Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
’n Aaklige jaar vir vroue
Covid-19 het veral vroue vanjaar erg geraak. Talle vroue, veral dié wat in die informele sektor werk, het hul inkomste verloor en hulle moes boonop tuis – meer as voorheen – na kinders en siek familielede omsien. Foto: istock

Die chaos wat wêreldwyd deur die Covid-19-pandemie veroorsaak is, is ook nadelig vir die vordering wat reeds gemaak is in vroue se stryd om gelykheid.

Luidens data van die Verenigde Nasies (VN) het vroue vóór die pandemie reeds drie keer meer as mans gedoen wat huishoudelike take en die versorging van kinders betref. Dit het in 2020 vererger, met vroue wat wêreldwyd die primêre versorgers (en tuisonderwysers) van kinders geword het. Hulle moes ook omsien na siek gesinslede.

Terugkeer na die 1950’s

’n Groep in Brittanje wat hulle bevorder vir gelyke regte, sê daar skemer selfs iets deur van ’n “terugkeer na die 1950’s” as jy in ag neem hoeveel onbetaalde werk vroue in 2020 verrig het.

Die pandemie het tot geweldige werksverliese gelei en dit het veral sektore geraak waar vroue in diens is, byvoorbeeld die gasvryheidsbedryf, kleinhandel en toerisme. In sommige gevalle het vroue self bedank of minder ure gewerk ten einde verpligtinge tuis na te kom.

Dis veral in ontwikkelende ekonomieë, waar vroue meestal in die informele ekonomie werk, waar vroue swaar gekry het. In Kenia het 20% van vroue (teenoor 12% van mans) vanjaar hul werk of inkomste verloor.

Die stil pandemie

Inperkings oor die hele wêreld het nóg ’n onbedoelde gevolg gehad, naamlik vroue wat slagoffers van huishoudelike geweld is, wat skielik vir lang tydperke opgesluit is saam met dié wat hulle mishandel.

Huishoudelike geweld – die stil pandemie – het sulke groot afmetings aangeneem dat António Guterres, sekretaris-generaal van die VN, in ’n stadium gevra het vir ’n “skietstilstand by die huis”.

In sommige lande is hotelle beskikbaar gestel waarheen mishandelde vroue kon ontsnap en slagoffers is aangemoedig om vir hulp te vra wanneer hulle winkels of apteke besoek het.

Die sluiting van skole weens inperkings het ook ’n negatiewe uitwerking op miljoene skoolmeisies gehad.

Kinderregtegroepe in Afrika vrees dat baie meisies die skool vanjaar permanent verlaat het. Jare se werk om geslagsongelykheid uit die weg te ruim het hierdeur ’n terugslag gekry.

Die sluiting van skole het ook die risiko verhoog dat dié meisies slagoffers van seksuele geweld kon word, terwyl meisies in arm wêrelddele seks verruil het vir basiese benodigdhede soos kos.

Kinderbruide

Die VN voorspel dat die pandemie oor die volgende tien jaar kan lei tot ’n ékstra 13 miljoen kinderhuwelike met armoede wat die groot dryfveer is vir gesinne om jong meisies getroud en uit die huis te kry.

Terselfdertyd voorspel die VN ’n toename in praktyke rondom die besnydenis van meisies. ’n Toename is reeds in Oos- en Wes-Afrika bespeur omdat inperkings gesien is as ’n geleentheid om sonder inmenging hiermee voort te gaan.

Armoede dryf dié praktyk, met ouers wat dink hulle kan beter “bruidpryse” vir hul dogters kry indien die meisies besny is. In Somalië het besnyers selfs van deur tot deur gegaan om hul dienste aan te bied aan meisies wat tuis “vasgekeer” is.

Kenia het onderneem om dié praktyk teen 2022 uit te wis, maar dit het weens die pandemie ’n terugslag gekry, met meisies wat ná besnyding in parades in strate vertoon is. In Egipte is ’n man in hegtenis geneem ná hy sy drie dogters dokter toe geneem het vir besnyding nadat hy hulle onder die indruk gebring het hulle gaan ’n Covid-19-inenting kry.

Aborsies

Strenger wetgewing teen aborsies is vanjaar in Pole ingestel en in Amerika het aktiviste gevrees die aanstelling van die konserwatiewe Amy Coney Barrett as regter in dié land se hoogste hof gaan ’n terugslag wees vir wetgewing oor aborsie.

Die koronavirus het vroue se toegang tot aborsies in 2020 belemmer weens reisbeperkings, die sluiting van klinieke en die druk op gesondheidstelsels.

Die Guttmacher-instituut in die VSA wat fokus op navorsing in reproduktiewe gesondheid, meen selfs die kleinste ontwrigting in gesondheidsdienste kan lei tot 15 miljoen onbeplande swangerskappe, 28 000 sterftes van vroue tydens geboorte en 3,3 miljoen onveilige aborsies.

Die sluiting van klinieke, uitreikprogramme, fabrieke wat toegemaak is en vertragings in verskeping van medikasie het ook ’n tekort aan voorbehoedmiddels en aborsie-medikasie veroorsaak.

Mensehandel

’n Toename in armoede en die sluiting van skole het meegebring dat baie meer meisies en vroue kwesbaar was vir menslike handel.

Die VN sê met die finansiële krisis van 2007-’08 en gepaardgaande werkloosheid, was daar ’n toename in mensehandel.

Die vermoede is dat dié patroon hom weer kan herhaal. Daar was reeds ’n skerp styging in die handel van “bruide” van Kambodja aan Chinese mans.– Thomson Reuters Foundation

Meer oor:  Vroueregte  |  Mensehandel  |  Vroue  |  Armoede
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.