Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
'My beste vriend, my pa ... my verkragter'

Seksuele voorbereiding is een van die oudste truuks in die boek. In die lig van die klagtes teen Willem Breytenbach, hoe gebeur dit dat vermeende sekspeste vir jare hiermee wegkom? Willemien Brümmer doen verslag.

Die voormalige mediabaas en sakeman Willem Breytenbach kom verlede week in boeie by die Kaapstad-Sentraal polisiekantoor aan. Hy het later in die landdroshof in Kaapstad verskyn. Foto: Adrian de Kock

Die ergste is gewoonlik die skuldgevoelens.

Dat jy eintlik moes nee gesê het.

Maar dit was jou eerste keer by ’n restaurant met kristal en gestyfde wit linne en die geskenke en komplimente het jou laat voel iemand sien jou vir die eerste keer raak. Hy was soos die pa wat jy nooit gehad het nie.

Maar toe word die geskenke ’n bietjie té intiem en op ’n dag het die slagoffer ’n geheim soos ’n skandvlek wat hom of haar sal merk tot in lengte van dae.

Die wolf wat vir Rooikappie sag maak deur voor te gee hy’s haar ouma is natuurlik ’n truuk so oud soos die berge.

Die woord hiervoor is “grooming” of seksuele voorbereiding en volgens kenners is dit baie meer algemeen as wat mense dink.

Die wolf wat vir Rooikappie sag maak deur voor te gee hy’s haar ouma is natuurlik ’n truuk so oud soos die berge. Dit het egter onlangs weer ’n gonswoord geword toe Deon Wiggett, ’n Johannesburgse kopieskrywer en stigter van die advertensiemaatskappy Fairly Famous, in ’n reeks podsendings die mediabaas Willem Breytenbach van verkragting beskuldig het.

Deon Wiggett, Johannesburgse kopieskrywer en stigter van die advertensiemaatskappy Fairly Famous, het in ’n reeks podsendings die mediabaas en sakeman Willem Breytenbach van verkragting beskuldig toe hy (Wiggett) net 17 jaar oud was. Foto: Yonatan Koevary

In 1997 het Breytenbach hom na bewering “in die mond verkrag”. Wiggett was 17 en ’n leerling by die Paul Roos Gimnasium in Stellenbosch waar hy Breytenbach as deel van Naspers se skoolkoerantprojek ontmoet het.

In daardie stadium was Breytenbach onderwysverslaggewer by Die Burger. Hy sou later nuusredakteur van dié koerant word en toe stelselmatig die korporatiewe leer bestyg by Media24.

'n Beeld het ontvou van ’n man wat geglo het hy is onaantasbaar en dat hy sy professionele mag, as ’n onderwyser en later as ’n mediabaas, kon gebruik om jong seuns en mans te vang in sy sekslokval.

Voor dit was hy onderwyser by onder meer Grey College in Bloemfontein en twee ander skole waar hy, aldus die podsendings, “gedoen het wat Willem Breytenbach doen”.

Benewens Wiggett maak drie ander mans sake aanhangig teen Breytenbach by die polisie, maar op die dag ná episode vier van die podsendings het 26 mans al na vore gekom met bewerings.

Adriaan Basson en Jenna Etheridge skryf op News24 dat Breytenbach vir veertig jaar lank hiermee weggekom het en dat ’n “beeld ontvou het van ’n man wat geglo het hy is onaantasbaar en dat hy sy professionele mag, as ’n onderwyser en later as ’n mediabaas, gebruik het om jong seuns en mans te vang in sy sekslokval”.

Bob Hewitt in die hof in Palmridge. Hy is later skuldig bevind op twee aanklagte van verkragting van sy minderjarige tennisleerlinge dekades gelede en nog een van die seksuele aanranding van ’n minderjarige. Foto: Mary-Ann Palmer
Die voormalige Bishops-juffrou Fiona Viotti het haar volgens dié skool se eie ondersoek tussen 2013 en 2019 skuldig gemaak aan seksuele wangedrag met minstens vyf leerlinge by die skool. Foto: Robyn Thompson/Pictagram

Breytenbach is natuurlik nie die enigste sogenaamde “seksuele roofdier” wat onlangs van seksuele voorbereiding beskuldig is nie. Dink maar aan Harvey Weinstein, eens een van die invloedrykste figure in Hollywood, of die gevalle tennisster Bob Hewitt wat skuldig bevind is aan die verkragting van minderjariges wat dekades gelede deur hom afgerig is.

Wat dit nog meer van ’n grys gebied maak, is dat die seksdade nie noodwendig onder dwang gebeur nie weens die slagoffer se gevoel van medepligtigheid en vrees.

