Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
My liewe moordenaar

Waarom raak ’n vrou halsoorkop verlief op ’n moordenaar, selfs al is hy boonop in die tronk? Wat makeer hulle, wonder André le Roux.

Liefde van agter tralies
Die reeksmoordenaar John Wayne Gacy. ’n Oorvloed vroue het aan hom in die tronk geskryf.

‘Huisgenoot-skrywer geskors oor verhouding met moordenaar,” berig Rapport verlede Sondag.

Marizka Coetzer (28) het blykbaar die jong moordenaar Le Roux Steyn (22) van die opspraakwekkende Krugersdorp-afspraakmoorde ontmoet terwyl sy oor die saak berig het. Steyn het skuld beken op 18 aanklagte van onder meer moord en is 35 jaar tronkstraf opgelê, waarvan tien jaar opgeskort is.

Selferkende moordenaar, dus.

Coetzer, getroud, se verhouding met haar man het glo intussen verbrokkel.

Nog twee aangeklaagdes in dieselfde saak, Cecilia Steyn en Zak Valentine (aangekla weens moord op sy vrou), het ook liefde in die tronk gevind.

Ook die sogenaamde Springs-monster, wat onlangs vir 67 jaar tronk toe gestuur is weens onder meer kindermishandeling en die verkragting van sy dogter, en wat in die hof as ’n sadis en psigopaat beskryf is, het nuwe liefde en die ondersteuning van ’n vrou gevind.

Wil ’n vrou werklik deurmekaar raak met ’n geweldenaar wat sy eie dogter verkrag het?

Feitlik elke Amerikaanse reeksmoordenaar het nie net liefde gevind nie, maar is in die tronk getroud. Skoolskieters kry dikwels bewonderaarspos met die versoek: “Ek wil graag jou baba hê.”

Die reeksmoordenaar is heel bo-aan die hiërargie van ‘glansmense’ in die tronk.

Wat makeer hierdie vroue? Wat dink hulle doen hulle?

Dit begin by ’n fassinasie met moordenaars en monsters.

“Hulle” is so anders as “ons”.

Hulle maak ons bang. Maar van kleins af hou ons daarvan om bang gemaak te word. Soos kinders wat gril vir spookstories en monsters in flieks. Dis pret en opwindend.

Die moordenaar is afstootlik maar terselfdertyd fassinerend. Dan kom die heldeverering en bewondering van sy aanhangers. Hy word ’n glanspersoon nes enige Hollywood-ster. Mense rek hul nekke en pak hofsale vol net om die moordenaar in lewende lywe te sien. Hulle volg die verhoor op televisie soos ’n spanningsrolprent.

In die geval van Daisy de Melker, Suid-Afrika se bekendste gifmoordenaar, in die dae lank voor televisie, het mense elke dag in lang rye gestaan om plek te kry in die hof. Voor die laaste hofdag het hulle deurnag gestaan. En hul sitplekke vir 3 tot 25 sjielings aan ander nuuskieriges verkoop. Daar was vyf keer meer vrouetoeskouers as mans, skryf Benjamin Bennett in Murder Is My Business. Die mense het weddenskappe aangegaan oor wat die vonnis sou wees.

“Kyk,” het De Melker na die skare van etlike honderde gewys. “Hulle is almal hier om my te sien.”

Foto:

Wanneer koerante foto’s van haar geplaas het waarvan sy nie hou nie het sy kapsie gemaak: “Ek is baie mooier as dit. Dis ’n aaklige foto. Laat hulle kom en ’n ander foto neem.”

De Melker se manier van indrukbestuur . . . Sy was skreeulelik, maar manipulerend genoeg om elke keer ’n nuwe man te kry om te vergiftig.

In Amerika plaas moordenaars advertensies in streekkoerante vir penmaats om met ’n “eensame” man in die tronk te korrespondeer. Hulle verswyg altyd die rede waarom hulle in die tronk is en beklemtoon twee dinge: Hul eensaamheid en dat hulle gedagtes en gevoelens met iemand wil deel.

