Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
‘My ­broer is vermoor deur hiënas in ANC’

Die ANC-raadslid Vusumuzi Ntombela is voor sy leerlinge in sy klaskamer deur ’n huurmoordenaar doodgeskiet. Maar die baasbrein wat opdrag gegee het vir die moord is steeds op vrye voet, skryf Greg Ardé.

Die ANC-raadslid en fluitjieblaser Grishen Bujram is op 15 Junie 2007 in Sigongile naby Dundee doodgeskiet. Die sluipmoord op hom was soortgelyk aan dié op Vusumuzi Ntombela. Foto: Witness Media

Agt jaar ná die moord op die ANC-raadslid en fluitjieblaser Grishen Bujram het Paddy Harper in die City Press berig dat die ANC-raadslid Vusumuzi Ntombela begrawe sou word in Nquthu daar naby, omtrent 50 km vanaf Dundee in KwaZulu-Natal.

Ntombela is doodgeskiet terwyl hy les gegee het in sy klaskamer. Hy was die speaker van die Nquthu-raad. Die 13-jarige Elizabeth Nhleko is dood in die spervuur en nog ’n leerling is beseer.

Harper het geskryf dié moord, net soos die Bujram-geval wat hy getrou gevolg het, het al die kenmerke van ’n politieke moord gehad. En “weer eens was ’n burgemeester se lyfwag een van dié wat in hegtenis geneem is”.

Greg Ardé, skrywer van War Party.

Ek ontmoet vir Simphiwe Ntombela om meer te wete te kom oor die moord op sy broer Vusumuzi. Simphiwe lyk soos iets uit die 1950’s. Onder sy tweed-baadjie dra hy ’n dun trui van jersey-stof en ’n wit kraaghemp met ’n netjiese das in ’n gedempte kleur. Hy is al ’n onderwyser sedert hy gegradueer het en terwyl ek met hom die onderhoud voer, sit hy kiertsregop in ’n ewe regop stoel terwyl hy nou en dan sy swaar swart omraamde bril afhaal om na sy notaboek te kyk. (Dink aan James Earl Jones in Cry, the Beloved Country).

Simphiwe is vriendelik dog formeel met die houding van ’n ouwêreldse onderwyser.

Ons gesels by sy lessenaar in die skool waar hy klas gee in die golwende heuwels van Zoeloeland.

Simphiwe is een van ses kinders, waarvan vier onderwysers geword het. Sy pa was ’n skoolhoof en sy ma ’n onderwyseres in Nquthu. Simphiwe is vriendelik dog formeel met die houding van ’n ouwêreldse onderwyser. Hy kies sy woorde noukeurig.

Wou nie saam met wind beweeg

Die familie was bekend in Nquthu, waar sy broer Vusumuzi die speaker van die plaaslike munisipaliteit was en adjunk-prinsipaal van die Luvisi Primary School. Toe hy in Junie 2015 doodgeskiet is, was hy 46 jaar oud. Vusumuzi wys my ’n foto van sy geliefde broer. Hulle was twee jaar uit mekaar en het saam skoolgegaan – en Vusumuzi was spesiaal, lag hy. Op die foto sien jy ’n aantreklike man met goedige oë en ’n vriendelike glimlag.

War Party het pas by Tafelberg-uitgewers verskyn.

Tydens sy grootwordjare was hy ’n gebore leier. Alhoewel hy stil en hardkoppig was, was hy ’n charismatiese karakter, sê sy broer.

“Mense was mal oor daardie glimlag. Hy het mense na hom toe aangetrek. Maar hy was nie die luidrugtige tipe nie, en het nie impulsief gereageer nie. Hy was ’n diep denker met ’n ernstige kant aan hom. Ek het werklik respek vir hom gehad. Hy wou nie saam met die wind beweeg nie, en dís die rede hoekom hy tereggestel is.”

Simphiwe en sy broer was polities bewus as skoolseuns, maar het eers in die 1990’s by die ANC aangesluit, nadat Nelson Mandela uit die tronk vrygelaat is.

Mense was aangetrokke tot Vusumuzi. Hy was ’n gebore organiseerder. Hy is gekies as ANC-raadslid tydens die 2011- munisipale verkiesings en het vir ’n termyn van vyf jaar gedien. Hy is in 2016 herverkies en is die burgemeesterskap van Nquthu aangebied, maar hy het dit van die hand gewys aangesien dit ’n voltydse posisie was en hy wou aanbly as onderwyser.