Selfs die voormalige Bishops-juffrou Fiona Viotti, wat haar volgens dié skool se eie ondersoek tussen 2013 en 2019 skuldig gemaak het aan seksuele wangedrag met minstens vyf leerlinge, sou moontlik aangekla kon word van seksuele voorbereiding.

Dit word tans deur die wet as ’n misdaad op sigself beskryf – al eindig dit nie noodwendig in ’n seksdaad met ’n kind nie. Wat dit nog meer van ’n grys gebied maak, is dat die seksdade nie noodwendig onder dwang gebeur nie weens die slagoffer se gevoel van medepligtigheid en vrees.

Betogers betoog voor die landdroshof in Boksburg waar die gevalle tennisster Bob Hewitt verskyn het op aanklagte van die seksuele aanranding van meisies wat hy dekades vantevore afgerig het. Foto: Mary-Ann Palmer

’n Verslawing soos alkoholisme

Prof. Dap Louw, forensiese sielkundige, kriminoloog en buitengewone professor aan die Universiteit van die Vrystaat, vertel seksuele voorbereiding is die proses waardeur iemand probeer om ’n emosionele band met ’n potensiële slagoffer op te bou – met die uitsluitlike doel om hulle seksueel uit te buit. Hoewel die konsep relatief nuut is in Suid-Afrikaanse wetgewing en jy slegs daarvan aangekla kan word indien die slagoffer onder agtien is (of ’n verstandelike gestremdheid het), word dit wyd aanvaar dat volwassenes ook slagoffers kan wees.

“Die proses sluit gewoonlik die slagoffer se familie, vriende en die breë gemeenskap in,” verduidelik Louw. “Die oortreder is gewoonlik ’n bekende (byvoorbeeld ’n familielid, vriend van die familie of werkgewer) in ’n magsposisie (by byvoorbeeld ’n skool of universiteit of by die werk). Die slagoffers, meestal kinders, besef gewoonlik nie dat hulle by ’n proses van seksuele voorbereiding betrek word nie.”

Daar is veral twee soorte oortreders – wolwe wat met eentonige reëlmaat dieselfde holrug geryde “toertjie” doen.

Hulle moet hierdie opgeblase ego of selfbeeld handhaaf, want dit is al wat hy het. Dit raak ’n patroon, want in ’n sekere mate is dit soos ’n verslawing.
Prof. Dap Louw

Die eerste is die narsissistiese oortreder wat sy opgeblase selfbeeld in stand wil hou deur ander seksueel uit te buit. “Die swak selfbeeld kom egter dikwels tot uiting in die feit dat hul slagoffers meestal weerlose kinders is. Omdat hulle hulself en hul eie bevrediging op ’n hoër vlak plaas, glo hulle dat hul optrede geregverdig is,” verduidelik Louw.

Die tweede is die antisosiale oortreder wat jy veral kan uitken aan sy gebrekkige gewete. “Bevrediging van hul seksuele behoeftes staan op die voorgrond, ongeag die gevolge wat dit vir die slagoffer inhou. Die oortreder kan ook ’n mengsel hê van bogenoemde eienskappe,” sê Louw.

Die oortreder hou by sy netjies uitgewerkte modus operandi, byna soos ’n alkoholis. “Hulle moet hierdie opgeblase ego of selfbeeld handhaaf, want dit is al wat hy het. Dit raak ’n patroon, want in ’n sekere mate is dit soos ’n verslawing. Hy het dit nodig ten einde te kan funksioneer.”

Michael Jackson kom by die hof in Santa Barbara aan waar hy op aanklagte van kindermolestering verskyn het in 2005.Foto: Wikipedia

‘My beste vriend die sekspes’

Interessant genoeg klim sommige slagoffers soms eers meer as twintig jaar later “uit die kas”. Dink maar aan Wade Robson en James Safechuck wat in die dokumentêr Leaving Neverland beweer hulle is as kinders deur die superster Michael Jackson misbruik. Of Wiggett wat ná sy pa se dood in 2017 eers besluit het om die spoor van sy vermeende seksuele molesteerder te begin volg.

Louw knik. “Ek wil dit met homoseksualiteit vergelyk. Hoewel die norme baie verander het en baie gay mense uit die spreekwoordelike kas klim, is daar steeds meer mense wat dit nie doen nie. Die rede, net soos by die grooming van slagoffers, is die vrees vir verwerping en die skaamte. En vrees dat hulle nie geglo gaan word nie, speel ’n rol. Of dat dit die trauma sal verfris – veral as dit in die hof eindig waar slagoffers dit kan ervaar as uitbuiting en ’n openbaarmaking van hul intieme lewens.”

