Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
My Boet en ek

Die Baai se Boet Erasmus-stadion is miskien nou net ’n hoop bourommel, maar dis ’n plek wat vir veel meer onthou sal word as koning Danie van Despatch, skryf Louis de Villiers. 

Augustus 2018: Die Boet Eramus-stadion in Port Elizabeth word gesloop.

Percy Bysshe Shelley en PE het min gemeen benewens die letters “p” en “e”, maar die laaste paar keer dat ek in die Vriendelike Stad die M9 lughawe toe gevat het en die reste van wat oor is van die ou Boet Erasmus-stadion aan my linkerkant gesien het, het ek onvermydelik aan daai alomvoorgeskrewe gedig gedink:

My name is Ozymandias, King of Kings: Look on my works, ye Mighty, and despair!

Ozymandias was Grieks vir farao Ramses II, nogals seriaas kaas op sy dag, en Shelley was besiel deur ’n yslike, pas uitgegraafde brokstuk vanaf die ou Egiptiese koningsbegraafplaas by Thebe twee eeue gelede.

Dis weliswaar swaarder geskiedenis as, sê: My naam is Boet Erasmus, voormalige burgemeester van Port Elizabeth, kyk hoe my sportveld in betonpuin en daarna hopelik ’n parkeerterrein en winkelsentrum verander, al jul grootbekke, en skink ’n spook ’n diesel vir jul mymeringe.

Maar selfs onsentimentele ekke het ’n knop in die keel gekry om te sien hoe ’n klomp herinneringe tot beton besteel en gestroop word alvorens die stadsraad die Boet Erasmus se geraamte nou eindelik begin sloop het om beleggers vir die leë ruimte te lok.

28 Junie 1980: Kaptein Morné Du Plessis word van die veld gedra ná sy span se oorwinning oor die Britse Leeus. Regs bo is Naas Botha. Foto: Getty Images
6 Julie 1962: Die Britse Leeus teen Oostelike provinsie. Die Leeus het met 21-6 gewen. Foto: Getty Images
3 Junie 1995: Die kragmeting teen Kanada waar James Dalton (inlas bo) en twee Kanadese spelers afgestuur is weens ’n bakleiery. Foto: Getty Images
3 Junie 1995: Die kragmeting teen Kanada waar James Dalton (inlas bo) en twee Kanadese spelers afgestuur is weens ’n bakleiery. Foto:Getty Images

Brandewyn en twee mooi meisies

Die eerste van die agt toetse wat ek daar gesien het, was toe ek en drie pelle – drie pas uit die hoërskool en die vierde nog nie – in 1980 Port Elizabeth toe gery het om die derde toets teen die Leeus te gaan kyk.

Ons was jonk, arm en pateties georganiseer, maar twee uit ons geledere was mooi meisies en dit het ons uitstappie geweldig vergemaklik. Toe dit begin reën op die oop tydelike pawiljoen, was daar omies met flessies wat brandewyn met ons gedeel het.

Die Leeus was deurentyd op die voorvoet, so voel dit, maar ek het in die hoek langs die doelgebied aan die stad se kant gesit én daar was omies wat brandewyn met ons gedeel het, so ek kan verkeerd wees.

Vier jong WP-ondersteuners het boonop dié dag geleentheids-Naas Botha-ondersteuners geword, want dit was hy op sy allerbeste, soos amper altyd as dit gesous het. Dié keer het hy die oorwinning beklink met ’n doelskop uit die hoek, teen die gietende reën in, ná ’n wawyd wakker Theuns Stofberg ’n vinnige ingooi vir Gerrie Germishuys gelooi het vir die gelykmakende drie.

Geeneen van die twee mooi meisies het ooit vir my geval nie, maar die Humewood-karavaanpark was agterna gasvry nadat die helfte van ons tent verspoel het; almal het vleisies en drankies kom aanbied en ek het leer rook om my koue hande stil te hou.

Tertjies en koekies en toks

Die volgende keer daar was die eerste keer dat ek ’n senior rugbyverslag vir ’n koerant geskryf het. Dié keer vanuit die destydse Holiday Inn in Somerstrand, wat vir ’n amper niks gewoond outjie met ’n pannekoekplat beursie soos die hemel gevoel het.

