Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
'n Beter Suid-Afrika begin by my

Suid-Afrika kan ’n baie beter plek word as ons anders optree en doen in ons daaglikse handel en wandel daar waar ons is en beweeg: ons werk, ons huise, ons paaie, maar ook teenoor die mense rondom ons, skryf Wannie Carstens.

Prof. Wannie Carstens saam met Frans Moheilwa. Dié karwag van Krugersdorp het Carstens se vrou, Wilma, onlangs gehelp nadat Carstens siek geword het. Foto: Verskaf

Ons wat in die platteland bly, moet gewoonlik ver (en lank) ry om by ons bestemming uit te kom as ons stede toe moet gaan.

Verlede week moes ek die 180 km tussen Potchefstroom en Pretoria aflê om ’n verpligting in Pretoria na te kom. Die voordeel van so ’n rit is egter dat jy kosbare dink- en waarneemtyd het.

So kom ek agter dat ek een van die min mense is wat my aan die spoedgrens steur. (Dit klop met my ervaring tydens ’n onlangse rit op die N1 tussen Bloemfontein en Kaapstad.) Die motors flits verby, en waar 80 km/h gery moet word, word gemaklik 100 km/h gery, die verbysteek op sperstrepe is voor die hand liggend, by verkeersligte is die kleure oranje, rooi en groen net versierings op pale langs die pad. En die ongeduld! Oor die roekeloosheid van minibustaxi’s praat ek nie eens nie.

Dit laat my dink: Wat is met ons as burgers van die land aan die gang? Hoekom is die handhaaf van wet en orde van so min belang? Hoekom steur ons ons bitter min aan “burgerlike afsprake”, waarvan die nakom van verkeersreëls maar net een voorbeeld is. Watter voorbeeld stel ons hiermee aan die volgende geslag? Wat gaan húlle doen as ons geen grense respekteer nie?

Leon Wessels, ondervoorsitter van die destydse Grondwetskrywende Vergadering en voormalige kommissaris van die Menseregtekommissie, aan die woord op ’n byeenkoms van Ubudlelwano in Johannesburg. Foto: Jo Prins

Dit laat my verder dink: Wat kan ons as landsburgers doen om die tsoenami van mismoedigheid (weens korrupsie, swak landsbestuur, munisipaliteite wat landwyd in duie stort, ’n ellendige ekonomie, rampspoedige bestuur deur die regering, ensovoorts) en saam hiermee ’n apatie met die implisiete burgerlike afsprake om te keer?

Die vraag is sekerlik of dit omgekeer kan word!

Die antwoord kom by my op: Verander bloot jou houding oor dinge in die land.

Wat hou dit in? Gewoon dat ons anders optree en doen in ons daaglikse handel en wandel daar waar ons is en beweeg: ons werk, ons huise, ons paaie, maar ook teenoor die mense rondom ons.

Dit impliseer dat ons meer sal moet doen en minder sal moet kla.

Dit hou dan ook in dat ons saam met ander mense gesamentlik verantwoordelikheid aanvaar vir die welsyn van ons “wye en droewe land” (aldus NP van Wyk Louw) en veral vir die behoud van wat vir ons kosbaar is: ons stede en dorpe, ons woonbuurte, ons paaie, ons parke, ons skole, ons winkelsentrums, noem maar op.

Dit hou ook in dat ek nie water mors nie (ons water is min en die land droog), dat ek krag probeer spaar waar ek kan (Eskom het ons hulp nodig).

Dit impliseer dat ons meer sal moet doen en minder sal moet kla. Dat ons heel elementêre dinge doen soos om net te begin om die basiese verkeersreëls na te kom, dat ons geduld aan die dag lê as ons op pad is en vrot en roekelose bestuurders teenkom (hier moet ek hard werk aan myself!), dat ons selfs in verkeersknope mense toelaat om voor ons in te druk (!), dat ons ons verkeersboetes betaal (eina!), dat ons die papiere wat rondlê voor ’n winkel optel en in die vullisdrom gooi, dat ons probeer om ons vullis te sorteer sodat daar waar herwinning kan gebeur dit wel gebeur, dat ons nie ons vullis by ons motors se deure uitgooi nie, ensovoorts.

Groet ’n Suid-Afrikaner

Ds. Tewie Pieters van Coligny wat help brûe bou in dié dorp. Foto: Deon Raath

Daar is nog so baie om te doen. Maar veral dat ons mekaar weer in die oë begin kyk en groet.

Aan die ou PUK was die slagspreuk: Om ’n Puk te wees, is om ’n Puk te groet. Dalk moet ons dit verander na: Om ’n Suid-Afrikaner te wees, is om ’n Suid-Afrikaner te groet.

Dan begin die wantroue dalk kwyn en begin ons mekaar as mense en medelandsburgers raaksien, nie as potensiële vyande nie.

