Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
’n Bewaringsvraag om oor na te dink
Die wêreld was verontwaardig toe ’n Amerikaanse jagter Cecil die Hwange-leeu in Zimbabwe gejag het. Moet trofeejag verbied word?

Hermann Meyeridricks sê nee

Hermann Meyeridricks

Die ongekende histerie onder sekere lede van die gemeenskap maak dit duidelik dat heelwat feite oor trofeejag buite rekening gelaat word.

Daar is ’n wanindruk dat alle leeubevolkings bedreig word. In Suider-Afrika is dit nie die geval nie, inteendeel, in Suid-Afrika, Namibië en Zimbabwe het wilde leeus tussen 1993 en 2014 met 11% toegeneem, aldus die Internasionale Bewaringsunie (IUCN), een van die oudste en mees gerespekteerde bewaringsliggame.

Daar is ook ’n wanpersepsie dat trofeejag onwettig is. Ons Grondwet beskerm die volhoubare benutting van ons natuurbronne. Trofeejag word beheer deur uiters streng wetgewing, permitstelsels, kwotas en internasionale konvensies, hier en ook in die lande waarheen trofeë versend word.

Dan is daar ’n wanindruk dat trofeejagters die “trofee” net tot elke prys wil bekom. Die term “trofeejag” het ’n lang geskiedenis en is miskien nie meer akkuraat nie.

Trofeejag gaan eerder oor die ervaring om manlike diere, wat verkieslik nie meer teel nie, selektief en verantwoordelik te jag.

Nog ’n wanindruk is dat slegs die “trofee” geneem en die res van die dier nie benut word nie. In Afrika word grotendeels in landelike gebiede gejag. Enige vermorsing is ’n luuksheid wat gemeenskappe eenvoudig nie kan bekostig nie. Alles word benut deur mense wat dit broodnodig het.

Die positiewe rol wat volhoubare, verantwoordelike en wettige jag in die bewaring van biodiversiteit speel, word deur ’n magdom feite ondersteun.

Dis nie nodig om hier weer die syfers oor Suider-Afrika, en veral Suid-Afrika, se groeiende wildgetalle te herhaal nie. Dit is reeds genoeg gedoen.

Wilddiefstal, of stroping (poaching), staan reëlreg teenoor gereguleerde jag – dit is nie volhoubaar of wettig nie, dit dra nie by tot bewaring of werkskepping nie en hou g’n sosiaal-ekonomiese voordele in nie.

Indien die jag op Cecil enigsins onwettig was, en dit kan slegs deur ’n hof beslis word, moet dit dus daarom, en nie om ander redes nie, veroordeel word en moet die oortreders gestraf word.

Die huidige reaksie op trofeejag is insiggewend. Dit lyk of geen bewaringsinstelling nog standpunt daarteen ingeneem het nie. Die stortvloed negatiewe reaksie kom hoofsaaklik uit twee oorde: eerstens die diere­regtebeweging en leunstoel-bewaringsdeskundiges; en tweedens die publiek, hoofsaaklik uit verstedelike gemeenskappe hier en in die Weste.

Baie word gesê oor die moraliteit van jag.

Openbare mening is belangrik en as verantwoordelike jagters moet ons altyd daarop ag slaan. Ongelukkig is daar tans weinig konstruktiewe debat in die openbare diskoers. Irrasionele dreigemente en beledigings, waarvan heelwat alle grense van moraliteit en waarskynlik ook wettigheid oorskry, vier hoogty.

Veral die diereregtebeweging volg lank reeds dié werkwyse om emosies op te sweep en finansiering te kry, waarvan baie min by werklike bewaring uitkom.

Baie word gesê oor die moraliteit van jag. Jagters respekteer ander se besluit om nie te jag of daarvan te hou nie en selfs om daarteen gekant te wees. Maar oorweeg die volgende: Is dit moreel regverdigbaar om jag te beoordeel op grond van eie, persoonlike emosies (antropomorfisme) en is dit moreel regverdigbaar om enkele diere se belang bo dié van die kollektief te stel?

Of is dit eerder meer regverdigbaar om jag te beoordeel op grond van die onbetwiste rol wat dit speel in bewaring, spesies se voortbestaan en armoedeverligting? Wanneer dié vraag oorweeg word, is dit belangrik om nie dierewelsyn, wat ook deur jagters ondersteun word, met volhoubare jag te verwar nie.

Is dié wat verantwoordelike jagters ongenaakbaar aanval se posisie moreel meer regverdigbaar? Ek glo nie. Ons is almal verantwoordelik vir wat met ons natuurerfenis gebeur, ook die vegetariërs tussen ons. Die kropslaai en mielies wat ons eet, moet iewers groei. Wilde diere en natuurlike plantegroei word toenemend voor die voet vernietig om plek te maak, nie net vir boorde en landerye nie, maar ook om vir ons plek te maak om te woon (veilige woonbuurte, waar leeus ons kinders nie vang nie). Wie moet die skuld vir dié vernietiging kry?

Jagters werk hard daaraan om die laaste wilde plekke op ons planeet wild te hou en te beskerm vir almal om te geniet, ook vir dié wat nie jag nie. Jagters is nie die vyand nie. Kom ons fokus op die ware uitdagings vir bewaring – oorbevolking, habitatvernietiging, besoedeling, onwettige handel, georganiseerde misdaad en die legitieme verwagtinge van landelike gemeenskappe.