Destyds was dinge anders vir joernaliste en ek onthou goeie wyn, poeding en ’n sigaar om dit alles te bedaar. Jy’t hard gewerk, almal het dit geweet en niemand het jou daai sigaar misgun nie.

En veral die verwelkoming. In die Baai was wyle oom Bev Braans jou eerste kennismaking met Boet Erasmus en die plaaslike mense. Hy was só daarop gesteld dat jy gemaklik is en Port Elizabeth geniet, dat jy soms gewens het hy was ’n goorgat dat jy iets leliks oor hom kon sê, maar aikôna.

Hy was deel van ’n voorspelbare lekker agtermiddag, kompleet met die trein wat getoet-toet het as OP punte aanteken en die twee groot dik ouens wat altyd net voor die afskop langs die tonnel gaan stelling inneem het met OP-truie en groot pienk olifantpantoffels.

In die Boet Erasmus was daar altyd tertjies en koekies en ’n ete en ’n onthaal om besoekers te voer. Met wisselende gevolg – toe Frankryk sy 1993-toer in die Baai begin het, het die breier, Pierre Berbizier, so effens afgehaal na sy droë witbroodrolletjie en Weense worsie beduie en probeer: “Madame, please, a little . . . moutarde . . .?”

Sê die een tannie vir die ander ene: “Hy soek mósterd!?”

“Sê vir hom as hy mosterd wil hê, moet hy by die Holiday Inn gaan vra!”

Danie Gerber: ’n Man wat jou vernedering mooi laat lyk het.
James Dalton
Danie Gerber: ’n Man wat jou vernedering mooi laat lyk het.

Dok en die donker

Maar as jy praat van rugbytoetse in Port Elizabeth, praat jy van twee.

Die eerste sal ongetwyfeld die hoogtepuntpakket haal van die 1995-Wêreldbekertoernooi: Die ene tussen die Springbokke en Kanada. Daai aand het die ligte ingegee in Port Elizabeth met die oë van die wêreld op ons duisternis.

Om die saak te vererger, het die destydse SA Rugbyvoetbalunie (deesdae Saru) vooraf ’n hulp-kragopwekker Baai toe gestuur om te verseker dat soiets nie gebeur nie.

Die manne daar het egter nie gebodder om die ding te konnekteer nie, só seker was hulle dit sou nie nodig wees nie.

Daai dae was adrenalien veel lekkerder en ons het ’n driekwartier in die persbank sit en skater en paap terwyl nuuskantore wêreldwyd die ritteltits kry en ons so nou en dan hoor: “Nee, Dok Luyt antwoord nie sy foon nie. Hy soek nou die stadionbestuurder.”

Dié het wyslik daardie aand heeltyd uit Louis Luyt se pad gebly, maar ek het genoemde stadionbestuurder nooit weer in my lewe gesien nie en het inderdaad nooit weer iets oor of van hom gehoor nie.

Die wedstryd self was ’n lekker skolliejôl. Die PE-skare het die arme Johan Roux uitgejou omdat hy knaende hangskoppe op die Kanadese gemik het onder redelik wyse instruksies van Kitch Christie, maar toe almal mekaar uiteindelik doer op die ver linkervleuel invlieg, was dié andersins amper niksseggende kragmeting verewig in rugbygeskiedenis.

Gareth Rees en Rod Snow van Kanada sowel as James Dalton is van die veld gejaag en saam met Pieter Hendriks daarna vir die res van die toernooi geskors. Dit was ’n mislike dog yslike tree na Wêreldbekerglorie.

Fluit-fluit, Luyt!

Gepraat van ’n omgesukkelde Louis Luyt, het ek een van my mees patetiese oomblikke ’n jaar vroeër in die einste Boet Erasmus beleef.

Ek en Johan Esterhuizen het betroubaar verneem dat Luyt die Bokspan vir die eerste toets teen Engeland geveto het en die veranderinge daaraan was die Rapport-voorblad op 5 Junie 1994.

Ek het hom later die dag van ver af woedend oor die telefoon hoor uitvaar toe my kollega Pieter Kruger hom om kommentaar genader het.

In dié stadium het ons mekaar glad nie geken nie, maar ek het besef amper almal is effens skrikkerig vir hom. Toe ons mekaar later beter leer ken het, was dit darem genadiglik met wedersydse respek.

