Aktueel
My oupa, die universiteit se ‘grootste vyand’

Drie M.C.’s: Prof. M.C. Botha, oudrektor van die Universiteit van Pretoria, met sy kleinseun, die skrywer van hierdie artikel, op sy skoot. Links sit die derde M.C., die oudrektor se seun en M.C. jr. se oom. Laasgenoemde was ’n immunoloog en lid van

Ek ken die rektor van die Universiteit Stellenbosch, prof. Wim de Villiers, van g’n kant nie. Maar ek het baie simpatie met hom: Die taak wat hom opgelê word te midde van die kakofonie uit alle oorde, is ’n onmenslike een waarvoor daar geen antwoord is nie – veral vir diegene wat by wyse van spreke óf wit óf swart sien.

Kom ons bekyk die merkwaardig soortgelyke omstandighede waarmee my oupa diep in die vorige eeu gekonfronteer was.

Die Universiteit van Pretoria het in 1908 begin as die Transvaal University College, oftewel TUC – vandaar Tuks of Tukkies wat tot vandag bly staan. Die aanvanklike beleid was om klasse slegs in Engels aan te bied, waarna ’n meertaligheidsbeleid met volle erkenning aan beide Engels en Afrikaans ter wille van ’n strewe na eenheid (tussen slegs wittes) aanvaar is.

Maar die derde rektor, prof. A.E. du Toit, het in 1929 tot groot konsternasie van Engelstaliges ’n totaal Afrikaanse universiteit bepleit. Sy vader was S.G. du Toit, sekretaris van die destydse taalbeweging, die Genootskap van Regte Afrikaners, met wie se sentimente sy seun hom openlik vereenselwig het.

Studente het op ’n massavergadering op die kampus teen Du Toit te velde getrek. “Hy is heftig gekritiseer, gewantrou en selfs beswadder,” skryf Flip van der Watt in Rectores Magnifici, wat handel oor die instelling se eerste tienstuks rektore.

Die studenteraad is afgedank, waarna die protes toegeneem het en ’n wapenstilstand eers met herhaalde pogings agter die skerms bereik kon word.

’n Opspraakwekkende romanvan oor die 500 bladsye verskyn – War, Wine and Women deur Wilfred Saint-Mandé – waarin staan dat die Voortrekkers se gunsteling-tydverdryf was om kinders nie net by hul vroue nie maar ook by hul tallose swart bywywe te verwek. Voorts is die NG Kerk se predikante sonder genade, naasteliefde of welwillendheid, terwyl die “back-veld Boer” slegs bad wanneer hy gedoop, in die huwelik bevestig en begrawe word.

Onwelkom in SA: Die spotprent van D.C. Boonzaier het op 6 Augustus 1932 in Die Burger verskyn. Boonzaier dryf hier die spot met Henry Lamont, ’n senior lektor in Frans aan die UP, wat die boek War, Wine and Women onder die skuilnaam Wilfred Saint-Man

Gerugte doen die ronde dat Saint-Mandé die skuilnaam is van ’n personeellid by die UP en word opgevolg deur ’n stortvloed dreigbriewe van individue en organisasies soos die Afrikaanse Verbond, die Afrikaanse Jongspan, die Afrikanerkring en die Handhawersbond.

Mettertyd skemer dit deur dat die outeur die Brit Henry Lamont, senior lektor in Frans aan die UP is. Op Maandag 23 Mei 1932 wag vier jong mans – onder wie twee kleinkinders van pres. Paul Kruger – hom by sy huis in Arcadiastraat in. Hulle oorrompel en teer en veer hom, waarna hulle hom in ’n motor boender en op Kerkplein gaan afgooi.

Die voorval maak opslae en ’n berig daaroor verskyn in The Times in Londen, asook in The New York Times.

’n Pro Patria-fonds word op die been gebring om die skuldiges finansieel in hul komende strafsaak by te staan, met die stipulasie dat die restant aangewend word om Afrikaans op die kampus te bevorder – olie op die vuur vir Engelssprekendes. Daarenteen moet polisieversterkings ontplooi word omdat Lamont-aanhangers glo die universiteit wil afbrand.

Die brose kalmte oor die gelykberegtiging van die amptelike tale lê meteens aan skerwe toe die universiteitsraad op 13 September 1932 met 13 teen 4 stemme besluit dat die 50-50-voertaalbeleid afgeskaf word en dat Afrikaans voortaan die taal van die universiteit sal wees.

Dit het die Pretoriase stadsraad genoop om sy aansienlike jaarlikse toekenning aan die universiteit op te skort, ’n besluit wat Die Vaderland in ’n emosionele hoofartikel laat uitroep dat “die knopkierie van tierende ‘Britse’ sentiment al weer ingespan word om die Afrikaner se kopbeen terstond in te slaan”.