Meyeridricks is president van die Professionele Jagtersvereniging van Suid-Afrika.

Don Pinnock sê ja, dalk

Don Pinnock

Mense in bewaringskringe, soos Damian Aspinall, direkteur van die Aspinall-stigting, vra: Beskerm trofeejagters biodiversiteit deur die bedrae wat hulle vir jagtogte betaal of is hulle hartelose mense wat weerlose wilde diere doodmaak?

’n Tergender vraag is of dit nie, benewens nasionale parke, die enigste manier is om wild in Afrika volhoubaar te hou nie: om ryk jagters toe te laat om ons wild dood te maak.

Safari-operateurs is die bewaarders van minstens 1,4 miljoen m² van grond in Afrika suid van die Sahara. Dit is 20% meer as die gebied wat nasionale parke beslaan in lande waar jag toegelaat word. Duidelik is jag dus ’n seën vir biodiversiteit.

Rosie Cooney, hoof van die Inter­nasionale Bewaringsunie se groep vir volhoubare gebruik, beweer dat groot gebiede, insluitend Namibië se bewaringstelsel en al die wild daarop, bedreig sal word sonder trofeejag.

Bewaar jag dus habitat? Absoluut, want dit beperk ontwikkeling.

Trofeejag het beslis dollarwaarde, hoewel dit dikwels moeilik is om die geldspoor te volg. Edna Molewa, minister van omgewingsake, voer aan die bedryf se jaarlikse waarde beloop R6,2 miljard, hoewel dié syfer volgens ’n wetenskaplike studie deur Eco­nomists at Large net R112 miljoen ­beloop (1,2% van die inkomste uit toerisme).

Min daarvan kom uit by die gebiede waar gejag word. Luidens ’n verslag van die Verenigde Nasies (VN) se kos- en landbou-organisasie kom slegs 3% van jaginkomste uit by gemeenskappe in die omgewing waar gejag is. Trouens, in sommige gebiede kan die beperkte ekonomiese voordeel wat trofeejag vir inwoners inhou stropers help, want hulle betaal mense om die diere te skiet en aan te dra.

Afrika se wildbevolking neem konsekwent af sedert vuurwapens die speelveld al 200 jaar gelede ongelyk gemaak het. Maar die afgelope 20 jaar is die vermindering van spesies katastrofies. Dit is grootliks te wyte aan ’n verlies van habitat weens menslike bevolkingsaanwas, asook die massiewe stropery van olifante, renosters en leeus vir Asiatiese markte.

Is trofeejag deel van die probleem? Jag-etiek skryf voor dat diere gejag mag word as hul beste teeljare verby is. Jagters reken dis volhoubaar aangesien die verlies van dié diere weinig impak het. Dié etiese kode word dikwels oortree deur onkunde, kullery en misdadigheid.

Is trofeejag deel van die probleem?

Een manier waarop dit oortree word, is deur die uitreiking van sogenaamde “probleemdier”-permitte. Onetiese operateurs misbruik dit oor die vasteland heen. Probleemdierpermitte om olifante in en om die
Hwange Nasionale Park te jag, was byvoorbeeld onlangs vrylik beskikbaar in Zimbabwe. Vreemd genoeg het die “probleemdier” altyd die grootste tande of die grootste, donkerste maanhare.

Nog ’n manier waarop daar gekul word, is deur diere uit ’n park te lok, soos wat met Cecil die leeu gebeur het. Die enigste rede waarom die oortreder in dié geval gevang is, is omdat Cecil ’n opsporingshalsband aangehad het. Jagters se onvermoë (of onwilligheid) om diere se ouderdom akkuraat te skat, het tot gevolg dat topgehalte-teeldiere dikwels uit die geenpoel verwyder word.

Die idee dat jag op ouer diere nie ’n verlies vir hul troppe is nie, word weerlê in ’n studiebevinding in die Journal of Wildlife Management deur die navorsers Jeanette Sellier, Bruce Page, Abi Vanak en Rob Slotow. Die navorsers het bevind dat die selektiewe verwydering van ’n paar groot trofeë of ouer mannetjies uit karnivoor- en wildsbokbevolkings daartoe lei dat die trop se sosiale strukture omvergewerp word en belangrike sosiale kennis verlore gaan.

Dit lei dan daartoe dat kleintjies doodgemaak word, wyfies voorplant in habitatte wat nie optimaal is nie en die verhouding van wyfies tot mannetjies onder nuutgebore kleintjies verander. Hul gevolgtrekking is dat trofeejag in die Limpopo/Botswana-omgewing olifanttroppe destabiliseer en dus onvolhoubaar is.

Die vraag is of trofeejag volhoubaar is.

Om grond te bewaar vir jagdoeleindes is sekerlik ’n manier om ’n groter vlak van biodiversiteit te handhaaf. In sekere situasies en op sekere plekke is die skade wat deur trofeejag aangerig word, beperk (dit kan egter verander namate wildbevolkings afneem). Maar dikwels oortree jagters in hul soeke na die grote en verlam só die bevolkings van prooispesies.

Saam met menslike indringing en stropery in Afrika word jag vir plesier toenemend ’n probleem. Dit laat ons met die strikvraag wat die middelpunt van enige gesprek oor trofeejag behoort te wees: Is buitelandse jagters wat ons wild doodmaak die enigste manier om wild in Afrika volhoubaar te bewaar?

 Pinnock is ’n natuurlewe- en reisskrywer.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.