Hy is toe aangewys as munisipale speaker. Maar hy het nie dié rol ten volle omhels nie. “Hy was plat op die aarde. Gewone mense was mal oor hom. Ek het vir hom gesê hy sal moet wys word. Ek was geamuseerd toe hy vir hom ’n pak gekry het. Maar hy was nie een vir lang, gepunte skoene nie. Hy was net daardie soort mens. Hy het nooit verwag om in enige posisie aangestel te word nie.”

Hulle het kennelik bedreig gevoel deur sy opmerkings oor hul kullery.

Simphiwe lag toe hy onthou hoe Vusumuzi eenkeer teen ’n telefoonpaal opgeklim het om ’n ANC-plakkaat vas te maak. Hy was eerder ’n mobiliseerder en ’n grondvlak-organiseerder as ’n politikus. As speaker het hy sy minagting te kenne gegee vir die potsierlikheid van sy portuurgroep.

“Hy het altyd gesê: ‘Hei, ek is teleurgesteld. Hierdie mense begin dinge waarin ek glad nie geïnteresseerd is nie.’ Hulle het geglo dis tyd om by die krip te eet. Ek dink my broer was naïef om te dink hy was op dieselfde bladsy as hulle. Hulle het kennelik bedreig gevoel deur sy opmerkings oor hul kullery.”

Deur die loop van die nege jaar wat hy ’n raadslid was, het Vusumuzi aanhou werk as onderwyser en hy het in die nederige huis aangebly wat hy met sy vrou en hul vier kinders gedeel het.

’n Uitgeslape politikus

Simphiwe sê hy het geen diepte-kennis oor hoekom sy broer geskiet is nie. ’n Ingeligte in ANC-kringe het intussen vir my gesê dat Vusumuzi ’n uitval gehad het met Lucky Moloi, wat in Nquthu gebore is, maar nooit daar gewoon het nie. Moloi is getroud met die LUR vir landbou en landelike ontwikkeling in KwaZulu-Natal, Bongi Sithole-Moloi.

Die destydse LUR vir kuns en kultuur in KwaZulu-Natal, Bongi Sithole Moloi, en haar man, Lucky Moloi, tydens haar verjaardagvieringe wat in Durban gehou is. Foto: Jabulani Langa
Lucky Moloi het berug geword ná sy betrokkenheid by ’n bouskandaal in Pietermaritzburg wat daartoe gelei het dat hy aan korrupsie skuldig bevind is. Foto: Witness Media

Hy is ’n gladdejantjie wat berug geword het ná sy betrokkenheid by ’n bou-skandaal in Pietermaritzburg wat daartoe gelei het dat hy aan korrupsie skuldig bevind is. Moloi, die sekretaris van die ANC se Bambatha-streek en indertyd ’n raadslid, het omkoopgeld van R200 000 aanvaar om die Umgungundlovu-distriksmunisipaliteit te beïnvloed om ’n gebou in Pietermaritzburg teen ’n opgeblase prys te koop.

Voordat Lucky Moloi ’n gevangenis-vrye vonnis van 36 maande korrektiewe supervisie ontvang het, het hy weer in Nquthu opgeduik. Mense hier het hom nie goed geken nie, maar hy was ’n uitgeslape politikus en hy het glo deel geword van ’n alliansie met die burgemeester van Nquthu, Emily Molefe, en eerw. James Mthethwa, die voormalige burgemeester van die Umzinyathi-distrik.

James Mthethwa, die voormalige burgemeester van die Umzinyathi-distrik. Hy is later herontplooi na die parlement nadat beweer is die ANC het R100 000 bestee aan regskoste vir Thandeka Nukani, sy persoonlike assistent, in die Grishen Bujram-saak. Foto: Jabulani Langa
Senzo Mchunu, destyds toe hy die voorsitter was van die ANC in KwaZulu-Natal, en James Mthethwa sluit by lede van die uMkhonto we Sizwe Vereniging vir Militêre Veterane aan tydens ’n minisaamtrek in Umsinga.

Mthethwa is later herontplooi na die parlement as ’n nasionale LP nadat beweer is die ANC het R100 000 bestee aan regskoste vir Thandeka Nukani in die Grishen Bujram-geval.

Mthethwa het Nukani aangestel as sy persoonlike assistent nadat sy haar werk verloor het as die burgemeester van Dundee. Vusumuzi het glo gebots met al drie: Moloi, Mthethwa en Molefe. Dit is kortliks die storie van sy broer se moord wat Simphiwe aan ’n geregtelike kommissie vertel het.

Geskiet voor klas

Op die dag van die moord het die huurmoordenaar Sibongiseni Mdakane by die laerskool opgedaag en gevra om met Vusumuzi te praat. Mdakane was ’n inwoner van Nquthu wat as veiligheidswag gewerk het. Hy het die klaskamer binnegegaan, Vusumuzi se hand geskud en met hom oor werk gepraat.