Maar nog nie op 7 Junie 1994, toe OP teen Engeland in die Baai speel, en ek rustyd gaan fluit het nie. Gulp oop, juwele uit; fluit-fluit my storie is u-u-u- . . .

’n Groot, donker skaduwee het in die manstoilet verskyn. Ander mans het gegroet en uitgeskarrel – al het hulle hom nie geken nie.

Hy het reg langs my kom stelling inneem by die urinaal en van so ’n voet
hoër as ekke gestaan en uitcheck hoe die joernalissie wat waag om voorbladberigte oor hom te skryf, probeer pie. Ek het gevries, ten einde raad opgezip, teruggegaan persbank toe en maar nog een van oom Bev se biere gedrink in die hoop dat ek my blaas kan reaktiveer.

Die res van die land onthou daai toets egter as die een waarin Tim Rodber en
Simon Tremain van die veld gejaag is. Die hare waai maar nog altyd in PE.

En later die aand het ek die Engelse losskakel Stuart Barnes raakgekuier, wat steeds een van my beste vriende is.

En toe foeter die Leeus ons

Die Bokke het 15 toetse op Boet Erasmus gespeel en net ene verloor.

Maar oor dié ene sal daar ook nog lank gepraat word, want dit was een van die skandaligste pakke slae in die amateur-era. Die 1974-Leeus het reeds die Bokke geklop in Kaapstad (12-6) en verneder in Pretoria (28-9) toe die Bokkaptein en een van die Baai se grootste rugbyseuns, Hannes Marais, voor die derde toets volgens Rapport gesê het: “Met dié span sal ek grens toe gaan!”

My ma het destyds nog gesê: “Dis nie dieselfde as rugby speel nie.”

Sy was reg. Daai dag op die stadion genaamd Boet Erasmus het die Leeus die Springbokke só deeglik gefoeter dat daar steeds verhale oor vertel word. Die Britte het die “99”-oproep uitgevind om seker te maak niemand word van die veld gejaag nie – as een Leeu begin vuisslaan het, het almal.

Hulle het die Bokke gewetter en boonop flenters gespeel. Halfpad deur die tweede helfte was die pawiljoene leeg. Die Skotse slot Gordon Brown het aan sy kaptein en kollega, Willie John McBride, beduie: “Look Willie, they’re leaving.”

McBride het gesê kom ons speel dit leeg voor die eindfluitjie. En hulle het toe.

Dis ook op dié toer, in dié stad, dat McBride, al pyprokend, in sy onderbroek na die hotel se voorportaal is om die bestuurder te woord te staan terwyl sy span amok maak, en hom smalend gevra het: “Hierdie polisie wat jy gaan ontbied, gaan daar baie van hulle wees?”

Koebaai in die Baai?

Die Boet Erasmus was altyd lekker vir toeskouers, maar niemand wou die besoekende spelers daar wees nie.

Danie Gerber is die naam wat genoem word as OP-rugby onthou word en met rede, maar hy was net die man wat dit mooi laat lyk het as hy jou verneder het.

Die rede dat niemand soontoe wou gaan nie, was allereers wildewragtigsenters soos Dennis Campher, wat die smaak vir twee seisoene uit jou bek uit geduik het; voorspelers soos Frans Erasmus,
George Rautenbach en Adri Geldenhuys wat pyn uitgedeel het . . .

Net Alan Zondagh en die Kiwi Grizz Wyllie ’n rukkie later kon egter ’n noemenswaardige Curriebeker-aanslag uit hulle kry.

Die agteruitgang van rugby in die Baai is ’n nasionale probleem. Bekers het hulle nooit veel gewen nie, maar PE het altyd stysel aan ons rugbydieet verskaf en daar het ’n hele kaboedel van ons meer cappuccinorige jongelinge op die harde manier geleer swem of verdrink.

Andrew Paterson het vertel van die OP-kaptein wie se spanpraatjie altyd geëindig het met: “Boys, daar’s k*k in die Baai!” Ek wens een van sy 21ste eeuse opvolgers kan dit weldra met oortuiging doen.

  • Louis de Villiers is ’n rugbyskrywer.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.