ’n deur – as jy nie enige ander deure het om oop te
maak nie.”

Amptelik ’n uitgeworpene en die nieamptelike leier van ’n sektariese subkultuur bekend as Los Friques (die freaks, wat hulle “Frikis” spel) is hy in die Pinar del Río-sanatorium opgesluit. Aanvanklik was die sanatoriums deur die weermag soos tronke bestuur, maar in die laat 1980’s het dit die verantwoordelikheid van die ministerie van gesondheid geword. Onder die nuwe beheer word die inrigtings, dikwels geleë in rustige, skilderagtige omgewings, plekke van uitstekende mediese sorg met goedgesinde dokters wat omgee, skoon lakens, lugversorging, televisie en gesonde kos – ’n kommoditeit ondenkbaar vir die gemiddelde burger in Havana.

Dié vyfsterbehandeling word uiteindelik die rede waarom baie jong Kubane, in navolging van La Bala, ook begin om hulself met die MI-virus in te spuit. So word sanatoriums, soos Los Cocos aan die buitewyke van Havana, die teelaarde vir ’n antikommunis­tiese teenrevolusie onder leiding van agitprop-musikante soos die sogenaamde grootmoeder van Kubaanse rock, María Gattorno.

Onder haar dak, by die staatsbeheerde kultuursentrum oorkant die Plaza de la Revolución, versamel ’n konglomeraat van aspirant-heavy metal- en -punk rock-ensembles om hul woede en frustrasie met die Castro-regime te verwoord.

En later, in die sanatoria, het baie friques en groeplede van rockbands soos Eskoria (van die slagspreuk “Vaya la escoria!” – “gaan na die skuim” – die beledigende slagspreuk waarmee die regering Kubane wat na die VSA wou vlug, uitgekryt het) in “The Bullet” se voetspore gevolg deur ook hulself met MIV in te spuit.

“As jy regtig ’n rocker in Kuba wil wees,” verklaar een rocker in ’n onderhoud uit dié tyd, “moet jy vigs hê.”

Die Latyns-Amerikaanse joernalis Luis Trelles, wat ’n radio-dokumentêr oor die beweging gemaak het, beskryf die lewe in die sanatoriums in daardie jare as ’n “head-bangers ball” en vertel hoe elektriese kitare van Oos-Berlyn af ingesmokkel is en telefoondrade moes deug as snare.

“Ons het onsself vigs gegee,” vertel die frique Luis Enrique Delgado, “om ons te bevry van die samelewing en wette oor ­verpligte werk en die lewe in ­
die regte wêreld.”

Ongelukkig nie vir lank nie – in hulle wêreld of die regte een.

Volgens hospitaalverslae was ’n seun net bekend as Manuel die eerste om te sterf. In die twee jaar ná sy dood het nog 18 mense in Los Cocos aan vigs gesterf. Terwyl al hoe meer pasiënte begin siek word het, het die ander paniekerig begin raak, veral omdat talle van die jong mense wat hulself met MIV ingespuit het,
naïef gedink het dat ’n kuur gou gevind sou word.

Maar daar was geen kuur nie. Uiteindelik het sowat 100 pasiënte gesterf as gevolg van die kortstondige tendens (party skattings is egter so hoog soos 200).

In die 1995- dokumentêre fliek deur die Sweedse regisseur Bengt Norborg getiteld Sosialisme of dood (na ’n slagspreuk van Castro om die revolusionêre gees te laat herleef), vertel ’n Kubaanse predikant wat Los ­Friques-lede ontmoet het hoe hulle Castro van die selfopgelegde epidemie in kennis gestel het.

Die diktator se reaksie was om spuitnaalde te verbied en mense wat hulself met MIV inspuit, agt jaar tronk toe te stuur.

Teen die jaar 2000 het net vyf van die 60 oorspronklike friques wat na die Pinar del Río-sanato­rium gestuur is, nog geleef.

“Die hele ding was ’n poging om Fidel en (sy broer) Raúl te probeer belaglik maak,” vertel een van die groep se leiers, Gorki Águila, aan Trelles in sy radio-dokumentêr. Al was dinge nie ­altyd baie snaaks vir hom ­persoonlik nie.

In 2008 is hy gearresteer as “maatskaplike gevaar” onder ’n wet wat dit vir die owerhede moontlik gemaak het om mense wat hulle ag “geneig is om ’n misdaad te pleeg” aan te hou en vier jaar tronk toe te stuur.

Hy is eers vrygelaat ná protes deur internasionale menseregtegroepe.

Sowel Águila as Lia Villares, ’n lid van sy groep, is in Maart gearresteer nadat hulle van ’n konsert in Miami ­teruggekeer het.

’n Kunstenaarsvriend, Danilo Maldonado, het hom tot Facebook gewend: “As iemand weet waar Lia Villares is, laat ons weet,” het hy versoek en afgesluit met: “My broers, as ons dít oorleef, laat ons ontslae raak van hierdie honde.”

Lia is vrygelaat, maar die ­honde huil steeds vir haar bloed.

Meer oor:  Fidel Castro  |  Kuba  |  Musiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.