Vusumuzi het vir Mdakane ’n paar telefoonnommers gegee. Mdakane het toe gemaak of hy omdraai en loop. Maar net toe Vusumuzi na die swartbord terugdraai, het Mdakane ’n vuurwapen uitgeruk. Hy het Vusumuzi geskiet, maar ook per ongeluk twee leerlinge getref. Mdakane was glo ’n amateur. Hy is op dieselfde dag gearresteer en was binne twee weke voor die hof vir moord. Hy het skuldig gepleit en is tot lewenslange tronkstraf gevonnis. As deel van sy pleitverduideliking het hy gesê hy is genader deur Mbhekiseni Khambule, ’n plaaslike ANC-swaargewig en die lyfwag van die burgemeester, Emily Molefe.

Die destydse burgemeester van Nquthu, Emily Molefe. Haar lyfwag, Mbhekiseni Khambule, is later skuldig bevind aan die moord op Vusumuzi Ntombela en dien ’n lewenslange vonnis uit. Foto: Jabulani Langa

Khambule het glo vir Mdakane gevra om die moord te pleeg vir R15 000 en het hom ’n werk aangebied by ’n plaaslike veiligheidsfirma, Ocean Dawn. Ná Mdakane se vonnisoplegging is Khambule vervolg en is hy ook tot lewenslange tronkstraf gevonnis.

Simphiwe sê Khambule kom van Isandlwana en dat hy in Johannesburg as ’n veiligheidswag gewerk het. Hy het plaaslik bekend geword toe hy by ’n organisasie genaamd Isikebhe aangesluit het, ’n gemeenskapsgroep wat probeer het om veediefstal hok te slaan. Die ANC het saam met Isikebhe gewerk om meer plaaslike steun te werf en Khambule het by die ANC aangesluit, tot die ontsteltenis van plaaslike ANC-lede.

Volgens Simphiwe, in sy getuienis voor die Moerane-kommissie, het Khambule goed bevriend geraak met plaaslike ANC-leiers en het hy gou nie meer gesukkel om finansieel die mas op te kom deur los werkies te doen nie. Hy het nou in ’n Toyota Fortuner begin rondry en ANC-lede het begin kla dat hy gewapen is en mense intimideer.

‘Bedank, anders sterf jy’

Simphiwe sê dis duidelik Khambule is deur iemand “agter die skerms gestuur wat ’n huurmoordenaar nodig gehad het”. Hy meen sy broer is na die kantlyn gestoot in die ANC voor die moord weens sy botsings met Khambule. “Vusumuzi het geglo dat Khambule deur ander gestuur is om hom te teiken.”

Die destydse burgemeester van Nquthu, Emily Molefe, praat oor die sluipmoord by Luvisi Primary School waartydens Vusumuzi Ntombela en ’n leerling geskiet is. Foto: Matthew Middleton

Gedurende hierdie tyd was daar ’n koalisie tussen die ANC en die National Freedom Party in die Nquthu-munisipaliteit om te probeer om die mag by die IVP oor te neem. Vusumuzi het vir sy broer gesê sy comrades het hom daarvan verdink dat hy teen die ANC wou stem – iets wat hy nooit sou gedoen het nie. Maar hy het wel teen die ANC te velde getrek weens besluite wat plaaslike korrupsie gesteun het.

Simphiwe sê Vusumuzi het hom reeds in 2011 vertel dat sy ANC-kollegas, veral die burgemeester, Emily Molefe, hom probeer druk het om ’n kontrak goed te keur met ’n sekere veiligheidsmaatskappy sonder om die korrekte tenderprosedures te volg. Sy teenkanting het gemaak dat hy geïsoleer geraak het binne die ANC. Hy is na ’n vergadering ontbied waar vir hom gesê is hy moet bedank, anders sal hy met sy lewe boet.

Baasbrein op vrye voet

Simphiwe het by sy broer gepleit om die saak by die polisie aan te meld en om lyfwagte in diens te neem, maar Vusumuzi het nie die polisie vertrou om hom by te staan nie. Hy het ook nie “die veiligheidsmaatskappy wat deur die munisipaliteit gekontrakteer is vertrou nie”. Dié maatskappy, Ocean Dawn, was Khambule se werkgewer voordat hy die burgemeester se lyfwag geword het.

Tydens Khambule se verhoor het ’n staatsgetuie getuig dat daar voor die sluipmoord op hom twee vorige pogings was om hom om die lewe te bring.