Maar gelukkig, meen Louw, is daar mense soos Wiggett wat klaarblyklik ná jare se innerlike stryd, terapie en emosionele groei sterk genoeg is om hul demone te tem.

Seksuele voorbereiding by volwassenes kry nie soveel aandag nie, omdat die mening – verkeerdelik – is dat volwassenes beter in staat is om dit te identifiseer en te vermy.
Prof. Dap Louw

Een van die redes vir die stigma en die stilte is dat seksuele voorbereiding gewoonlik net met kinders geassosieer word.

“Seksuele voorbereiding by volwassenes kry nie soveel aandag nie, omdat die mening – verkeerdelik – is dat volwassenes beter in staat is om dit te identifiseer en te vermy,” sê Louw. “Daarby is daar mos hierdie seksisties-chauvinistiese houding teenoor volwasse vroue en dat dit in sekere kringe selfs as ‘normaal’ beskou word om jag op vroue te maak.”

Die superster Michael Jackson saam met James Safechuck in Hawaii in 1988. Wade Robson en Safechuck beweer in die dokumentêr Leaving Neverland hulle is as kinders seksueel deur Jackson misbruik. Foto: Wikipedia

Wat uitpraat verder bemoeilik is dat slagoffers kan voel hulle het “iets gekry” by die sekspes. Dalk is hulle bevorder, hulle het duur geskenke gekry – of erger, die slagoffer het gedink haar verkragter is haar beste vriend.

Prof. Louw kies sy woorde versigtig. “My vrou Anet is ook ’n sielkundige en sy’t haar doktorsgraad gedoen oor die seksuele molestering van kinders. Haar bevinding was dat daar sekere van die meisies was vir wie dié seksuele verhouding ‘bevredigend’ was, want skielik is iemand lief vir hulle, skielik gee iemand om. My vrou het gewerk in kinderhuise en hierdie kinders kom uit die haglikste omstandighede en uit huise waar seksuele norme nie juis gegeld het nie en waar hulle nie goeie voorbeelde gekry het van reg en verkeerd nie.”

Hy was vir my ’n pa, ’n beste vriend en ’n minnaar.

Een so ’n meisie wat deur haar stiefpa gemolesteer is, het byvoorbeeld vir Anet gesê: “Hy was vir my ’n pa, ’n beste vriend en ’n minnaar.”

Nog een se woorde was: “Tannie, ek het daarvan gehou, want vir die eerste keer het ek gevoel iemand is lief vir my.”

Louw sug. “Indien dié vroue in ’n hof gaan staan, dan sal een van die vrae natuurlik wees: ‘Nou maar goed, wil jy vir my sê jy het nie enige voordeel uit die verhouding getrek nie?’ Ek sou onmiddellik kapsie maak teen só ’n vraag, maar dit is soos wat sommige mense dit sou sien. Ek het ongelooflik baie simpatie met die slagoffers en sekspeste kan dit baie maklik uitbuit.”

Prof. Dap Louw, forensiese sielkundige en kriminoloog. Foto: Conrad Bornman

Dié wat anderpad kyk

Die probleem is dat die samelewing dikwels ’n soort sosiale smeermiddel is vir hierdie siek seksuele verhoudings. Die feministiese Britse blogger Emmeline May skryf seksuele roofdiere maak nie net hul slagoffers sag nie. “Hulle groom hul vriende, hul familie, selfs mense wat saam met hulle werk – dit alles om mense om hulle te kry om hulle te ondersteun.”

Dis hoekom hulle so dikwels as “sjarmant en gaaf” deur hul binnekring en juigbrigade beskryf word.

Louw sê dié “onbetrokkenheid van die gemeenskap” is glad nie ongewoon nie. “In die sosiale sielkunde is daar selfs ’n term daarvoor wat in die sestigerjare geskep is toe ’n vrou vermoor is ten aanskoue van ’n klomp mense en niemand het ’n hand verroer om haar te help nie. My vertaling daarvan is omstander-apatie of omstander-effek. Dit is wanneer ’n omstander nie ’n persoon in nood help nie omdat die omstander van mening is dat iemand anders die persoon in nood sal bystaan.”

Seksuele voorbereiding is die proses waardeur iemand probeer om ’n emosionele band met ’n potensiële slagoffer op te bou – met die uitsluitlike doel om hulle seksueel uit te buit.Grafika: Morné Schaap

Dit beteken egter nie dié wat gerieflik anderpad gekyk het, is nie ook skuldig nie.

