Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
My wens vir 2017: meer soen

My Nuwejaarsvoorneme is om meer te soen.

Nie groetsoen nie, daarmee is ek nog ongemaklik.

Ek praat van oretuit- en hoedervleissoen.

Dit is bereikbaar, realisties en lekker. Presies wat ’n goeie Nuwejaarsvoorneme moet bevat – altans volgens my.

Die vorige jare het ek meer uitdagende voornemens probeer aanpak en het dit perfek reggekry om daarin te misluk.

Een van hulle was om die wurms uit my taalslaai te verwyder. Dit het gehou tot iemand die dag te stadig voor my bestuur het en toe wemel my taalslaai. Ek het elke letter van die alfabet gebruik om hom te vloek.

’n Ander een was om meer gimnasium toe te gaan. Die enigste keer dat ek daar was. was toe die water in my kompleks af was en ek ’n stort nodig gehad het.

Ek was varser uit as in – dit moet gewoonlik die teenoorgestelde wees.

Dít was van die meer komplekse voornemens. Vanjaar het ek besluit om dit eenvoudiger te hou. ’n Mens moet eers kruip voor jy loop.

Sou ek sukses bereik met die voorneme, sal ek my lysie uitbrei.

Toe ek aan die begin van die jaar weer die saligheid van ’n goeie kus ervaar, het ek besluit dat my voorland meer daarvan moet wees.

Almal verdien ’n goeie soen. Die enigste ding wat jou lippe raak, kan nie net die lipklammakers wees nie.

’n Goeie soen is voedsel vir vlees en gees. Dit gooi vir ’n paar minute ’n kombers oor die suur van die lewe. Dit is ’n geskenk aan jouself en die ander sonder om geld uit te gee – hopelik. Dit kan nie genoeg gedoen word nie. Dit kan wel te min gedoen word en dit is hoogs onaanvaarbaar.

’n Onaangename soen mag ook nie geduld word nie. Dit is ’n onreg en ’n misdaad. En die land het genoeg van albei. Wie dit verdra, is net so skuldig. Die deler is so goed soos die vreugdesteler.

Wanneer ek in die toekoms iemand gaan teëkom vir wie die kuskuns ’n uitdaging is, gaan ek die individue teregwys. As dit steeds as struikelblok dien, gaan ek onmiddellik die aksie stuit.

Of dit jou nooi, kêrel of eggenoot is, hulle moet weet wanneer dit veel te wense oorlaat. Jy kan dit nie duld dat iemand jou met hul tande rasper asof jy beet is nie. Voorgee vergiftig die siel. Mense hoef nie wreed te wees daaroor nie, jy posisioneer hulle net in die regte rigting.

My een vriend het nou die dag sy kusmaat wenke gegee om die kuns te bemeester. Ek het dit eers eienaardig gevind, maar toe sien ek dat dit werk. Ek besef nou dat kommunikasie die sleutel tot geluk is.

Dus gaan ek toegewyd en gemotiveerd die voorneme aanpak.

Ek sal nie misluk soos vorige jare nie. Ek sal nie opgee soos in die verlede nie. Ek sal triomfeer en dit 110% gee.

Ek hoop gereelde soensessie is ook jou Nuwejaarsvoorneme. Jy weet nie wat die jaar inhou nie, jy kan dit netsowel byvoeg.

Meer oor:  Piet Matipa
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.