Wat die man soos ’n onskadelike, sensitiewe soort laat klink. Dan volg die liefdesbriewe en huweliksaansoeke.

Party vroue is “reeksbriefskrywers” aan al wat ’n moordenaar is, sê die sielkundige Leon Seltzer op sy Psychology Today-blog. Volgens die FBI se Robert Hazelwood hoop hulle om detail oor die moorde te kry wat nie algemeen bekend is nie.

Dit laat hulle spesiaal voel.

Dan besoek hulle die man in die tronk.

En raak “verlief”.

En trou.

Wanneer ’n vrou met ’n moordenaar in die tronk trou, verwelkom sy hom terug as een van “ons”.

“Hierdie vroue soek liefde op al die verkeerde plekke,” skryf die ondersoekende joernalis Sheila Isenberg in Women Who Love Men Who Kill. “En hulle vind dit.”

Ondanks bewyse van die moordenaar se grudade glo die vrou in sy onskuld.

Maar dis ’n misplaaste liefde, sê sy. Dis glad nie liefde nie. Dis ’n behoefte, ’n fantasie. Die moordenaar sien dit raak en wórd daardie fantasie. Hy vertel die stories wat die vrou wil hoor. En vir die man is die vrou ’n skakel met die buitewêreld en ’n onvermoeide agitator vir sy vrylating. Dit klink goed om vir ’n paroolraad te kan sê ek het ’n vrou daar buite.

Soms is dit vroue wat uit die aard van hul werk in tronke kom, soos joernaliste, verpleegsters, maatskaplike werkers, sielkundiges. Selfs jurielede in die moordenaar se verhoor. Hulle raak net so maklik soos ’n eensame huisvrou of sukkelende enkelma verlief. Party vroue is jare lank verloof aan iemand in die tronk wat hulle nog nooit persoonlik ontmoet het nie.

Hulle kan enigeen wees, nie net huisvroue of bakvissies nie. Party is reeds getroud. Hulle het kinders. En hulle is bereid om alles te los vir ’n man in die tronk. Dit skeur uiteraard gesinne uitmekaar.

Dié vroue is gewoonlik in hul 30’s of 40’s, sê die misdaadskrywer en forensiese sielkundige Katherine Ramsland, met een ding gemeen: Hulle is baie beskermend teenoor die verhouding.

“Hierdie vroue maak dikwels groot opofferinge om hul man elke week vir kort tydjies in die tronk te besoek. Hulle gee dalk hul werk en gesin prys om naby hul geesgenoot te wees, en hulle sal sekerlik geld aan hom bestee, dalk al hul geld.”

Volgens Associated Press het die destydse kannibaal-reeksmoordenaar Jeffrey Dahmer duisende dollars van vroue gekry, ook uit Suid-Afrika, vir “sigarette, koeverte en seëls”.

Afgesien van die eetgoed en geskenke, soms dwelms of ’n selfoon. Of die moordenaar swendel geld uit ’n naïewe penmaat om kamma ’n vroeë parool te verseker. Só vang hulle die een vrou ná die ander, ’n algemene slenter in tronke.

’n Groot deel van die aantrekkingskrag van moordenaars lê in die onsekerheid, sê Isenberg. Die vroue leef op die rand en weet nie wanneer en of hulle weer hul man gaan sien nie. Hulle is in baie opsigte deur die lewe geskaad en het ’n diep behoefte om iemand lief te hê met wie hulle nié ’n normale verhouding kan hê nie. Een van die redes waarom vroue op reeksmoordenaars en verkragters verlief raak, het ’n vrou aan Isenberg verduidelik, is omdat hulle so normáál lyk, so gewoon.

“Hy was so anders as wat ek my hom voorgestel het.”

Wanneer ’n vrou met ’n moordenaar in die tronk trou, verwelkom sy hom terug as een van ‘ons’.