Louw se stem is beslis. “Ek voel baie sterk daaroor dat ’n mens moet verantwoordelikheid aanvaar. Die oomblik wanneer jy bewus is van so iets, moet jy die moontlikheid ondersoek. En indien jy dit nie doen nie en dit blyk waar te wees, is jy aanspreeklik.”

Jy het nie die bloed en die derms nodig om te sê iemand is verkrag nie, daar is soms baie genuanseerde situasies – veral wanneer daar ’n beduidende verskil in mag is...
adv. Bronwyn Pithey

Adv. Bronwyn Pithey vir die Women’s Legal Centre verduidelik die wet vereis van ons dat iets soos ’n werksomgewing (of die skoolomgewing) moet veilig wees. “Jy sou kon argumenteer dat vrae gevra moet word of daar ’n omgewing was wat iemand in staat gestel het om ’n misdaad te pleeg en of dit ingevolge die siviele reg veilig genoeg was. Die wet is baie duidelik daaroor as enige iemand ’n redelike vermoede het dat ’n kind misbruik word, moet dit aangemeld word.”

Sy meen ook ons het soms stereotipiese idees oor wat toestemming tot seks behels. “Jy het nie die bloed en die derms nodig om te sê iemand is verkrag nie, daar is soms baie genuanseerde situasies – veral wanneer daar ’n beduidende verskil in mag is en soms is leerlinge en studente byvoorbeeld nie in ’n posisie waar hulle noodwendig kan sê hulle wil nie aan ’n seksuele daad deelneem nie.”

Sy sê sy weet van slegs omtrent drie tot vier gevalle van seksuele voorbereiding wat tot in ’n hooggeregshof gevorder het omdat dit gewoonlik baie moeilik is om te bewys dat die oortreder se doelwit is om ’n minderjarige vir seks te misbruik. “Tog was daar al skuldigbevindings aan seksuele voorbereiding op sy eie wat nie noodwendig in verkragting geëindig het nie.”

‘Hoe lank het ek om te lewe?’

Die vraag is hoe herstel jy ná só iets – veral as jy dit dalk nog nooit eens met ’n lewensmaat gedeel het nie.

Prof. Louw meen daar is nie noodwendig ’n formule vir herstel nie. “Daar is ouens wat amper sal wegstap daarvan en sal sê ‘dit het gebeur, maar dis nou agter my’. Wat belangrik is, is of die slagoffer ’n ondersteuningsnetwerk het en of hulle terapie kry. Die prognose is dan gewoonlik baie beter en die duur van die trauma word dan gewoonlik verkort.”

Hy sug. “Maar dis verskriklik moeilik om te sê hoe lank dit gaan neem om te herstel. Dis amper soos wanneer iemand kanker het en jy vra hoe lank het jy om te lewe?”

Dit is hoe 'n sekspes sy prooi mak maak

Prof. Dap Louw, forensiese sielkundige en kriminoloog, vertel die volgende is die fases van seksuele voorbereiding – veral ten opsigte van kinders.

1. Die roofdier identifiseer sy slagoffer. Hy let veral op voorkoms en oënskynlike weerloosheid – byvoorbeeld ’n lae selfbeeld en ’n gebrek aan selfvertroue. Indien daar ’n gebrek aan toesig is (veral by kinders) – vergemaklik dit sy taak.

2. Die sekspes gaan uit sy pad om ’n goeie indruk op die slagoffer en dié se naasbestaandes en vriende te maak. Hy maak seker niemand vermoed onraad nie.

3. Die sekspes wen die slagoffer se vertroue met geskenkies, hy gee spesiale aandag aan die persoon en hemel hom of haar op en hy deel sy sogenaamde geheime. Die slagoffer begin glo daar is ’n spesiale band met die oortreder.

4. Die seksuele roofdier skep situasies waar hy alleen is met die slagoffer. Dit versterk die idee by die slagoffer dat daar ’n spesiale band is tussen hulle.

5. Eers begin vat die sekspes al hoe meer op ’n “onskuldige” manier aan die slagoffer. Dink maar aan drukkies, kielie en stoei. Volgende is iets soos kaal swem en om die kind byvoorbeeld met ’n handdoek af te droog. Heel laaste is die seksdade.

6. Die seksboelie hou sy beheer in stand deur veral geheimhouding en subtiele dreigemente te gebruik. (“Ek gaan jou ouers vertel jy het begin”). Hiermee verstewig hy sy houvas.

*Sekspeste of -boelies kan manlik of vroulik wees. Die woord “hy” is hier gebruik om die lees te vergemaklik.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.