Is dit te veel gevra om daagliks net daardie klein bietjie moeite te doen om rondom ons ’n beter ruimte te skep?

Gelukkig is daar reeds talle voorbeelde van hierdie soort bedrywighede oor die land heen:

* Saterdae kom ’n groep (wit en swart) vrywilligers hier op Potchefstroom bymekaar en verf die strepe van paaie, sny gras langs die paaie en tel vullis op. Só word ons dorp weer mooi en skoner. En ek is seker dit gebeur ook elders in Suid-Afrika.

* Barend le Grange van South Africa Day het begin om met die hulp van plaaslike gemeenskappe dorpe oor die land op te ruim, te verfraai en ook aan onderlinge verhoudinge te bou. Dink aan Coligny (dankie ook aan ds. Tewie Pieters, lede van die gemeenskap, studente van die NWU), Waterval Boven/Emgwenya, Cradock. Daar is reeds planne om by talle ander dorpe betrokke te raak sodat langtermyneienaarskap vir hierdie prosesse deur die gemeenskap aanvaar word.

* Gereeld vergader Jo Prins en ’n groep vriende in Johannesburg oor middagete met persone uit swart gemeenskappe vir gesprekke sodat daar beter begrip vir mekaar ontstaan. Só word ook sommer landsprobleme opgelos.

* Soveel Suid-Afrikaanse gesinne neem kinders uit ander groepe aan en gee hulle hierdeur ’n beter toekoms.

* Soveel Suid-Afrikaanse gesinne betaal die skool- en universiteitsgeld van hul huis- of tuinhulpe se kinders, of laat bou huise vir hul werkers.

* Soveel Afrikaanse moeders dra daagliks voedsel of kospakkies aan na gemeenskappe wat min het en sodoende word daar ten minste elke dag ’n bord kos moontlik gemaak.

* Talle Suid-Afrikaners gee spontaan ekstra klasse vir kinders wat nie toegang tot geriewe en kundige leiding het nie.

* Afrikaanse organisasies is reeds baie betrokke. Só herstel lede van AfriForum daagliks slaggate in talle dorpe en stede oor die land heen, is Solidariteit se Helpende Hand betrokke by verskeie welsynsprojekte in dorpe en stede, help die Afrikaanse Taalraad en die ATKV Afrikaanse kinders om beter opleiding te kry deur gereelde opleidingsgeleenthede aan te bied, help die Vriende van Afrikaans se boektrommels kinders om meer (en veral beter) te lees, en só kan ’n mens aangaan.

* Onlangs het ek onverwags siek geword tydens ’n rit Pretoria toe en my herstel is te danke aan Frans Moheilwa, ’n karwag van Krugersdorp, wat spontaan my vrou gehelp het om my betyds by die hospitaal uit te bring. Gewoon omdat hy nood herken het en instinktief opgetree het.

* Vriende se dogter se motorbande word beskadig deur slaggate op ’n verlate pad. ’n Samaritaan neem haar na ’n bandehandelaar, koop nuwe bande en bring dit aan die voertuig aan. En dan wil hy nie vergoed word nie omdat hy geseënd is. Gewoon ménse was hier betrokke en ras was nie ter sake nie. Net die nood was ter sake en weer eens is spontaan opgetree.

Nkosikho Mbele het oornag ’n internet-sensasie geword nadat hy met sy eie geld brandstof vir die 21-jarige Monet van Deventer gekoop het. Foto: Argief

* ’n Petroljoggie langs die N2 in Somerset-Wes koop brandstof vir ’n vroulike motorbestuurder omdat hy bang is sy gaan staan sonder brandstof in ’n onveilige omgewing. Spontaan en instinktief omdat hy omgee.

Uiteraard is daar baie meer projekte waarvan ek nie weet nie. En ook talle gebeure waar ongelooflike welwillendheid van landsburgers teenoor mekaar betoon is en word.

Kom ons maak egter daagliks hierdie lysie langer en langer.

Dalk moet ons ’n webwerf skep waar ons die aktiwiteite aantoon sodat ons mekaar gereeld kan herinner aan wat ons doen om van die land ’n beter plek te maak.

Só skep ons ’n klimaat van omgee en uitreik. En in hierdie proses maak ons dalk net van ons land daardie plek waar ons graag wil bly, waar ons vir ons kinders ’n voorbeeld stel van die beskawing se reëls nakom, van uitreik en medemenslikheid sodat daar ook in die toekoms vir hulle ’n land van hoop is.

Is dit te veel gevra om daagliks net daardie klein bietjie moeite te doen om rondom ons ’n beter ruimte te skep?

Dink net aan die uitkringeffek wat dit kan hê.

* Prof. Wannie Carstens is emeritusprofessor aan die Noordwes-Universiteit en ’n positiewe landsburger. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Jo Prins  |  Wannie Carstens  |  Klerksdorp  |  Suid-Afrika  |  Potchefstroom  |  Suid-Afrikaners
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.