Voortrekker-eeufees: Tydens die herdenking van die Groot Trek op 13 Desember 1938 het ’n skare van 30 000 op die terrein van die Universiteit van Pretoria bymekaargekom. Hier is ’n erewag van 300 vroue wat die kanselier, rektor en dekane van fakultei

Die pro-Afrikaanse faksie op kampus bly groei en heethoofde skaar hulle al meer by die soort Afrikaner-nasionalisme wat dr. D.F. Malan voorstaan. Dit was in teenstelling met genl. Hertzog en genl. Smuts wat saam in die Verenigde Party ’n meer gematigde heenkome kon vind.

Die Afrikaanskulturele opbloei bereik ’n simboliese toppunt gedurende die rektorskap van Carl Schmidt, Botha se voorganger.

Tydens die 100-jarigeherdenking van die Groot Trek op 13 Desember 1938 kom ’n skare van 30 000 op die universiteitsterrein bymekaar en in die lig van derduisende vierkleurliggies braai hulle vleis en vier fees.

Die wielspore van die Andries Pretoriuswa – bestem om op 16 Desember (Geloftedag) vir die hoeksteenlegging by die Voortrekkermonument op te daag – word in nat sement voor die Merensky-biblioteek afgedruk. ’n Brandende fakkel van die Voortrekkerbeweging word in die portaal van die Ou Letteregebou aangebring “tot die dag wat Voortrekkervryheid weer oor ons velde sal lag”, aldus Universiteitsnuus, ’n publikasie vir oudstudente.

Die wiel bly draai, of hy nou in sement vasgevang word of nie. Vandag is seker 8 uit 10 mense wat daar verbystap swart en nie Afrikaanssprekend nie.

Intussen het die militaristiese en pro-Duitse Ossewa-Brandwag tot stand gekom wat burgerskap slegs aan “volksgenote, antikapitaliste en antikommuniste” bepleit. Die beweging is sterk op kampus verteenwoordig, ook onder vooraanstaande dosente. Volgens Van der Watt het pro-Britse simpatiseerders die universiteit uitgekryt as “broeiplek vir anti-Semitisme, Naziïsme en ‘Malanazi’s’ ”.

Toe die eeufeesfakkel deur opstokers geblus word en geweld uitbreek, moes die universiteitsowerheid by die polisie op beskerming aandring. Die senaat besluit om studenteoptogte te verbied en selfs die bespreking van politiek word aan bande gelê. Die rektor word weens die onstuimige gemoedere verplig om die universiteit ’n week voor die einde van die eerste semester in Junie 1940 te sluit.

Dit is met hierdie agtergrond dat my oupa, M.C. Botha, deur ’n gesamentlike komitee van die raad en senaat gekies is om die leisels in 1941 oor te neem.

Onder sy doelstellings wil hy probeer bewys dat Tuks “net so min anti-Brits en pro-Afrikaans is as wat die Universiteit van Kaapstad pro-Brits en anti-Afrikaans is”. Weldra staan hy bekend as “die man met die silwer tong”.

Maar die rektor is primêr daar om ’n belangrike taak aan te pak: die stigting van die eerste Afrikaanse geneeskundige fakulteit in die land. Op die openingsplegtigheid lewer hy ’n kragtige rede:

Taalpolemiek: By die onthulling van ‘n portret van die voormalige rektor, prof. M.C. Botha, by die mediese fakulteit van die UP staan Irmin Henkel (skilder van die werk), M.C. Botha (prof. Botha se kleinseun, toe 14 of 15) en die immunoloog dr. M.C.

“As Afrikaners soek ons eenheid en vind verdeeldheid. Want die eenheid wat ons najaag, is nie die ware eenheid in verskeidenheid nie, maar eendersheid wat vyandig staan teenoor enige vorm van andersheid. Is ’n Christelike lewensbeskouing te rym met enige soort selfsugtige nasionalisme wat in alle andernasiemense slegs vyande sien wat ekonomies en andersins onderdruk moet word? Dit word vir baie ware kultuurmense in ons land al moeiliker om óf Christen óf Afrikaner te wees.”

Later in die toespraak praat hy van “ons sieklike en lydende demokrasie” en verwys na diegene wat tot elke prys Afrikaans wil bevorder en Engels afskiet as “teringagtige kultuurmensies”.

Hierdie sterk uitsprake in ’n tyd dat die meerderheid Afrikanerleiers al meer veld begin wen omdat hulle hul aanhangers se voortbestaan kan koppel aan die sterkte van hul laermentaliteit, word klaarblyklik nie in alle geledere gunstig ontvang nie.

Tewens, my oupa wat net so liries kon raak en inderdaad onkrities geskryf het oor baanbrekerleiers soos Paul Kruger, word nou daarvan beskuldig dat hy die Afrikanersaak verraai.

Dr. G.W.H. Schepers, hoof van die departemente anatomie en fisiologie, bedank, omdat hy in ’n onderonsie met Botha oor taal die kant van die studente kies. Die meesterargitek van grande apartheid, dr. H.F. Verwoerd – nou redakteur van die pro-Nasionale opposisiekoerant Die Transvaler en uitvoerende raadslid van die Afrikaner-Broederbond – rig egter ’n openlike aanval.