Wat dié vroue nie besef nie: Moordenaars loop nie rond met ’n groot “M” op hul voorkop nie. Hulle lyk inderdaad nes hul buurman. En omdat hy so gewoon lyk, redeneer die vrou, kan dit nie waar wees dat hy moord gepleeg het nie. Dan kom die algemene wanopvatting: “Julle ken hom nie soos ek hom ken nie. Hy’s eintlik baie saggeaard.”

Ondanks die moordenaar se grudade, ondanks onteenseglike bewyse daarvan glo die vrou in sy onskuld. Sy verduideliking aan haar is ’n bietjie anders as wat in die hof uitgekom het.

Nie een van die vroue of meisies van moordenaars met wie Isenberg onderhoude gevoer het, het gesê hul man of kêrel het moord gepleeg nie. Dit was óf ’n jammerlike ongeluk óf selfverdediging óf manslag óf hy’s uitgelok.

Êrens diep binne wéét sy hy het moord gepleeg, maar sy maak die man voor haar los van die misdaad. Die meeste sê: “Ek het hom lief, maak nie saak wat nie.”

En hulle glo hulself. Hulle wil nie erken hul man is inherent ’n moordenaar nie, want wat sê dit dan van hul keuse om hom as kêrel te hê, selfs met hom te trou? En hoe kan hulle hom dan nog liefhê?

Sommige erken dis nie ’n maklike lewe om met ’n man in die tronk getroud te wees nie. Soms stigmatiseer die gemeenskap sulke vroue. Maar wat kan ’n vrou doen as sy haar man liefhet?

“As hy my linkerarm wil hê, sal ek dit vir hom gee.”

Een was selfs bereid om moord te pleeg vir haar reeksmoordenaar-kêrel sodat die polisie moes dink hy’s onskuldig, want die moorde gaan aan terwyl hy in die tronk is. Die vrou het self in die tronk beland weens poging tot moord.

“Hierdie vroue leef hul diepste fantasieë uit,” skryf Isenberg. “Hulle vind liefde, romanse en passie waar die gemeenskap sê hulle moenie.” Hulle vind mans wat doodmaak betowerend, romanties, seksueel. Waar ander mense moordenaars afstootlik vind, is hulle vir dié vroue begeerlik.

“Vroue met ’n obsessie,” meen Isenberg.

’n Mishandelde vrou weet sy sal nie weer mishandel kan word deur haar man in die tronk nie.

Sulke vroue, sê Ramsland in “Women Who Love Serial Killers” op haar Psychology Today-blog, gee verskillende redes hoekom hulle met mans in tronke trou. Party glo hulle kan selfs ’n psigopatiese reeksmoordenaar verander, die man het net begrip en liefde nodig. Ander soek na die “klein seuntjie” in die man om te vertroetel. Of hulle wil deel in die media-aandag en kry dalk ’n kontrak vir ’n boek of fliek.

Vir hulle is dit ook ’n praktiese reëling. Ramsland sê dis die “ideale man”. Sy vrou weet waar hy elke minuut van die dag is. Sy kan sê iemand het haar lief, maar sy hoef nie die daaglikse eise van ’n verhouding te hanteer nie. Geen kos maak, geen wasgoed en sy hoef nie haar bewegings te verduidelik nie. En geen eise vir seks nie. Seks kompliseer net dinge. Romanse is tog belangriker?

“Jy’t geen seksuele druk nie,” het een vrou aan Isenberg verduidelik. “Julle het net mekaar. Julle gesels baie. Julle raak emosioneel betrokke.”

Daar’s dalk ook ’n onbewustelike biologiese rede. Mans in tronke, veral reeksmoordenaars, is die opperste alfaman.

’n Vrou verhoog dus haar status deur by so ’n man betrokke te raak. Buite die tronk sou hy die ideale beskermer gewees het.