Adv. Marumo Moerane, voorsitter van die Moerane-kommissie vir ondersoek na die moorde op politieke ampsdraers in KwaZulu-Natal. Simphiwe Ntombela het voor dié kommissie getuig oor die moord op sy broer Vusumuzi. Foto: Siyanda Mayeza

Dié staatsgetuie het glo aan die hof gesê Khambule het vir hom gesê indien hy nie die huurmoordenaars kry nie, sou hy (Khambule) in die moeilikheid wees omdat die burgemeester gedreig het om hom te vergiftig. Só het Simphiwe aan die Moerane-kommissie gesê.

Hy wou ook weet wie vir Khambule se regskostes betaal het, aangesien hy dit nie self kon bekostig nie. In die hof is Khambule verteenwoordig deur ’n prokureur uit die groot stad wat die reputasie gehad het dat hy taxibase verdedig.

Hoekom het die polisie nie die saak verder ondersoek nie? Die getuienis was beskikbaar en die verdagtes is selfs op heterdaad betrap.

Hy is uiteindelik skuldig bevind en sedert einde 2019 is hy in die Kokstad-maksimumveiligheidsgevangenis waar hy ’n lewenslange vonnis uitdien.

Die Ntombela-familie, sê Simphiwe, glo die baasbrein wat verantwoordelik was vir hul broer se moord is steeds op vrye voet. Hoekom het die polisie nie die saak verder ondersoek nie? Die getuienis was beskikbaar en die verdagtes is selfs op heterdaad betrap.

Het die polisie inligting opgevolg oor die sekerheids-tender? Simphiwe sê die owerhede neem nie die moord op sy broer ernstig op nie.

“Die saak is net daar gelos. Waar is die Valke? Indien hulle ernstig was daaroor sou hulle probeer uitvind het wie opdrag gegee het vir die sluipmoord.”

’n Gekaapte begrafnis

Hy sê daar was “volslae vrees” ná die moord op sy broer. “Party mense het gesê ons durf nie vrae vra nie. Indien ons dít doen, sal ons sterf. Mense wou nie eens in die openbaar met my familie praat nie.”

Ek is deursoek op my eie broer se begrafnis.

Vusumuzi se begrafnis is gekaap deur die ANC. Die herinneringe hieraan vreet steeds aan Simphiwe en sy familie. “Ek is deursoek op my eie broer se begrafnis. Daar was hierdie LP wat nie bekend was aan die familie nie wat by die deur gestaan het saam met sy boelies en mense belet het om by die saal in te kom. Hulle was soos sy honde aan wie hy bevele gegee het. Hulle was van dieselfde veiligheidsmaatskappy, Ocean Dawn. Hulle het saluutskote afgevuur. Wat is dit?”

Thobeka Madiba Zuma, een van oudpres. Jacob Zuma se vroue, was een van die hoogwaardigheidsbekleërs by die gekaapte begrafnis vir Vusumuzi Ntombela. Sy het belowe dat diegene wat opdrag gegee het vir die sluipmoord aan die pen sou ry. Foto: Leon Sadiki

Simphiwe is vererg oor die grootkoppe wat die begrafnis gekaap het en belowe het dat geregtigheid sal geskied. Die LUR Peggy Nkonyeni, eerw. James Mthethwa en selfs Thobeka Zuma, pres. Zuma se vrou, het belowe dat diegene wat opdrag gegee het vir Vusumuzi se moord aan die pen sou ry.

Tydens die seremonie was die pa van Elizabeth Nhleko, die skoolmeisie wat in die kruisvuur dood is, glo vreesloos. Hy het vir roubeklaers gesê Vusumuzi is vermoor deur die ANC, waarop hoogwaardigheidsbekleërs ineengekrimp het. Gewone mense was kwaad en het nie probeer om dit weg te steek nie. Inwoners het verklaar die ANC het ’n wanklank en in die daaropvolgende tussenverkiesings in Nquthu het die IVP die ANC ’n loesing gegee.

Simphiwe sê die moord het gedreig om die familie uitmekaar te skeur. “Dis uiters pynlik vir ons. Nou die dag het een van my susters ’n familielid berispe wat ’n ANC-T-hemp gedra het. Sy het gesê: ‘Hoe kan jy dit doen as hulle vir Vusumuzi vermoor het?’ ”

Simphiwe skud sy kop stadig. Sy broer, sê hy, is vermoor deur “hiënas in die ANC. Dit is ysingwekkend. Hoe gaan daardie kinders ooit die trauma verwerk?”

* Dit is ’n vertaalde uittreksel uit War Party: How the ANC’s political killings are breaking South Africa, wat pas by Tafelberg-uitgewers verskyn het.

* Ardé is die voormalige adjunkredakteur van die Sunday Tribune en burohoof van die KwaZulu-Natal-buro van die Sunday Times.

Meer oor:  Korrupsie  |  Anc
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.