Op 6 Maart 1943 skryf hy onomwonde in ’n hoofartikel: “Die rektor van die Universiteit van Pretoria loop gevaar om hierdie inrigting se grootste vyand te word.”

Die hewige kritiek muteer tot verdagmakery en vendettas nadat die rektor voortgaan om aanstellings in die nuwe fakulteit op grond van bekwaamheid te doen en nie net op grond van potensiële kandidate se vaardigheid in Afrikaans nie.

Sommige van die lektore is trouens nie eens Afrikaanssprekend nie. Botha het immers aangekondig dat hy altyd sal probeer “om die beste leerkragte te trek om die wetenskaplike gehalte van die opleiding te verseker”. Hy skryf ook dat die fakulteit net ’n sukses kan wees en inderdaad oorleef as “ons alle kleinsielige eiewaan en eiebelang op die agtergrond skuif en leer wat dit beteken om lojaal te wees teenoor gemeenskaplike belange”.

Polemieke oor die taalkwessie wou nie gaan lê nie. Nadat 12 professore uit verskillende fakulteite in Desember 1944 ’n protesskrif onderteken omdat hulle voel die rektor het met die totstandkoming van die geneeskundige fakulteit die “Afrikaanse karakter” van die universiteit ondergrawe, begin die kultuurvraat en Broeder, dr. Theo Wassenaar, ’n georkestreerde veldtog om die rektor te beklad.

In Die Volkstem van 15 Januarie 1945 kryt hy Botha en sy geesgenote uit as “Afrikaners in naam” en “melk-en-water-Afrikaners”, terwyl hy in die provinsiale raad die rektor beskuldig van “misleiding en knoeiery” rakende die aanstelling van dosente en sodoende die universiteit verlaag tot ’n “kosmopolitiese, liberalistiese, onafrikaanse maaksel”.

Botha antwoord snydend met ’n verklaring aan Die Vaderland van 26 Januarie 1945.

“Dr. Wassenaar se fulminasies in die pers teen my persoonlik raak my koue klere nie. Keffers moet blaf om hul bestaan te regverdig. Ek weier ten enemale om die Afrikanerdom te beskou as ’n primitiewe inboorlingstam wat die beste mense uit ons universiteit wil weer omdat hulle nie raserige, derderangse partypolitici is of wil wees nie.”

Die saakword op die spits gedryf toe Wassenaar die dekaan en lede van die fakulteit geneeskunde in ’n lywige skrywe vra om die volgende by die universiteitsraad aan te beveel:

Volksverraaier? Prof. M.C. Botha was van 1941 tot 1947 rektor van die Universiteit van Pretoria (UP) en het bekend gestaan as “die man met die silwer tong”. Hy het na diegene wat tot elke prys Afrikaans wil bevorder en Engels wil afskiet, verwys as “

Dat ’n kommissie van ondersoek “onder voorsitterskap van ’n Afrikaanse Regter” aangestel moet word om te bepaal in hoeverre die rektor die belange van die universiteit benadeel het, veral met die oog op die verklaarde 100% Afrikaanse beleid uit 1932.

Wat die rektor betref, het die situasie onhoudbaar geraak. Op 6 Maart 1945 kondig hy sy bedanking aan.

Hoewel hy oorreed is om nie die tuig neer te lê nie, het sy volgehoue teenkanting teen en weiering om lid van die AfrikanerBroederbond te word direk daartoe aanleiding gegee dat die veldtog om hom finaal uit te werp, suksesvol was.

Sy termyn is nie in 1947 verleng nie. Die Broeders sou hom nooit vergewe daarvoor dat hy dosente nie eerstens beskou het as draers van die denkwyse en lewensbeskouinge van die Afrikanervolk wat Afrikaans tot elke prys moet beskerm nie.

In 1997, presies ’n halfeeu nadat Botha as rektor uitgerangeer is, aanvaar die UP onder die tiende rektor, prof. Johan van Zyl, die volgende beleid:

  • die erkenning van die beginsels van deursigtigheid, inklusiwiteit en legitimiteit van alle belangegroepe;
  • die bevordering van ’n kultuur van verdraagsaamheid; en
  • uitnemendheid en prestasie moet die belangrikste kriteria by aanstellings wees.

En vandag, nog 18 jaar later, staan die mediese fakulteit as die Faculty of Health Sciences bekend, en die hoof van die fakulteit se studenteadministrasie, mnr. Robert Cooper, sê by navraag dat 99,9% van alle klasse in Engels aangebied word. Wat anders kan die US se voorland wees? Afrikaans se nael­string sal dan geknip wees en die simbiose met apartheid ook in dié bakermat van Afrikanerdom oplaas vernietig.

  • M.C. Botha is ’n skrywer van Hermanus wat tans werk aan ’n biografie van sy pa, in lewe appèlregter André Botha.
  • Ander bronne: Historia (Nov. 2008), S.A. Journal of Cultural History (Mei 1999), Ad destinatum (1960).

Meer oor:  Universiteit Van Pretoria  |  Stellenbosch  |  Taal  |  Afrikaans  |  Engels  |  Onderwys
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Volg Netwerk24