En hy sal haar nie kan slaan nie. ’n Mishandelde vrou weet sy sal nie weer mishandel kan word deur haar man in die tronk nie. Die meeste van hierdie vroue kom uit sulke verhoudings, sê Isenberg. Maar dié keer hoef sy nie te naby aan die man te kom nie.

Sy’s nou in beheer. Sy kan besluit wanneer sy vir hom wil gaan kuier, wat sy vir hom wil saamneem, wanneer sy vir hom wil skryf. Niemand sê meer vir haar wat om te doen nie.

Maar dis ’n valse gevoel van mag. Hulle is steeds slagoffers omdat hulle dink hulle verdien nie beter nie, maar hulle maak hulself wys dat hulle gelukkig is. Hierdie vroue mislei bloot hulself, skryf Seltzer.

Isenberg sê die meeste vroue met wie sy gepraat het, was normaal, maar hul verhoudings met alle mans was sedert hul kinderdae swak, ook met hul pa. Hulle beskou hulself dikwels as slagoffers wat deur mans fisiek of andersins misbruik is.

Hulle het probleme met intimiteit. Party kenners meen sulke vroue kan nie liefde op die gewone manier vind nie. Hulle is love-avoidant.

’n Oorvloed vroue het aan die reeksmoordenaar John Wayne Gacy in die tronk geskryf. Hul briewe getuig van desperaatheid, ongelukkige huwelike, trauma en eensaamheid.

“Ek kan nie ophou om aan jou te dink nie,” het een geskryf. “Ek sal jou graag as ’n vriend wil hê.” Vir ’n ander een sal dit ’n “eer” wees as hy terugskryf. “Ek dink jy’s een van die intelligentste moordenaars van ons tyd.”

’n Ma van agt het Gacy ’n jaar lank in die tronk besoek en op hom verlief geraak. Gacy met sy sagte blou oë . . . Later het haar eie oë oopgegaan toe hy te veel begin spog het oor al die moorde wat hy gepleeg het, maar haar 16-jarige dogter het steeds in sy onskuld geglo.

Gacy is inderdaad in die tronk getroud. En, ja, sy vrou het hom as saggeaard beskryf, ’n mens wat niemand leed sou aandoen nie. Nadat 29 lyke in sy agterplaas gekry is.

“Nee,” was die vrou se verweer, “die ondersoek is nie goed gedoen nie.”

Vroue verkies saggeaarde, empatiese mans se liefde en beskerming, maar dis so dat hulle biologies aangetrokke voel tot alfamans, daardie bad boy, waardeur hulle hulself blootstel aan moontlike mishandeling. Maar, sê Isenberg, sulke vroue verstaan nie die verskil tussen werklike krag en brutale geweld nie.

Seltzer verwys na neurowetenskaplikes wat meen moord is “ ’n doeltreffende manier om baie vroue se aandag te kry”. Die moordenaar het die uiterste vorm van mag gebruik toe hy iemand doodgemaak het. Vir sy nuwe vrou is daardie mag aanloklik. Sy wil daarin deel, meen Isenberg. Om te kan sê: “Ek is mev. Charles Manson.”

Die reeksmoordenaar is heel bo-aan die hiërargie van “glansmense” in die tronk. Die vrou het onmiddellik almal se aandag. Op ’n aweregse manier verhoog dit haar eiewaarde. Skielik is sy “iemand”.

Maar al is die vrou onafhanklik om haar eie besluite te neem, bly die man die dominante een, al is hy in die tronk. Hy beheer steeds die vrou.

Ook buite die tronk, sê Seltzer, kom hy as terapeut baie vroue teë wat kla oor hul kwesbaarheid in ’n verhouding met ’n dominerende man. Hul gesonde verstand sê vir hulle hy’s die verkeerde man.

Maar nee . . .

) Hierdie artikel is ’n aangepaste uittreksel uit André le Roux se boek Narsiste, psigopate, stalkers en sadiste, Tafelberg, 2017.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.